|
IS
’n volmaakte lentemôre. ’n Ontsaglike menigte helderwit blomme
skitter weldadig in die vroeë strale van die son. Gesmelte yswater
biggel teen die hange van die Alpe, vorm strome wat vrolik saamvloei
na die bolope van die Donau.
Maar dit is onmoontlik om die milde gawes van die natuur te geniet.
Want die lug is vol verskrikking... ruik na die dood. Dit is die
dood van ’n onnoemlike horde slagoffers van een van die ergste
skanddade van alle tye. Die Uitwissing.
Die Franse soldate wat Suid-Duitsland op daardie pragtige oggend
laat in April 1945 oorgesteek het, het op ’n doodsgroef afgekom met
tallose ontbindende menselyke—die naakte getuienis van vyf jaar
van Nazi-wreedheid.
Rolprente soos Steven Spielberg se Oscar-bekroonde Schindler’s List
het sedertdien help verseker dat die mensdom dit nie sal vergeet
nie: die ontsettende wreedhede van die sogenaamde Uitwissing of
Volkslagting of Holocaust. Duitsland se Nazi-leier Adolf Hitler en
sy trawante het destyds al die Jode van Europa probeer uitwis in wat
hulle as die “finale oplossing van die Joodse probleem” beskou het.
Die lyding wat daarmee saamgegaan het, is eenvoudig onbeskryflik.
Hoewel die Geallieerdes reeds in 1942 van die dodekampe vir die Jode
te hore begin kom het, is die volle betekenis van die verskrikking
eers aan die einde van die Tweede Węreldoorlog besef toe die kampe
ontset is.
Verbysterende gru-tonele
DIE Geallieerde soldate het die gruwels van oorlog geken, maar die
tonele wat hulle in die kampe begroet het, het hulle heeltemal
verbyster. Britse troepe wat in April 1945 die berugte Belsen-kamp
naby Hannover bevry het, het op tienduisend lyke afgekom wat nie
begrawe was nie.
Volgens ’n militęre verslag “was daar getuienis van
kannibalisme. Die inwoners het alle selfrespek verloor,
is moreel afgetakel tot die vlak van ondiere. Hul klere
was in vodde, het van die luise gewemel, en binne sowel
as buite die hutte was ’n feitlik aaneenlopende tapyt
van dooie liggame, menslike ontlasting, toiings en
vullis.”
Amerikaanse soldate wat ’n kamp van slawe-arbeiders binnegegaan het,
het gevind dat die toestande “feitlik nie meer as menslik herken kon
word nie. Almal was weinig meer as geraamtes; die dooies
het langs die siekes en sterwendes in dieselfde beddens
gelę; vullis en menslike afskeidings het die vloere
bedek. Geen poging is aangewend om die kwale en gangreen
te verlig wat onbeteueld onder die gevangenes versprei
het nie.”
’n Britse parlementslid wat deur premier Winston Churchill van
Brittanje na die Buchenwald-kamp gestuur is, het verslag gedoen oor
wat hy die “disenterie-hut” genoem het. Dit was omtrent 2,5 m by
iets meer as 7 m, maar die menigte siekes is daar in rakhokkies
ingedruk—ook dié wat reeds geopereer was (sonder verdowing deur
die gevangenisdokters). Daar was geen matrasse nie. “Die ontlasting
van die disenterie-pasiënte het van die een rak na die
volgende afgedrup. As die lewendes sterk genoeg was, het
hulle die dooies uitgedruk tot in die gang.”
En by nog ’n kamp, Dachau, naby München, was foto’s wat geneem is so
stokkend dat hulle veral destyds eenvoudig nie gepubliseer kon word nie.
Fanatieke Jodehaters
ANTISEMITISME—Jodehaat—was niks nuuts in die Europa van die
vroeë twintigste eeu nie. Trouens, in die afgelope duisend jaar was
daar talle uitsettings van en moorde op Europese Jode.
