|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
HUISE: AS
’n mens vandag in ’n voorstedelike woonbuurt in Suid-Afrika rondloop
en jy reis môre na die woonbuurte van feitlik enige stad in Duitsland,
moet die verskil jou dadelik opval. Weg
is die drieslaapkamer-huise met die betreklik ruim tuine van die
middelklas-mense in ons suidland. Wat jy om jou sal sien, is rye
en rye sogenaamde "Wohnsilos" of residensiële toringgeboue,
groot en gewoonlik strak woonstelkomplekse wat die stadsprofiel oorheers. Van
binne is hulle natuurlik gerieflik, modern en baie funksioneel, soos ’n
mens dit in ’n hoogs ontwikkelde land soos Duitsland sou verwag. Maar
niks van die sjarme van die tradisionele ou Duitse huise het behoue gebly
nie. Nie
dat die meeste Duitsers, soos ons ook maar, nie steeds daarvan droom om in
hul eie huis met ’n pragtige grasperk en tuin te woon nie. Soos ’n
gesegde in een van die Duitse streektale immers lui: "Schaffe,
schaffe, Häusle baue" ("Werk, werk, bou jou huisie"). Maar
grond is nie naastenby so volop as in Suid-Afrika nie en huise in
Duitsland is ontsaglik duur. Voornemende huiskopers moet ook veel groter
deposito's opdok as by ons—tot die helfte van die huis se prys. Slegs
39 persent van die Duitsers woon gevolglik in hul eie huis, wat nogal
afsteek teen die 64 persent in Amerika en 68 persent in Brittanje. Goed,
Suid-Afrika, met sy agtergeblewe gemeenskappe, kan nie werklik met hierdie
lande vergelyk word nie, maar meer van ons land se gegoede mense woon
waarskynlik in hul eie huise as dié in Duitsland. Die
Duitse huise van vandag bly nietemin interessant, nie die minste nie omdat
almal spits dakke het. In ’n Suid-Afrikaanse woonbuurt sal ’n mens
’n vermenging van allerhande style in die dak sien: spits dakke, plat
dakke, Kaaps-Hollandse geweldakke, noem maar op. Maar Duitse (en baie
ander Europese) huise moet noodwendig spits boontoe loop om die eenvoudige
rede dat dit soveel sneeu in die winter en dat die sneeu teen die skuintes
moet kan afval. As die dak plat is, kan die hewige gewig van die sneeu dit
maklik inmekaar laat sak.
Foto: FRITZ OLDEWAGE
Boonop
herinner baie van die moderne Duitse huise ’n mens steeds aan die
tradisionele Duitse huise van ouds. Dit is baie meer algemeen as, sê
maar, die ou Kaaps-Hollandse huise wat vandag in die Suid-Afrikaanse
woningargitektuur herleef. In
Duitsland met sy bitter koue winters en baie hout is voorheen groot
hout-en-klei-huise gebou, waarin nie net die menslike bewoners in die
wintermaande beskut kon wees nie, maar selfs hul vee. Die huis se raamwerk
is eers met groot houtbalke gemaak en die openinge tussen die balke is
daarna met groot hoeveelhede klei toegestop. Dit het uitstekende isolasie
teen die koue gebied. Die
huis het bestaan uit ’n enorme "voorsaal" of sogenaamde
"Diele", met die stalle vir byvoorbeeld die beeste en perde
links en regs daarvan. Aan die agterkant van die saal was die vuurherd en
agter die vuurherd die woon- en slaapgedeelte. Daar was geen skoorsteen
nie, en die rook uit die vuurherd kon dus nie na bo ontsnap nie. ’n Mens
kan jou voorstel hoe bedompig en rokerig so ’n huis moet gewees het. Op
die ou Duitse patroon sal ’n mens vandag nog baie "blokkerige"
huise in Duitsland aantref—waar beton die plek van die houtbalke
ingeneem het en bakstene die plek van die klei. Op die platteland kan jy
selfs imposante herehuise vind met ’n "Diele" inkluis, maar
die vee en mense deel darem lank nie meer dieselfde leefruimte in die
winter nie. Die tegnologiese eeu, waarin Duitsland een van die leiers is, is egter meedoënloos besig om sy tol van die Duitse argitektuur te eis. Ou huise word dikwels voor die voet gesloop of vernuwe om vir gretige huurders plek te maak. In eens rustige dorpies aan die buitewyke van stede ontstaan bekostigbare slaapeenhede vir talle werkers wat dan net ’n hanetreetjie van hul werkplekke is. Almal is egter nie tevrede met dié omwenteling nie, veral nie gevestigde dorpenaars wat voel dat hulle uit hul tuisdorpe verdryf word nie. Hul besware het al gewissel van plakkate in woonplekke se vensters ("Wir bleiben hier!"—Ons bly hier!) tot straatbetogings. Só
het die Duitsers dan vandag nog hul eiesoortige lewenswyse en blyplekke in
’n wêreld wat al hoe kleiner word en waarin verskille ál meer uitgewis
word. Hul gemiddelde lewenstandaard is van die hoogste ter wêreld, nie
veel anders as dié van die redelik vermoënde mense in die
Suid-Afrikaanse samelewing nie. Maar as jy foto’s van ’n Duitse dorpie
of ’n Duitse toringkompleks met dié van ’n Suid-Afrikaanse dorpie of
stedelike woonstelgebou vergelyk, gaan jy tien teen een dadelik die
kontras opmerk. As
jy egter nie die verskil mooi kan sien nie, kyk maar net hoe die omgewings
rondom die wooneenhede lyk. Indien jy nie ’n enkele los papiertjie of
stukkie vullis kan sien rondlê nie, moet jy weet jy kyk na ’n deeltjie
van die hoogs geordende Duitse wêreld. In
Suid-Afrika wapper die rommel soos vlae aan die heinings... |