|
AAR
was ’n tyd toe kenners gereken het dat geen ander kaptein in
wêreldkrieket by Hansie Cronjé kon kers vashou nie, veral
nie in eendag-krieket nie. Toe was die gewilde gentleman van
Bloemfontein nog op die kruin van sy golf van voorspoed.
Dit was voordat ons krieketkoning in ’n baie
onsmaaklike ding betrokke geraak het. Hansie se selferkende
obsessie met geld het hom oornag in vernedering en skande van
sy hoë troon laat tuimel.
Suid-Afrikaners
het met ongeloof en skok gereageer toe dit bekend word dat hul
superheld met wedstrydknoeiery gemoeid was. Dit kon mos nie
waar wees nie. Maar dit wás.
Hansie
sou tot met sy tragiese dood in ’n vliegtuigongeluk ’n
verworpeling in sy eie land bly, al het dit daarna geblyk dat
talle mense—van hooggeplaaste krieketadministrateurs en
politici tot die gewone man op straat—lankal bereid was om
hom te vergewe. Hansie het immers in sy tyd so oneindig baie
vir Suid-Afrikaanse sport beteken... en wie is in elk geval so
sondeloos dat hy die eerste klip kan gooi?
Hoe
ook al, as die lewensverhaal van Hansie Cronjé op ’n
grafiek aangedui sou kon word, sou dit soos ’n berg lyk, met
die een hang van ’n tweede berg daarnaas. Dit styg vinnig op
na die kruin en daal dan blitsvinnig loodreg ondertoe—net
om veral met Hansie se sterfte weer die hoogtes in te skiet.
Hansie
sal boonop lank onthou was as die enigste krieketspeler nog
wat bereid was om oor ’n oortreding soos syne te bieg en
gewillig was om die gevolge te dra...
HANSIE
CRONJÉ, wat later reeds op ’n jeugdige 24 jaar tot kaptein
van die Suid-Afrikaanse krieketspan gekies sou word, is op 25
September 1969 in Bloemfontein gebore as Wessel Johannes, die
seun van Ewie en San-Marie
Cronjé. Hy het aan die beroemde seunskool Grey-kollege
skoolgegaan en was aan die einde van sy skoolloopbaan die
skool se voorste matrikulant.
Omdat
pa Ewie ’n bekende krieketpersoonlikheid van Bloemfontein
was, is daar altyd krieket in die huis gepraat. Met Hansie se
aangebore en aangeleerde vernuf is dit ook nie verbasend dat
hy in 1987 sy debuut in die Vrystaatse krieketspan gemaak het
en boonop as kaptein van die span gekies is toe hy slegs 21
was nie. Terwyl hy vir die Vrystaat gespeel het, het hy aan
die Vrystaatse Universiteit in Bloemfontein gestudeer.
Hansie het vinnig tot ’n
krieketspeler van internasionale gehalte ontwikkel en is in
1991 gekies om Suid-Afrika teen die Wes-Indiërs te
verteenwoordig nadat hy die nasionale keurders met sy spel op
provinsiale vlak beïndruk het.
In 1994 het Hansie die jongste
Suid-Afrikaanse krieketkaptein in meer as ’n eeu geword, en
sy opgetekende prestasies daarna op die veld sou nooit van hom
weggeneem kon word nie. Hy het Suid-Afrika met groot welslae
op die wêreldverhoog gelei—’n bedrewe kolwer en’n
doring van ’n bouler wat in
sy internasionale krieketloopbaan 68 toetse en 188
internasionale eendagwedstryde gespeel het. Hy het
uitstekende taktiese vermoëns gehad en kon sy span tot baie
oorwinnings lei teen die beste wat die wêreld kon bied.
Sy geloof aan dissipline was
opmerklik. Hy kon dit, volgens kenners, dalk van die gevierde
Keppler Wessels geleer het by wie hy destyds as kaptein
oorgeneem het. Soos een koerantman vertel het: "Jy kan
dit (die dissipline) duidelik by die oefeninge sien. Daar is
nie tyd vir grappies as Hansie naby is nie: as die manne werk,
dan werk hulle." Feitlik die enigste kritiek teen sy
kapteinskap was dat hy te intens was.
Dat
só ’n uiters toegewyde en gefokusde leier hom enigsins tot
iets soos wedstrydknoeiery kon laat verlei, het vir die groot
menigte van sy volgelinge eenvoudig geen sin gemaak nie. Maar
in April 2000 bars die bom. Die
polisie van Delhi in Indië onthul dat hulle ’n opname het
van ’n selfoongesprek wat in Maart gevoer is tydens die
eendag-reeks tussen Indië en Suid-Afrika. Daar word beweer
dat die stemme op die band dié van Hansie en ’n Indiese
weddery-sindikaat is.
Hansie
ontken dit eers ten sterkte, maar swig uiteindelik onder die
druk van sy gewete en sy Christelike oortuigings. Die
sogenaamde King-kommissie wat in Suid-Afrika aangestel is om
die wedstrydknoeiery te ondersoek, hoor in Junie hoe Hansie
erken dat hy groot bedrae geld ontvang het om inligting aan
beroepswedders te gee en dat hy sy spanmaats gevra het om swak
te speel. Maar hy ontken dat Suid-Afrika ooit onder sy
kapteinskap ’n wedstryd opsetlik"weggegooi" of
"beknoei" het. Ná drie dae van kruisondervraging
deur ’n paneel van regsgeleerdes, knak hy en erken hy dat hy
honderdduisende rande van beroepswedders ontvang het.
Hansie
het op ’n keer sy optrede probeer verontskuldig deur te
kenne te gee dat dit sy ongesonde liefde vir geld was wat hom
verkeerd laat trap het—hy het dit selfs met alkoholisme
vergelyk.
Maar dit kon nie anders nie: die
Verenigde Krieketraad van Suid-Afrika het hom genoop gevoel om
Hansie lewenslank uit krieket te verban. Daarna het Hansie die
finansiële bestuurder geword van ’n landboumasjieneriesaak
wat in Johannesburg gesetel is.
Sy einde was onverwags en het die
land geruk. Hy het op 1 Junie 2002 in reënweer in die
Outeniekwaberge naby George in die Wes-Kaap gesterf toe ’n
ligte vliegtuig waarin hy gereis het teen die berg vasgevlieg
het. Hy was nog nie eens 33 jaar oud nie. Vir
sy begrafnis het toonaangewende figure in Suid-Afrikaanse
krieket hulle in Bloemfontein by duisende roubeklaers gevoeg.
REGS:
Hansie se treurende weduwee Bertha (nou mev. Du Plessis) op sy
begrafnis.
Hansie
vorm nou deel van die galery van ander groot krieketlegendes
wat hom vooruitgegaan het.
En dit lyk of die wens vervul is van sy weduwee Bertha
(nou mev. Du Plessis, die vrou van Jacques
du Plessis, 'n ouditeur van George) dat
die wêreld Hansie sy foute moet vergewe en hom moet onthou as
die kampioen wat hy inderdaad was.
Sy pastoor, die bekende Ray McCauley,
lig dan ook die sluier oor die ander, baie meelewende en
berustende dele van Hansie se karakter: "Hy was iemand
met ’n reusagtige groot hart en wanneer ek hom ook al
opgebel het, sou hy weeshuise en skole saam met my besoek. Toe
die wedstrydknoeiery op die lappe kom en hy nie weer toegelaat
is om krieket te speel nie, het hy die nekslag aanvaar en
nooit daaroor gekla nie."
|