|
NS
weet hoe mense in ons eie kultuur trou. Ons ken die huweliksformulier in
die kerk, die confetti voor die kerkdeur—en die ewige gesingery van
"Tant Koek se hoenderhaan" by die onthaal. Maar hoe trou ander
mense wat nie tot ons spesifieke bevolkingsgroep behoort nie? Die
volgende beskrywings van huweliksplegtighede in swart, Hindoe-, Moslem-
en ’n paar ander gemeenskappe bied ons ’n besondere kykie in wêrelde
wat ons nie so goed of dalk glad nie ken nie...
ZOELOE- EN XHOSA-HUWELIKE
’N SOGENAAMDE "Afrika-bruilof" kan baie verskillende vorms aanneem, selfs onder lede
van dieselfde swart stam. Maar by die Zoeloe, onder andere, kry ons een baie interessante
gebruik. Zoeloe-bruide verklee naamlik dikwels meer as drie keer op hul troudag, sodat
hulle by hul skoonfamilie kan spog en wys hoe mooi hulle in verskillende klere (en kleure)
lyk.
Die Zoeloe en Xhosa behoort albei tot die Nguni-groep en, benewens die feit dat hul tale
naby verwant is, word baie kulturele gebruike vanselfsprekend ook deur hulle gedeel. Wat
die huweliksplegtighede aanbetref, is daar is vandag ook by altwee die tendens om eers op
die Westerse manier in ’n kerk te trou, en dit dan deur ’n tradisionele "Afrika-bruilof" op te
volg. Vandaar die hebbelikheid van daardie Zoeloe-bruid om soveel verskillende uitrustings
te wil dra.
Dit is weliswaar geen Afrika-gebruik
dat swart bruide in wit sal trou nie, maar hulle verkies dit
deesdae só vir die plegtigheid in die kerk. By die Zoeloe vind die tradisionele troue hierna
by die bruidegom se huis plaas, waar die bruid dié keer haar verskyning in tradisionele drag
maak. Tydens die bruilof wedywer die groepe van die bruid en bruidegom met mekaar deur
danse uit te voer en liedere te sing.
Die gesin van die bruidegom slag ook ’n bees om te toon dat hulle die bruid in hul geledere
aanvaar. Terwyl die bruilofsgangers toekyk, plaas die bruid geld binne-in die pens van die
bees as ’n teken dat sy nou ’n deel van haar nuwe familie is.
Die huweliksplegtigheid eindig met ’n tradisie wat ukwaba genoem word. Die bruid deel
daarvolgens geskenke in die vorm van komberse uit, nie slegs aan haar man se gesin nie,
maar ook aan haar uitgebreide nuwe familie. Selfs lank oorlede familielede ontvang
presente en word deur die nog lewende familie verteenwoordig.
REGS:
Hy wil haar graag die hof maak, maar wat moet hy doen as sy familie reeds
vir hom ’n ander vrou uitgekies het?
Die gebruik dat ’n man se familie vir hom ’n huwelikmaat kies en nie hy self nie, was lank ’n
deel van die Afrika-patroon, maar daar word vertel dat selfs oud-pres. Nelson Mandela hom
in sy jong dae daarteen verset het—om ’n heel persoonlike rede. Sy verblyf in Transkei is
destyds deur onder meer deur die einste stamtradisie kortgeknip. Sy voog, ene Jongintaba,
waarnemende opperhoof van die Temboes, het besluit dis tyd vir sy aangenome seun om
te trou. Toe kies hy op eie inisiatief ’n vrou vir hom en stel die troudatum vas. Maar ons
eiesinnige Madiba was darem nie so tradisievas dat hy hom ooit só sou laat voorskryf nie.
"Hy (Jongintaba) het my baie liefgehad en so sorgsaam na my omgesien soos my pa,'' het
Mandela gesê volgens ’n aanhaling in Mary Benson se boek Nelson Mandela: The Man and
the Movement. Maar "hy het dit nie die moeite werd geag om my oor ’n vrou te raadpleeg
nie. Hy het ’n meisie uitgesoek, vet en waardig.''
