’n Laslappie van Mieliestronk

HIËROGLIEWE:
Rare skrif van die ou Egiptenare

REGS: Die Nyl soos dit vandag lyk met ’n hiëroglifiese voorstelling van die Nylgod daarop ingelas.

Foto van Nyl: BigFoto.com / Public Domain

HOEWEL die idee van skrif blykbaar in Mesopotamië ont­staan het, wil dit voorkom of die stelsel van hiërogliewe, waarin klanke of begrippe deur prente weergegee word, in Egipte ontwikkel het. Dit verskil heeltemal van die Sumeriese wigskrif.

Skrifgeleerdheid was een van die hoë beroepe in ou Egipte en vir kinders was geletterdheid die sleutel tot ’n suksesvolle loop­baan. Leerlinge het leer skryf deur passasies van klassieke letterkundige tekste te kopieer en deur neer te skryf wat aan hulle gedikteer is. Daar is voortdurend op arbeidsaamheid gehamer.

Die antieke Egiptenare het ook papirus uitgevind, ’n papieragtige skryfmateriaal wat van dun stroke papirusriet gemaak is. Ongelukkig is papirus nie baie duursaam nie en het baie geskrifte verlore ge­gaan.

Die antieke Grieke het die eerste keer die term hiëroglief  gebruik (dit beteken "heilige kerfwerk") vir die dekoratiewe skrif wat op Egiptiese monumente te sien was.

Egiptiese hiëroglifiese inskripsies bestaan uit twee basiese soorte tekens:  ideogramme en fonogramme. Ideogramme dui óf op die spesifieke voorwerp wat geteken is óf op iets wat naby in verband daarmee staan. So kan ’n prent van die son "son" of "dag" beteken.

Fonogramme, of klanktekens, is suiwer gebruik om klanke voor te stel en hou geen verband met die woord wat hulle weergee nie. Fonogramme kon een konsonant voorstel, of ’n kombinasie van twee of drie konsonante in ’n spesifieke orde. Klinkers is nie gebruik nie. ’n Teken kon in een woord as ’n ideogram dien en as ’n fonogram in ’n ander.

Die meeste woorde is met ’n samevoeging van klank- en beeldtekens geskryf. ’n Prent van die vloerplan van ’n huis het wel "huis" beteken, maar wanneer dit deur ’n paar lopende bene gevolg is, het dit die werkwoord "uitgaan" gevorm.

Hierogliewe kon óf vertikaal óf horisontaal geskryf word, gewoonlik van regs na links.

Die Egiptenare het hierdie skrifstelsel baie eeue, eintlik ’n paar millenniums lank gebruik—van omstreeks 3000 vC af tot 394 nC toe die laaste inskripsie, sover bekend, gedoen is.

Die ontsyfering van die hierogliewe

REGS: Die Rosetta-steen.

Foto: Probert Encyclopedia / Free pic

DIE ou Romeine het geglo dat die Egiptiese hierogliewe bloot simbole was en nie klanke voorgestel het nie en hierdie teorie is lank gehuldig. Die deurbraak het  in 1799 gekom, toe ’n soldaat in Napoleon se militêre veldtog in Egipte die sogenaamde Rosetta-steen gevind het—’n klip waarop inskripsies in 196 vC sowel in Grieks as hieroglifiese en demotiese Egipties aangebring is. 

LINKS: ’n Nabyfoto van skrif op die Rosetta-steen.

Krediet: NASA

Die betekenis van die raaiselagtige Egiptiese hiërogliewe kon dus uiteindelik vergelykenderwys bepaal word. Veral danksy die werk van die Franse Egitoloog Jean François Champollion is die Egiptiese skrifte later as voorstellings van klanke erken.

Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad