|
||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
1) Wat ’n insek is
BO: ’n Liewensheersbesie of “ladybird”... inderdaad ’n insek. Foto: PDPHOTO.ORG INSEKTE word deur geleerdes beskryf as geleedpotige diertjies waarvan die liggaam in drie dele verdeel is: die kop, die borsstuk en die agterlyf. Die kop het slegs twee voelhorings, terwyl die borsstuk drie paar pote en, in baie gevalle, twee paar vlerke het. Insekte haal deur middel van luggaatjies en lugpypies in die liggaam asem. Kleintjies ontwikkel selde regstreeks tot volwassenes; dit geskied meestal deur die een of ander vorm van gedaantewisseling. Heelparty diertjies wat baie van ons as insekte beskou (soos spinnekoppe, skerpioene en duisendpote) voldoen nie aan die bogenoemde definisies nie en is dus nie insekte nie. Verder ondertoe word in meer besonderhede van hierdie ander soorte geleedpotige diere (Arthropoda) vertel. Insekte is hoogs suksesvolle kreatuurtjies. Trouens, baie geleerdes dink hulle is die suksesvolste skepsels in die diereryk. Hulle lewe oral op land, in die lug en in die water en is merkwaardig toegerus vir omtrent enige soort omgewing -- selfs die ysmassas rondom die Noord- en Suidpool en die snikhete woestyne. Omdat hulle so klein is, beteken dit dat hulle in piepklein plekkies kan inpas en nie baie kos nodig het om te lewe nie. Hulle is ongewerwelde diertjies, wat beteken dat hulle geen ruggraat het soos soogdiere, visse en reptiele nie. Die meeste insekte het ook vlerke, waarmee hulle aan gevaar kan ontsnap en wyd en syd na kos kan soek. Byna alle soorte het ’n groot oog aan elke kant van die kop. Hierdie oog is hard, sonder ooglede, en is uit ’n aantal, soms duisende, afsonderlike klein ogies of fasette saamgestel. Tussen die oë is die twee voelhorings, wat baie beweeglik is en as tasorgane, smaakorgane en soms selfs as eienaardige ore dien. Meer as ’n miljoen insektespesies is reeds bekend, maar nuwe soorte word nog gereeld ontdek. Elke spesie is ’n lid van ’n groter groep (of orde), wat uit ander insekte met dieselfde fisieke kenmerke bestaan.
2)
Wat nie ’n insek is nie
BO: ’n Duisendpoot... nie ’n insek nie, al dink baie mense so. Foto: DLS/USFWS BAIE MENSE verwar ander geleedpotiges met insekte. Spinnekoppe en skerpioene het nie net vier pare pote, pleks van drie soos by insekte nie, maar die kop en bors (toraks) is boonop tot een struktuur versmelt. Anders as insekte het hulle geen vlerke en geen voelhorings nie en klein, enkelvoudige oë pleks van ’n paar samegestelde oë. Krappe en krewels, houtluise en honderdpote het almal meer gelede pote as insekte – duisendpote het selfs twee pare aan elke segment. Daarteenoor het ’n erdwurm, hoewel dit uit baie segmente bestaan, glad geen pote nie, en die liggaam het nie ’n duidelik herkenbare kop nie. Die bou van slakke, naakslakke en seesterre is baie anders en nie op segmente gegrond nie.
GEWERWELDES |
||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||