VYFTIG, sestig
jaar gelede, wanneer—sal die ou mense jou vertel—was daar ’n liedjie
wat in baie Suid-Afrikaanse huise gereeld uit die grammofoon geblêr het:

Waar kry jy daardie
hoed,
waar kry jy daardie keil?
Dis ’n alte mooie hoed,
ek wil graag met jou ruil...
Dit was ’n man wat die Afrikaanse
verwerking van “Where did you get that hat?” op ’n sangplaat vasgelê het, maar
presies wie hy was, kan ons informante nie onthou nie. Hoe ook al,
die keil—’n hoed met ’n smal rand en ’n harde, silinderige bol,
bo-op plat—was werklik vroeër dae ’n toonbeeld van manlike
deftigheid.
Maar dan het verskillende hoede en ander hooftooisels deur die eeue
heen mos ook vir mense verskillende dinge beteken.
In die antieke Griekeland en Rome het sekere kopbedekkings
byvoorbeeld vryheid voorgestel en getoon dat die draers nie slawe is
nie.
Tydens die Inkwisisie in Europa is ketters (mense wat hulle teen die
leer van die kerk verset het) as simbool van hul skande gedwing om
punthoede te dra en daarna doodgebrand.
By Sy kruisiging is Jesus se aanspraak dat
Hy Koning is, gehoon deur Hom ’n doringkroon te laat dra...
|
Punthoede
|
|

BO:
Detail van ’n skildery deur die Spaanse skilder Goya
(1746–1828). Die kunswerk is ’n voorstelling van die Inkwisisie, waarop ketters onder
dwang punthoede dra voordat hulle doodgebrand sou word.
Ons detail toon net een punthoeddraer, maar daar is meer
in die volledige skildery.

REGS:
Die “domkop-hoede” (dunce caps) wat stout of
ongehoorsame kinders in oupagrootjie se dae in die
klaskamers moes dra, kon nogal soos die punthoede van
die Inkwisisie gelyk het—maar daar hou die ooreenkoms
tussen die twee strafmetodes gelukkig op!
Krediet:
Histories (“PD Old”) |
|
|
|
|
Doringkroon
|
|
|
|

LINKS: Hierdie detail van ’n skildery van Christus se
kruisweg deur
El Greco
(Domenikos Theotokopoulos, 1541–1614) toon die kroon van
dorings waarmee Jesus gemartel is. |
Vandag word hoede en ander hoofbedekkings
om vier hoofredes gedra: om die draer teen die elemente of beserings
te beskerm; as deel van rituele seremonies; as aanduiding van rang,
huwelikstatus of die draer se godsdiens; of bloot ter versiering.
Beskerming
’N MENS kan maar aanneem dit was die weer wat mense vir die eerste
keer hoede laat dra het. Vandag, soos in die verlede, pantser mense
in die kouer lande hul koppe teen die lae temperatuur met hoede van
pels of wol. In Noord-Europa en Noord-Asië het die hoede dikwels
oorflappe.
In warm lande hou hoede weer hul draers koel. Baie Chinese,
Japanners, Thais en Maleisiërs dra strooihoede met breë rande om die
son en reën van hul koppe af te hou. Die Spaans-Amerikaanse sombrero
met sy breë rand is ewe nuttig om onder te skuil wanneer die son
neerbrand tydens die siësta (middagslapie).
Skuthelms keer ook dat mense beseer raak. Bouwerkers, mynwerkers,
brandweermanne, soldate, fietsryers, jokkies, bergklimmers en
speleoloë (ondersoekers van grotte) dra sterk kopskerms van
plastiek of metaal.
|
Sonskerms |

BO: ’n
Sombrero... ’n sonskerm vir
die Spaans-Amerikaanse siësta.
Foto: U.S. National Park Service

BO: En in die
Demokratiese Republiek van die Kongo kan selfs
’n hoed van blare desnoods die hitte van die
versengende tropiese son help temper.
Foto: USAID
|
Rituele
IN Genesis lees ons hoe Adam en Eva met die sondeval vyeblare
aanmekaargewerk en dit vir klere omgehang het. Daarna het hulle
velklere gedra.
In die ou dae het mense ook geglo dat hulle die hoedanighede van hul
prooidiere aanneem wanneer hulle hul velle en ander dele van die
karkasse dra. Dit sou hulle kwansuis beter jagters gemaak het.
Selfs vandag nog is daar sekere jaggemeenskappe wat hooftooisels dra
wat van diervel, horings, sterte, vere en vlerke gemaak is. Vir
Noord-Amerikaanse Indiane dui arendvere op rang, dapperheid en mag.
Baie stamme in Afrika versier die kop met ’n kroon van
volstruisvere.
Blomkranse en blaarkrone word in sekere wêrelddele gedra vanweë ’n
veronderstelde verband met die gode van die aarde en vrugbaarheid.

