|
IE
Paashaas bly vir baie Suid-Afrikaners maar ’n volksvreemde
karaktertjie. Dog kinders van baie lande spring op Paassondag
vroeg-vroeg uit die vere om in die tuin rond te soek na
sjokolade-eiers wat hy kammakastig gelę het. Of, as die weer te guur
is, soek hulle binnenshuis daarvoor.
|
Die konyn-
ontploffing op
Robbeneiland
DIE
soort konyn wat hom op ons ghwano-eilande en ook op
Robbeneiland aan ons kus tuis gemaak het, is geen
Afrika-boorling nie, maar van oorsee ingevoer en word as
een van die węreld se ergste indringerspesies beskou.
Op Robbeneiland het die Europese konyn
naamlik so geil
aangeteel dat drastiese stappe nodig geword het om die plaag te
bestry. Die aankondiging dat sowat tienduisend van die konyne van
kant gemaak sou moes word, is nie goed ontvang deur diereliefhebbers
nie. Maar wat, word gevra, is die alternatief?
Robbeneiland, ’n Węrelderfenisgebied, ervaar ’n geweldige ekologiese
krisis. Diere soos springbokke en bontebokke vrek by die hope omdat daar te min groenigheid oor is om te vreet.
Die
konyne is al eeue op die eiland: die eerstes is soheentoe
gebring enkele jare nadat Jan van Riebeeck in 1652 aan die Kaap geland het,
hoofsaaklik sodat die ou pioniers hul vleis kon eet. Die konyne het
aangeteel, maar katte wat ook na die eiland gebring is, het hul
getalle in toom gehou. Die katte het op hul beurt egter boonop kwaai
onder die seevoëls gemaai. Eindelik word toe besluit om die
katte van kant te maak... iets wat op sy beurt die konyne die vrye teuels gegee het om te
vermenigvuldig.
En as al die konyne uiteindelik dood
is—só waarsku ’n kenner—kan die groter beskikbaarheid van voedsel
dalk weer tot ’n ontploffing in die eiland se rotbevolking lei.
Waar eindig so ’n onheilige kettingreaksie? Dit kan
’n mens wel vra.
Maar só
kan een ding tot die ander lei waar die mens in die gang van die natuur
inmeng.
|
|
Paaseiers kom van ver af. Lank voor die geboorte van Christus is
eiers as simbole van voortgesette lewe en herrysenis beskou, en die
antieke Persiërs, Grieke en Chinese het eiers by hul lentefeeste
geruil.
Konyne en hase is lank met die vrugbaarheid van die lente
vereenselwig omdat hulle so geweldig vinnig aanteel.
In die vroeë dae van die Christendom het eiers en hase as simbole
egter met dié rondom die opstanding van Christus verstrengel
geraak—wat alles gelei het tot daardie absurde Paashaas wat kwansuis
eiers lę.
Almal weet natuurlik dat konyne en hase nie ręrig eiers lę nie. (Die
enigste soogdiere wat dit doen, is die stekelrige miervreters en
eendbekdiere.)
Maar waar pas konyne en hase dan by die soogdiere in? Konyne en hase
behoort tot die familie Leporidae van die orde Lagomorpha. Hulle is
vroeër as knaagdiere geklassifiseer—hulle het mos wel beitel-agtige
voortande waarmee hulle soos knaagdiere knaag—maar hulle verskil van
die laasgenoemde deurdat hulle bo twee paar voortande pleks van een het.
Knaagdiere behoort tot die orde Rodentia.
Dan word hase en konyne ook van die knaagdiere onderskei deur hul
lang ore en die feit dat hul agterbene beter ontwikkel is as die
voorstes.
Die
orde Lagomorpha sluit ook ook die pikas in, maar daar is eweneens
opmerklike verskille tussen die haasagtiges en die pikas. Die naam
Leporidae
is afgelei van leporis, die genitief van
lepus, die Latynse woord vir ’n haas.
