Die groot Engelse
omwenteling wat die ganse wêreld kouse en sokkies laat dra het!
•
Foto’s van fabriekrook bo, van links: U.S. National Institutes of
Health; U.S. National Park Service; NASA • Foto
van meisies (histories): U.S. Library of Congress |
||
IE Industriële Revolusie het omstreeks
1750 in
Engeland begin—en miskien was dit onvermydelik dat dit juis in daardie
land moes gebeur. Brittanje was immers destyds, en geruime tyd daarna, die
magtigste ryk op ons planeet. Hy het oor die golwe geheers en wyd en syd
kolonies oor die aardbol gevestig, en onder die Britte wat in daardie
atmosfeer van triomf en glorie gebaai het, sou ’n mens mos ook verwag om
’n goeie aantal vernuftige geeste te vind. Vindingryke mense soos
byvoorbeeld uitvinders—die befaamde genieë van verandering. Wat meer sê, die einste
Industriële Revolusie was die groot rede waarom Frankryk se Napoleon
Bonaparte indertyd nooit die Engelse onder stof kon loop soos hy met
soveel ander Europese lande kon doen nie. Engeland het naamlik so ’n
ekonomiese houvas op Europa gekry dat die land onoorwinlik was. Die Industriële
Revolusie—die verandering van die gebruik om goedere met die hand te
maak na die vervaardiging van gebruiksartikels met behulp van
masjiene—het ná sy begin in Engeland natuurlik later ook na ander lande
versprei. Dit word ’n "revolusie" of "omwenteling"
genoem omdat dit enorme veranderings teweeggebring het in die manier
waarop mense werk en lewe. ’n Geïndustrialiseerde
gemeenskap is daardeur geskep—’n gemeenskap waarin ’n gemeganiseerde
vervaardigingsbedryf die landbou van sy troon gestoot het as die
vernaamste verskaffer van werkgeleenthede. Pleks van hul eie kos te kweek
en hul gebruiksartikels tuis te vervaardig, werk ’n menigte mense in
’n geïndustrialiseerde gemeenskap vir lone wat hulle in staat stel om
hul kos en ander noodsaaklikhede te koop. Hulle woon in dorpe en stede
eerder as op die platteland. En
sedert die Industriële Revolusie in die wêreld begin het, het
tegnologiese ontwikkelings en nywerheidsgroei feitlik nooit stoom verloor
nie. Trouens, sedert 1900, en veral sedert die Tweede Wêreldoorlog, het
dit hand oor hand toegeneem. In ’n sekere sin het die revolusie wat teen
nagenoeg 1750 begin het, nog nooit geëindig nie. Maar
wat presies word dan met die "Industriële Revolusie" bedoel? WANNEER
in die breë na die "Industriële Revolusie" verwys word, is dat
gerieflik om dit in ’n aantal "eeue" in te deel. Die datums is
by benadering en verskeie van die tydvakke oorvleuel mekaar. Elk is genoem
na die vernaamste soort brandstof, produk of kragbron wat dit gekenmerk
het of kenmerk. Só
is daar onder meer die houteeu (1750-1840); die stoomeeu (1769-1900); die
eeu van steenkool en yster (1840-1860); die eeu van staal (wat in 1860
begin het); die atoomeeu (beginnende in 1942); en die satellieteeu (wat in
1957 begin het met die eerste satelliet in ’n wentelbaan om die aarde). Die
Industriële Revolusie kan ook ingedeel word in die eerste revolusie
(1750-1860); en die tweede revolusie (wat in 1860 begin het). In die
tweede tydperk het sulke groot ontwikkelings plaasgevind soos die moderne
proses van staalvervaardiging, elektriese masjinerie en toestelle vir
kommunikasie, binnebrandmasjiene, outomatisasie, transistors, rekenaars,
atoomkrag en die verowering van die ruimte met al die geweldige
tegnologiese vorderings wat daarmee saamgaan. In
’n meer beperkte sin verwys die term "Industriële Revolusie"
na ’n land se verandering van ’n landbou- en handelsekonomie na ’n
nywerheidsekonomie. Hierdie proses is omstreeks 1850 in Engeland voltooi.
