|
ERCULES moes twaalf take moes vir koning
Eurystheus verrig. Dit was om sy vryheid te verdien nadat hy sy eie vrou
en kinders vermoor het, volgens ’n baie ou gedig oor hierdie held uit
die Griekse mitologie en legendes. Een van sy reuse-take was om ’n
ondier met nege koppe, die Hidra, dood te maak.
As ’n kop egter afgekap is, het twee in sy plek gegroei, tensy die wond
met vuur verseël is. Met die hulp van sy neef slaag Hercules daarin om
die gedrog te oorwin.
 |
|
BO:
Die Hidra wat Hercules gestuur is om dood te maak,
volgens ’n ou illustrasie uit 1545 (gewysig). Let daarop
dat die kunstenaar minder koppe aan die ondier toebedeel
het as die nege wat die Hidra volgens die antieke Grieke
gehad het. Of dalk kon die kunstenaar eenvoudig nie
soveel koppe ingepas kry nie! |
|
In die agttiende eeu het ’n Switserse
natuurkundige, Abraham Trembley (1710–1784), nog ’n vertelling
gepubliseer oor ’n ander hidra—ook ’n eienaardige, maar veel kleiner
dierasietjie wat biologiestudente vandag steeds uitvoerig bestudeer.
Trembley het geskryf dat ’n heeltemal nuwe
dier gekweek kon word uit net ’n agtste van die liggaam van só ’n
skepseltjie. (Later is gevind dat die deeltjie veel kleiner kan
wees.)
Hy het ook beskryf hoe hy dit reggekry het om die dier om te dop en
steeds te laat lewe.
LINKS:
Abraham Trembley, wat bekend geword het as die eerste navorser wat
die hidra bestudeer het.
Hierdie boeiende bevindings het gemaak dat
wetenskaplikes die hidra deegliker ondersoek het, sodat ons vandag
’n magdom dinge omtrent hom weet. Die waterdiertjie het juis sy naam
van die mitologiese Hidra gekry omdat hy teoreties feitlik
onsterflik is—hidras kan weens ander faktore doodgaan, maar nie
sommer van ouderdom nie, indien hulle enigsins sal verouder. Hulle
regenereer eenvoudig hul weefsels wanneer hulle beseer raak.
Maar wat is ’n hidra eintlik?

BO: Die kop
van ’n hidra (Hydra
magnipapillata) van baie, baie naby.
Foto: Friederike Anton-Erxleben,
KielpUniversiteit, Duitsland / Public Library of Science (PLoS).
Gelisensieer
ingevolge die
Creative Commons
Attribution 2.5-lisensie, wat vrye verspreiding en wysiging
van die foto vergun mits die bron erken word
Wat is ’n hidra?
HIDRAS is klein, dun diertjies wat in damme en
mere leef en tel onder die min holtediere van die vars water (die
meeste woon in die see).
Die
Hydra is ’n genus van eenvoudige kreatuurtjies wat oor
straalsgewyse simmetrie beskik. (’n Organisme met straalsgewyse
simmetrie het geen linker- of regterkant nie, slegs ’n bo- en ’n
onderkant.) Hulle is roofdiertjies wat tot die phylum Cnidaria en
die klas Hydrozoa behoort, saam met ander bekender kreature soos
die bloublasie.
Die liggaam van ’n hidra is ’n silindriese
sak, waarvan die wand uit twee lae selle bestaan wat deur ’n dun
laag van ’n nie-sellullêre stof geskei word.
Die liggaam is tussen 6 en 13 mm lank en kan grys, bruin of groen
wees. Groen hidras kry hul kleur van alge wat in sekere selle van
die liggaamswand lewe.
Die een ent van die hidra-liggaam is ’n basale skyf wat die dier aan
’n geskikte oppervlak, soos ’n waterplant of rots, anker. Aan die
ander ent is ’n stuk of vyf, ses tentakels, wat die mond omring.
Wanneer die tentakels ingetrek is, is die diertjie dikwels heeltemal
onopvallend—hy lyk nie na veel meer as ’n spikkel nie
en kan heel gerieflik op die kop van ’n speld inpas.
LINKS:
Die liggaam van ’n hidra (Hydra viridis) in ’n ineengetrekte
toestand. Kyk ook illustrasie oor die bou van die
hidra reg onderaan hierdie artikel.
Foto :
www.micrographia.com, wat die vrye gebruik daarvan vergun mits dit
nie met ’n winsoogmerk aangewend word nie
Bolmakiesie en gly-gly
HIDRAS bly meestal op een plek, maar as hulle
wel rondbeweeg, is dit nogal iets om te aanskou.