Maar met Adolf Hitler se opkoms in Duitsland ná die Eerste
Węreldoorlog en die stigting van sy Nazi-party in 1920, is
anti-Semitisme tot uiterstes gevoer waarvan daar voorheen nooit eens
gedroom kon word nie.
Jodehaat was ’n kernbegrip in die Nasionaal-Sosialistiese filosofie—en hul doel was om enigiemand en enigiets wat Joods was uit te
wis. En vir die Nazi’s het Joods enigiets beteken: om Joodse ouers,
net een Joodse ouer of selfs slegs een Joodse grootouer te hę.
In sy talle emosionele openbare toesprake het Hitler sy
ondersteuners daarvan verseker dat hulle nie die skuld vir Duitsland
se teenspoede moes kry nie, maar dat hul probleme deur Jode,
Kommuniste en Sosialiste veroorsaak is. In sy boek Mein Kampf, wat
in 1925 uitgegee is, het hy selfs Joodse Kommuniste vir Duitsland se
nederlaag in die Eerste Węreldoorlog geblameer.
“Dit is ons plig,” het hy eenmaal gesę, “om ons volk op
te wek, op te sweep en op te rui om die Jode instinktief
te verafsku.”
Die Nazi’s het die Jode in dié tyd gedurig met volslae minagting
behandel. Jode is in die strate aangeval. Sinagoges is afgebrand en
Joodse grafte geskend. Joodse winkels is geboikot, geplunder en met
handgranate bestook.
In Januarie 1933 het Hitler kanselier van Duitsland geword, en twee
maande later diktator. Die Nazi-bewind het die Jode in Duitsland
nou stelselmatig vervolg. Anti-Joodse wette is gemaak wat hulle hul
burgerregte ontneem en Joodse emigrasie aangemoedig het.
In September 1939 het Hitler Pole binnegeval, waardeur die Tweede
Węreldoorlog ontketen is. Die Poolse Jode is van meet af aan met
die uiterste wreedheid behandel.
Miljoene Jode is in afgeslote dele van hul stede—die sogenaamde
ghetto’s—ingeperk. Kontak met die buitewęreld is verbied en slegs
die geringste kosrantsoene is ingestuur. Duisende is van honger
dood.
Hordes Poolse Jode is na konsentrasiekampe in sowel Pole as
Duitsland gestuur.
Die uitwissing van die Jode is sinoniem met daardie
Nazi-konsentrasiekampe, wat van 1933 af in gebruik gekom het toe
Hitler die bewind oorgeneem het.
Kampe van verskrikking
ELKEEN wat die Nazi’s as
“ongewens” beskou het—Jode, Sigeuners,
Jehovasgetuies, Roomse geestelikes wat teen die Nazisme gekant was,
geestesversteurdes, Russiese krygsgevangenes, Spaanse republikeine,
vakbondlede en ander politieke gevangenes—is in die
konsentrasiekampe aangehou.
Elke kampbewoner moes ’n gekleurde kenteken dra om aan te toon tot
watter groep hy behoort. Só moes die Jode ’n geel driehoek dra—hoewel dit later in die Ster van Dawid verander is.
Gevangenes is geskop, geslaan, gemartel, verwurg en geskiet soos dit
die wagte behaag het. Mans en vroue is geskei en kinders van hul
ouers weggevat. Talle is van honger of siekte dood.
Dokters het mediese proewe met baie Jode gedoen: om te kyk wat sou
gebeur wanneer hulle sonder verdowingsmiddels geopereer is of hoe
lank ’n mens in bitter lae temperature kan oorleef.
Die fiksstes is dikwels as slawe-arbeiders vir die Duitse soldate
gebruik. Hulle moes versterkings bou, spoorlyne, paaie en brűe
herstel, ondergrondse bunkers en ondergrondse bergvestings grawe en
tenks vir die soldate gereed maak. Hulle moes werk totdat hulle van
uitputting inmekaargesak het.
