|
||
|
Die verkeerde geluide
OP 'N DAG loop ’n vent die kantoor van ’n talentsoeker binne en sê: ''Ek het vir jou ’n nuwe ster gebring... dis my hond... hy kan praat!'' ''Ja, ja, ja,'' teem die ongelowige talentsoeker, ''bewys dit.'' ''Kom, Wagter,'' sê die vent, ''sê vir my wat is iemand wat moor, roof en steel?'' ''Boef! Boef!'' blaf die hond. ''En hoe voel skuurpapier?'' vra die vent weer. ''Rof! Rof!'' blaf die hond met 'n heserige stem. ''Goed, sê nou vir my wie was die grootste Suid-Afrikaanse rugbypersoonlikheid van die twintigste eeu?'' ''Naas! Naas!'' maak die hond keel skoon terwyl hy op die kantoorvloer kwyl. Die talentsoeker is glad nie beïndruk met die tipiese hondegeluide wat hy gehoor het nie en hy jaag die vent saam met sy hond uit sy kantoor uit. ’n Paar oomblikke later kyk die hond in die straat op na sy baas en sê: ''Moes ek dalk Danie Craven gesê het?''
TWEE vriende loop mekaar in die straat raak en die een sê vir die ander: ''Ek is op pad om ’n hond te koop!'' '' ’n Hond te koop?'' vra die ander een verbaas. ''Maar waar op aarde gaan jy die dier aanhou? Jy woon dan in ’n woonstel op die tiende verdieping!'' ''Wel, in die somer gaan ek hom op die balkon los.'' ''En in die winter dan?'' ''Dan sal ek hom maar laat inkom.'' ''En die stank dan?'' ''Ag wat, die hond sal maar daaraan gewoond moet raak!''
MISDAAD vier hoogty in ’n sekere woonbuurt in die buitewyk van die stad. ’n Egpaar wat ’n huis daar laat bou het, is doodbenoud nadat by drie van hul bure se huise ingebreek is. Hulle besluit om ’n waghond te kry. Die vrou gaan toe na die naaste troeteldierwinkel en sê: ''Kan julle my help, asseblief? Ek het ’n goeie waghond nodig.'' ''Dit spyt my, mevrou,'' sê die klerk wat haar bedien, ''maar al ons waghonde is uitverkoop. Al wat ons het, is hierdie steekhaarbrakkie. Maar hy ken darem karate.'' Die vrou glo dit natuurlik glad nie, maar die winkelklerk sê: ''Karate daardie stoel!'' En die steekhaartjie storm op die stoel af en kap dit net daar in duisend stukkies. Vervolgens sê hy vir hond: ''Karate daardie tafel.'' Waarop die hond ’n stewige houttafel bespring en dit summier in twee stukke breek. Tevrede dat die klerk nie vir haar jok nie, koop die vrou die hond en neem dit huis toe na waar haar man wag op die groot waghond wat hy gereken het sy sou koop. Hy is skoon uit die veld geslaan -- en baie kwaad -- toe hy die steekhaarbrakkie sien. ''Maar, liefling, hy ken karate,'' probeer die vrou haar optrede regverdig. Dog haar man wil niks verder hoor nie. ''Karate?!'' skreeu hy. ''Karate, my agterent!'' Hy lê nou al geruime tyd in die hospitaal.
DIS laataand en ’n dronkie kom uit die kroeg geslinger terwyl hy ’n hond se leiband agter hom aansleep. Maar pleks van ’n hond aan die leiband, is ’n ongerookte sigaret aan die band geheg. ’n Polisieman sien die spektakel en kom vra die dronkie: ''En nou, ou toppie, wat dink jy doen jy?'' ''Wie ek, konsjtabel?'' lispel die dronkie. ''Ek neem my vrou sje nuwe sjkoothondjie vir ’n wandeling, disj wat ek doen." ''Skoothondjie se voet!'' sê die konstabel. ''Jy's besig om ’n sigaret agter jou aan te sleep.'' Waarop die dronkie geskok antwoord: ''Haai, konsjtabel, disj versjkriklik. Dan het ek mosj my vrou sje poedel gerook!"
