Breinlose holtediertjie van die varswater wat teoreties “vir altyd kan lewe”

Hallo, klein hidra!

Illustrasie van hidra wat voortplant deur afbottingHy is ’n klein, dun diertjie, 6 tot 13 mm lank, wat in damme en mere leef. Breek net ’n sewende van ’n millimeter van sy liggaampie af en jy kan daaruit ’n heeltemal vol-maakte nuwe skepseltjie kweek. Dop hom om soos ’n sokkie en hy bly nog net so springlewendig. Die hidra, wat ook voortplant deur afbotting (soos op die animasie regs), is een van die raarste hol­te­diere. Die botsel ontwikkel ’n mond en tentakels aan die vry punt en raak uiteindelik los van die ouer se liggaam om sy eie, onafhanklike bestaan te begin...

Verskillende hidras

BO: Verskillende hidras... piepklein kanniedoods wat navorsers bly boei—nie die minste nie omdat hulle so bitter stadig verouder, indien dit enigsins gebeur dat hulle ouderdomsimptome begin toon! Boonop het hulle geen herkenbare brein nie en die senustelsel is ’n netwerk van senuwees wat op prikkels reageer. Maar of hulle kan dink of nie, hulle kan alte goed handel om in hul habitats van varswater te oorlewe. En dan kan hul sowel geslagtelik as nie-geslagtelik voort­plant... en selfs in verskillende stukkies opgekerf word wat dan elkeen in ’n afsonderlike organisme sal kan ontwikkel.

Groot foto bo: www.micrographia.com, wat die vrye gebruik daarvan vergun mits dit nie met ’n winsoogmerk aangewend word nie

H

ERCULES moes twaalf take moes vir koning Eurystheus verrig. Dit was om sy vryheid te verdien nadat hy sy eie vrou en kinders vermoor het, volgens ’n baie ou gedig oor hierdie held uit die Griekse mitologie en legendes. Een van sy reuse-take was om ’n ondier met nege koppe, die Hidra, dood te maak.

As ’n kop egter afgekap is, het twee in sy plek gegroei, tensy die wond met vuur verseël is. Met die hulp van sy neef slaag Hercules daarin om die gedrog te oorwin.

 
Die Hidra wat Hercules gestuur is om dood te maak, volgens ’n ou illustrasie uit 1545 (gewysig)

 

BO: Die Hidra wat Hercules gestuur is om dood te maak, volgens ’n ou illustrasie uit 1545 (gewysig). Let daarop dat die kunstenaar minder koppe aan die ondier toebedeel het as die nege wat die Hidra volgens die antieke Grieke gehad het. Of dalk kon die kunstenaar eenvoudig nie soveel koppe ingepas kry nie!  

In die agttiende eeu het ’n Switserse natuurkundige, Abraham Trembley  (1710–1784), nog ’n vertelling gepubliseer oor ’n ander hidra—ook ’n eienaardige, maar veel kleiner dierasietjie wat biologiestudente vandag steeds uitvoerig bestudeer.

Trembley het geskryf dat ’n heeltemal nuwe dier gekweek kon word uit net ’n agtste van die liggaam van só ’n skepseltjie. (Later is gevind dat die deeltjie veel kleiner kan wees.)

Hy het ook beskryf hoe hy dit reggekry het om die dier om te dop en steeds te laat lewe.

Abraham TrembleyLINKS: Abraham Trembley, wat bekend geword het as die eerste navorser wat die hidra bestudeer het.

Hierdie boeiende bevindings het gemaak dat wetenskaplikes die hidra deegliker ondersoek het, sodat ons vandag ’n magdom dinge omtrent hom weet. Die waterdiertjie het juis sy naam van die mitologiese Hidra gekry omdat hy teoreties feitlik onsterflik is—hidras kan weens ander faktore doodgaan, maar nie sommer van ouderdom nie, indien hulle enigsins sal verouder. Hulle regenereer eenvoudig hul weefsels wanneer hulle beseer raak.

Maar wat is ’n hidra eintlik?

 

Die kop van ’n hidra

BO: Die kop van ’n hidra (Hydra magnipapillata) van baie, baie naby.

Foto: Friederike Anton-Erxleben, KielpUniversiteit, Duitsland / Public Library of Science (PLoS).
Gelisensieer ingevolge die Creative Commons Attribution 2.5-lisensie, wat vrye verspreiding en wysiging van die foto vergun mits die bron erken word
 

Wat is ’n hidra?

HIDRAS is klein, dun diertjies wat in damme en mere leef en tel onder die min holtediere van die vars water (die meeste woon in die see).

 

Die Hydra is ’n genus van eenvoudige kreatuurtjies wat oor straalsgewyse simmetrie beskik. (’n Organisme met straalsgewyse simmetrie het geen linker- of regterkant nie, slegs ’n bo- en ’n onderkant.) Hulle is roofdiertjies wat tot die phylum Cnidaria en die klas Hydrozoa behoort, saam met ander bekender kreature soos die bloublasie.

Die liggaam van ’n hidra is ’n silindriese sak, waarvan die wand uit twee lae selle bestaan wat deur ’n dun laag van ’n nie-sellullêre stof geskei word.

Die liggaam is tussen 6 en 13 mm lank en kan grys, bruin of groen wees. Groen hidras kry hul kleur van alge wat in sekere selle van die liggaamswand lewe.

