|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
HIËROGLIEWE
Foto van Nyl: BigFoto.com / Public Domain HOEWEL
die idee van skrif blykbaar in Mesopotamië ontstaan het, wil dit
voorkom of die stelsel van hiërogliewe, waarin klanke of begrippe deur
prente weergegee
word,
in Egipte ontwikkel het. Dit verskil heeltemal van die Sumeriese wigskrif. Skrifgeleerdheid
was een van die hoë beroepe in ou Egipte en vir kinders was
geletterdheid die sleutel tot ’n suksesvolle loopbaan. Leerlinge het
leer skryf deur passasies van klassieke letterkundige tekste te kopieer en
deur neer te skryf wat aan hulle gedikteer is. Daar is voortdurend op
arbeidsaamheid gehamer. Die
antieke Egiptenare het ook papirus uitgevind, ’n papieragtige
skryfmateriaal wat van dun stroke papirusriet gemaak is. Ongelukkig
is
papirus nie baie duursaam nie en het baie geskrifte verlore gegaan. Die
antieke Grieke het die eerste keer die term hiëroglief
gebruik (dit beteken "heilige kerfwerk") vir die dekoratiewe
skrif wat op Egiptiese monumente te sien was. Egiptiese
hiëroglifiese inskripsies bestaan uit twee basiese soorte tekens:
ideogramme en fonogramme. Ideogramme dui óf op die
spesifieke voorwerp wat geteken is óf op iets wat naby in verband daarmee
staan. So kan ’n prent van die son "son" of "dag"
beteken. Fonogramme,
of klanktekens, is suiwer gebruik om klanke voor te stel en hou geen
verband met die woord wat hulle weergee nie. Fonogramme kon een
konsonant voorstel, of ’n kombinasie van twee of drie konsonante in ’n
spesifieke orde. Klinkers is nie gebruik nie. ’n Teken kon in een woord as
’n ideogram dien en as ’n fonogram in ’n ander. Die
meeste woorde is met ’n samevoeging van klank- en beeldtekens geskryf. ’n
Prent van die vloerplan van ’n huis het wel "huis"
beteken, maar wanneer dit deur ’n paar lopende bene gevolg is, het
dit die werkwoord "uitgaan" gevorm. Hierogliewe
kon óf vertikaal óf horisontaal geskryf word, gewoonlik van regs na
links. Die
Egiptenare het hierdie skrifstelsel baie eeue, eintlik ’n paar millenniums lank
gebruik—van omstreeks 3000 vC af tot 394 nC toe die laaste inskripsie,
sover bekend, gedoen is.
Die
ontsyfering van die hierogliewe
Foto: Probert Encyclopedia / Free pic DIE ou Romeine het geglo dat die Egiptiese hierogliewe bloot simbole was en nie klanke voorgestel het nie en hierdie teorie is lank gehuldig. Die deurbraak het in 1799 gekom, toe ’n soldaat in Napoleon se militêre veldtog in Egipte die sogenaamde Rosetta-steen gevind het—’n klip waarop inskripsies in 196 vC sowel in Grieks as hieroglifiese en demotiese Egipties aangebring is.
Krediet: NASA Die betekenis van die raaiselagtige
Egiptiese hiërogliewe kon dus uiteindelik vergelykenderwys
bepaal word. Veral danksy die werk van die Franse Egitoloog Jean François
Champollion is die Egiptiese skrifte later as voorstellings van klanke
erken. |