Mandela het sy goed gevat en gevlug—na die Witwatersrand waar hy later ander liefdes
gevind het.
Dit bly nietemin interessant om na die bogenoemde tradisie te kyk, omdat dit so nou
saamhang met die lobola-praktyk wat so inherent aan huwelike by die Xhosa is. Die
huweliksproses begin in der waarheid met die ukutwala, wat naastenby as"die neem" vertaal
kan word, nadat die bruidegom se familie ’n geskikte bruid vir hom gekies het.
Sy word in die nag deur die manne na die aspirant-bruidegom se gesin se huis
"geneem"—"ontvoer" is nie die regte woord nie, want sy bly die hele tyd ongedeerd en kan
daarna ongehinderd na haar eie mense terugkeer. Dit is eintlik maar net ’n formele manier
om kennis te gee van die voorneme om met haar te trou.
Ná die ukutwala sal die familie van die bruidegom met die bruid se familie oor die huwelik en
die lobola begin onderhandel. Dit is belangrik dat die lobola nie as ’n "bruidsprys" beskou
word nie, maar as ’n skakeling tussen die twee families. Hoewel die lobola aanmerklik van
geval tot geval kan wissel, het dit tradisioneel op die gee van agt beeste neergekom.
Vandag word die geldwaarde per bees vir die vasstelling van die lobola bereken. Eers wanneer die lobola gefinaliseer is, kan die huwelik plaasvind.
MOSLEM-HUWELIKE
DIE meer behoudende belyers van die Moslem-geloof sal enige gebruike vermy wat hulle
as on-Islamities beskou. Dit sluit die ligsinnige vertoon in van die bruid aan lede van die
teenoorgestelde geslag wat nie haar familielede is nie, terwyl die speel van harde musiek
op die bruilof ook ongewens kan wees. Maar soos met soveel ander soort huwelike, verskil
die bruilofsplegtighede in Moslem-geledere weliswaar ook van groep tot groep en land tot
land. Dit sal egter steeds ’n duidelik herkenbare, eie Moslem-karakter dra.
By ’n tradisionele Moslem-huwelik sal ’n bruidegom die plegtigheid voor getuies in ’n
moskee verrig, terwyl sy bruid by die saal of ’n ander gekose plek vertoef. Hierna sluit die
bruidegom hom by die bruid aan vir die walima (fees), waar albei families versamel is. Ná
seremoniële baddens word die bruid aan haar man afgegee, en die huwelikskontrak word
onderteken voor die Imam of ander religieuse beampte, wat ’n gebed doen. Die gaste sê dan die
openingshoofstuk van die Koran op. (Die Koran is die godsdienshandboek van die
Islam. Moslems glo dat die profeet Mohammed God se woorde in die Koran van die aartsengel Gabriël ontvang het.)
Mehendi is die tradisionele beskildering van die hande en voete met verskeie patrone.
Bedekkings van bloekomolie en henna word eers deur die gesinslede en daarna deur ander
familiede en vriende aangewend, en uiteindelik deur ’n kundige professionele ontwerper.
(Hindoe-bruide word onder meer aan die gesig gesalf, soos ons hieronder sal sien.) Volgens
Moslem-gebruik moet ’n bruid haar handpalms en voetsole met henna in ’n kant-agtige ontwerp kleur.
DIE HINDOE-TROUE
VOLGENS die
dharma (universele wette) van die Hindoes is die huwelik ’n sakrament van
twee siele en nie ’n kontrak tussen twee mense nie—’n lewenslange verbintenis. Egskeiding
sowel as hertrouery is dus nie slegs onaanvaarbaar nie, maar heeltemal buite die kwessie.
