|
|
|
|
So tuis soos ’n muis in jou huis... |
|
|
|
|
|
HY
IS die volopste soogdier
op die ganse aarde --
maar jy sal nie meer as
’n piep uit hom kry om op hierdie prestasie te roem nie. Stil
soos die muis wat hy is, het
hy uit die Ou Wêreld gekom
en
saam met die mense van Europa oral sy kolonies
gevestig. Man en muis
het jare lank saam op die seilskepe
gevaar. Muis was die
berugte verstekeling in veral die houtwande van dié skepe. Hierdie
muis -- huismuis is
sy
naam, Mus musculus vir die
geleerdes, want daar is baie
ander soorte muise -- is die
skrikkerige maar astrante meneertjie
wat jou koskas kan
verinneweer as jy hom maar net
’n halwe kans gee. Selfs
seep of gom is nie te pikant na sy smaak nie. En op die vreemdste
plekke raak hy mettertyd so tuis
soos, nou ja, ’n
muis.
Daar
is al bereken dat ’n enkele
paar huismuise (wat ook
selfstandig in die oop veld
kan bestaan) in geskikte
toestande binne ’n paar
jaar tot ’n kolonie van honderd kan
ontwikkel. Dit beteken miljoene muise binne slegs ’n klompie jare. As dit nie vir die waaksaamheid van
die huiskat en vir valletjies en giwwe was nie, sou huismuise
spoedig ons meulens en plase
in so ’n mate oorstroom het dat die produksie
van graan en meel onmoontlik
sou gewees het. Maar
die huismuis, veral die witmuis wat maar net ’n albino-vorm
van hom is, het ook
al groot dienste aan die mens bewys.
Deur hulle as proefdiere te gebruik, is daar al
baie entstowwe teen gevaarlike
siektes ontdek. Baie kinders hou ook witmuise as troeteldiere
aan. Verskeie
subspesies van die
huismuis sluit bont gekleurdes
in, asook singende muise
wat sulke sagte tjirp-geluide
maak. Daar is selfs die
sogenaamde walsende muise,
wat nie normaal kan beweeg
nie weens ’n oorgeërfde
fout met hul ewewig. Die
huismuis, ’n knaagdier,
word tot 20 cm lank, as sy
stert van 10 cm bygereken word.
Hy is op twee, drie maande
al volwasse en kan dan paar en
kleintjies voortbring, en die
wyfies is slegs omtrent drie
weke lank dragtig. Vyf,
ses, sewe, tot twaalf kleintjies
word op een slag gebore,
maar ’n geval is aangeteken van ’n
troetelmuis wat ’n werpsel van 34 gehad het. Hiervan het 33 bly
leef. Muisies
is blind en kaal wanneer hulle gebore
word, maar kan spoedig sien,
kry ’n pelsie en kan op eie pootjies staan. Muisneste
bestaan uit strooi,
hooi, wolgoed, linne en
ander stof wat gewoonlik tot fyn stukkies gekou is. Mens
en muis kom reeds so ’n lang
pad saam -- die huismuis
kom waarskynlik oorspronklik
uit Asië -- dat ons verwante
woorde vir hom het in
feitlik alle Germaanse tale, asook
Latyn, Grieks, Oud-Bulgaars,
Armeens en Oud-lndies. Dis
gewis ’n woord
wat voorgekom het in
Oer-lndo-Europees, duisende jare gelede, vertel ’n taalman,
voordat daar sprake was van
aparte taalgroepe soos
Indies, Grieks, Kelties en Germaans,
laat staan nog aparte tale
soos Russies, Frans, Engels of
Duits, om van Afrikaans nie
eens te praat nie. En
hoe het die muis nou eintlik aan
sy naam gekom? Dit weet
ons nie, sê die taalkenner.
Sommige geleerdes beweer
dat die ou woord mus saamgehang
het met ’n woord
wat "steel" beteken, en
dat die muis só genoem is as
gevolg van sy diefagtige gewoontes.
Ander geleerdes stem egter nie met hierdie teorie
saam nie. Hoe ook al, dit lyk of die mens ondanks alles so lankmoedig is met die muis dat hy selfs bereid is om hom in sy sprokies as ’n held voor te stel. Kyk nou maar net na die Tandmuis in ons volksoorleweringe. Hy bring dan selfs geld vir die kindertjies in ruil vir uitgetrekte melktandjies! En
watter kind het nog nie van Mickey Muis gehoor nie? ![]() |
|
|
Hierdie merkwaardige foto van muisspoortjies in die sneeu is in die beroemde Yellowstone National Park geneem, die grootste en oudste wildtuin in Amerika. Die foto
is deur die Amerikaanse regering uitgereik en is as sodanig in die
openbare domein. Dit geld wêreldwyd. |
|