4. Spogreeks
Phylum: Arthropoda
Klas: Insecta

Insek-kaleidoskoop
Hoofstuk 4:
Hoe insekte bou en grou

Klik hieronder op die skakel na die hoofstuk van jou keuse:

  •   Hoofstuk 1: Bou en ontwikkeling van insekte
•   Hoofstuk 2: Taktieke vir oorlewing
•   Hoofstuk 3:  Hoe roofinsekte hul prooi vang
•   Hoofstuk 4: Hoe insekte bou
•   Hoofstuk 5: Onder skandeer-elektronmikroskoop

 

•   Hoofstuk 6: Sprinkane
•   Hoofstuk 7: Hottentotsgot
•   Hoofstuk 8: Naaldekokers en waterjuffers
•   Hoofstuk 9: Insekgroepe
•   Hoofstuk 10:    Wonder van insekte se vlerke

Hoe insekte bou

Bouers en grouers

Messelwesp

BO: ’n Messelwesp besig om te messel (êrens in Duitsland afgeneem).

Foto (dele bo en onder deur ons weggesny) deur “Wofl”,
wat die volledige weergawe op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web uitgeplaas en gelisensieer het ingevolge die
Creative Commons Attribution ShareAlike 2.0 Germany-lisensie
  

    

’n Messelwesp hang aan die buisvormige ingang tot haar nes. Gebou van klei wat met speeksel bevog is, sal die nes haar eier teen roofvyande en die wind en weer beskut. Dit sal ook ’n spens wees met verlamde ruspers wat as kos sal dien vir die larwe wanneer hy uitbroei. Beslis ’n dienlike kinderbewaarplek. Lees nou nog vertellings oor ons wonderlike insekte se bouvernuf...


  
HUL enigste troffels en ander bougereedskap is dié waarmee hulle in die wêreld gekom het: hul monddele en hul pote. Die boustowwe wat hulle nodig het, moet hulle uit hul omgewing bekom: grond, water, hout, hars en plantmateriaal.
 
Maar deur dié stowwe met hul eie sy, speeksel, was en mis te meng, sorg insekte vir sommige van die verstommendste ingenieursprestasies in die natuur—geboue, onderaardse stede, kleihutte, paviljoene van sy.
 
Praat van torings, tonnels, tooisels en timmerasies—insekte se skuiltes is selfs werklik bloudrukke vir die mens se ingewikkeldste strukture.
 


 
Kastele en katakombes

IS daar ’n skouspelagtiger insekhuis as ’n termietnes? Hierdie grootse bouwerke wissel in grootte van omtrent dié van ’n mensekop (en gemaak van gekoude hout) tot enorme grondwerke wat hoër as sewe meter in die lug intoring.

 

Yslike termiethoop in Australië se Noorder-Terroritorium

BO: ’n Yslike termiethoop in Australië se Noorder-Terroritorium. (Baie mense is geneig om van sulke termiethope as miershope te praat, maar hulle word deur termiete, sogenaamde “rysmiere”, gebou en nie deur miere nie.)

 

Foto deur Ian Armstrong,

wat dit op hierdie bladsy by flickr op die wêreldwye web geplaas en gelisensieer het in gevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.0-lisensie


Hoewel die boutegnieke van soort tot soort verskil, is alle grondtermietneste in sekere opsigte dieselfde: die grond word deur verskeie uitskeidings saamgebind, gewoonlik speeksel, ontlastingstof en spesiale sekresies van die soldate; die buitemure is dik en meestal vol ventilasiegate; in die grond daaronder is gewoonlik ’n doolhof van gange en kamers, met die koninklike kamer, waar die koning, koningin en hul begeleiers is, in die middel.
 
In baie neste is swamme wat as voedselbron dien. Die swamme is ook lugreëlaars wat oortollige vog absorbeer en weer uitskei as die vogtigheidsgraad daal.
 
Plaaslike toestande beïnvloed ook die vorms van termietneste. Die sambreelvormige pagode van die Afrikaanse reënwoud het byvoorbeeld dakoorhange wat help om die baie reënwater weg te voer.
 
Selfs boeiender is die groot hope van die kompastermiete, wat bra dun is ofskoon hulle tot ses meter hoog kan wees. In die dorre hart van Australië, met sy versengende son, bou hierdie termiete hul neste noord-suid sodat die versengende son in die middel van die dag slegs op die dun, skerp “rug” moet skyn, en soggens en smiddags wanneer dit koeler is teen die breë, plat oppervlakke aan weerskante.
 


 
Kleibouers

 

LINKS: Die verstommende “erdekruikie” van ’n pottebakkerswesp aan ’n muur in South Carolina in die VSA.

 

Detail van foto van “Pollinator”,

wat die groot weergawe daarvan op hierdie bladsy in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web uitgeplaas en gelisensieer het ingevolge die GNU Free Documentation License, Weergawe1.2 of enige later weergawe wat deur die Free Software Foundation gepubliseer word.