WAT HET die mense gesê van die hond wat verslaaf was aan knoffel? Sy blaf is baie erger as sy byt.
Bekkige dier
EENDAG sien ’n kêrel ’n advertensiebord voor ’n huis. Op die bord staan: ''Pratende hond te koop.'' Hy lui die deurklokkie en die hond se eienaar maak sy verskyning en sê aan hom dat die hond in die agterplaas is. Hy loop toe na die agterkant van die huis en daar sien hy ’n brak wat op ’n polletjie gras sit. ''Praat jy?'' vra hy. ''Natuuurlik," sê die brak. ''Dis interessant. Vertel my meer. Wat is jou storie?'' ''Wel,'' sê die brak en kyk hom stip in die oë, ''ek was nog maar net ’n jong brakkie toe ek al besef het dat ek hierdie vermoë besit, en ek wou graag ’n speurder word. Maar toe kom die Departement van Buitelandse Sake van my te hore en hulle besluit ek is die volmaakte internasionale spioen. Kort voor lank stuur hulle my toe van land tot land waar ek allerhande hooggeplaastes afgeluister het sonder dat dié ’n benul gehad het dat ek kon begryp wat hulle sê. Sedert James Bond was daar nog nie ’n geheime agent soos ek nie. Ek was agt jaar lank ons land se waardevolste spioen. Maar toe word ek moeg daarvoor en keer ek terug om ’n fabriek te stig wat hondekos vervaardig, wat toe ook mettertyd die mees geslaagde onderneming in sy soort in die land was. Ek is selfs bekroon as die Knorrigste maar Suksesvolste Entrepreneur van die Jaar! Ek het ook ’n dierbare teef van ’n vrou gehad en baie jong hondjies, maar nou is ek net ’n pensionaris. ''Die kêrel slaan sy hande in ongeloof saam. Hy haas hom terug na die brak se eienaar en vra hoeveel hy vir die hond wil hê. ''Tien rand,'' sê die eienaar. ''Tien rand?'' vra die kêrel verbaas. ''Hierdie hond is die grootste fenomeen wat ek nog nog ooit teëgekom het. Hoe op aarde kan hy vir jou slegs tien rand werd wees?'' ''Man,'' sug die eienaar, '' ’n mens kan
nie ’n woord glo wat dié ou drommel sê nie!''
’N TALENTSOEKER loop in die straat af waar hy ’n man en sy hondjie teëkom. Die hondjie is besig om te sing -- alte pragtig! Die talentsoeker is so verstom dat hy ’n hele paar oomblikke lank sy oë staan en knip om seker te maak dat hy nie droom nie. ''Kom asseblief na my kantoor toe,'' pleit hy by die jong hond se baas toe hy tot verhaal kom. ''Ek wil ’n kontrak met jou en hierdie wonderlike hondjie sluit.'' Die man bring dus sy hond na die talentsoeker se kantoor. Die hondjie is net besig om die laaste paar note van La Donna E' Mobile te sing (en soos Luciano Pavarotti te klink), toe ’n groot teefhond die kantoor binnebars en die hondjie aan sy nekvel beetkry. Daarna hardloop sy by die deur uit terwyl sy hom in haar bek dra. Die man trek sy skouers op en sug. ''Dit help nie,'' sê hy, ''dis sy ma daardie. Sy weier dat hy ’n loopbaan in die
vermaaklikheidswêreld volg. Sy wil hê hy moet ’n dokter word.'' Ongehoorsaam!
Buurman: ''Koos, kom gou! Jou hond het so pas ’n man gebyt terwyl hy op sy fiets gery het!'' Koos (onthuts):
''Wat makeer die verbrandste hond? Ek het hom spesifiek verbied om vandag met sy fiets te ry!'' Brokkies oor brakkies
Nie kieskeurig nie
Eerste posman:
'' ’n Hond het my vanoggend aan my been gebyt.''
