|
AAR was eenmaal ’n jong olifantwyfie
genaamd Sadie wat geleer is om toertjies vir ’n Amerikaanse sirkus
te doen. Trap hier, trap daar. Slurp sus, slurp só. Maar toe kom die
stomme dier by ’n punt waar sy glad nie kan begryp wat van haar
verwag word nie.
Sy het uit die oefen-arena probeer ontsnap, dog haar meedoënlose
afrigters het haar teruggejaag. Kom, simpel Sadie, moet nou nie so
steeks wees nie, hoor jy!
Waarop Sadie gaan lê en, tot haar afrigters se verbasing, verdrietig
aan die huil gegaan het. “Sy het daar op haar sy gelê,” het een van
die mans later vertel, “met die trane wat van haar gesig afgestroom
en snikke wat haar reuse-liggaam laat sidder het.”
Die arme Sadie. ’n Mens moet hierdie die staaltjie miskien maar met
’n korreltjie sout neem. Daarteenoor is daar al talle kere berig van
olifante wat regtig baie menslik opgetree het.
Jagters beweer hulle het al gesien hoe gekweste olifante weggehelp
word deur ander wat hulle aan weerskante stut. In 1951 het ’n
Johannesburgse koerant berig dat ’n man gesien het hoe ’n
olifanttrop ’n graf grawe vir een van hul makkers wat gevrek het...
Menslik soos hulle soms straks handel, hoort olifante tot ’n groep
wat die primitiewe hoefdiere, of Paenungulata, genoem word. Daar is
vier afsonderlike ordes: olifante (orde Proboscidea); dassies (orde
Hyracoidea); erdvarke (orde Tubulidentata); en sireniërs (orde
Sirenia).
’n Bra onverwagte kombinasie, sou ’n mens wel kan sê. Op stuk van
sake lyk hierdie diere almal verskillend en het hulle heeltemal
uiteenlopende gewoontes. Dassies het kloue en nie hoewe nie en
sireniërs, wat in die water woon, het spaanagtige voorste ledemate
en glad geen ledemate agter nie.
Nog vreemder is dat hierdie diere hoegenaamd aan die hoefdiere
verwant is. Hoewel oiifante nie werklike hoewe het nie, glo
wetenskaplikes egter dat hulle en die ware hoefdiere neefs is.
In hierdie eerste artikel oor hoefdiere word die primitiewe
hoefdiere van naderby beskou.

BO:
’n Olifant en kalfie.
Foto: U.S. Department
of the Interior
Olifant
•
Kyk ook die volledige Mieliestronk-artikel oor die olifant
“OLIFANT,
jou reusedier... die mense lag vir hul plesier. . want waar het jy
al ooit gehoor... van ’n stertjie van agter en ’n STERT van voor?!”
Deur dié kleuterrympie het ons hulle van
kleintyd af leer ken, en vandag is hulle steeds vir ons geen
onbekendes nie. Die olifante van Addo, die einste slurpkolosse van die Krugerwildtuin, die legendariese
bosknewels van die Knysnawoud—hulle is immers eie aan Suid-Afrika.
In werklikheid is daar drie olifantspesies wat vandag lewe, en
hierdie drie tipes is die skamele oorblyfsel van ’n enorme meer as
seshonderd olifantagtige soorte wat volgens geleerdes reeds by tye
die aarde bewoon het.
Die oorlewendes is die Indiese olifant of Asiatiese olifant
(Elephas maximus), die Afrika-bosolifant of savanne-olifant
(Loxodonta africana) en die Afrika-woudolifant (Loxodonta
cyclotis).
Die Afrika-bosolifant het groter ore en ivoortande as sy Indiese eweknie,
asook ’n skuins voorkop en twee vingeragtige “lippe” vooraan die
slurp, teenoor die een lip van die Indiese olifant.
Slegs die Indiese olifantbul het ivoortande, terwyl die bosolifantkoei
van Afrika ook sulke tande het.
Die twee Afrika-spesies is tog onlangs nog as
een spesie geklassifiseer en talle bronne maak dus nog nie die
onderskeid nie. Maar omdat hierdie soorte wel van mekaar verskil—en
die verskille inderdaad deur DNA-toetsing bevestig is— word hulle
deesdae as twee afsonderlike spesies erken.
Die Afrika-woudolifant verskil onder meer van
die Afrika-bosolifant deurdat hy ’n lang, smal onderkaak het,
teenoor die bosolifant se kort, breë onderkaak. Sy is ore is ook
gerond, waar die bosolifant se ore meer gepunt is. Daarbenewens is
die woudolifant se ivoortande aansienlik kleiner.
(Verskeie ander diere soos seekoeie, narwalle, spermaceti-walvisse
en walrusse het ook ivoortande. Hierdie ivore het soortgelyke
fisiese eienskappe as dié van olifante. Talle
plastiek-plaasvervangers vir ivoor is al ontwikkel.)