 

VAN die mees besondere kleituistes in die natuur word deur die groot familie van wespe gebou. Die pottebakker-wesp se klei-neste is besonders.

 

Versprei tussen die takkies van bome, die stingels van blomme en elders, kan hul “erdekruikies” so delikaat gevorm wees dat dit lyk of hulle op ’n pottebakkerskyf ontstaan het. Die buitekant van die nes is grof, maar die binnekant glad gepleister. Elke kruikie bevat verlamde ruspers waarop die larwe later teer.

 


 
Grondverskuiwers

’N MENIGTE insekte soos kewers, krieke, termiete, wespe en miere bou hul neste ondergronds. Van al die grondverskuiwers is die miere verreweg die merkwaardigste. Party soorte se neste strek etlike honderde meters onder die grond. Die bogrondse hoop dien gewoonlik as ’n verlenging van die nes en verwarm dit deurdat dit deur die son verhit word.

 

Afgietsel van ’n miernes

BO: ’n Afgietsel van ’n miernes soos dit ondergronds lyk. Dit is van die Florida-oesmier (Pogonomyrmex badius) van Amerika.

 

Foto deur Shaners Becker van Seattle in die VSA.,

wat dit op hierdie bladsy by flickr op die wêreldwye web uitgeplaas het en gelisensieer het ingevolge ’n Creative Commons-lisensie


Hoewel nie so indrukwekkend in omvang nie, is die uithollings van die mierleeu-larwe ewe vernuftig. Hy hol ’n tregtervormige kuil in sanderige grond uit deur spiraalsgewys agteruit te skuifel en die losgemaakte sandkorrels met sy kop uit te werp. Die kuil is so ontwerp dat niksvermoedende prooi-insekte daarin moet aftuimel tot in die larwe se kake.

 


 
Mobiele tuistes

DRA-HUISE word deur talle insekte gebou, maar een van die fassinerendste is dié van die houtjieswurm-rusper (ook die kokerwurm of houthuisie genoem, asook bekend onder verskeie ander name). Die jong rusper se boustowwe is stukkies blare of gras, takkies, dorings of selfs klippies, wat hy met sydraad aanmekaar heg totdat sy hele lyf knus deur ’n huisie bedek is.
 
Die rusper loop dan so al vretende met sy bewegende huisie rond. Namate hy groter word, vergroot hy ook die huisie deur nog stowwe daarby te voeg. As die somer einde se kant toe staan, heg hy sy tuiste aan ’n blaar of tak vas en bring dan die winter daarin deur.

 

Stokkieshuisie van ’n houtjieswurm-rusper

BO: Die stokkieshuisie van ’n houtjieswurm-rusper wat aan ’n boom vasgeheg is.
 

Detail van foto deur “Fir0002”,

waarvan die volledige weergawe op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web verskyn. Fir0002 het dit gelisensieer ingevolge die GNU Free Documentation License, Weergawe1.2 of enige later weergawe wat deur die Free Software Foundation gepubliseer word. Besoek gerus ook sy webwerf by www.flagstaffotos.com.au, waar sekere van sy foto’s te sien is.


In die lente word hy ’n papie waaruit ’n volwasse mot verskyn. Die mannetjies verlaat die huisie, maar die vlerklose wyfies nooit nie. Paring vind deur ’n opening in die husie plaas, die wyfies lê hul eiers en gaan uiteindelik dood.
 
Die larwes van die meeste watermotte bou ook mobiele tuistes. Eers maak die larwe ’n basiese buis van sy. Afhangende van die soort, word stokkies, blare, skulpe of selfs sand dan vernuftig in die sy verseël.
 
Spoedig is ’n silindervormige omhulsel geskep wat sy agterlyf bedek, maar sy kop en pote vry laat sodat die rusper in die water kan rondbeweeg en vreet. Hy verander binne-in die sak in ’n papie. Wanneer hy gereed is om as volwasse insek te verskyn, sny hy homself los uit sy beskermende tuiste en styg op na die wateroppervlak.
 


 
Stikkers

 

LINKS: Wewermiere aan’t saamwerk om blare bymekaar te bring vir hul nes.


Foto deurPHGCOM”,
wat dit op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web uitgeplaas het en gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 3.0-lisensie. Kortom, vrye deling en die skep van afgeleide werke daarvan word vergun mits behoorlike erkenning gegee word en dit slegs versprei word onderhewig aan ’n lisensie wat identies is aan hierdie een.

 

VINDINGRYKE huisbouers by uitstek—dis miere van die genus Oecophylla. Hierdie wewermiere bou hul merkwaardige neste van blare wat deur sydrade geheg word.
 
Met hul bokake en pote bring die werkers die kante van die blare bymekaar. As die gaping tussen twee blare te groot is, vorm die miere ’n ketting—soms tot ’n dosyn miere lank—om dit te oorbrug. Die blare word dan op hul plek gehou terwyl nog ’n groep werkers daar aankom wat elk ’n larwe in hul kake dra.
 
Die larwes, wat sydraad afskei. word so sig-sag heen en weer van blaar tot blaar gedra om dit aanmekaar te “stik”—totdat daar uiteindelik ’n plaat van sy is wat die blare bind. As die nes klaar is, word die larwes in die nuwe nes gehuisves wat hulle self help skep het.

 

 


 
Kinderkamers van was

 

REGS: Die heuningkoek is ’n wonderlike voorbeeld van die natuur se spaarsaamheid, want met die selle se seshoekige vorm word die grootste moontlike bergruimte met die minste hoeveelheid byewas verkry.

 

Foto (detail): Scott Bauer / ARS / U.S. Department of Agriculture

 

 

DIE heuningby word van die vroegste tye af geroem om sy waskoeke waarin hy sy jonges grootmaak en sy heuning berg.
 
Sosiale bye (waaronder die heuningbye) maak meestal heuningkoeke van was wat deur hul liggame uitgeskei word, hoewel sommige gebruik maak van ’n klewerige stof, genoem propolis (hars) van bome, om trekke toe te stop. Alleenloperbye, daarenteen, gebruik ’n verskeidenheid van materiale om hul neste te bou.
 
Die fynste afgewerkte koeke word deur heuningbye gebou. Elke koek bestaan uit netjiese rye van seskantige selle. Die seshoek is hier die voortreflikste ontwerp, want die selle word versterk deurdat hulle deur soveel buurselle begrens word. Die grootste moontlike bergruimte word ook met die minste hoeveelheid was verkry. Dit is ’n wonderlike voorbeeld van die natuur se spaarsaamheid.
 
In die vrye natuur bou heuningbye hul heuningkoeke in hol boomstamme of in rotsskeure.

 


  
Papierkunstenaars

WONDERLIK fyn afgewerk is die papierneste van sekere wespsoorte. Die wespe maak self die papier van houtvesels wat hulle met hul kake van bome, heinings, plantstingels en ander voorwerpe afskraap. Die hout word deeglik gekou en met ’n speekselagtige uitskeiding vermeng om ’n soort papierpap te vorm wat tot ’n ferm, grys papier verdroog.
 
Van die bekendste papierneste behoort tot die sosiale wespe. Perdebyneste word dikwels gesien waar hulle aan dakoorhange of ’n boomtak hang.
 
Party miersoorte bou neste van ’n sterk soort papier, baie net soos die neste van wespe, met die verskil dat baie van hulle nie die meetkundige presisie van die papierselle van die perdebynes het nie.

 

BO: ’n Jong papierwesp-koningin (Polistes dominulus) versorg haar erfgenaampies.

 

Foto deur “Alvesgaspar”,

wat dit op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web uitgeplaas het en dit gelisensieer het ingevolge die  Creative Commons Attribution ShareAlike 3.0-lisensie. Kortom, vrye deling en die skep van afgeleide werke daarvan word vergun mits behoorlike erkenning gegee word en dit slegs versprei word onderhewig aan ’n lisensie wat identies is aan hierdie een. 



Kerwers en delwers

TALLOSE kewers, bye, termiete, wespe en ander insekte boor, tonnel of kerf hul neste of kinderbewaarplase in die stamme van bome, dooie takke en mensgemaakte strukture van hout. Elk het sy eie kenmerkende tonnelpatroon.
 
Die larwes van sekere insekte—motte, vlieë en kewers—maak weer hul tuistes op blaaroppervlakke. Hierdie blaardelwers teer op die voedsame selle van die blare en kerf in die proses dikwels mooi patroontjies daaruit. Dit kan onreëlmatig wees, as hy min of meer staties bly, of delikate kronkeldraaie maak soos hy vreet-vreet rondbeweeg.

 

REGS: ’n Gulsige insek of insekte se nalatenskap: ’n patroon op ’n druiweblaar.

 


Gogga-gedoentes

•   Die kampioen-grondverskuiwer is ’n soort mier van Noord-Afri­ka. Daar is al waargeneem hoe sulke miere oor ’n tydperk van honderd dae meer as ’n ton grond verskuif het.
•   Die bekoorlike klein molkriekie bou spesiale sanghole om sy klanke te versterk. Die bek van die tonnel gaan op die grondop­pervlak uit en stem ooreen met ’n luidspreker. Die mannetjie laat sy paringsliedere wyd en syd hoor.
•   Party termietneste is so stewig dat dinamiet nodig is om hulle weg te blaas as ’n stuk land skoongemaak moet word.


 <   Terug na hoofstuk 3            Voort na hoofstuk 5    >

•   Gaan na die begin van hierdie hoofstuk vir die skakels na al die hoofstukke in hierdie reeks

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van die Mieliestronk.werf