Hulle beweeg veelal deur as.’t ware bolmakiesie te slaan op die
bodem van damme of mere. Die diertjie buig en kry ’n houvas met sy
tentakels. Dan bevry hy die basale skyf en laat dit omkantel, bra
soos iemand wat sywaarts op die hande en voete tol.
Hidras beweeg ook gly-gly oor oppervlakke—of deur onderstebo op die
watervlak te dryf met behulp van gasborrels wat deur die basale
skyf voortgebring word.
Moord in die klein
HIDRAS vreet onder meer inseklarwes,
watervlooie, wurms, pas uitgebroeide vissies en paddavissies. Tussen
etes word die tentakels uitgestrek, maar min of meer stil gehou.
Word ’n prooi egter gewaar, begin hulle kronkel en draai binnewaarts
in die rigting van die mond.

BO: Hierdie hidra het
pas die verteerbare dele van ’n watervlooi (soos die een REGS) verorber en raak ontslae
van die onverteerbare. Hidras het geen spysverteringskanaal soos dié
van ons of selfs ’n anus
as sodanig nie, en afvalprodukte word uitgewerp waar die kos ingekom
het—deur die mond.
Groot foto van hidra en verteerde
watervlooi:
www.micrographia.com, wat die vrye gebruik daarvan vergun mits
dit nie met ’n winsoogmerk aangewend word nie
Foto’tjie van watervlooi: Paul
Hebert, Universiteit van Guelph, Kanada / OLPA / U.S. National
Scoence Foundation
Soos die tentakels van korale het dié van die hidras netelselle of
nematoblaste, wat hulle gebruik om hul prooi te vang. Elke
nematoblast is ’n ronde sel met ’n opgekrulde draad.
Daar is vier van hierdie soorte selle by die hidras. By die een
soort sel word ’n draad wat van binne hol is in die prooi ingedryf
terwyl gif daardeur afgeskei word. By ’n tweede soort krul die
uitgeskiete draad om die prooi en verstrik hom.
Die derde soort sel is klewerig en help om die prooi te vang en vas
te hou. Dit help ook om die tentakels aan ’n oppervlak te heg
wanneer die hidra beweeg, en sekere wetenskaplikes verkies om dit
glad nie as ’n netelsel te beskou nie.
Die vierde en laaste soort word meer vir verdediging as voeding
gebruik en word na diere uitgeskiet wat die hidra gewoonlik nie sal
vreet nie.
Netelselle kan nie meer as een keer gebruik word nie en moet deur
nuwes vervang word wat van ander liggaamsdele af plek verwissel.
Dit is die vermoë van die selle om te migreer wat meebring dat
hidras omgedop kan word. As dit gebeur, beweeg die selle van die
twee lae eenvoudig by mekaar verby om na hul oorspronklike posisies
terug te keer.
Sodra die hidra sy prooi gevang het, word dit deur die tentakels na
sy mond oorgedra. Dit word deels verteer deur ensieme wat deur die
binnelaag van selle afgeskei word, maar kosdeeltjies word ook deur
individuele selle verswelg.
Sweephare aan die binnelaag-selle karring die kos terwyl dit
verteer word. Onverteerde oorblyfsels verlaat die liggaam deur die
mond.
Voortplanting
HIDRAS plant sowel
geslagtelik as nie-geslagtelik voort, meestal deur botselvorming.
Klein botsels verskyn van tyd tot aan die kante van die liggaam,
waar hulle ontwikkel en dan van die ouer afskei. Hulle vestig hulle
iewers en ontwikkel in nuwe hidras.
Geslagtelike voortplanting
is belangrik by hidras in oorbevolkte toestande. Hidras is
hermafroditities (dubbelslagtig). Klein bultjies met
eierselle verskyn aan die kante van die liggaam, terwyl testes
elders aan die liggaam verskyn. Spermaselle wat
deur hidras in die water gewerp is, swem rond totdat hulle
eierselle van ander hidras vind en dit bevrug.
Elke embrio wat nou ontstaan, skei ’n beskermende bedekking rondom
hom af wat hom in staat stel om droë en koue toestande te weerstaan.
Eindelik skei hy van die ouer en moet self sien kom klaar in die
water.
Hidras het, soos gesê, ’n merkwaardige vermoë om hul liggaamsdele te hernuwe.
Daar word gemeen dat ’n hidra binne ’n paar weke al sy selle
vervang. Hulle word dus nooit oud nie—’n vermoë waarvoor baie mense
stellig hul siele sal verkoop.
|