Grahastha Ashram, die huishouer-stadium, is vir die Hindoes die tweede van die vier
lewenstadiums. Dit begin wanneer ’n man en ’n vrou in die eg tree om met ’n huishouding te
begin. Vir ’n Hindoe is die huwelik die vereffening van jou skuld aan jou voorouers deurdat jy
daardeur die familie sal voortsit. Klem op die lewe en die voorsetting daarvan is
eie aan die Hindoeïsme. Dié godsdiens is immers in sy wese verstrengel met die vrugbare
Indië, waar daar tot in die riviere, watervalle, berge en rotse ’n openbaring van die polsing
van die lewe ervaar word.
Westerlinge wat niks van die geloof weet nie, kan nogal verbaas reageer as hulle verneem
dat daar geen stigter, profeet, spesifieke kerklike struktuur of selfs vasgestelde
geloofsbelydenis in die Hindoeïsme is nie. Dit is trouens al meer ’n kultuur as ’n
geloofsbelydenis genoem.
Die verskillende mense van Indië verskil dan ook baiemaal hemelsbreed van mekaar, met
afsonderlike tale, gebruike en godsdienstige opvattings in die verspreide distrikte met hul
groot massas landbouers. Sowat 400 miljoen mense van die Indiese subkontinent kan
nietemin as Hindoes gereken word. En waar Indiërs ook al heengegaan het, het hulle hul
kultuur en religieuse praktyke met hulle saamgeneem, ook na Suid-Afrika.
Vanweë die groot verskeidenheid in die kultuur en religie, is dit dan nie verbasend dat elke
kultuur sy eie nuanses binne die groot raamwerk van die Hindoe-huweliksplegtigheid het nie.
Tog is vuur en die huweliksbeloftes die basiese elemente by alle troues.
Op die oggend van die troudag word die bruid en bruidgom te midde van groot
feestelikhede deur die baie lede van die familie vir die groot stap gereed gemaak.
Tradisioneel is hul liggame met borrie, sandelhoutpasta en olies gesalf om hul velle sag en
geurig te maak, maar deesdae is daar, indien enigsins, slegs ’n simboliese aanwending van
dié middels aan die gesig en arms. Die troupaar word dan onder dreunsang gebad. Daarna word hulle
so swierig opgetooi soos nog nooit tevore in hul lewe nie.
Die stralende bruid straal ook letterlik in oorgeërfde en moderne juwele, en sy is die
verpersoonliking van skoonheid. Die bruidegom is in ryk tradisionele drag of Westerse
ontwerpe geklee.
’n Altaar of mandapa word opgerig op die plek waar die huweliksplegtigheid plaasvind. Die
plegtigheid bestaan uit ’n reeks rituele, en priesters is die voorgangers. Terwyl Indiër-troues
in Suid-Afrika sekere Westerse elemente geïnkoporeer het, het hulle baie van die
tradisionele gebruike behou.
Tydens die plegtigheid plaas die bruid se pa haar hande in dié van die bruidegom, waardeur hy sy
verantwoordelikheid vir haar na die bruidegom oordra. Die belangrikste deel van die
seremonie is die saptapadi (sewe treë), waarin die paartjie saam sewe treë
aftree, in ’n
noordelike rigting. Met vuur (Agni) as die getuie, lê hulle hul troubeloftes aan mekaar af. Die
huwelik is nou voltrek.
Die bruid word hierna met "heilige water" besprinkel wat—só word geglo—haar van enige
vorige sondes sal reinig ter voorbereiding van die nuwe lewe wat op haar wag.
REGS:
’n Ou trouportret van ’n huwelikspaar soos Westerlinge hulle steeds
ken—die bruidegom in sy stemmige pak klere en die bruid met haar sluier
in haar leliewit trourok. Maar dit was kennelik in die tyd toe niemand
nog gedink het daar is iets om oor te glimlag wanneer ’n foto van jou
geneem word nie, selfs op jou troudag!
