|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|||||||
|
Hoe lyk ons vir hulle? Hoe
lyk jy vir ’n vlieg, ’n mot of ’n by? Die mens sal seker nooit werklik
weet nie, maar dis fassinerend om daaroor te wonder... DIS
uiters moeilik om aan iemand wat nog nooit kon sien nie te verduidelik wat
kleur is. Maar dit is selfs baie moeiliker om te begryp wat kleur, of selfs
die vermoë om te sien, vir ’n insek beteken. Insekte het akute sintuie
wat mense nie het nie. Baie
soorte insekte kan bepaalde reuke oor groot afstande ruik. Ander kan
trillings waarneem en geluide hoor wat vir mense onhoorbaar is. Maar ons kan
nie weet watter soort beeld insekte deur hul oë van die wêreld het nie. Ons
weet ’n groot by wat op ’n paal sit, kan ’n mens etlike meter ver van
hom af sien beweeg—maar sien hy slegs ’n bewegende vorm of kan hy
waarneem dat die bewegende voorwerp ’n mens en nie ’n perd is nie? Ons
weet ook sekere kewers kan ultraviolet lig sien of word besonderlik daardeur
en deur die kleur geel aangelok, maar nie deur blou of rooi nie. Maar sien
hulle kleure of skakerings van wit en swart? Verskillende
insekte het oplossings vir verskillende probleme. Naaldekokers kan in die
aandskemering vlieënde muskiete vang, wanneer dit te donker is vir mense om
hierdie klein insekte te sien;
maar sien die naaldekoker hulle, of reageer hy op hul geluid en beweging?
Die studie van insekte se sintuie is vol sulke vrae.
Die
oë van baie insekte registreer dinge wat mense nie kan sien nie. Straks
vorm die samegestelde oë eintlik ’n mosaïekbeeld van die voorwerpe wat
waargeneem word, maar dit kan ook wees dat die insek se brein alles op ’n
sekere manier tot een beeld reduseer. Baie
soorte blomme wat deur insekte bestuif word, maak van insekte se ultraviolet
sig gebruik om bestuiwende bye aan te lok. Die posisie van die nektar
binne-in die blom word aangedui deur lyne (sogenaamde heuningwysers) wat
slegs in ultraviolet lig sigbaar is. Die
kop van ’n tipiese insek het ’n paar groot samegestelde oë, asook drie
enkelvoudige oë bo-op. Elke
samegestelde oog bestaan uit ’n magdom oogeenhede (ommatidia) wat
dikwels heksagonaal (seskantig) ineenskakel. Elke
ommatidium vorm ’n beeld van die voorwerp wat gesien word en
samegestelde oë is dus baie geskik om beweging raak te sien. Die kornealens
is deursigtig en laat lig deur. Die kristalkeël daaronder bevat ’n
straalbrekingsvloeistof. Lang retinaselle omring ’n sentrale liggaam, die
rabdoom, wat visuele pigment bevat wat ligsensitief is. Ligprikkels word tot
chemiese prikkels omgeskep en dié bereik die brein via die optiese
senuwees.
Maar alles is nie altyd soos dit lyk nie. Die ''oë'' op die vlerke van sekere skoenlappers is pure oëverblindery—hulle is nie rêrig oë nie, laat staan nog iets waarmee die insekte hoegenaamd enigiets kan waarneem!
Foto: U.S. National Park Service
Vlinders
is trouens meesters van vorm en kleur en van illusie en kamoeflering. Deur
die oë van, sê maar, uile op hul vlerke uit te beeld, word roofvyande
afgeskrik en die voortbestaan van die insek verseker. |
|||||||