Konyne en hase het min bekendstelling nodig—buiten dat ’n mens die
verskil tussen hulle moet verduidelik. Hulle lyk naamlik baie
eenders en dis maklik om hulle met mekaar te verwar. Om sake te
vererger, word sekere konyne in die spreektaal ook hase genoem en
hase op hul beurt weer konyne.
|
REGS: Om dinge te
kompliseer, word party konyne in die spreektaal hase
genoem en omgekeerd. Só is hierdie Amerikaanse
“black-tailed jack-rabbit” (Lepus
californicus)
geen
“rabbit” (konyn) nie, maar ’n “hare” (haas). Die saak is
darem in die Afrikaanse vertaling reggestel deurdat ons
na hom as ’n pręriehaas verwys.
Foto:
U.S. Fish and Wildlife Service |
 |
Konyne is in die reël kleiner en hul ore korter. Die vorm en grootte
van konyne en hase se kopbeen verskil ook.
Maar die maklikste is om na die heel kleintjies te kyk. Pasgebore
konyntjies is blind, sonder hare en kan nie rondbeweeg nie. Die
hasies kom egter oop oë in die węreld, pelsies inkluis, en hulle kan
gou-gou reeds rondspring.
Natuurlik verskil die twee diere se lewenstyle ook.
Die pels van wilde konyne is ’n gryserige bruin, wat hulle ’n goeie
kamoeflering bied, maar troetelkonyne se kleure wissel van swart of
wit tot kombinasies hiervan. Min konyne oorleef langer as ’n jaar in
die natuur, want hulle is uiters kwesbaar, maar die troeteldiere
lewe gewoonlik tot so vyf jaar.
Hase het dieselfde kleure as die konyne, hoewel die pens gewoonlik
wit of ligbruin is. Party hase van die koue streke word in die
winter sneeuwit.
Daar is sowat vyftig konyn- en haasspesies op aarde. In Suidelike Afrika
is daar vier soorte konyne en twee soorte hase, te wete:
• die uiters skaars oewerkonyn
(Bunolagus monticularis),
• Smith
se rooiklipkonyn
(Pronolagus
rupestris),
• Jameson se rooiklipkonyn
(Pronolagus
randensis),
• die Natalse
rooiklipkonyn (Pronolagus
crassicaudatus),
• • en die vlakhaas
(Lepus capensis)
en kolhaas
(Lepus saxatilis).
En dan is daar ons springhaas, wat soos ’n dwergkangaroe lyk, maar
eintlik geen haas is nie, maar onder die eekhoringagtige knaagdiere
ingedeel word.

BO:
Hierdie foto van twee van Suid-Afrika se bitter skaars
oewerkonyne kom van die webwerf van die
Oewerkonyn-bewaringsprojek. Die
oewerkonyn se voortbestaan hang gevaarlik in die weegskaal,
want daar is na berekening nie veel meer as ’n paar honderd
van dié konyne oor nie. Die spesie word met ander woorde as
krities bedreig beskou. Sy leefgebied is die Groot Karoo en
dele van die Klein Karoo, maar hy word nęrens in ’n
provinsiale of nasionale wildtuin beskerm nie deurdat sy
habitat slegs tot private Karooplase beperk is.
• Dit is
ironies dat Suid-Afrikaners enersyds spook om op
Robbeneiland die getalle van ons ingevoerde konyne te
verminder en andersyds probeer keer dat een van ons eie
konynsoorte van die aangesig van die aarde verdwyn.

BO: ’n Vlakhaas
(Lepus capensis).
Foto deur
Benjamint444,
wat dit op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die węreldwye web
gelisensieer het. Kopiëring, verspreiding en/of modifikasie word
vergun ingevolge die bepalinge van die
GNU Free Documentation License, Weergawe 1.2 of enige latere
weergawe soos gepubliseer deur die Free Software Foundation.’n
Afskrif van die lisensie word ingesluit in die in die afdeling
getiteld: “GNU
Free Documentation License”.

LINKS: Ons springhaas (Pedetes
capensis)
—geen ware haas nie, maar ’n eekhoringagtige knaagdier.