Die een ent van die hidra-liggaam is ’n basale skyf wat die dier aan ’n geskikte oppervlak, soos ’n waterplant of rots, anker. Aan die ander ent is ’n stuk of vyf, ses tentakels, wat die mond omring.

Wanneer die tentakels ingetrek is, is die diertjie dikwels heeltemal onopvallend—hy lyk nie na veel meer as ’n spikkel nie
en kan heel gerieflik op die kop van ’n speld inpas.

Die liggaam van ’n hidra (Hydra viridis) in ’n ineengetrekte toestandLINKS: Die liggaam van ’n hidra (Hydra viridis) in ’n ineengetrekte toestand. Kyk ook illustrasie oor die bou van die hidra reg onderaan hierdie artikel.

Foto : www.micrographia.com, wat die vrye gebruik daarvan vergun mits dit nie met ’n winsoogmerk aangewend word nie

Bolmakiesie en gly-gly

HIDRAS bly meestal op een plek, maar as hulle wel rondbeweeg, is dit nogal iets om te aanskou.

Hulle beweeg veelal deur as
.’t ware bolmakiesie te slaan op die bodem van damme of mere. Die diertjie buig en kry ’n houvas met sy tentakels. Dan bevry hy die basale skyf en laat dit omkantel, bra soos iemand wat sywaarts op die hande en voete tol.

Hidras beweeg ook gly-gly oor oppervlakke—of deur onderstebo op die watervlak te dryf met behulp van gasborrels wat deur die basale skyf voortgebring word.

 

Moord in die klein

HIDRAS vreet onder meer inseklarwes, watervlooie, wurms, pas uitgebroeide vissies en paddavissies. Tussen etes word die tentakels uitgestrek, maar min of meer stil gehou. Word ’n prooi egter gewaar, begin hulle kronkel en draai binnewaarts in die rigting van die mond.

 

Hierdie hidra het pas die verteerbare dele van ’n watervlooi verorber en raak onstslae van die onverteerbare

WatervlooiBO: Hierdie hidra het pas die verteerbare dele van ’n watervlooi (soos die een REGS) verorber en raak ontslae van die onverteerbare. Hidras het geen spysverteringskanaal soos dié van ons of selfs ’n anus as sodanig nie, en afvalprodukte word uitgewerp waar die kos ingekom het—deur die mond.

 

Groot foto van hidra en verteerde watervlooi: www.micrographia.com, wat die vrye gebruik daarvan vergun mits dit nie met ’n winsoogmerk aangewend word nie

Foto’tjie van watervlooi: Paul Hebert, Universiteit van Guelph, Kanada / OLPA / U.S. National Scoence Foundation


Soos die tentakels van korale het dié van die hidras netelselle of nematoblaste, wat hulle gebruik om hul prooi te vang. Elke nematoblast is ’n ronde sel met ’n opgekrulde draad.

Daar is vier van hierdie soorte selle by die hidras. By die een soort sel word ’n draad wat van binne hol is in die prooi ingedryf terwyl gif daardeur afgeskei word. By ’n tweede soort krul die uitgeskiete draad om die prooi en verstrik hom.

Die derde soort sel is klewerig en help om die prooi te vang en vas te hou. Dit help ook om die tentakels aan ’n oppervlak te heg wanneer die hidra beweeg, en sekere wetenskaplikes verkies om dit glad nie as ’n netelsel te beskou nie.

Die vierde en laaste soort word meer vir verdediging as voeding gebruik en word na diere uitgeskiet wat die hidra gewoonlik nie sal vreet nie.

Netelselle kan nie meer as een keer gebruik word nie en moet deur nuwes vervang word wat van ander liggaamsdele af plek verwissel.

Dit is die vermoë van die selle om te migreer wat meebring dat hidras omgedop kan word. As dit gebeur, beweeg die selle van die twee lae eenvoudig by mekaar verby om na hul oorspronklike posisies terug te keer.

Sodra die hidra sy prooi gevang het, word dit deur die tentakels na sy mond oorgedra. Dit word deels verteer deur ensieme wat deur die binnelaag van selle afgeskei word, maar kosdeeltjies word ook deur individuele selle verswelg.

Sweephare aan die binnelaag-selle karring die kos terwyl dit verteer word. Onverteerde oorblyfsels verlaat die liggaam deur die mond.

 

Voortplanting

HIDRAS plant sowel geslagtelik as nie-geslagtelik voort, meestal deur botselvorming. Klein botsels verskyn van tyd tot aan die kante van die liggaam, waar hulle ontwikkel en dan van die ouer afskei. Hulle vestig hulle iewers en ontwikkel in nuwe hidras.

Basiese bou van die hidraGeslagtelike voortplanting is belangrik by hidras in oorbevolkte toestande. Hidras is hermafroditities (dubbelslagtig). Klein bultjies met eierselle verskyn aan die kante van die liggaam, terwyl testes elders aan die liggaam verskyn. Spermaselle wat deur hidras in die water gewerp is, swem rond totdat hulle eierselle van ander hidras vind en dit bevrug.

Elke embrio wat nou ontstaan, skei ’n beskermende bedekking rondom hom af wat hom in staat stel om droë en koue toestande te weerstaan. Eindelik skei hy van die ouer en moet self sien kom klaar in die water.

Hidras het, soos gesê, ’n merkwaardige vermoë om hul liggaamsdele te hernuwe. Daar word gemeen dat ’n hidra binne ’n paar weke al sy selle vervang. Hulle word dus nooit oud nie—’n vermoë waarvoor baie mense stellig hul siele sal verkoop.
 

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad