3. Spogreeks
Phylum: Arthropoda
Klas: Insecta

Insek-kaleidoskoop
Hoofstuk 3:
Hoe roofinsekte hul prooi vang

Klik hieronder op die skakel na die hoofstuk van jou keuse:

  •   Hoofstuk 1: Bou en ontwikkeling van insekte
•   Hoofstuk 2: Taktieke vir oorlewing
•   Hoofstuk 3: Hoe roofinsekte hul prooi vang
•   Hoofstuk 4: Hoe insekte bou
•   Hoofstuk 5: Onder skandeer-elektronmikroskoop

 

•   Hoofstuk 6: Sprinkane
•   Hoofstuk 7: Hottentotsgot
•   Hoofstuk 8: Naaldekokers en waterjuffers
•   Hoofstuk 9: Insekgroepe
•   Hoofstuk 10:    Wonder van insekte se vlerke

 Hoe roofinsekte hul prooi vang

Die dodelike jagters

Hottentotsgot verslind ’n by

BO: ’n Toneeltjie wat dalk selfs ’n geswore vleisetende mens sou kon oorreed om ’n vegetariër te word—van ’n hottentotsgot sonder enige tafelmaniere wat lustig besig is om ’n by te verslind.

 
Detail van foto deur Masaki Ikeda,

wat dit by Wikimedia Commons op die wëreldwye web tot openbare besit verklaar het / “released to the public domain”
    


Vonkelende liggies, vanggate, visnette, voorlęery—dis maar net sekere van die roofgereedskap en -metodes van die vindingryke jagters van die gogga-ryk...



Die strikspanners

JY trippel-trappel oor die sand. Alles lyk so vreedsaam.
Skielik -- help! -- gee die grond onder jou pad. Jy tuimel halsoorkop in 'n yslike vanggat af. Onder gryns 'n paar lang, swaardagtige kake.
 
Jy worstel wanhopig en kry 'n vastrapplek teen die wal. Maar 'n blerts sand word van onder teen jou aangeslinger en jy kan nie langer klou nie. Jy stort na onder -- hulpeloos tot in die wagtende kake...
 
Jy het jou so pas ingeleef in die stribbeling van 'n sterwende mier wat die larwe van 'n mierleeu ten prooi geval het. Hulle noem hom ook 'n joerie -- dié meedoënlose kalant wat sy tregtervormige "leeukuil" in los sand grawe en homself dan daaronder begrawe met net sy kake wat uitsteek.
 
As 'n mier of ander niksvermoedende skepseltjie die kuil binnestruikel, is dit blitsig klaar met die kriewelende klein kees.

 

•  Lees ook die artikel In die kuil van die mierleeu (nie ’n deel van hierdie reeks nie).

 

Mierleeu

 

Mierleeu se kuil—en ’n voorstelling van hoe ’n mier gevang wordBO: ’n Mierleeu.

REGS: Die kuil van die mierleeu.

HEEL REGS: Onder in die kuil... gereed om die mier te gryp (’n voorstelling).

 

Krediet: BO: Detail
van ’n groot

foto deur
Scott Robinson
van Rockville, MD, VSA,

wat dit op hierdie bladsy by flickr op die węreldwye web uitgeplaas het en dit gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution 2.0-lisensie


 
Sulke strikke, asook lokase, is egter maar skaars in die insektewęreld, want die meeste roofinsekte kry hul kos deur fluks daarvoor te jag. Daar is nietemin 'n klompie ander soorte wat vernuftige slagysters prakseer en wag dat hul maaltye reg op hul drumpel beland.
 
Die larwes van sekere watermotte anker byvoorbeeld nette van sydraad oor snelbewegende strome en riviere. Hierdie "visnette" vang ongewerweldes op wat stroom af meegesleur word.
 
Ewe vindingryk is vier spesies swam-muggies (genus Arachnocampa)   wat in die larwestadium gloeiwurms is. Dié larwes laat sydrade met slymdruppeltjies afhang van die plafonne in grotte en ander plekke waar dit windstil is. Die  gloeiwurms maak dan lig om vlieënde insekte na hul valstrikke te lok. Die weerlose prooi sit aan die "vislyne" vas en word deur die larwe ingekatrol en opgevreet.
 
Die bekendste soorte hou in Nieu-Seeland se Waitomo-grotte, hoewel 'n paar ander in Australië en Tasmanië aangetref word.

 

Die rare sydrade vol druppeltjies slym van gloeiende Arachnocampa luminosa-larwes in ’n grotLINKS: Die rare sydrade vol druppeltjies slym van gloeiende Arachnocampa luminosa-larwes in ’n grot (lees beskrywing hierbo). Die larwestadium is die vreetstadium. Uiteindelik word hulle papies en volwasse muggies, wat ook met rukke gloei, maar niks vreet nie.  Die volwassenes is net daar om te paar en die wyfies se enigste doel is om eiers te lę. Hulle lewe dus nie lank nie as volwassenes nie, maar die larwestadium duur van ses maande tot ’n jaar, afhangende van die beskikbare voedsel.

 

Detail van ’n foto deur Markus Nolf, (Mnolf),

wat die groot weergawe daarvan op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die web uitgeplaas en gelisensieer ingevolge die GNU Free Documentation License, Weergawe 1.2  of enige latere weergawe wat deur die Free Software Foundation gepubliseer word, asook ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.0-lisensie.

 

 

’n Gloeiende vuurvlieglarweBO: ’n Gloeiende vuurvlieglarwe. Die larwes van die meeste soorte vuurvliegies is roofinsekte, wat ander larwes, landslakke en naakslakke vreet. Volwasse vuurvliegies se soorte voedsel is wisselend. Daar is al vertel dat party van hulle ook roofinsekte is, terwyl ander van stuifmeel en partykeer nektar lewe.

 

Detail van ’n foto deur “NEOROtiker”,

wat die groot foto daarvan op hierdie bladsy  by Wikimedia Commons op die web uitgeplaas en onder meer gelisensieer ingevolge die  Creative Commons Attribution ShareAlike 2.5-lisensie. Kortom. vrye deling en die skep van afgeleide werke word vergun op voorwaarde dat behoorlike erkenning gegee word en dit slegs versprei sal word ingevolge ’n lisensie wat identies aan hierdie een.


 


 
Spanpogings

DAAR kan geen angswekkender jagtoneel in die insekwęreld wees as dié van 'n marsjerende leër van oorlogsugtige swerfmiere nie.
 
Beperk tot die tropiese gebiede, kan hierdie wriemelende wreedaards alles wat lewe voor hulle uitjaag terwyl hulle in hul menigte soos 'n rivier oor die land beweeg.
 
Hoewel hulle eintlik net klein goetertjies vreet, sal hulle omtrent enigiets dierliks verorber wat nie betyds kan wegkom nie: 'n ou luiperd, 'n vasgebinde perd, 'n luislang wat te swaar van lyf is ná 'n reuse-maaltyd, 'n mens wat onverstandig genoeg was om in hul pad te bly!
 
Maar insekte is hul hoofgereg en hulle oorrompel dikwels ander mier- of termietneste.

 

Swerfmiere verorber sprinkaan

BO: Swerfmiere (Dorylus-sp.) in die Afrika-staat Kameroen, besig om ’n sprinkaan te verorber.
 

Detail van ’n foto deur Karmesinkoening”,

wat die groot weergawe daarvan op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die web uitgeplaas en onder meer gelisensieer ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.0 Germany-lisensie


Die strooptog van 'n leër van Matabelemiere van Afrika, wat slegs van termiete lewe, is nie minder skouspelagtig nie. Net een werker sal 'n termietnes opspoor en na haar nes terugkeer terwyl sy 'n reukspoor agterlaat. Die kolonie marsjeer dan agter haar aan, vyf tot tien in 'n ry, en val die termietnes binne.
 
Die termiete word verlam en na die oppervlak gebring. Wanneer genoeg van hulle versamel is, trek die leër saam en elke werker dra soveel slagoffers moontlik in die kake huis toe.
 
As die nes nie te ver weg is nie, sal die miere terugkeer om nog oorlogsbuit te kom haal.

 



Parasiete

DAAR is 'n groot verskeidenheid van parasitiese insekte wat op die liggame van ander diere, en selfs mense, teer. Vlooie, luise, lintwurms en lewerslakke is almal parasiete, maar hulle is nie werklik moordenaars nie.
 
Tog is daar 'n groep gespesialiseerde parasiete wat inderdaad hul gashere doodmaak. Hulle gebruik nie hul slagoffers as kos vir hulself nie, maar as lewende spense vir hul jonges.
 
