|
BO: ’n Hoep-hoep in Indië.
|
|
|
BO: Illustrasie van ’n Eurasiese hoep-hoep.
Uit: Naumann, Naturgeschichte der Vögel Mitteleuropas
(Natuurgeskiedenis
OEPHO-POE,” roep die hoep-hoep. En dis hoekom ons hom die hoep-hoep noem. Vir Engelse ore klink sy vinnige, bra duifagtige geroep weer soos “poo-poo-poo”, en dus heet hy die hoopoe (uitgespreek hoopoo) in Engels. As l'upupa vir die Italiane, poupa vir die Portugese en selfs la upupo in die kunsmatige wêreldtaal Esperanto, toon die hoep-hoep dat hy veel wyer as net hier by ons sulke klanknabootsende name*) dra. Eintlik kom die kleurryke hoep-hoepe kruis en dwars oor die Ou Wêreld voor—in Afrika, sowel as Europa en Asië. Ook in Madagaskar. Hulle is die trotse besitters van ’n wonderbaarlike kuif wat soos ’n waaier oop- en toegemaak kan word, en met ’n lang snawel wat talle skadelike insekte vang, is hulle ons goeie vriende wat sowaar ons waardering en beskerming verdien.
Die hoep-hoep (Upupa epops) is ’n mediumgroot voël met ’n lengte van 25 tot 32 cm en ’n vlerkspan van 44 tot 48 cm. Met die gefladder van sy breë, gestreepte vlerke, lyk hy in vlug merkwaardig soos ’n groot vlinder. En hy en die mens kom al van ver af saam. In Ou Egipte is hy as heilig beskou en op die mure van grafkelders en tempels afgebeeld. Vir die Perse was hy ’n simbool van kuisheid. Maar in die grootste deel van Europa is hy as ’n dief verafsku, terwyl die Skandinawiërs gereken het hy voorspel oorlog. Party mense het tot eenmaal geglo dat ’n steentjie uit ’n hoep-hoep—straks uit sy krop—’n skuldige man sal laat bieg oor sy misdade wanneer dit op sy bors geplaas word terwyl hy slaap. Vandag word die hoep-hoep seker darem meestal slegs tot ’n groot mensevriend gereken, sonder al die bygelowe. Verskeie lande het hom al die eer betoon om hom ’n plekkie op hul posseëls te gee. In ’n landwye opname onder 155 000 Israeli’s is die hoep-hoep in 2008, met die viering van die 60-jarige bestaan van die staat Israel, tot die land se nasionale voël verkies. Volgens die legende was die voël die boodskapper tussen koning Salomo en die koningin van Skeba. Die hoep-hoep is, na verneem word, ook die nasionale voël van Italië, maar dit kon nie bevestig word toe hierdie artikel geskrywe is nie. Volgens sekere bronne het Italië nie ’n nasionale voël nie, volgens ander is dit die hoep-hoep. Italië het wel ’n nasionale dier, die Italiaanse wolf.