BO: ’n Dassie tussen die rotse op Tafelberg in die Kaap.
Foto: Anthony Steel,
wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op
die wêreldwye web tot openbare
besit verklaar het (“released into the public domain”)
Dassie
RAAR maar waar, die dassie en die olifant is
blykbaar hegte familie—nader verwant aan mekaar as aan enige ander
diere.
Maar as ’n mens die dassie bekyk, lyk hy eerder na ’n kruising van
’n aardige klompie diere. Sekere van sy bene en sy brein kom wel
ooreen met dié van die olifant, maar dan is party van sy tande soos
dié van ’n renoster en ander soos ’n seekoei s’n. Sy maag is weer
soos dié van ’n perd.
In die agttiende eeu is die dassie selfs as ’n soort marmotjie
geklassifiseer.
Dassies is boorlinge van Afrika, Arabië en Asië. Hulle is baie
skugter, en kan blitsig na hul skuilings padgee. Boomdassies hou in
gate in bome, klipdassies tussen klippe.

BO: ’n Ilustrasie van
erdvarke.
Krediet: Freeclipartnow.com / Public
Domain Image
Dieselfde illustrasie is ook verkrybaar by die webwerf van Karen’s
Whimsy
Erdvark
HOEWEL die erdvark baie soos ’n miervreter
lyk, is hulle glad nie familie nie. ’n Besonderse eienskap van die
erdvark is dat hy geen voortande het nie, en bioloë het hom eers,
saam met die armadille en luiaards, in die orde Edentata (die
tandeloses) geplaas.
Maar hy het nou sy eie orde, waarvan die naam op ’n dier met
buistande dui, vanweë die smal buise wat deur sy tande loop.
Die erdvark kom in die meeste dele van Afrika suid van die Sahara
voor, maar hy is ’n nagdier, uiters ontwykend en word selde deur die
mens gesien. Hy kry sy naam van sy ronde, varkagtige snoet.
Met sy kragtige kloue skeur hy termietneste oop wat so sterk is dat
’n mens hulle nie eens met ’n pik kan oopkloof nie. Die erdvark haal
dan die skarrelende termiete met sy gryptong uit hul tonnels.
Sireniërs
•
Kyk ook Mieliestronk se Laslappie-artikel oor manatees en doegongs
IN Homerus se epiese gedig die Odyssee word
die hoofkarakter Odysseus gewaarsku teen die sirenes—seenimfe wat
deur hul bekoorlike sang matrose sou lok en hul skepe op die rotse
sou laat vergaan.
Baie mense dink die legendariese sirenes het dalk hul oorsprong in
die manatees en doegongs, oftewel sireniërs, gehad. Wat laasgenoemde
se lelikheid en gegrom met verleidelike en lieflike sang gemeen het,
moet egter nog verduidelik word!
REGS:
Hierdie sagmoedige manatee woon in die warm waters naby die
suidooskus van Amerika. ’n Volwassene kan tot omtrent 3,5 meter lank
word en skuins duskant 1400 kilogram weeg.
Krediet: U.S. Environmental Protection
Agency
Sireniërs is doodgoeie dieresiele, dalk die mins aanvallende
soogdiere op aarde. Met hul breë, gerimpelde steekhaar-snoete, smal,
versonke oë en vet liggame swem hulle lui-lui deur vlak kuswaters,
strandlagunes en riviere. Hulle is nuuskierige agies, wat dinge soos
vissersbote kan ondersoek deur op hul krom sterte onder die water te
“staan” met die kop en skouers bo die oppervlak.
Doegongs word in die tropiese en subtropiese dele van die Stille
Oseaan aangetref, manatees in die Karibiese en Atlantiese streke van
die Amerikas.
LINKS:
Doegongs.
Krediet: Marine Mammal Commission / U.S.
Gov.
Groot troppe van die sireniërs het eenmaal die seë deurkruis, maar hulle is
geweldig
uitgedun, onder meer deur jagters wat agter hul
vleis, leer en olie aan was.
|