Byna alle wespe is jagters, wat dierlike kos vang om hul jonges te voed. Wespe wat spinnekoppe jag, val soms spinnekoppe groter as hulself aan en verbete gevegte volg.
 
Die messelwesp lę haar eiers en voorsien dan verlamde spinnekoppe, insekte of larwes aan haar eie larwes om te vreet nadat hulle uitgebroei het.

 

Wesp parasiteer die rusper van ’n skoenlapper

 

BO: ’n Wesp parasiteer die rusper van ’n skoenlapper.

 

Foto: Scott Bauer / U.S. Department of Agriculture

 



Voorlęers

 ANDERS as die strikspanners, is insekte wat hul prooi voorlę vanself die strik. Hulle lę in hinderlaag en is grootliks op kamoeflering aangewese. Die arme slagoffers loop of vlieg pylreguit in die kake -- of die kloue -- van die dood.
 
Die larwe van die sandkewer grawe 'n skag onder die grondoppervlak en prop die ingang met sy kop toe. Wanneer 'n goggatjie luiters verbydrentel, skiet die paaiboelie vorentoe en gryp die slagoffer met sy sekelagtige kake vas.
 
'n Uiters bekende voorlęer is die hottentotsgot (kyk foto bo-aan hierdie artikel). Wonderlik gekamoefleer tussen die blare, soms met 'n wikkelende lyf kompleet nes 'n blaar in die wind, wag die honger roofinsek tot 'n arme drommel binne trefafstand kom.
 
Waps! Daar gryp die hottentotsgot hom met sy getande voorpote, wat soos 'n knipmes om die prooi vou.
 
Nog een insek verdien om hier genoem te word. Ofskoon die meeste roofwantse jagters is, is 'n paar van hulle voorlęers en lok hulle selfs hul prooi na hul dood.
 
Een soort skei 'n smaaklike vloeistof van onder uit, wat miere aanlok wat dan daarvan bedwelm raak -- maklike prooi. Nog 'n soort druk sy pote in boomgom en gebruik dan sy klewerige litte as vlieëpapier om onbehoedsame slagoffers te vang.

 



Die ware jagters

VIR die mense is dit dikwels tog te mooi om te aanskou. 'n Naaldekoker wat grasieus in die sonlig wals. 'n Waterloper wat heen en weer skaats en sagkens kuiltjies in die wateroppervlak maak. Vredig? Nie ręrig nie. Eintlik is hierdie delikate insekte met formidabele oorlogvoering besig -- maak hulle meedoënloos jag op hul prooi.
 
Insekjagters moet fluks kos soek. Party, soos die liewenheersbesies ("ladybirds"), moet letterlik teen plantluise of dopinsekte bots voordat hulle dié met hul smaak- en gevoelsorgane herken.
 
Ander, soos die roofwants, kan die prooi op 'n afstand gewaar en dit met 'n steeksnuit doodsteek.
 
Naaldekokers word dikwels as die bobaas-insekjagters beskou -- dis bekend dat hulle selfs paddatjies en vissies kan vang. Met hul enorme uitpeuloë kan hulle hul prooi op enige plek binne sowat 20 m bespeur.
 
Hulle gebruik hul pote om 'n mandjieagtige net te vorm waarmee hulle allerhande soorte vlieënde insekte opraap.
 
Die naaldekokers jag op een van twee maniere: die een groep vlieg lang tye rond en patrolleer 'n bepaalde gebied; die ander groep sit op voorwerpe soos takkies, grashalms of selfs die grond en skiet taks weg om 'n verbyganger te vang wat smaaklik lyk.

 

Jagtersvlieg, liewenheersbesie en naaldekoker

 

LINKS BO: ’n Ouwęreldse jagtersvlieg verslind sy prooi.

  
LINKS ONDER: ’n Vreemdkleurige liewensheersbesie (“ladybird”) vreet ’n plantluis.

 
REGS BO: ’n Naaldekoker... sy soort word dikwels as die bobaas-insekjagters beskou.

 

Foto’s:

Jagtersvlieg: Todd A. Ugine / ARS / U.S. Department of Agriculture

Liewenheersbesie: Scott Bauer / ARS / U.S. Department of Agriculture

Naaldekoker: U.S. Fish & Wildlife Service


 <   Terug na hoofstuk 2              Voort na hoofstuk 4   >

•   Gaan na die begin van hierdie hoofstuk vir die skakels na al die hoofstukke in hierdie reeks

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van die Mieliestronk.werf