Dit was duidelik talente wat sy reeds gehad het voordat sy die katarakte ontwikkel het, het die veearts besef. Een probleem was egter dat haar ''nuwe'' oë skoon oormekaar geslaan het wanneer die veearts vir haar ’n boek gegee het. Sy kon nie een letter van die volgende onderskei nie. Die veearts het toe ’n grondige ondersoek laat doen na die teef se geskiedenis om uit te vind waarom sy nou, ná die operasie, nie in staat is om letters te intepreteer nie. Die antwoord was
heel eenvoudig -- sy het nooit leer lees nie.
KLEIN KOOS oefen in die sitkamer met sy viool terwyl Pa Koos in sy slaapkamer probeer om ’n uiltjie te knip. Die gesin se hond lê op ’n matjie voor Pa Koos se bed, maar elke keer wanneer Klein Koos ’n ekstra hoë noot uit die viool wring, vlieg die hond regop en tjank iets aller verskriliks. Pa Koos verduur die hond en die viool so lank as wat hy kan. Toe knak hy, spring vervaard orent en gil soos ’n besetene bokant al die lawaai uit:
''Nee vrek, Klein Koos, kan jy dan nie iets speel wat die hond ken nie?!''
JY KEN mos die woord hondsdae... die benaming van daardie stikwarm dae in die somer wanneer almal versmag van die hitte... maar wat is ’n hondweek? Jy weet nie? Dis dan so maklik. Sewe dae sonder ’n krieseltjie vleis maak ’n hond week!
Totaal onsinnig
’N HOND besoek ’n Internet-kafee en vra of hy ’n e-pos-nota mag stuur. ''Natuurlik,'' sê een van die werkers, ''tik net jou boodskap in op daardie rekenaar by die deur.'' Die hond gaan sit voor die rekenaar en tik: ''Woef... woef... woef... woef... woef... woef... woef... woef... woef.'' Die werker kom 'n rukkie later kyk of die hond regkom en lees sy boodskap. ''Wag,'' sê hy, ''in hierdie Internet-kafee betaal klante ’n rand vir elke tien woorde in ’n e-pos-nota. Joune bevat net nege. Jy kan dus nog ’n ekstra woef byvoeg vir dieselfde prys.'' ''Nee,'' antwoord die hond onthuts, ''dan sal dit mos nie sin maak nie!''
'N MAN loop in die park waar hy 'n vrou op 'n bank sien sit met 'n hond wat langs haar lê. Hy is baie lief vir honde en wil die hond streel, maar eers vra hy haar: "Mevrou, byt jou hond?" "Nee, my hond byt nie." Die man vryf oor die hond se kop, maar die dier hap sy hand dat die bloed loop. Woedend skree hy vir die vrou: "Ek dog jy sê jou hond byt nie!" "Hierdie hond,'' sê die vrou koel, ''is nie my hond nie."
PETRONELLATJIE gee vir haar ouma ’n lekkertjie. Haar ouma is ook nie links nie en steek die stukkie soetigheid dadelik in haar mond. ''Mmmmmm,'' sê sy, ''maar dis darem ’n lekker lekker wat vir vir my gegee het, Petronellatjie.'' Petronellatjie frons. Daar is iets wat sy nie kan kleinkry nie. ''Dis darem snaaks dat daardie lekkertjie vir ouma so lekker smaak,'' sê sy. ''Toe ek dit netnou vir die hond gegee het, het hy dit dadelik uitgespoeg!''
WAT IS Maandag waf woef waf, Dinsdag woef waf woef, Woensdag waf waf woef? Stamboom-vragie
Het jul hond ook ’n stamboom? Nee wat, hy doen sy goetertjies sommer teen enige boom.
