Hoefdiere (1): Primitiewe hoefdiere:
Olifant, dassie, erdvark, sireniër

  Glo dit, my neef is
’n
olifant!
 

  Dassie

Kan dit waar wees—die dassie (foto BO) ’n nabye familielid van die olifant en die erdvark? En dat hierdie nederige ou kransdiertjie boonop verlangs verwant is aan die perd? In hierdie eerste artikel oor hoefdiere kyk ons na die sogenaamde primitiewe hoefdiere... ’n bra onverwagte kombinasie van op die oog af heeltemal verskillende soogdiere...

Krediet: gewysigde foto van oorspronklike deur
Gary M. Stolz / U.S. Fish and Wildlife Service

Klik hier onder op die skakel na die afdeling van jou keuse:

  

(1) Primitiewe hoefdiere: Olifant, dassie, erdvark, sireniër
(2) Onewetonige hoefdiere: Perd, esel, sebra, renoster, tapir
(3) Ewetonige hoefdiere (i): Bovidae: Beeste, skape, bokke, antilope
(4) Ewetonige hoefdiere (ii): Hert, bisamhert, gaffelbok, kameelperd
(5) Ewetonige hoefdiere (iii): Seekoei, vark, pekari, kameel, kameelskape

D

AAR was eenmaal ’n jong olifantwyfie genaamd Sadie wat geleer is om toertjies vir ’n Amerikaanse sirkus te doen. Trap hier, trap daar. Slurp sus, slurp só. Maar toe kom die stomme dier by ’n punt waar sy glad nie kan begryp wat van haar verwag word nie.

Sy het uit die oefen-arena probeer ontsnap, dog haar meedoënlose afrigters het haar teruggejaag. Kom, simpel Sadie, moet nou nie so steeks wees nie, hoor jy!

Waarop Sadie gaan lê en, tot haar afrigters se verbasing, verdrietig aan die huil gegaan het. “Sy het daar op haar sy gelê,” het een van die mans later vertel, “met die trane wat van haar gesig afgestroom en snikke wat haar reuse-liggaam laat sidder het.”

Die arme Sadie. ’n Mens moet hierdie die staaltjie miskien maar met ’n korreltjie sout neem. Daarteenoor is daar al talle kere berig van olifante wat regtig baie menslik opgetree het.

Jagters beweer hulle het al gesien hoe gekweste olifante weggehelp word deur ander wat hulle aan weerskante stut. In 1951 het ’n Johannesburgse koerant berig dat ’n man gesien het hoe ’n olifanttrop ’n graf grawe vir een van hul makkers wat gevrek het...

Menslik soos hulle soms straks handel, hoort olifante tot ’n groep wat die primitiewe hoefdiere, of Paenungulata, genoem word. Daar is vier afsonderlike ordes: olifante (orde Proboscidea); dassies (orde Hyracoidea); erdvarke (orde Tubulidentata); en sireniërs (orde Sirenia).

’n Bra onverwagte kombinasie, sou ’n mens wel kan sê. Op stuk van sake lyk hierdie diere almal verskillend en het hulle heeltemal uiteenlopende gewoontes. Dassies het kloue en nie hoewe nie en sireniërs, wat in die water woon, het spaanagtige voorste ledemate en glad geen ledemate agter nie.

Nog vreemder is dat hierdie diere hoegenaamd aan die hoefdiere verwant is. Hoewel oiifante nie werklike hoewe het nie, glo wetenskaplikes egter dat hulle en die ware hoefdiere neefs is.

In hierdie eerste artikel oor hoefdiere word die primitiewe hoefdiere van naderby beskou.

Olifant en kalfie

BO: ’n Olifant en kalfie.

Foto: U.S. Department of the Interior

Olifant
  Kyk ook die volledige Mieliestronk-artikel oor die olifant

 

OLIFANT, jou reuse­dier... die mense lag vir hul plesier. . want waar het jy al ooit gehoor... van ’n stertjie van agter en ’n STERT van voor?!”

 

Deur dié kleuterrympie het ons hulle van kleintyd af leer ken, en vandag is hulle steeds vir ons geen onbekendes nie. Die olifante van Addo, die einste slurpkolosse van die Krugerwildtuin, die legendariese bosknewels van die Knysnawoud—hulle is immers eie aan Suid-Afrika.

In werklikheid is daar drie olifantspesies wat vandag lewe, en hierdie drie tipes is die skamele oorblyfsel van ’n enorme meer as seshonderd olifantagtige soorte wat volgens geleerdes reeds by tye die aarde bewoon het.

Die oorlewendes is die Indiese olifant of Asiatiese olifant (Elephas maximus), die Afrika-bosolifant of savanne-olifant (Loxodonta africana) en die Afrika-woudolifant (Loxodonta cyclotis).

Die Afrika-bosolifant het groter ore en ivoortande as sy Indiese eweknie, asook ’n skuins voorkop en twee vingeragtige “lippe” vooraan die slurp, teenoor die een lip van die Indiese olifant.

Slegs die Indiese olifantbul het ivoortande, terwyl die bosolifantkoei van Afrika ook sulke tande het.

 

Die twee Afrika-spesies is tog onlangs nog as een spesie geklassifiseer en talle bronne maak dus nog nie die onderskeid nie. Maar omdat hierdie soorte wel van mekaar verskil—en die verskille inderdaad deur DNA-toetsing bevestig is— word hulle deesdae as twee afsonderlike spesies erken.