IRONIES genoeg is hoep-hoepe baiemaal ook erg vieslik... onrein, nie kosjer of iets wat jy eintlik as ’n nasionale voël van Irael sou verwag nie, as ’n mens nou so ligweg daaroor wil skerts. Want poe, sies! Hulle kan darem vreeslike stinkerds wees! Dit laat ’n mens wonder of daar dalk ’n dubbele betekenis geheg kan word aan die Engelse naam hoo-POE. Hulle maak nes in ’n hol boom, muurholte of pyp met ’n smal ingang, en dan maak hulle as ’t ware ’n toilet van hul tuiste. Want terwyl die wyfie broei en daarna haar kuikens versorg, verander haar stertknobbelklier in ’n stinkbom wat ’n onwelriekende vloeistof afskei. Die klein voëltjies aap hul mamma na en stink lustig saam. Hoep-hoepe se stank is glo so erg dat dit selfs aan die opgestopte voëls in museums bly kleef. Die stinkende vloeistof ruik na vrot vleis, maar die hoep-hoepe vryf dit in hul vere in. Dit kan insekte lok, wat die hoep-hoep se stapelkos is, maar dit help vermoedelik veral om roofvyande weg te hou. Boonop weet die kuikens al op ses dae instinktief hoe om onwelkome strome voëlmis oor indringers uit te giet. Hulle kan ook soos slange sis wanneer gevaar dreig. Hoep-hoepwyfies lê van vier tot twaalf eiers, afhangende van die soorte en die plekke waar hulle voorkom. Die wyfie broei alleen en die mannetjie bring vir haar kos aan, maar nadat die kuikens uitgebroei is (elke eier vyftien tot agttien dae nadat dit gelê is) bring altwee ouers kos vir hul kleingoed. Ná sowat drie en ’n halwe weke verlaat die jong voëls die nes, maar ontvang nog sowat ’n week lank ouerlike leiding. Dan moet hulle self sien kom klaar. Hoep-hoepe is nie kolonievormend nie en kom gewoonlik net enkeld of in pare voor. “Huwelike” duur gewoonlik net een broeiseisoen. Hulle sal wel in klein, losse swerms saamvlieg wanneer hulle trek. Die meeste Europese en Noord-Asiatiese hoep-hoepe verhuis wel met die koms van die winter na die trope, maar die hoep-hoepe van Afrika is blykbaar meer gesete. Die bewering is dus onjuis dat ons land se hoep-hoepe met die seisoenswisselings gereeld ’n draai in byvoorbeeld Rusland gaan maak—soos al in minstens een gerekende plaaslike publikasie geskrywe is. Daar is ’n sekere mate van onenigheid onder geleerdes of die onderskeie hoep-hoepsoorte wat in verskillende wêrelddele voorkom tot verskillende subspesies van Upupa epops gereken behoort te word of as afsonderlike spesies van Upupa. Só is daar sekere bronne wat ons Afrika-hoep-hoep as Upapa Africana aandui. Maar in die nuwe groot en veeldelige Handbook of the Birds of the World van die Spaanse uitgewer Lynx Edicions, die eerste handboek wat elke lewende voëlspesie op aarde dek, word nege hoep-hoep-subspesies onderskei, waaronder Upupa epops africana, wat van Midde-Afrika tot Suid-Afrika sou voorkom.
Daar is egter voorgestel dat nog twee subspesies erken moet word—die een daarvan Upupa epops minor van Suid-Afrika.
Die
mannetjie van ons hoep-hoep het onder meer ’n ryker kastaiingbruin
kleur, maar die wyfie lyk maar baie nes ander hoep-hoepwyfies van
elders.
____________________________ *) KLANKNABOOTSINGS of klanknabootsende woorde (klankwoorde) word onomatopeë genoem (enkelvoud: onomatopee). Mense gebruik graag klanknabootsende name vir voëls om aan te dui hoe daardie geveerdes se gefluit, gekoer of geskree vir hulle klink. Bekende klankwoorde vir voëls, benewens hoep-hoep, is piet-my-vrou, koekoek, janpierewiet, bokmakierie, tjou-tjou, ens.
Dit is interessant dat onomatopeë baiemaal ’n deel is van die breër taalsisteem waartoe hulle behoort, wat kan verklaar waarom Engelssprekendes die geluid van ’n horlosie as tick tock weergee, terwyl dit tikk takk in Noors kan wees en tik tak in Afrikaans.
Geluide van sekere diere word in Afrikaans weergegee as piep (voëltjie), piep (muis), kwaak (eend), kwaak (padda), blaf (hond) en brul (leeu), teenoor onderskeidelik cheep, squeak, quack, croak, bark en roar in Engels. ’n Mens sou wel kon vra of voëltjies en muise of paddas en eende dan vir Afrikaanssprekendes eenderse geluide maak, maar vir Engelssprekendes nie!
Maar dan
sou ’n mens ook kon wonder waarom ’n skaap dan in Engels ’n
langerige ie-geluid maak soos in bleat.
|
|