Illustrasie (gewysig) uit “Brehms
Tierleben”, 1927 / Openbare besit (”in the public domain”) vanweë
die verval van kopiereg weens ouderdom
Habitat
KONYNE en hase kom in byna alle lande voor,
van die snerpend koue Noordpoolstreke en die gematigde streke tot
die versengende woestyn.
Hulle is egter nie inheems aan Australië
nie, en daar was oneindige probleme nadat hulle daar ingevoer is
sonder natuurlike vyande wat hul getalle in toom kon hou.
Die konyn se lęplek is meestal ’n vlak holte in die grond wat die
dier se vorm aanneem. Dit is agter los stukke plante versteek.
Party konyne verhuis in die winter na meer beskutte tuistes. Dié kan
eenvoudig ’n stapel klippe, hout of plante wees, of miskien ’n
gat—gewoonlik een wat deur ’n ander dier gegrawe is, want min konyne
grawe hul eie gate.
Konyne woon gewoonlik alleen, hoewel hulle soms hul lęplekke in
dieselfde hoop plante maak. Dié wat wel gate grawe, skep partymaal
ingewikkelde netwerke van kamers en onderling verbinde gange.
Hierdie houplek word dan met verskeie ander konyne gedeel.
Hase is meestal alleenlopers. Hul lęplekke is ook vlak holtes en
hulle grawe nooit gate nie.

BO: Konyne vreet
baie dinge, van gras tot vrugte en groente. Nie verniet dat
hierdie wit kalantjie baie geďnteresseerd sal wees in die volryp
rooi versnapering
langs hom nie.
Foto: U.S. Genome.gov / PD
Voedsel
SOWEL konyne as hase speel en soek hul kos in
die nag en rus bedags. Konyne vreet ’n groot verskeidenheid van
plante—van gras, onkruid, takkies en boombas tot vrugte en groente.
Hulle is groot vernielers van gesaaides en die bas van vrugtebome,
en word dus dikwels deur die mens afgemaai.
Hase vreet veral gras en laaggroeiende, kruidagtige plante. Hulle
maai gewoonlik nie so baie onder die boere se gewasse nie.
Konyne en hase het nog ’n interessante spys op hul lys—hul eie mis.
Dit is om twee redes vir hulle voordelig: die mis bevat bakterieë
wat ander kos in die pens help verteer, en dit help hulle om soveel
vitamiene en koolhidrate uit die beskikbare kos te onttrek as wat moontlik is.
Die groot vermenigvuldiging
ALICE
wag ’n bietjie ... en ná ’n minuut of wat loop sy in die rigting
waar die Maart-Haas glo woon.
“Ek het al voorheen (gek) hoedemakers gesien,” gesels sy met
haarself; “die Maart-Haas sal die heel interessantste wees, en dalk
sal hy hier in Meimaand nie so stapelgek wees nie—ten minste nie so
gek as wat hy Maart was nie.”
Die fassinerende avonture van klein Alice in haar Wonderland! Dié van julle wat
kleintyd die beroemde verhaal van die Engelse skrywer Lewis Carroll
gelees het, sal dalk onthou dat, toe Alice wel die Maart-Haas
raakgeloop het, hy inderdaad so “mal” was soos... nou ja, ’n haas!
Maar presies wat het Alice bedoel toe sy gesę het dat hierdie dier in
Maartmaand gek was?
Een van die bekendste eienskappe van hase is hul sonderlinge soort
hofmakery. En in die Noordelike Halfrond, waar die Alice-storie hom
natuurlik afspeel, gebeur dit in Maart.
In die begin van die noordelike lente en die teelseisoen gaan die
mannetjies wild te kere. Hulle spring en krul in die lug, skop woes
met hul pote en staan op hul agterpote om met mekaar te boks.
Partykeer kan groepe van so tien tot vyftien hase in ’n veld gesien
word waar hulle bokspring asof hulle regtig van lotjie getik is. Af
en toe gaan dit so onstuimig dat ’n paar doodgeskop word.
Hierdie dolle gedrag is ’n voorspel tot paring.
