|
Die
vies kakkerlak
hier onder my dak ...

Kokkedoor van die krot,
wat als vreet waar dit vrot,
om verag te word soos ’n rot
bly vir altyd jou lot ...
Kokkerot!
Illustrasie: U.S. National Institutes of Health


BO:
Drie soorte huiskakkerlakke: die Amerikaanse kakkerlak, Periplaneta americana,
die Oosterse kakkerlak, Blatta
orientalis, en die Duitse kakkerlak, Blattella
germanica.
REGS: Die Asiatiese kakkerlak, Blattella asahinai.
Foto
bo: U.S. Centers of Disease Control and Prevention. Foto van
Asiatiese kakkerlak: Barry Fitzgerald / ARS / U.S.
Department of Agriculture
AKKERLAKKE is so te sę onuitwisbaar. Daar word hoeka beweer dat
hulle die enigste lewende wesens sou wees wat ’n massiewe
kernbomramp op die aarde sal kan oorlewe. Of dit wel die geval is,
is ’n ope vraag. Maar sommige kan wel talle kere die dosis
kernbestraling verduur wat die brose mens sonder meer die ewigheid
sal instuur.
Daarby kan kakkerlakke springlewendig ontdooi nadat hulle kliphard
bevrore was en boonop kan hulle tot ’n maand of drie sonder kos bly.
Of hulle kan lewe van die karigste middele, soos van die gom aan die
agterkant van posseëls.
Wat meer sę, party van hulle kan glo ’n driekwart uur sonder lug
klaarkom om dan ewe vreetlustig die lewe te hervat, of, nog erger,
tot nege dae bly rondhardloop nadat hul koppe afgesny is.
Kanniedoods, almal. Of miskien nie, want enige ratse insektejagter
sal jou vertel dis darem nie totaal onmoontlik om hulle bokveld toe
te stuur nie. Soos een dit stel: “Ek moet nog die kakkerlak sien wat
uit die dood sal verrys nadat hy met ’n goed gemikte trapslag onder
’n swaar stewel verbrysel is!”
Trouens, dit lyk of daardie oerdrang om kakkerlakke onder die skoene
te wil vermorsel, ingebore is by die mens. Met goeie rede. Hierdie
insek is so ’n jiggie-ding dat hy omtrent alles sal vreet wat
voorkom, insluitende ontlasting, ou verbande van sere en wonde,
hare, leer, seep, muurpapier, ontbindende dierlike reste, noem maar
op. Hy kan kieme wat voedselvergiftiging, tering, polio en ander
gevaarlike siektes veroorsaak op sy gogga-lyf saamdra en kosse
besmet wanneer hy daarmee in aanraking kom. Boonop kan hy ’n
walglike reuk afgee. Praat van ’n vrot kokkerot!
Maar in die vrye natuur het kakkerlakke darem ook hul nut. Hulle
breek verrottende plante- en dieremateriaal af en help dus só om van
al die gemors ontslae te raak.
Soorte, hul bou en lewenswyse
KAKKERLAKKE
is insekte van die orde Blattodea. Hierdie naam kom van blatta,
die Latynse woord vir ’n kakkerlak. Die kakkerlakke van Suid-Afrika
word in drie families ingedeel, maar hierdie klassifikasie is
dekades gelede gedoen. Nagenoeg 250 soorte is in ons land getel.
Węreldwyd is daar ongeveer 4000 spesies, waarvan omtrent dertig
hulle tussen mense tuis maak en sowat vyf soorte bekende
plaaginsekte is.
Die “goue eeu” van die kakkerlakke, vertel die geleerdes, is egter
baie lank reeds verby. Lank, lank gelede in die laat Paleosoďese
Era, een vroeë stadium in die bestaan van die aarde, reken hulle,
was verreweg die meeste van alle
insekte kakkerlakagtig. Vermoedelik omdat daar soveel suurstof
in die atmosfeer was—volgens sekere wetenskaplikes 35 persent suurstof
teenoor vandag se 21 persent—was dit ook ’n tyd van gróót goggas,
soos ’n reuse-naaldekoker met ’n vlerkspan van sowat 70 cm.
Eendagsvlieë het toentertyd so groot soos kanaries geword.
Die
grondslag van hierdie reusegroei of sogenaamde gigantisme lę
vermoedelik in die insek se asemhalingstelsel. In teenstelling met
ons gewerwelde wesens, waar bloed suurstof van die long na die sel
vervoer, dra insekte suurstof regstreeks oor deur ’n netwerk van
doodlopende trageale buise. Namate insekte groter raak, raak
hierdie soort suurstofoordrag baie minder doeltreffend. Maar as ’n
mens die suurstofvlakke in die atmosfeer sou verhoog (soos in die
laat
Paleosoďese Era bes moontlik vanweë vermeerderde plantegroei gebeur
het) kan langer
trageale buise werk. Dan kan insekte groter raak, selfs yslik groot.
Dog vandag wissel die lengte van ons verskillende kakkerlakke
maar net van minder
as een sentimeter tot so ses tot agt sentimeter by bepaalde “reuse-soorte”.
Benewens die “mak” soorte in ons huise en geboue wat
so graag in ons koskaste invaar, woon ander onder klippe of boombas,
in grotte en selfs in die neste van perdebye, miere en termiete.
Daar lewe hulle van dooie diere- of plantemateriaal.