DIE POSBODE staan met ’n pakkie voor die deur, toe ’n blaffende hond skielik om die hoek van die huis aangestorm kom. Kerplaks! laat die posbode die pakkie val. Hy snel soos ’n pyl uit ’n boog deur die voortuin en spring soos ’n hoogspringer oor die voorhekkie. Intussen gaan die deur oop en die vrou van die huis sê laggend: ''Haai, posbode, blaffende honde byt nie, jy ken mos darem die spreekwoord, of hoe?'' Kan so wees, mevrou'' hyg die posbode, ''maar wie sê daai hond ken die spreekwoord?''
JY RY in ’n hyser en daar's ’n hond langs jou en jy ruik iets stinks. Hoe weet jy dis die hond wat jy ruik? Kyk na almal in die hyser en vra luidkeels:
''Sies, wat stink so?'' As die hond so skaam kry dat hy jou nie antwoord nie, dan is dit hy!
Sannie: ''Ons bure se teefhond het 'n hele baal wol opgevreet.'' jannie: ''En toe?'' Sannie: ''Nee, die bure vertel dat al haar klein hondjies toe met truitjies aan gebore is.'' Jannie: ''Klink vir my maar na ’n wolhaarstorie.''
WAT KRY jy as jy 'n windhond met 'n muishond kruis? 'n Dier wat met 'n stink spoed verbysnel.
Jaag hom die huis in.
’N SUID-AFRIKAANSE toeris in Groenland wil graag die yswoestyn oorsteek met ’n slee wat deur ’n sterk sleehond getrek word. Hy huur dus ’n hond met ’n slee en die nodige toerusting, maar hy weet nie so reg hoe om die dier aan die loop te kry nie. ''Dis heel eenvoudig,'' sê die Eskimo wat alles aan hom verhuur het, ''praat net Eskimo-taal met die hond, meneer. As jy `Sjoe' sê, sal die hond begin loop en as jy `Sjoe-Ai Me 'Nsig Da Rem'' sê, sal hy hardloop dat hy bars.'' ''En as ek wil hê hy moet stop?'' vra die Suid-Afrikaner. ''Dan sê jy bloot A Me ’N,'' antwoord die Eskimo. Die hond staan ingespan voor die slee en wag, en die Suid-Afrikaner klim op die slee. ''Sjoe,'' sê hy, en die hond begin loop. ’n Entjie verder die yswoestyn in sê die man: ''Sjoe-Ai Me 'Nsig Da Rem'', en die hond laat waai oor die ys. Skielik sien die man egter ’n reusagtige afgrond voor hom opdoem. En paniek pak hom beet. Hy het vergeet wat hy moet sê om die hond te laat stilstaan. Hy weet dat hy hom saam met die sleehond te pletter gaan val, en hy het nog net tyd vir ’n skietgebedjie. Aan die einde daarvan sê hy: ''Amen'' -- en wonder bo wonder, die sleehond gaan staan botstil. Vlak voor die rand van afgrond steek die dier in sy vier spore vas. En die verligte Suid-Afrikaner vee die sweet van sy voorkop af en sê:''Sjoe! Ai, mensig, darem!''
'N BOERBOEL is besig om in vullistromme rond te snuffel. Hy kan egter beswaarlik beweeg, want hy balanseer terselfdertyd 'n telefoonpaal op sy nek. 'n Windhond kom daar aangewaai en vra: ''En dié affêre op jou nek nou?'' ''Dis om die wolwe weg te hou,'' sê die boerboel. Windhond: ''Jy's besimpeld, man, daar's mos nie wolwe in Suid-Afrika nie.'' Boerboel: ''Wys jou net hoe goed dit werk.''