Konyne en hase is bekend vir hul teelkragtigheid. Daar is twee redes
hoekom daar so baie van hulle is. In die natuur is hulle uiters
kwesbaar en word baie deur roofdiere gevang, met die gevolg dat
hulle ewe vinnig vervang moet word. Maar nou het die mens ook weer
soveel roofdiere uitgewis dat die konyn- en haassoorte met min
uitsonderings onbeteuelbaar kan
aanteel.
Wyfiekonyne kry gewoonlik vier, vyf kleintjies op ’n slag—en dit kan
verskeie kere per jaar wees, afhangende van die soort konyn en die
klimaat. Wyfiehase kry omtrent twee tot vier kleintjies, ook etlike
male in ’n jaar.
Die gatgrawende wyfiekonyn maak vir haar kleintjies ’n tuiste
ondergronds en voer dit uit met hare wat sy uit haar lyf trek. Nadat
die kleintjies hul opwagting gemaak het, maak sy hulle met gras en
hare toe om hulle warm te hou en weg te steek.
Sy bly selde saam met haar kleintjies in die nes, maar skuil eerder
daarnaby om hulle van tyd tot tyd te gaan soog. Binne ’n week of
twee is die kleintjies bedek met hare en gereed om die nes te
verlaat.
Hase kry hul kleintjies óf net so op die grond óf in hul lęplek. Die
kleintjies moet vroeg-vroeg self leer kos soek.
Haas tyd om te hol!
EEN van die interessantste dinge omtrent hase
en konyne is daardie neusie wat gedurig rondwoel. Hulle besnuffel natuurlik die lug
om vas te stel of daar nie dalk vyande in die omtrek is nie. En met
daardie lang, beweeglike ore kan hulle weer die geringste geluide
uit watter rigting ook al hoor.
In die oop veld kom hurkende hase soms orent of staan hulle regop op
die agterpote om met parmantige, penreguit ore die omgewing vir
vyande te verken. Konyne en hase se oë sit aan die kant van die kop,
sodat hulle alkant kan sien.
Die eerste vorm van verdediging is om weg te kruip en te hoop hulle
word nie gewaar nie. Maar as die vyand te naby kom, hardloop die
diere blitsvinnig totdat hulle die een of ander gat of digte
bosgasie kry om in te ontsnap.
Paniekbevange konyne kan selfs 3 m of hoër spring en tot knap
duskant 30 km/h hardloop. Hulle hol kruis en dwars om die aanvaller
te probeer verwar. Maar hul groot swakheid is dat hulle gou moeg
raak.
Hase het ook ’n alarmstelsel: hulle stamp die grond met hul
agterpote om ander hase teen gevaar te waarsku. Die natuurlike
vyande van hase en konyne is onder meer roofvoëls, groot katte,
huiskatte, honde en jakkalse. Maar hul grootste vyand is die mens.
Hy maak hulle nie net dood omdat hulle sy gesaaides verniel nie,
maar ook vir hul pelse en dit wat hy “sport” noem.
In die natuur lewe konyne net sowat ’n jaar. Maar omdat hulle so
vinnig aanteel, is daar min gevaar dat hulle uitgewis sal raak
(behalwe nou ’n krities bedreigde soort soos ons oewerkonyn).
En benewens die miljoene in die vrye natuur, is daar ook nog baie
wat as troeteldiere aangehou of wat vir hul vleis of pelse, of selfs
as skoukonyne, geteel word. Oor die jare heen is baie konyne met
verskillende eienskappe geteel, en daar is vandag heelparty mak
soorte—van piepklein, grys gladdehaar-konyne tot groot, wollerige
tipes.
Haas-tige
laaste feite
•
Waar kom ons woord “haas” en die Engelse woord “hare” vandaan? Dit
hou blykbaar verband met die Oud-Hoogduitse woord “hasan” en die
Oud-Engelse “haso” en “hasofag”—almal met die betekenis “grou,
grys”.
• Nadat die konyn uit Engeland na
Australië gebring was, het dit so ’n pes in Australië geword dat
draadheinings oor duisende kilometers gespan moes word om konyne van
plase af weg te hou. In 1859 het
slegs 24 van die ingevoerde konyne in die vrye natuur begin
vermenigvuldig. Teen 1926 was daar na raming tien biljoen!
|