 

Die Afrika-woudolifant verskil onder meer van die Afrika-bosolifant deurdat hy ’n lang, smal onderkaak het, teenoor die bosolifant se kort, breë onderkaak. Sy is ore is ook gerond, waar die bosolifant se ore meer gepunt is. Daarbenewens is die woudolifant se ivoortande aansienlik kleiner.

(Verskeie ander diere soos seekoeie, narwalle, spermaceti-walvisse en walrusse het ook ivoortande. Hierdie ivore het soortgelyke fisiese eienskappe as dié van olifante. Talle plastiek-plaasvervangers vir ivoor is al ontwikkel.)

 

Dassie op Tafelberg


BO: ’n Dassie tussen die rotse op Tafelberg in die Kaap.

 

Foto: Anthony Steel,

wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare
besit verklaar het (“released into the public domain”)

 

Dassie

RAAR maar waar, die dassie en die olifant is blykbaar hegte familie—nader verwant aan mekaar as aan enige ander diere.

Maar as ’n mens die dassie bekyk, lyk hy eerder na ’n kruising van ’n aardige klompie diere. Sekere van sy bene en sy brein kom wel ooreen met dié van die olifant, maar dan is party van sy tande soos dié van ’n renoster en ander soos ’n seekoei s’n. Sy maag is weer soos dié van ’n perd.



In die agttiende eeu is die dassie selfs as ’n soort marmotjie geklassifiseer.

Dassies is boorlinge van Afrika, Arabië en Asië. Hulle is baie skugter, en kan blitsig na hul skuilings padgee. Boomdassies hou in gate in bome, klipdassies tussen klippe.

 


Erdvarke

 

BO: ’n Ilustrasie van erdvarke.

 

Krediet: Freeclipartnow.com / Public Domain Image
Dieselfde illustrasie is ook verkrybaar by die webwerf van Karen’s Whimsy

 

Erdvark

HOEWEL die erdvark baie soos ’n miervreter lyk, is hulle glad nie familie nie. ’n Besonderse eienskap van die erdvark is dat hy geen voortande het nie, en bioloë het hom eers, saam met die armadille en luiaards, in die orde Edentata (die tandeloses) geplaas.

Maar hy het nou sy eie orde, waarvan die naam op ’n dier met buistande dui, vanweë die smal buise wat deur sy tande loop.

Die erdvark kom in die meeste dele van Afrika suid van die Sahara voor, maar hy is ’n nagdier, uiters ontwykend en word selde deur die mens gesien. Hy kry sy naam van sy ronde, varkagtige snoet.

Met sy kragtige kloue skeur hy termietneste oop wat so sterk is dat ’n mens hulle nie eens met ’n pik kan oopkloof nie. Die erdvark haal dan die skarrelende termiete met sy gryptong uit hul tonnels.


Sireniërs
  Kyk ook Mieliestronk se Laslappie-artikel oor manatees en doegongs

IN Homerus se epiese gedig die Odyssee word die hoofkarakter Odysseus gewaarsku teen die sirenes—seenimfe wat deur hul bekoorlike sang matrose sou lok en hul skepe op die rotse sou laat vergaan.

Baie mense dink die legendariese sirenes het dalk hul oorsprong in die manatees en doegongs, oftewel sireniërs, gehad. Wat laasgenoemde se lelikheid en gegrom met verleidelike en lieflike sang gemeen het, moet egter nog verduidelik word!

 

ManateeREGS: Hierdie sagmoedige manatee woon in die warm waters naby die suidooskus van Amerika. ’n Volwassene kan tot omtrent 3,5 meter lank word en skuins duskant 1400 kilogram weeg.

 

Krediet: U.S. Environmental Protection Agency



Sireniërs is doodgoeie dieresiele, dalk die mins aanvallende soogdiere op aarde. Met hul breë, gerimpelde steekhaar-snoete, smal, versonke oë en vet liggame swem hulle lui-lui deur vlak kuswaters, strandlagunes en riviere. Hulle is nuuskierige agies, wat dinge soos vissersbote kan ondersoek deur op hul krom sterte onder die water te “staan” met die kop en skouers bo die oppervlak.

Doegongs word in die tropiese en subtropiese dele van die Stille Oseaan aangetref, manatees in die Karibiese en Atlantiese streke van die Amerikas.

 

DoegongsLINKS: Doegongs.
 

Krediet: Marine Mammal Commission / U.S. Gov.


Groot troppe van die sireniërs het eenmaal die seë deurkruis, maar hulle is geweldig uitgedun, onder meer deur jagters wat agter hul vleis, leer en olie aan was.

 

Klik hier onder op die skakel na die afdeling van jou keuse:

  

(1) Primitiewe hoefdiere: Olifant, dassie, erdvark, sireniër
(2) Onewetonige hoefdiere: Perd, esel, sebra, renoster, tapir
(3) Ewetonige hoefdiere (i): Bovidae: Beeste, skape, bokke, antilope
(4) Ewetonige hoefdiere (ii): Hert, bisamhert, gaffelbok, kameelperd
(5) Ewetonige hoefdiere (iii): Seekoei, vark, pekari, kameel, kameelskape

 Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad

/