In ander lande het die proses later begin en later geëindig. Wat meer sê,
dit het sekere plekke, soos lande in Afrika, eers in die middel van die
twintigste eeu bereik. Die
meer beperkte betekenis van die term is die een wat in hierdie artikel
gebruik word. Dit is soos dit gebruik is deur J. A. Blanqui, die
negentiende-eeuse Franse ekonoom wat dit geskep het, en deur Arnold
Toynbee, die Engelse ekonoom wie se boek The Industrial Revolution
(1884) die term gepopulariseer het. Gevolge van die Industriële
Revolusie
ENERSYDS
het die Industriële Revolusie mense in hul menigtes van die platteland na
die stad laat stroom. Dit het tot hoër lewenstandaarde gelei deurdat
goedkoop fabrieksgoedere te koop aangebied is. Andersyds het die
revolusie, in sy vroeë jare, die uitbuiting van werkers veroorsaak, asook
die ontstaan van slums en groot ellende weens periodieke werkloosheid. Die
wondere van die moderne wetenskap is die gevolg van die Industriële
Revolusie, maar daarteenoor ook die verskrikkings van moderne
oorlogvoering. Op die ekonomiese terrein het die Industriële Revolusie
tot die totstandkoming van die kapitalisme gelei—asook van die
sosialisme en die kommunisme. Vakbonde en landswette vir die beskerming
van werkers—alles is uitvloeisels van die Industriële Revolusie. Agtergrond DIE
terrein vir die Industriële Revolusie in Engeland is oor ’n lang tyd
voorberei. Ten tyde van die Kruistogte (twaalfde, dertiende eeu) is
handelsroetes na verre lande oopgestel en het ’n handelsklas ontwikkel.
In die sewentiende eeu het oorsese handel grootliks toegeneem vanweë
ontdekkingsreise en die kolonisasie van die Amerikas. Handelaars het
welvarend geword en ’n groot middelklas het ontwikkel wat ’n hoër
lewenstandaard verlang het en kon bekostig. Engeland
het uitgemunt in die vervaardiging van wol- en katoenmateriaal, en die
nuwe vraag in die land self asook in die kolonies het die Engelse
tekstielbedryf bestendig laat groei. Aan die vooraand van die Industriële
Revolusie was ’n stelsel in swang waarvolgens handelaars onverwerkte wol
of katoen opgekoop en dit aan werkers voorsien het wat dit tuis in hul
kothuise tot draad gespin en tot materiaal geweef het. Met
die verval van die feodale stelsel en die opbloei van die sogenaamde
"kothuis"-stelsel van vervaardiging het kleinboerdery afgeneem.
Wette het dit vir welgestelde mense moontlik gemaak om verspreide lappies
grond op te koop waarop dorpenaars voorheen geboer het en dit in groot
plase te konsolideer. Baie dorpenaars moes hulle tot die stede wend om
werk te probeer vind. Teen
die middel van die agttiende eeu het die kothuis-stelsel begin verdwyn as
gevolg van ’n reeks belangrike uitvindings. Handtoerusting kon nie
meeding met duur nuwe masjiene nie, wat kragaangedrewe was en in groot
geboue (fabrieke genoem) geïnstalleer moes word. Spinners en wewers is
aangestel om in fabrieke te werk, pleks van tuis. Die fabriekstelsel met
sy kapitalisme was aan die ontwikkel, met werkers wat deur fabrieksbase
gehuur is. Die industrialisasie van
Engeland
FOTO’S
EN ILLUSTRASIES REGS: Links heel bo is John
Kay, wie se uitvinding van
die flying shuttle (regs
heel bo) vergelyk kan word met ’n
klip wat in ’n dam stil water geval het. Die beroering wat daardeur
veroorsaak is, het ál verder en verder uitgekring. DIE
eerste van die ontwikkelings wat die tekstielbedryf totaal sou verander, was
John Kay se uitvinding in 1733 van die flying shuttle, ’n toestel
wat die weefproses opmerklik bespoedig het. Dit het egter nog nie werklik
vinniger produksie beteken nie, want die wewers moes steeds wag vir die
gespinde drade, wat nog net so stadig as voorheen vervaardig is. Uiteindelik,
omstreeks 1764, het ene James Hargreaves met ’n toestel vorendag gekom wat
hy die spinning jenny genoem het (na sy vrou Jenny). Hiermee kon een
mens soveel spin as agt mense op die ou manier. Sir Richard Awkright het die
spinnery nog verder bespoedig deur waterkrag te gebruik vir die aandrywing
van sy spinning frame, wat in 1769 gepatenteer is.
REGS: ’n Ierse vrou by ’n spinwiel. Met die koms van die spinning jenny (kyk op die groep illustrasies hierbo na die illustrasie in die middel links) kon een mens soveel spin as agt mense op hierdie ou manier.
Foto: U.S. Library of Congress / Public Domain Old Toe
Samuel Crompton in 1779 ’n spinmasjien, die spinning mule, uitvind
waardeur die werk honderd keer vinniger as voorheen gedoen kon word, was dit
weer die wewers wat nie by die spinners kon voorbly nie. Gelukkig het Edmund
Cartwright toe uitgevind hoe om waterkrag vir die weeftoestel te gebruik en
die agterstand is dus weer ingehaal. In
1793 het Eli Whitney in Amerika die cotton gin uitgevind, wat
katoenvesels vyftig keer vinniger van katoensade kon skei as wat met die
hand gedoen kon word. Hierdie masjien het dit vir Amerikaanse katoenkwekers
moontlik gemaak om geweldig baie katoen aan die Engelse meulens te lewer. En
so het die een ding tot die ander gelei. Dit was baie duidelik dat die
uitvinding van John Kay dieselfde uitwerking in die wêreld gehad het as
’n klip wat in ’n dam stil water val. Die beroering wat daardeur
veroorsaak is, het ál verder en verder uitgekring.