Foto: Robert Runyon Photograph Collection /
American Memory / U.S. Library of Congress
ENKELE VREEMDE HUWELIKS-
GEBRUIKE
ELDERS (gister en vandag)
• In ou China is sekere huwelike vooraf gereël tussen kinders wat nog nie eens gebore
was nie. Twee swanger ma's sou ooreengekom het dat hul ongebore babas sou trou as die
een ’n meisie en die ander ’n seun sou wees—maar as hulle van dieselfde geslag sou
wees, sou hulle broers of susters van mekaar word.
• Verloofringe soos ons dit ken, bestaan nie in Rusland nie. Wat hulle "verloofringe" noem,
is die ringe wat die egpaar by die huweliksplegtigheid ruil. Trourokke word gewoonlik self
gemaak en nie gekoop nie, want dis goedkoper en alle Russiese meisies kan in elk geval
naaldwerk doen. Die materiaal vir die rok kan die bruid selfs minder as R70 kos, terwyl
bykomstighede gehuur kan word. Naaldwerk is ’n verpligte vak vir meisies in Russiese skole
(die seuns leer weer om meubels te maak, krane te herstel, ens.)
Groot swart motors word in Rusland as ’n luukse beskou, en hoe meer daarvan in ’n
huweliksoptog kan wees, hoe meer rede het die egpaar om te spog. ’n Russiese bruilof, wat twee dae duur, is ’n rasende affêre waar daar eintlik van die gaste verwag word om
verskriklik uit te rafel. Baie egpare verkies deesdae om in ’n kerk te trou, maar kerkhuwelike
het, ondanks die val van die ateïstiese Kommunisme, nog nie amptelike
status nie en ’n burgerlike huweliksertifikaat moet vooraf verkry word.
• Toe mense uit Afrika nog slawe in Amerika was, is paartjies nie toegelaat om
wetlik te trou nie. As ’n openbare verklaring van hul liefde en verbintenis, het ’n man en ’n
vrou oor ’n besem in die "huwelik" ingespring, te midde van tromslae op die agtergrond. Die
praktyk is "jumping the broom" genoem. Die besem was lank ’n betekenisvolle voorwerp vir
baie Afro-Amerikaners, omdat dit huisopsittery versinnebeeld.
• In die voormalige Tsjeggo-Slowakye word ertjies pleks van confetti oor pasgetroudes gegooi.
(Die bron maak dit nie duidelik of dit ’n gebruik van die Tsjegge of
Slowake is en of dit harde, gedroogde ertjies of vars gepluktes is nie.
Seker darem die laasgenoemde, anders kan die egpaar nogal seerkry. Op ’n
stuitige noot sal ’n
mens kan wonder of dit nie is waar die uitdrukking vandaan kom dat iemand
hom nie deur blou ertjies, of ’n blaas ertjies, op loop laat ja
nie!)
• In Turkye het ’n Suid-Afrikaanse toeris toegekyk hoe ’n enorme ruiker in ’n huwelikslokaal
deur die gaste aan flarde geruk is pas nadat ’n paartjie in die huwelik bevestig was. (Ons
informant kon nie sê of die gaste agter die blomme aan was of wat hulle besiel het om skielik so vernielsugtig te raak
nie. Dalk was hulle nog kwaad vir die bruid en het hulle besluit om hulle
op haar te wreek, nugter weet. ’n Geval van troueloosheid ná
die troue?)
• In Korea is eende, wat lewenslange verbintenisse met hul maats vorm, ’n deel van die
huweliksoptog.
• Marokkaanse vroue bad in melk om hulle voor die huweliksplegtigheid te reinig.
• In Spanje gee die bruidegom dertien muntstukke aan sy bruid, as ’n simbool van sy
vermoë om haar te onderhou.
• En in Engeland, van alle plekke, word glo gemeen dat dit geluk voorspel as ’n spinnekop in ’n trourok gevind
word! |