'N JAPPIE ry deur die Suid-Vystaatse platteland waar hy 'n skaapwagter teëkom wat besig is om 'n groot trop skape aan te jaag. Die jappie gewaar 'n kans om 'n vet slag met die ontmoeting te slaan. Hy hou stil en klim uit sy motor uit. ''Ek wed jou dat ek presies vir jou sal kan sê hoeveel skape in hierdie trop is,'' sê hy vir die skaapwagter. ''As ek verkeerd is, gee ek jou honderd rand. Maar as my getal korrek is, moet jy my 'n skaap gee.'' Die skaapwagter dink 'n bietjie na. Hy't tog 'n yslike groot trop, redeneer hy by homself, en die kans is geweldig skraal dat hierdie kêrel ooit sal reg raai. Dus neem hy die weddenskap aan. Die jappie pluk sy selfoon uit, skakel sy Internet-diensverskaffer, sweef na die Nasa-webwerf en kry 'n koppeling met 'n satelliet wat beveel word om die spesifieke kolletjie in die Vrystaat te skandeer en al die inligting in 'n databasis te berg. Hierna neem 'n superrekenaar oor, wat die skape binne mikrosekondes tel en die antwoord in die venstertjie van die jappie se selfoon laat flits. Stel jou die skaapwagter se verbasing voor toe die jappie sekuur in die kol is met sy antwoord: "Daar is 981 skape.'' ''Meneer.'' sê die verbysterde skaapwagter, ''ek is 'n man van my woord. Kies maar vir meneer 'n skaap uit.'' Die jappie doen sy keuse, maar hy is net besig om die dier in die kattebak van sy motor in te laai, toe hy die skaapwagter hoor roep: ''Meneer, ekskuus tog, gee my tog net een kans om die dier terug te wen. Ek wed vir meneer dat ek meneer se beroep sal kan reg raai. Ek gee vir meneer nog 'n dier as ek verkeerd is, maar as ek reg is, moet meneer daardie dier vir my teruggee.'' ''Nou maar goed,'' sê die jappie. ''Meneer is 'n konsultant.'' ''Verbluffend! Hoe het jy geweet?'' ''Maklik,'' antwoord die skaapwagter. ''Meneer kom hier aangewaai, al het niemand vir meneer laat kom nie. Meneer wil betaal word vir die antwoord op 'n vraag waarvan ek reeds die antwoord geken het. En, laaste maar nie die minste nie: meneer weet swiet blou niks van my besigheid af nie -- want daar staan meneer met my hond in meneer se arms!''
KLEIN KOOS moet tydens ’n tekenles op skool ’n hond teken wat besig is om hondebeskuitjies te vreet. Skaars het sy onderwyser hom egter die opdrag gegee, of Klein Koos sit tevrede agteroor en verkondig: ''So ja, ek is klaar.'' Die onnie kom kyk wat hy geteken het. ''Klein Koos,'' begin hy, ''maar ek sien dan geen hondebeskuitjies nie...'' Klein Koos: ''Dis omdat die hond hulle so gou opgevreet het, meneer.'' Onnie: ''En waar is die hond dan?'' Klein Koos: ''Hy’t weggehardloop toe hier niks meer kos vir hom was nie.''
EEN NAG om halfvier lui Koos se telefoon. Moeisaam beur hy uit die bed en strompel na die telefoon. ''Praat ek met meneer Van der Merwe?'' vra ’n kwaai stem aan ander kant van die lyn. ''Uhm, ja,'' mompel Koos. ''Wel, dis jou buurman Botha wat hier praat. Hoor hier, ek bel net om vir jou te sê dat jou hond se geblaf my gek maak. Klap asseblief dadelik sy bek vir hom toe.'' Die volgende nag om drieuur lui die telefoon by Botha. ''Hallo?'' mompel hy slaperig. ''Vriend Botha, dis jou buurman Van der Merwe wat hier praat.'' ''Jy bel my om drie-uur in die nag? Is jy dol in jou kop?'' ''Ou Bothatjie, ek
wil net vir jou vertel dat ek nie ’n hond het nie. Ek is die buurman met die konyne.'' |
||
|
Om terug te keer na Die Mieliestronk klik hier |