|
Hefbome: die basiese beginsels Hoe
’n mens speel-speel |
||||
Archimedes het hierdie
aanspraak seker maar so half skertsend gemaak. Maar as die geniale
ontdekker van die beginsel van die hefboom (en heelparty ander dinge
boonop) het hy darem nie heeltemal met ’n
wolhaarstorie te koop geloop nie. Wat meer sê, die wette
van die hefboom wat Archimedes bestudeer het, word vandag steeds deur
wetenskaplikes in die meganika toegepas. In der waarheid
sal jy self, as jy die nodige toerusting daarvoor het, maklik ’n
olifant of ’n renoster se gewig kan optel soos op ons geanimeerde
illustrasie HIERONDER. As
jy ’n kort hefboompie het, sal jy geen hond (of renoster) haar-af kan
maak nie. Maar kyk wat gebeur as jy die hefboom genoeg na die een kant
toe verleng!
As ’n mens die woord
hefboom noem, dink jy miskien dadelik aan iets soos ’n koevoet. Tog is
’n koevoet hoegenaamd nie die enigste soort hefboom wat in ons wêreld
bestaan nie. Trouens, wipplanke, kruiwaens, neutekrakers, hamers,
rakette, skêre, balanseerskale en duisende ander alledaagse
gebruiksartikels is hefbome of kombinasies van hefbome. Selfs jou arms,
bene, hande, voete en ander liggaamsdele is hefbome. ’n
Hefboom is ’n rigiede (onbuigbare) staaf waarmee ons groot gewigte met,
in verhouding, klein kragte kan optel, solank ons net ’n vaste
steunpunt by ’n bepaalde plek het waar die staaf vrylik kan beweeg.
Die steunpunt word ook die spilkom of draaipunt genoem. Ander dele van die hefboom
is die kragarm en die lasarm. Die
kragarm is die deel van die hefboom waarop krag, of drukking, uitgeoefen
word. Die lasarm is die deel wat teen ’n gewig of ander vorm van
weerstand beweeg (kyk illustrasie HIERONDER).
’n
Hefboom is in ewewig wanneer die produk van die krag en die lengte van
die kragarm gelyk is aan die produk van die las en die lengte van die
lasarm (krag x kragarm = las x lasarm). Die vereiste krag word
kleiner namate die kragarm langer, en die lasarm korter word.
As die steunpunt só geleë is dat die lasarm 1 meter en die
kragarm 3 meter lank is, word ’n krag van 10 kilogram benodig om ’n
las van 30 kilogram in ewewig te hou. Lê die steunpunt presies in die
middel van die hefboom, dan moet die krag net so groot wees soos die
las. Só ’n hefboom noem ’n mens gelykarmig. ’n Hefboom is
’n eenvoudige masjien. Ander eenvoudige masjiene is toestelle soos
katrolle, hellende vlakke, wiele en asse, wat ’n mens ’n hefvoordeel
bied in die uitvoering van die een of ander taak. ’n Hefvoordeel is
waar ’n mens ’n mindere krag oor ’n groot afstand aanwend ten
einde ’n groot krag oor ’n mindere afstand te verkry. Eintlik is daar drie
verskillende soorte hefbome, afhangende van hoe die krag, las en
steunpunt teenoor mekaar geleë is.
|
||||