BO: Die vere
maak die hoofman. Amerikaans-Indiaanse “chiefs” wys met hul
hooftooisels dat hulle vere voel vir enigiemand wat hul
gesag durf uitdaag!
Foto: U.S. Library of Congress
Stand en godsdiens
HOEDE word soms gedra om die draer se status te toon. Die
koninklikes dra krone, sekere akademici en studente dra akademiese
musse of studentebarette.
By party godsdienste dui die hoofbedekking op huwelikstatus. Die
Amish van Pennsilvanië in Amerika het hoede waarvan die hoogte van
die bol en breedte van die rand aantoon of die draer ongetroud of
getroud is.
Die verskillende soorte hoofbedekkings van die Arabiere dien
allereers om hulle teen die son te beskerm, maar kan ook ’n
godsdienstige betekenis hê of die draer se stand in die gemeenskap
aandui.
’n Tulband is ’n stuk doek wat om die kop gedraai word. ’n Fes is ’n
rooi mus sonder ’n rand en plat van bo, soms met ’n kwassie. In die
woestyn dra party Arabiese mans ’n kopdoek wat bo met hoofbande
vasgehou word en afhang.
Vandat hulle nege jaar oud is, dra talle Arabiese meisies sluiers.
Geen mans buiten hul eie mag hul kop en gesig onbedek sien nie.
Die Christelike kerk het eeue lank streng reëls oor klere
gehandhaaf. Vroue is byvoorbeeld nie sonder ’n hoofbedekking in die
kerk toegelaat nie. Joodse mans bedek die kop wanneer hulle bid.

BO en REGS BO:
Twee nonne, die een Boeddhisties (links), die ander Rooms-Katoliek. Die godsdienste
verskil hemelbreed, maar daar is ’n kennelike ooreenkoms in
die hoofbedekking.
Krediet: Histories (“PD Old”)
Versiering
REGS:
’n Hoed van saamgevlegte sy en strooi waarvoor ’n patent reeds so
vroeg as in 1809 uitgeneem is.
Krediet: U.S. Library Of Congress
BAIE Westerlinge dra vandag hoede omdat hulle reken hulle lyk
beter daarmee. Reeds van die veertiende eeu af is hoede as
versiering gedra.
Tot die einde van die sewentiende eeu was hoede egter eerder ’n
simboliese stelling as om die draers mooi te laat lyk. Hulle was as
modebykomstigheid belangriker vir mans as vir vroue.
In die twee eeue sedert vroue hooftooisels in hul modes
geïnkorporeer het, het hulle egter met ’n verbasende reeks hoede en
veelvuldige stylveranderings daarvoor vergoed dat hulle so traag
begin het.
REGS:
Die komiese Marie Dressler, ’n formidabele Kanadees-Amerikaanse rolprentaktrise van
die stil rolprente en die begin van klankfilms, spog in die jaar 1909 met ’n flambojante
hoed wat glo eintlik ’n lampskerm is!
Foto: U.S. Library of Congress
Trouens, hoede is meer vervorm as enige ander kledingstuk. Dit is
omdat hulle nie beperk is tot die fatsoen van die lyf nie: hulle
“sit” maar net op die kop en kan feitlik enige vorm hê: lank, breed,
rond, vierkantig of plat.
In baie lande vorm dekoratiewe hoede deel van die volksdrag. Die
tradisionele bolhoede van Boliviaanse vroue is byvoorbeeld suiwer
dekoratief.
Selfs die pette van skoolkinders en weermag- en polisiemanne is
bedoel om die voorkoms van hul draers te verbeter.
In die afgelope klompie dekades waarin klere ál minder formeel
geraak het, het hoede opgehou om deel van ons alledaagse kleredrag
te wees. Maar by sekere geleenthede sal party mense nog maar te
graag met ’n hoed wil spog—’n sieraad om ander na die kroon te
steek.

LINKS BO: In
Afrika was die kopdoek by vroue baie jare lank so
algemeen dat kopdoekdraery as ’n tradisionele gebruik bestempel kan word.
Maar—stellig onder Westerse invloed—het baie Afrika-vroue in die jongste tyd hul hare begin behandel
om langer en steiler te vertoon eerder as om kopdoeke te
dra (REGS BO).
Foto’s: USAID
Die hoed in die Afrikaanse
taal
ONS woord “hoed” vir ’n hoofbedekking hou waarskynlik verband met
die woord “behoed” wat beskerm beteken. Dan is daar in Afrikaans
sommer ’n string uitdrukkings met “hoed”. Jy kan byvoorbeeld die
hoed vir iemand afhaal, jou hoed agterna gooi, met die hoed in die
hand na iemand gaan, iets onder die hoed hou, met die hoed in die
oë staan, jou hoed opeet en jou hoed vat en loop. En al gehoor van
die definisie van niks? Dis ’n hoed sonder ’n bol waarvan die rand
weggewaai het!
|