|
’n Laslappie van Mieliestronk |
||||
|
JUDAÏSME:Die
godsdiensleer en instellinge van die Jodedom OMSTREEKS
vierduisend jaar gelede, toe die mense van die ou tyd politeïste was (die
aanbidders van verskeie gode), het die één ware, onsigbare God hom
geopenbaar aan Abraham, wat sy tuiste by Ur in Mesopotamië (die huidige
Irak) verlaat en na die land Kanaän (die huidige staat Israel) getrek het.
Foto van die Groot Ziggurat op 17 Januarie 2004 geneem deur Lasse Jensen. By hergebruik moet sy kopiereg te alle tye erken word en die foto mag in geen opsig verander word nie behalwe deur dit te vergroot of (soos ons hier gedoen het) te verklein.
Sowat
ses eeue nadat Abraham hom in Kanaän
gevestig het, het sy nakomelinge, die Israeliete, ná hul slaweverblyf in
Egipte, tydens hul omswerwinge in die woestyn onder die leiding van Moses die
Wet op die berg Sinai ontvang. Judaïsme
is gegrond op die lees en uitlegging van heilige tekste onder leiding van
rabbi’s, ook genoem rabbyne, Joodse geestelikes wat die Wet bestudeer.
Streng gesproke bestaan die sogenaamde Tora slegs uit die eerste vyf boeke
van die Ou Testament, maar in die Joodse geloof het dit mettertyd ’n veel
wyer betekenis ontvang en omvat dit alle gesaghebbende Joodse leringe. Die sjofar (die ramshoringtrompet) word geblaas tydens godsdienstige plegtighede soos die Rosj Hasjana, die Joodse Nuwejaarsfees in September.
Foto met vergunning ambassade van Israel, Washington / U.S. Library of Congress
Die tempel in Jerusalem is omstreeks 1000 vC deur koning Salomo gebou en later deur die Babiloniese koning Nebukadnesar verwoes. Dit is herbou en in 515 vC ingewy, en deur Herodes die Grote vergroot. Die tempel is in 70 nC weer verwoes—deur die Romeine—en al wat vandag nog daarvan oorbly, is die sogenaamde Klaagmuur.
Die kandelaar met sewe arms wat die menora genoem word, is ’n simbool van die antieke Israelitiese staat. Sedert die tempel in Jerusalem verwoes is, is die heiligste voorwerp in die Joodse liturgie die rol wat die Heilige Skrifte bevat.
Volgens die Joodse geloof blyk die egtheid van ’n persoon se geloof uit sy
handelinge. Daar is dus wette oor elke aspek van die lewe, wat die gelowige
Jood stiptelik moet gehoorsaam. Joodse eredienste vind plaas in die sinagoge—afgelei
uit ’n saamvoeging van die Griekse woorde sin (saam) en agein
(om te bring).
LINKS BO: Toeriste in Jerusalem kyk na ’n model van die antieke stad met sy indrukwekende tempel. REGS BO: Die Klaagmuur in Jerusalem... enigste oorblyfsel van die ou tempel wat deur die Romeine verwoes is.
Foto
van model van ou Jerusalem: Christian Theological Seminary / PD
|
||||