Uit
die land van die Taj Mahal*)
het hulle gekom om ’n nuwe
liefde op ’n heel ander vasteland te vind...
|
|
Ethniese groepe in SA (nuutste raming): |
Swartmense
75,2%, blankes 13,6%, Kleurlinge 8,6%, Indiërs 2,6% |
|
I |
N die middel van die negentiende eeu (die 1800’s) sit die boere op die Natalse suikerriet-plantasies met die hande in die hare. Hulle het sterk en gewillige werkers dringend nodig, maar die inheemse volkere stel nie belang nie. Nou is hul hoop op die koloniale owerheid gevestig om ’n plan te maak, want Natal is nog ’n Britse kolonie.
Daar is stellig ’n aantal goeie redes hoekom die manne van die Zoeloes en ander swart stamme van die streek nie op die plantasies wil werk nie. Een daarvan is dat die kweek van gesaaides en ander gewasse in hul kultuur die werk van die vroue is—en vir ’n stoere Zoeloe-man sal dit mos ’n vernedering wees om in die grond te woel en te arbei.
Maar
vernaamlik is daar in hierdie tyd nog sporadiese botsings tussen die
trotse Zoeloe en die indringende witman, eers die Boere en nou weer die
Engelse. Die Zoeloe-verset sou eers in 1879 finaal deur die Britte
onderdruk word.
Die
Natalse regeerders oordink die arbeidskwessie. Daar word besluit om met die Indiese owerheid
te
onderhandel om Indiese werkers uit Asië te bekom. Die saak word
indringend bespreek en ’n wet om die invoer
van sulke arbeiders te magtig, word in 1859 aangeneem. In 1860 werp ’n
aantal Indiese kontrakwerkers wat per skip aankom hul eerste blik op die
kolonie Natal.
Só
het die eerste groep Indiërs in hierdie wêrelddeeel gearriveer—die
voorlopers van nog duisende wat later hierheen sou verhuis. In
die begin was daar nie baie van hulle nie en in die eerste jare het hul
getalle ook nie aanmerklik toegeneem nie. Trouens, teen 1874 was daar
kwalik 5.000. Maar dinge het verander toe
daar groter lewe in die suikerbedryf kom.
Tien
jaar later, teen 1884, was daar reeds 27.206
Indiërs in Natal en teen 1891 was daar 35.763.
Die Indiërbevolking is hoofsaaklik van Hindoe-oorsprong, hoewel daar ook
’n groot aantal Moslems is.
Ofskoon
die eerste ingevoerde Oosterse arbeiders net drie jaar lank onder
kontrak hier sou kon bly, is die tydperk tot vyf jaar verleng. Hulle sou
aanvanklik tien sjielings per
maand ontvang, met ’n jaarlikse verhoging van een sjieling per maand.
Boonop sou hulle gratis rantsoene en behuising kry, wat op agt sjielings
per maand bereken is.
Weens
die invloed van inflasie, is dit ’n haas onbegonne taak om die geld van
destyds na vandag se waardes om te reken. Die lone was beslis nie te
waffers nie, maar vir baie was dit veel meer as wat hulle kon hoop om ooit
in hul vaderland te verdien.
Nadat
hul kontrakte verstryk het, het die meeste van hulle dan ook verkies om in
Natal te bly en nie na die Ooste terug te keer nie. Hulle het die kern
gevorm van die sogenaamde "Vrye Indiërs'', wat deur die invoering
van vroue en ’n buitengewoon hoë geboortesyfer versterk is.
Mettertyd
het van die Indiërs na ander gebiede in Suid-Afrika verhuis, veral na
Transvaal waar hulle omstreeks 1881 hul opwagting gemaak het. Heelparty
het hulle ook na die Kaap begewe, maar in die Vrystaat was daar ’n lang
tyd feitlik geen Indiërs nie. Dit was omdat die Vrystaatse owerheid ’n
streng verbod op hul binnekoms geplaas het.
Terwyl
die meeste Indiërs op plase bly werk het, het ander hulle teen die einde
van die negentiende eeu op die handel begin toespits. Hul betreklik lae
lewenstandaard en vermoë om geld te maak het teenstand ontlok, en dit het
gelei tot die instelling van beperkende wetgewing soos ’n verbod op
hulle om grond in Transvaal te besit.
Regsgedinge
oor sekere van die kwessies het die Indiese advokaat Mohandas Karamchand
Gandhi, wat hom in Londen as regsgeleerde bekwaam het, na Suid-Afrika
gelok. Gandhi het in 1895 hier aangekom, tot 1914 hier gebly en met ’n
verbete stryd vir groter vryheid begin, wat uiteindelik reperkussies ver
buite ons landsgrense gehad het.
REGS:
Mohandas Karamchand Gandhi
In
1909, enkele jare ná die Anglo-Boereoorlog en kort voor die
totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika, is die teenstand teen
beperkende wetgewing verskerp met die aankoms van die Indiër-leier Gopal Krishna Gokhale. In hierdie tyd het Gandhi ook sy eie, unieke metode om sy
oogmerke te bereik, naamlik lydelike verset, begin toepas, onder
meer met die reël van stakings by die steenkoolmyne in Noord-Natal, asook
’n optog van 2.000 volgelinge oor die Transvaalse grens.

LINKS BO: Gandhi in die 1920’s. REGS BO is hy en sy vrou Kasturbahi in Januarie 1915 afgeneem ná hul terugkeer na Indië.
IN
1911 is die binnekoms van Indiërs in Natal beëindig met die aankoms van
die laaste groep van 500 arbeiders. Daarna is repatriasie (terugkeer na
Asië) aangemoedig, hoewel betreklik min werklik teruggekeer het en die
meeste van die agtergeblewenes in Suid-Afrika gebore was. In 1911 was daar reeds 149.791
Indiërs in Natal.
Die instelling van nuwe beperkings, veral die Klasgebiedewetsontwerp van 1924, het die kwade gevoelens vererger, maar daar is verskeie kere geprobeer om die kwessies vriendskaplik te skik. In 1926 het ’n afvaardiging uit Indië in Suid-Afrika aangekom om die vraagstuk persoonlik te ondersoek en die volgende jaar het Srinavasa Sastri die eerste Indiese agent-generaal in die destydse Unie van Suid-Afrika geword.
Daar
is ook gepoog om die onderwysgeriewe te verbeter en om Indiërs aan te
moedig om swak handelspraktyke te laat vaar. Die Indiërs het hulself in
verskeie verskillende groepe georganiseer, en met verloop van tyd het
sekere van hulle heel welvarend geword.
Die
instelling van apartheid ná die algemene (blanke) verkiesing van 1948 het
betrekkinge tussen blank en Asiaat egter verder versuur, terwyl die Indiërs
dit boonop vanuit swart geledere moes ontgeld. Ernstige onluste waarin
’n aansienlike aantal mense dood is, het in Januarie 1949 in Durban
uitgebreek toe swartmense die plaaslike Indiërs aangeval het. Baie huise
is afgebrand en meer as honderd Indiërs het gesterf. ’n
Regeringskommissie het die oorsake probeer vasstel, maar sy verslag
was onoortuigend.
Die instelling van die Groepsgebiedewet in 1950 het opnuut protes in Indië uitgelok en in Junie 1954 is dei diplomatieke verteenwoordiging van Indië in die Unie teruggeroep.
LINKS:
Kinders van waar? Van êrens in Indië? Of van ’n straat in Durban? Selfs
’n kenner sou nie kon sê nie, want mense van daar en hier lyk kennelik
dieselfde en daar kan geen twyfel oor herkoms van die Indiërs van
Suid-Afrika wees nie! (As dit van belang is: die kinders op die foto is
van New Delhi in Indië.)
Foto: U.S. Department of State (getoesjeer)
DIE
eerste veranderings aan die rigiede vestings van apartheid is in 1984
aangebring met beperkte hervormings waardeur die Kleurlinge en Indiërs
(maar nog nie die swartmense nie) by die landsbestuur betrek is. Ingevolge
die destydse grondwet is die blanke parlement vervang deur drie
regeringsliggame: ’n blanke Volksraad, ’n Huis van Verteenwoordigers
vir Kleurlinge en ’n Huis van Afgevaardigdes vir Indiërs.
Dit
was egter gou duidelik dat die groot swart massas in Suid-Afrika nie uit
die regeringsbestel gehou kon word nie, en in die middel van die dekade
van negentig het blank, swart, gekleurd en Indiër saam opgegaan in ’n
nuwe Suid-Afrika waarin alle diskriminasie op grond van herkoms ten minste
uit die wetboeke geskrap is.
Ons
het vroeër in hierdie artikel genoem dat daar in 1911 149.791
Indiërs in Natal was. Dertig jaar later, in 1941, het die getal tot 239.000
aangegroei. Volgens die sensus
van 1951 was daar in dié jaar weer 366.664
Indiërs in Suid-Afrika. Pas het die gesaghebbende Amerikaanse CIA die
bevolking van Suid-Afrika vir Julie 2005 op 44.344.136
geraam, van wie 2,6 persent (dus meer as ’n miljoen mense) Indiërs is.
En verreweg die meeste van hulle is hier om te bly en beskou lank nie meer Indië as hul vaderland nie, net so min as wat die blanke Suid-Afrikaners terughunker na Europa. Geleenthede word plaaslik gretig benut. Een van die interessantste plekke wat ’n mens in Durban kan besoek, is byvoorbeeld die Indiërmark, waar ’n groot verskeidenheid van artikels, van kos tot kunstig vervaardigde aandenkings, by die menigte stalletjies te koop aangebied word.
*) Die Taj Mahal,
die beroemdste van Indië se antieke geboue, is die praalgraf van die
geliefde vrou van sjah Jahan. Sy is in 1631 oorlede. Dit het twintig jaar
gekos om die Taj Mahal op te rig en 20.000
werkers het glo daaraan gebou. Dit is nie bekend wie die argitek was nie,
maar party geleerdes reken dat ’n Persiese of Turkse ontwerper betrokke
kon gewees het.