• Begin van die fabriekstelsel DIT was nie lank nie, of die gevolge van die omwenteling in die tekstielbedryf is ook in ander bedrywe gevoel. Metaalbewerking het eweneens van ’n kothuis-bedryf na ’n fabrieksbedryf verander. Haastig geboude fabrieksdorpe het soos paddastoele opgeskiet. Die meeste werkers het hulle in lelike nedersettings bevind wat, ná die ingebruikneming van stoomkrag, gedurig onder ’n kombers van steenkoolrook en roet gelê het.
Die tekstielfabrieke het meestal vroue en kinders in diens geneem, wat die masjiene maklik kon hanteer en tevrede was om ellendig min vir hul dienste betaal te word. Daar was geen wette wat lone, werkure of werktoestande gereël het nie. Die werkdag kon sestien uur lank wees.
Foto:
U.S. Library of Congress Weeskinders
en kinders van arm mense, wat vir die tekstielbase gewerk het, is partykeer
aan hul masjiene vasgeketting en die fabrieke was smerig. Wanneer werkers
siek geword of deur ’n masjien beseer is, het hulle geen geld ontvang nie.
Hul karige lone kon hulle skaars aan die lewe hou.
• Die stoommasjien STOOMKRAG
is die eerste keer in die nywerheidswese gebruik toe die stoompomp in die
vroeë agttiende eeu aangewend is om water uit myne te verwyder. Hoe James Watt
daarop voortgebou en sy masjien die ontwerp geword het waarop alle moderne
stoommasjiene gegrond is, word in ’n afsonderlike Mieliestronk-artikel
breedvoerig vertel. (Klik
hier om dit te lees.) Stoomkrag het ’n deurslaggewende rol in
die Industriële Revolusie gespeel.
•
Yster
en steenkool IN
die vroeë ysteroonde is houtskool as brandstof gebruik, maar teen die
sewentiende eeu het hout skaars begin raak in Engeland. In die vroeë
agttiende eeu is gevind dat kooks (steenkool wat deur verhitting van gas,
swawel en teer gesuiwer is) by verbranding warm genoeg raak om yster te
smelt. Die ru-yster wat in ’n kooksoond geproduseer is, het egter soveel koolstof bevat dat dit swak en bros was. Die
nuwe tekstielmasjiene en die stoommasjien het ’n sterker metaal nodig
gehad. In 1783 het Peter Onions en Henry Cort met ’n proses vorendag gekom
waarin die meeste van die koolstof verwyder en smeedyster geskep is, ’n
metaal wat sterk sowel as vormbaar is. Die gebruik van yster het vinnig
toegeneem en gepaard daarmee was daar ’n groter vraag na steenkool waarvan
kooks gemaak word. Die
toestande in die steenkoolmyne was selfs hagliker as in die fabrieke. Omdat
die myngange so laag was, is vroue en tieners dikwels in diens geneem om die
steenkoolkarre te trek. Klein kindertjies is ook ingespan. Die werkdag was
van twaalf tot sestien uur lank.