In die laaste deel van die Tweede Węreldoorlog, toe dit geblyk het
dat Duitsland nie kon wen nie, is werkers gedwing om die getuienis
van die massamoorde weg te steek. Hulle moes die lyke in die grafte
opgrawe, dit verbrand en dan die as verstrooi.
Die “finale oplossing”
DIE Nazi’s het in 1941 met die vergassing van die Jode begin
eksperimenteer. In Januarie van die daaropvolgende jaar het
Nazi-amptenare byeengekom by Wannsee, ’n voorstad van Berlyn, om te
bepaal hoeveel Jode nog vermoor moes word en om die sogenaamde “finale oplossing” van die Joodse
“probleem” te beplan. Daarmee is
die finale uitwissing van die Jode bedoel.
Die Jode van Brittanje, Finland en die neutrale lande van Europa is
by die lys van potensiële slagoffers gereken. Van toe af is massiewe
dodekampe gebou. Slagoffers is aangekeer, op treine en beestrokke
gelaai en na die kampe gebring.
In die waan gebring dat hulle geďnterneer sou word en sou moes werk,
het hulle reguit in gaskamers ingeloop. Hul klere, wat hulle moes
uittrek voordat hulle die gaskamers binnegegaan het, is verkoop. Hul
koppe is kaalgeskeer en die hare gebruik om matrasse mee op te stop.
Goudvulsels is uit hul tande gehaal.
By Auschwitz is sowat 12 000 Jode daagliks vergas en veras. Teen die
einde van die oorlog was hierdie dodekamp die begraafplaas van sowat
twee miljoen Jode.
Toe die Geallieeerde soldate ná die oorlog die dodekampe binnegaan,
het hulle meestal nie-Jode daar aangetref. Wat gebeur het, was dat
die Jode wat soontoe gestuur is, omtrent net so vinnig vermoor is as
wat hulle daar aangekom het. Teen die einde van die oorlog is
bereken dat meer as 40 persent van die węreld se Jode—sowat ses
miljoen mans, vroue en kinders—vermoor is.
Die oorlewendes
ONDANKS die Nazi’s se poging om al die Europese Jode uit te wis,
het ’n verbasende aantal oorleef. Van die sowat 1,75 miljoen wat
teen die einde van die oorlog nog gelewe het, was tussen 250 000 en
300 000 oorlewendes van die dodekampe en “dodemarse” in die veld.
Party het uit Europa gevlug voordat die oorlog begin het. Vir andere
het die oorlog geëindig voordat die Nazi’s hul planne met hulle kon
uitvoer. Sekeres het toevlugsoorde in die Sowjet-beheerde
Sentraal-Asië, Switserland, Spanje, Portugal en Swede gevind.
’n Gelukkige minderheidjie is deur simpatieke nie-Jode weggesteek,
wat daarmee hul eie lewe gewaag het. En hoewel Berlyn “Judenrein”
(skoongemaak van die Jode) verklaar is, het minstens vierduisend
Berlynse Jode ondergronds gewoon. ’n Klompie Jode is nie as Jode
geëien nie.
Baie mense is dood nadat die Geallieerde soldate die kampe ontset
het—sowat vyfhonderd per dag in die eerste week of wat. Hoewel
soldate en medici al die moontlike gedoen het om die slagoffers te
help, was baie eenvoudig te swak of siek om te bly lewe. Honderde is
dood omdat die Britse kosrantsoene wat hulle ontvang het, te ryk
vir hul uitgeteerde gestelle was.
En volgens sekere verslae het mense gesterf net omdat hulle so
verlig was dat hulle gered is. Dit was eenvoudig meer as wat hul
verpletterde senuwees kon verduur.
