’n Laslappie van Mieliestronk

 

 Humoriste van die toneel en sirkus

 
HARLEKYN, NAR, HANSWORS

— wat is die verskil?

 
Narre

BO: Die bekende grapjasse van die sirkus... is hulle narre, hans­worste of harlekyne? Of maak dit nie eintlik saak hoe ons hulle noem nie? Straks nie meer nie, maar in die geskiedenis was daar duidelike verskille tussen die hofnar in diens van ’n vors, die handpop Hans Wurst van Duitsland en die karakter genaamd Harlekyn van die Italiaanse volkstoneel...

 

Krediet: Effens gewysigde weergawe van ’n ou illustrasie deur Lucien Lefèvre, 1894, soos beskikbaar gestel deur www.doverpublications.com (“free sample”)

 

 

“G

EE vir die harlekyn nog wyn,” sing die liedjieboer Anton Goosen. En ’n mens kan wel wonder of dit slegs ter wille van die rym met wyn is dat hy die woord harlekyn gebruik! Waarom anders sou hy in hierdie lied nie oor ’n nar of hanswors sing nie? Dié is mos seker darem bekender woorde wanneer ’n mens na ’n beroepsgrapjas wil verwys.

 

Vir die meeste mense is harlekyne, narre en hansworste inderdaad sinoniem. Hulle beskou dit net as verskillende woorde vir enige van daardie maltrappe wat ons op verhoë, in sirkusse of elders in die openbaar vermaak.

 

Die verspotte platjies met die rooi bobbelneuse en snaaks gegrimeerde gesigte... hoe hulle ook al genoem word, almal het nietemin net een doel voor oë en dit is om hul gehore histeries aan die lag te maak en daarna heeltyd aan die skater te hou. Voorts weet ons dat party van die humoristiese artieste—getrou aan die humor wat ’n lag met ’n traan is—dalk ook ’n verdrietigheid of twee onder hul snaaksighede kan wegsteek.

 

Maar terwyl selfs woordeboeke blykbaar min of geen onderskeid tussen woorde soos harlekyn, nar en hanswors tref nie, is dit anders in die binnekringe van die vermaaklikheidswêreld. In dié milieu word verskille wel erken, terwyl ook ander benamings gebruik word, byvoorbeeld paljas, pierrot en pierette, wanneer verdere komiese tipes in die dramatiek bedoel word.

 

Dog hoe moet die leek nou weet presies wie is ’n nar, hanswors, harlekyn of wat ook al? ’n Mens moet toegee dat die verskille in ons moderne tyd so vervaag het dat volgehoue pogings om ’n onderskeid tussen hulle te maak straks op haarklowery kan neerkom. Tog is dit steeds nodig dat ons sal weet waar en hoe die verskillende soorte toneelhumoriste in die geskiedenis ontstaan het.

 

SÓ WAS ’n nar oorspronklik óf die amptelike grapmaker van ’n Europese vors óf die komediant by een van rederykerskamers in die Nederland van die Middeleeue. Rederykerskamers het bestaan uit digters wat hulle in geestelike broederskappe verenig het. Die woord rederyker is ’n verdietsing van die Franse woord rhétoriqueur, iemand wat die retorika beoefen.

 

Aan ’n vorstelike hof kon die nar partymaal ’n mismaakte dwerg gewees het, selfs ’n verstandelik minder bedeelde een, met wie maklik die gek geskeer kon word, hoe wreed dit vandag ook vir ons kan klink. Andersyds sou ook ’n gevatte, slim edelman as nar aangestel kon word, iemand wat so skerpsinnig was dat hy selfs ’n beduiende rol sou kon gespeel het in politieke aangeleenthede waarmee sy baas gemoeid was.

 

In ’n taal soos Engels is ’n onderskeid gemaak tussen die fool of buffoon (bespotlike nar) en die jester (spitsvondige nar).

 

 ’n Nar op ’n ou houtsnee wat nagenoeg in die middel van die 1600’s geskep is

BO: ’n Nar op ’n ou houtsnee wat nagenoeg in die middel van die 1600’s geskep is.

 Krediet: Histories / “Public Domain Old”

 

 

Die woord hanswors kry ons weer oorspronklik uit Duits. Ene Hanswurst of Hans Wurst was die komiese figuur in ou poppekaste, oftewel teatertjies waarin verhale met behulp van handpoppe uitgebeeld is. Dit is nie moeilik om ’n mens in te dink hoe die lawwe ou Hans Wurst naderhand met die Engelse clown geassosieer is—om uiteindelik Afrikaans met woorde soos hanswors en hansworstery te verryk nie.

 

Hans WurstREGS: ’n Ou voorstelling van die Duitse komiese poppekasfiguur Hans Wurst, wat verewig is in ons woord hanswors.

 

Krediet: Histories / “Public Domain Old”

 

 

Harlekyn (Arlecchino in Italiaans) is op sy beurt ’n karakter uit die Commedia dell'arte, ’n Italiaanse vorm van volkstoneel. Hy is ’n akrobatiese ondeug, ’n jong man wat ’n veelkleurige kostuum met ’n geruite patroon daarop dra, asook ’n hoed. Hy steek sy gesig agter ’n swart halfmasker weg. Voorts het hy altyd ’n stok by hom, wat egter gereeld by hom afgeneem word en waarmee hy dan ’n gedugte pak slae kry.

 

 

HarlekynLINKS: Stok en hoed, pas hom goed... Nie Hansie Slim nie, maar die ondeugdelike Harlekyn of Arlecchino soos in 1860 voorgestel deur die Franse illustreerder en skrywer Maurice Sand.

 

Krediet: Histories / “Public Domain Old”

 

 

Interessant genoeg is Harlekyn se afranseling met die stok juis die oorsprong van die woord slapstick in Engels (“slap him with the stick”), wat gebruik word om klugtery of growwe humor te beskryf. In die vroegste stil rolprente, byvoorbeeld, is sulke oordrewe lawwighede baie gebruik. Slapstick kan egter ook uiters komies en selfs “kunstig” wees indien dit korrek aangewend word, soos deur die legendariese Charlie Chaplin van weleer.

 

Paljasse is in Afrikaans toormiddels, maar eweneens ’n woord vir hansworste. Vir die Nederlanders is ’n paljas ook ’n hansworsterige figuur, een by wie die strooi oorspronklik by sy klere uitgesteek het, dus ’n lewende voëlverskrikker. ’n Mens dink hier onwillekeurig aan die goedige, uitrafelende voëlverskikker in die klassieke fantasierolprent The Wizard of Oz, wat miskien egter nie juis ’n tipiese paljas is nie. Die ware paljas se doel is naamlik om ander hansworste bespotlik te maak. Die woord is ontleen aan die Franse paillase, vir ’n strooipop.

Die voëlverskikker in The Wizard of OzREGS: Die voëlverskikker in die beroemde ou fantasierolprent The Wizard of Oz.

 

’n Pierrot (spreek uit pjerróó) is ’n hanswors van die Franse toneel, gewoonlik met los wit klere, ’n wit gemaakte gesig en ’n puntmus. Die vroulike van ’n pierrot is ’n pierette.

 

Glad nie so ’n gek onderwerp nie, kan ’n mens maar sê — dié oor die toneelspelende “gekke” wie se kaskenades en kwinkslae reeds eeue lank help om die lewe vir ons vroliker te maak!

Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad