|
JULIUS
CAESAR:
‘Veni, vidi,
vici’
(Ek
het gekom, ek het gesien, ek het oorwin *)
* Caesar
se beweerde woorde toe hy Klein-Asië in 47 v.C. onderwerp het
GAIUS
JULIUS CAESAR (ca. 100 v.C.- 44 v.C.) was
’n Romeinse staatsman en generaal—een van die invloedrykste staatkundige
en militêre leiers in die geskiedenis. Hy het die groot Romeinse ryk help
vestig.
Caesar het gebiede verower wat van Egipte tot Gallië
gestrek het.
In 59 v.C. het hy lid van die Eerste Driemanskap geword en die Romeinse ryk
saam met Pompejus en Crassus regeer. Toe Crassus sterf, het Pompejus, wat
eers Caesar se vriend was, sy vyand geword.
Ná
baie oorwinnings teen sy vyande het Julius Caesar diktator van Rome geword.
Op 15 Maart 44 v.C. is hy deur ’n groep samesweerders doodgesteek—die
bloedige einde van ’n streng maar verstandige regeerder.
Ná
Caesar se dood het Cleopatra, koningin van Egipte, haar by die Romeinse
veldheer Marcus Antonius geskaar om teen Rome op te trek. Marcus Antonius,
verwant aan Julius Caesar, was ’n lid van die Tweede Driemanskap wat met
die hulp van Octavianus en Lepidus oor die Romeinse ryk regeer het.
|

|
| BO:
Die bekendste rolprent wat ooit oor Cleopatra gemaak is, was dié
wat in die 1960’s uitgereik is. Kopiereg bestaan op die rolprent
self, maar nie op die lokprent wat vooraf versprei is nie, omdat die
kopiereg nie hernieu is nie. Hierdie foto van die beeldskone aktrise
Elizabeth Taylor, wat die titelrol vertolk het, kom juis uit die
kopieregvrye lokprent. Dit is ongelukkig egter effens verwronge,
omdat ons manueel moes probeer om die skewe beeld op ’n
wyedoek-filmraampie ‘‘reg te trek’’ soos dit ook deur
projektors vir die rolprentskerm gedoen word! |
Onderwyl
Marcus Antonius in Egipte was, het hy verlief geraak op Cleopatra, ofskoon
hy met die suster van Octavianus getroud was. By die slag van Actium (31 v.C.)
is hy verslaan, en hy en Cleopatra het saam voor die seëvierende Octavius
(Augustus) gevlug. Cleopatra het glo selfmoord gepleeg deur toe te laat dat ’n
giftige slang haar pik.
BO: Marcus Antonius en Cleopatra.
Detail van ’n skildery deur die Nederlandse skilder Jan de Bray
(ca. 1627-1688). |
Julius Caesar se militêre oorwinnings: Nadat die Eerste Driemanskap
in die lewe geroep is, het Julius Caesar Rome verlaat om Gallië te verower.
In 55 en 54 v.C. het hy twee ekspedisies na Bretagne georganiseer, en toe in
52 v.C. ’n opstand onderdruk wat deur Vercingetorix in Gallië gelei is.
Hy het in 49 v.C. seëvierend na Rome teruggekeer, nadat hy uitdagend die
rivier die Rubicon met sy leër oorgesteek het—strydig met die bevele van
die Romeinse bestuursliggaam, die Senaat. In 48 v.C. het hy Pompejus by
Pharsalus verslaan. Julius Caesar het ook vir Cleopatra gehelp om die troon
van Egipte te herower.
In
Rome het Caesar grootse projekte geloods, oor administratiewe sake toesig
gehou en die jaarkalender hervorm. Hy was ook ’n uitmuntende skrywer, die
outeur van Die Galliese Oorloë (kommentaar op die gebeure van 58 tot
52 v.C.) en Die Burgeroorloë (oor gebeure van 49 tot 48 v.C.).
Julius
Caesar se hervormings het stabiliteit na die wêreld by die Middellandse See
gebring. Hy was ’n uitmuntende generaal, wat sy soldate tot lojaliteit
geïnspireer het. As een van die treffendste figure van die antieke wêreld
het hy die onderwerp van baie letterkundige en biografiese werke geword,
waaronder die drama Julius Caesar van 1599 deur die Engelse dramaturg William Shakespeare.
|

BO:
Een van die eerste gedrukte illustrasies wat van ’n keisersnee
gemaak is, na bewering van die geboorte van Julius Caesar. ’n
Lewende baba word chirurgies uit sy dooie ma gehaal in hierdie
houtsnee van 1506. Maar is dit waar die keisersnee (sectio
caesaria) aan sy naam kom? Nee, klaarblyklik nie, ten spyte
van wat steeds wyd geglo word. Dit kon naamlik nie wees dat
Julius Caesar só gebore is nie, want hy is immers lank deur sy
ma oorleef. Die naam kom waarskynlik van ’n ou Romeinse wet, Lex
Caesaria, wat dit verbied het dat ’n gestorwe swanger vrou
begrawe kon word voordat die baba uit haar buik gesny is.
|
|