”Ons het verleer hoe om te lag,” het ’n oorlewende, dr. Zalman
Grinberg, gesę. “Ons kan nie meer huil nie, ons begryp nog nie ons
vryheid nie, alles omdat ons steeds by ons dooie kamerade is... ons
hoort in die massagrafte van hulle wat in Charkof, Lublin en Kofno
geskiet is. Ons behoort tot die miljoene wat in Auschwitz en
Birkenau vergas en verbrand is. Ons behoort tot daardie tienduisende
wat deur miljarde luise getreiter is, wat in modder met ’n
hongerdieet moes lewe, met koue en wanhoop as metgeselle. Ons lewe
nie. Ons is dood.”
|
|
|
 |
Die Laksman
•
ADOLF EICHMANN (1906-1962) was die man in beheer van die
“finale oplossing“—toe Jode van oral in die
Duits-besette Europa na dodekampe gestuur is om uitgewis
te word. Eichmann het ná die oorlog verdwyn, maar
Israeliese agente het hom in 1960 in Argentinië gevang
en ontvoer. Hy is na Israel gebring, verhoor, aan
misdade teen die mensheid skuldig bevind en opgehang.
Die foto LINKS BO is van Eichmann as Nazi-offisier. HEEL
LINKS ONDER is soos hy op sy Argentynse paspoort gelyk
het en LINKS ONDER is hy in die beskuldigdebank in
Israel. |
|
|

Die
Samaritaan
• OSKAR SCHINDLER
(LINKS), ’n Duitse Katoliek, het sy lewe gewaag om ’n
geraamde 11 000 Poolse Jode te red. Hy het eenkeer 1200
Jode uit twee arbeidskampe verwyder, kastig om hulle as
slawe-arbeiders in sy kombuisgerei-fabriek te laat werk,
maar eintlik om hulle te beskerm.
’n Ander keer weer—toe twee verseëlde beestrokke vol
Hongaarse Jode per trein heen en weer gestuur is sonder
’n klaarblyklike bestemming en uiteindelik net so op ’n
stasie gelos is—het Schindler gevra dat die waens na sy
wapenfabriek gestuur word. Toe sy versoek geweier word,
is hy self na die stasie toe waar hy die vragbrief
gevind en daarop geskryf het: “Eindbestemming—Schindler-fabriek, Brunnlitz”.
Die waens het by sy fabriek aangekom en Schindler het
die mense binne-in bevry en hulle kos, warmte en
beskerming gegee. Twintig van die honderd is van die
koue dood tydens die verskriklike reis.
Toe Schindler in Oktober 1974 dood is, is sy oorskot na
Jerusalem gestuur. Hy is op die Olyfberg begrawe en sy
begrafnis is bygewoon deur baie van die mense wat hy
gered het.
|

Anne
Frank...
tiener-skryfster
van ’n beroemde dagboek
• ANNE FRANK,
1929-1945 (wasbeeld-voorstelling HIERBY), ’n
Duits-gebore Joodse meisie, het ná haar dood vanweë haar
gepubliseerde dagboek oor haar ervaringe in afsondering
węreldberoemd geword.
Sy het dit tydens
dieTweede Węreldoorlog geskryf terwyl sy en haar gesin
twee jaar lank in versteekte kamers in 'n gebou in
Amsterdam, Nederland, weggekruip het. Nazi-Duitsland het
Nederland destyds beset.
Die verstekelinge is
egter uiteindelik gevang, en Anne het in die
konsentrasiekamp Bergen-Belsen gesterf. Nadat haar boek
postuum deur haar pa, Otto Frank, gepubliseer was, het
dit 'n węreldtreffer geword wat in baie tale vertaal en
deur miljoene mense gelees is.
Volgens baie mense is
dit ’n uitmuntend geskrewe verhaal deur en oor 'n meisie
in die puberteit wat onder die uiterste omstandighede
geskryf is. Verskeie rolprente is ook oor Anne Frank
vervaardig.
Foto van die
Anne Frank-wasbeeld van Madame Tussauds in Amsterdam, in
2009 geneem deur “Arch”, wat dit tot openbare besit
verklaar het (“released into the public domain”)
|
|