|
||||
AAR
was ’n tyd toe mense in Europa gedink het dat hulle dalk haelstorms
kon keer deur kanonskote af te vuur. Die feit dat dit nie meer gedoen
word nie, is stellig genoeg getuienis dat dit nie gewerk het nie. Hoe
ook al, elkeen wat al op die haaivlakte in ’n motor vasgekeer was
terwyl die hael soos spierwit duiweltjies om jou dans, sal weet waarom
die mens so ’n ontsettende vrees het vir daardie angswekkende
"koue klippe wat uit die lug val". Hael
is weliswaar niks anders as ys en ’n vorm van neerslag nie
(Engels precipitation, uitgespreek pre-sip-uh-tay-shun). Neerslag
is water van enige soort wat deur middel van natuurlike prosesse vanuit
die atmosfeer op die aardoppervlak beland. Ander vorms van neerslag is
onder meer reën, sneeu en ysreën. Neerslag
is vanselfsprekend belangrik vir lewe op land, want sonder vog sal die
grond mos in ’n dorre woestyn verander. Maar neerslag kan ook
vernietigend wees, byvoorbeeld as dit te veel reën of sneeu. En dan kan
hael natuurlik ’n boer ruïneer wanneer sy pragtige graanlande binne
enkele minute deur die gewraakte yssteentjies tot op die grond
verpletter word. Daarom is versekering teen haelskade so belangrik vir
ons boere.
Hael
kan as ysballetjies of ysballe beskryf word. Hulle is gewoonlik rond met
’n ruwe oppervlak. Daar is verskillende lae rondom ’n kern, wat aan
die groeiringe van ’n boom herinner, wat duidelik toon dat die korrel
stuk-stuk bo in die lug gevorm is en nie op een slag nie. Haelkorrels
verskil ook aanmerklik van sneeukristalle,
wat een van die
wonderwerke
in
die natuur is.
Hoewel
elke sneeukristal
ses punte het,
is geen twee kristalle
ooit dieselfde
nie. En dan is sneeu boonop veersag. Haelkorrels is kliphard.
Dis
nie verbasend dat daar al baie oor die grootte van haelstene gespekuleer
is nie. Dis immers omtrent ’n onbegonne taak om ’n groot, vallende
haelsteen te vang en te meet voordat dit die grond tref en uitmekaar
spat. Sulke haelstene is meestal saamgekoekte individuele haelkorrels
wat maklik breek as hulle val. Op die grond word baiemaal ook groot
stukke hael opgetel wat eintlik net klein stukkies fyn hael is wat
saamgevries het nadat dit die grond getref het. MAAR
wat gebeur dan in ’n wolk wanneer hael gevorm word? Hierdie
groot verwoester ontstaan in donderstormwolke -- in die bodeel van die
wolk, sowat drie of meer kilometer bokant die grond, waar die
temperatuur onderkant 0 grade Celsius is. Die haelstene word deur
stygende en dalende lugstrome in die wolk op- en afgeslinger. In dié
proses word die stene ál groter totdat hulle naderhand so swaar word
dat die stygwind hulle nie langer kan dra nie. Dan stort hulle vinnig na
benede. Noukeuriger omskryf gebeur die volgende: Haelkorrels se vorming begin op dieselfde manier as waarop die yskristalle gevorm word wat gewoonlik as sneeu of reën na die aarde val. In die binnekant van ’n stapelwolk is daar (soos vliegtuigpassasiers terdeë weet) kragtige opwaartse lugstrome. Hierdie lugstrome voer die yskristalle terug na die yskoue bopunt van die wolk. Die
gevolg is dat waterdamp voortdurend rondom die kristalle kondenseer en
vries en die yskorrels ál groter en swaarder word en dan begin val.
Wanneer hierdie yskorrels, wat nou vir die tweede keer val, weer in 'n
kragtige opwaartse lugstroom beland, word hulle nogmaals na die bopunt
van die wolk gevoer, waar nog meer waterdamp aan die buitekant
kondenseer en vries en hulle nog groter en swaarder word. Hierdie
proses van val en opvoer kan hom verskeie kere herhaal. En elke keer
word die yskorrels groter. Maar uiteindelik word die korrels só groot
en swaar dat die opwaartse lugstrome hulle nie meer in die lug kan hou
nie en hulle as hael na die aarde val. Alle
haelstene bereik egter nie die grond as hael nie, omdat hulle deur
warmer lug val en party van hulle smelt. Hulle val dan as groot reëndruppels
op die aarde. Hael
verskil ook van ysreën (Engels sleet), wat wel soos klein
haelsteentjies lyk, maar in werklikheid bevrore reëndruppels is. Anders
as hael wat hoog bo in ’n wolk ontstaan, vorm ysreën in koue weer
naby die grond. Ware haelstene ontstaan slegs in die begin van
donderstorms en nooit wanneer die grondtemperatuur onder die vriespunt
is nie. Interessant
genoeg, is die tipiese donderstorms van die Suid-Afrikaanse binneland
almal potensiële haelstorms. Die gemiddelde getal haelstorms per jaar
vir die binneland is vyf, maar party plekke kry tot tien haelstorms in
een jaar, terwyl dieselfde plek in ’n ander jaar weer geen hael kry
nie. Maar
kan die mens wel die natuur só beheer dat hy haelstorms kan voorkom?
Dalk lag mense vandag oor die destydse proewe om haelstorms met
kanonskote af te weer (meer as ’n eeu gelede in Oostenryk en Italië),
maar vuurpyle is al wel hiervoor ingespan. Deur ’n vuurpyl waarvan die
plofkop met silwerjodiet of koolstofdioksied gelaai is, in ’n potensiële
haelwolk te laat ontplof, word waterdamp vinnig in reëndruppels
verander voordat groot haelstene in die wolk gevorm kan word. Nael
vir die vuurwerk, Boet, hier kom donderweer! Ons skiet gou die haelstorm
in sy kanon in! |
||||