• Vervoer en kommunikasie IN
die middel van die sewentiende eeu was die enigste hoofweë in Engeland dié
wat die Romeine veertien eeue tevore daar gebou het. Maar met die
nywerheidsontwikkeling het ’n goeie vervoerstelsel noodsaaklik geword en
in die laat 1700’s is met ’n padbouprogram begin. Manne soos Metcalfe,
’n blinde wat die gawe besit het om die geskikte roetes vir paaie met
behulp van sy kierie aan te dui, en die twee Skotte Twelford en Macadam het
eintlik die moderne netwerk van gemaakte paaie begin. Steenkool
en yster was egter te swaar om per pad vervoer te word. Daar is met die
grawe van kanale begin en een onmiddellike gevolg was dat die vervoerkoste
vir steenkool met die helfte verminder is. Teen 1830 was daar sowat 6500 km
kanale en verbeterde riviere. Intussen was Robert Fulton in Amerika besig om
die stoomboot te vervolmaak. Gereelde stoomvaarte oor die Atlantiese Oseaan
het in 1838 begin. • Politieke en maatskaplike veranderings IN
die eerste deel van die Industriële Revolusie het die Britse regering hom
daarvan weerhou om in die sake- en nywerheidswese in te meng. Die parlement
is oorheers deur aristokrate en kapitaliste, wat deur die goedkoop arbeid
bevoordeel is. Aan die einde van die agttiende eeu was daar egter soveel
besware oor die lot van die werkers dat die regering noodgedwonge moes
optree. Die eerste twee Fabriekswette (1802 en 1819) is uitgevaardig om die
indiensneming van kinders te reguleer. Aangesien daar egter geen prosedure
was om die wette af te dwing nie, is hulle nie nagekom nie. Tussen
1811 en 1816 het ’n groep werkers wat hulself Luddites genoem het, in ’n
reeks onluste beswaar gemaak teen werkloosheid wat deur die ingebruikneming
van masjiene veroorsaak is. Die aandrang vir politieke en maatskaplike
hervorming, uit baie oorde, het so groot geraak dat die parlement
uiteindelik opgetree het. In 1832 is ’n Hervormingswetsontwerp aangeneem
waarkragtens die nuwe nywerheidstede se verteenwoordiging in die parlement
vermeerder is. Daarmee is ’n belangrike tydperk van hervorming ingelui. Só
het die stryd om die algemene stemreg dan voortgeduur totdat dit tot byna
alle volwasse getroude mans uitgebrei is. Engeland het as regstreekse gevolg
van die Industriële Revolusie in 1884 ’n demokratiese land geword, want
toe het die meerderheid vir die eerste keer ’n aandeel in die landsbestuur
gekry. • Londen en die “Groot Stank” DIE
maatskaplike veranderings wat die omwenteling in ’n stad soos Londen
teweegebring het, verdien spesiale vermelding. In die eerste helfte van die
1800’s het die Britse hoofstad ’n ongekende bevolkingsontploffing beleef
wat sy getal inwoners hemelhoog tot 2,5 miljoen laat styg het. Die stad het
een van Europa se toonaangewende handel- en fabriekstede geword en hordes
plattelanders het—saam met hul vee—op die Engelse hoofstad toegesak.
Dikwels sou agt, nege mense ’n kamer in ’n deelhuis met hul diere deel. Londen,
soos ander groot stede van destyds, kon die geweldige toevloei van nuwe
inwoners hoegenaamd nie hanteer nie. Saam met die steeds toenemende
mensemenigte het die ontsettende stank vermenigvuldig van meer as 200 000
vuilputte en die vullis wat in elke sloot en steeg opgehoop het. Boonop het
die vuilgoed met die herhaalde reënstorms of met hoogwater van die Londense
rivier, die Teems, in die huise
ingespoel en die markpleine oorstroom. Teen
die somer van 1858 was die stad gehul in die sogenaamde “Groot
Stank”. Die Teems het so verskriklik begin stink dat duisende
Londenaars uit die stad uit gevlug het. Selfs die parlement moes naderhand
as gevolg van die stank sluit. Die
herhaalde uitbrake van siekte en ondraaglike reuke het die stadsvaders
gedwing om nuwe riole te bou en die stad se water te beskerm. Die enorme
herontwerpte rioolstelsel van Londen het as model gedien vir stadsbeplanners
regoor Europa, Amerika en elders. Hoewel epidemies en oorbevolkte
agterbuurte die dryfveer was, het Engeland die leier op die gebiede van
stedelike beplanning en openbare gesondheid geword.
Die verspreiding
van die Industriële Revolusie
VERHALE
van die verspreiding van die Industriële Revolusie na ander lande, soos
Amerika, Frankryk, Duitsland, mettertyd Japan en Rusland en naderhand regoor
die wêreld, kan op sigself hele boekdele vul. Maar niemand kan ontken dat
dit Engeland was wat die voortou geneem het nie. En as gewese kolonies of
protektorate in die Britse invloedsfeer sou die lande van Suidelike Afrika
(veral Suid-Afrika) wel deeglik daardeur beïnvloed word. Hoe sou ons
byvoorbeeld ons myne kon ontwikkel het sonder die masjiene wat deur die
Industriële Revolusie moontlik gemaak is? Om
mee af te sluit kan ’n mens baie voorbeelde noem van hoe die Industriële
Revolusie ook die lewenstandaard van die gewone man verhoog het. Laat ons
egter volstaan met die volgende koddige vergelyking: Twee en ’n halwe eeu
gelede het skaars een uit elke duisend mense kouse of sokkies gedra. Vandag
is daar in alle beskaafde lande seker skaars een uit etlike duisende wat dit
nooit dra nie! Maar
natuurlik is dit die mees burleske onderbeklemtoning van die belangrikheid
van een van die heel gewigste ontwikkelings in die wêreldgeskiedenis. Die
Industriële Revolusie reguleer immers steeds baie van ons denke en
doenighede. Hoofbron
vir teks: New Standard Encyclopedia |
||