LINKS:
Alle kakkerlakke is nie soos dié in ons huise nie. Die groen
piesangkakkerlak of Kubaanse kakkerlak (Panchlora nivea) van
die Karibiese Seegebied word selde binnenshuis gesien (behalwe waar
mense hulle nogal as troeteldiertjies aanhou). Hulle word ook nie as
’n plaag beskou nie.
BO: ’n Yslike vergroting
van die “kop en skouers” van die twee sentimeter lange groen piesangkakkerlak.
Foto van verskillende groen piesangkakkerlakke:
“Ltshears”, wat dit by die Wikimedia Commons-projek op die węreldwye
web tot openbare besit verklaar het (“released into the public
domain”)
Vergroting van ’n groen
piesangkakkerlak:
David D. Yager,
Ph.D.,
University of
Maryland, Department of Psychology / via U.S. NSF

BO: Een van die bielies onder
die kakkerlakke. Hierdie
rare kalant van Madagaskar wat tussen die blaarreste op die
woudbodem lewe en tot meer as sewe sentimeter lank kan word, is ’n sissende kakkerlak.
Die Madagaskarse sisser (Gromphadorhina portentosa) maak
inderdaad ’n sissende geluid, wat tot omtrent vier meter ver
gehoor kan word. Dit word gedoen wanneer hy teen ander van sy
soort baklei, wanneer hy paar en wanneer hy gesteur word. Die
geluid word voortgebring deur lug vinnig deur
asemhalingsgaatjies (spirakels) aan die agterlyf te forseer. Hy is egter nie die
enigste kakkerlak wat ’n geluid maak nie. Sekere soorte
kan glo tjirp!
Foto:
Adrian Pingstone,
wat dit
by Wikimedia Commons-projek op die węreldwye web tot openbare
besit verklaar het (“released into the public domain”)
Hoewel veral die huislike kakkerlaksoorte as smerige uitvaagsels
beskou word, het kakkerlakke baie gemeen met ander insekte. Hul
liggame het drie hoofdele, te wete die kop, toraks (borsstuk) en
agterlyf. Hulle het drie pare gelede pote, een paar voelers en ’n
onbuigsame uitwendige skelet. Verskeie kere in hul lewe word die
uitwendige skelet afgewerp (die kakkerlakke “vervel”) en dan is die
meeste van hulle wit en kan maklik beseer raak. Dit is totdat die
uitwendige skelet die kans kry om te verdonker en te verhard.
Partykeer kan ’n kakkerlak met sy vervelling ’n verlore ledemaat
vervang of selfs die vervelling uitstel om die nuwe ledemaat die
kans te bied om te groei.
Opmerklik by hierdie plat insekte is die breë, plat, skildvormige
pronotum (rugplaat van eerste borssegment), waaronder die kop
versteek is. Die stinkkliere wat by die meeste soorte voorkom, gaan
onder of op die agterlyf oop om ’n aangename reuk af te skei wat die
vyande kan afskrik. Sekere soorte soorte het vlerke en kan vlieg.
Ongevleuelde soorte is egter ook taamlik algemeen.
Die meeste soorte kakkerlakke is sku vir lig en slegs snags
bedrywig. Klierselle in die kop sorg as ’t ware vir ’n ingeboue
“wekker” deurdat hulle ’n hormoon afskei wat die insek aktief maak
wanneer dit nag word. Die “wekker” sal selfs werk indien hy heeltyd
in óf ’n stikdonker kas óf ’n verligte houer aangehou word. Ta sal
net op en wakker raak in daardie tye wanneer dit buite donker is.
Ontwikkeling
KAKKERLAKKE ontwikkel deur onvolledige metamorfose. Hulle maak hul
verskyning uit eiers en ondergaan dan veranderings in verskillende
stadiums totdat hulle volwasse is.
Vir insekte sorg hulle opvallend goed vir hul eiers. Tien tot
veertig eiers word in ’n leeragtige pakkie gelę. Die wyfie sal só ’n
pakkie met haar saamdra in ’n broedsakkie wat in die punt van haar
agterlyf geleë is. Party soorte kakkerlak-wyfies laat val die pakkie
kort voordat die eiers uitbroei, terwyl die eiers by ander soorte
binne-in die wyfies uitbroei en dit dan lyk asof die ma’s die
kleintjies “lewend in die węreld bring”. Die kleintjies staan bekend as nimfe.
Sekere soorte kakkerlak-ma’s voer die “moederliefde” nog ’n trappie
verder. Die wyfie abba naamlik die uitgebroeide nimfe op haar rug en
onder haar vlerke totdat hulle groot genoeg is om hul eie potjie te
krap. Die nimfe lewe in dieselfde omgewing en vreet dieselfde kos as
die volwassenes.
Die nimfe vervel van ses tot twaalf keer. Binne vier maande tot ’n
jaar is hulle volgroeid, waarna hulle dan tot vier jaar kan lewe.
’n Nie-geslagtelike vorm van reproduksie wat partenogenese genoem
word, kom by baie kakkerlakke voor. Dit beteken die wyfies kan eiers
lę wat uitbroei sonder dat hulle deur ’n mannetjie bevrug is.
Voorkoming en bestryding
SOOS
’n menigte mense al ervaar het, word kakkerlakke nie maklik bestry
nadat hulle ’n mens se huis binnegevaar het nie. Hulle kruip in
barste en splete weg waar geen mens hulle kan bykom nie en tot
oormaat van ramp raak hulle ook bestand teen gifstowwe wat baie teen
hulle gebruik word.
Om kakkerlakke van kant te maak, is dit dus beter om kenners te
ontbied wat in die bestryding van sulke plaaginsekte spesialiseer.
Voordat ’n mens egter so drasties teen hulle optree, kan dit miskien
nodig wees om ’n kenner te vra om die insekte vir jou uit te ken,
want ander insekte kan dalk net vir kakkerlakke aangesien word.
Indien jy tevrede is dat dit kakkerlakke en nie onskadelike groot
kewers is wat jou op hol jaag nie, sal jy bes moontlik die omvang
van die besmetting wil bepaal. Nagtelike ondersoeke en die plasing
van klewerige lokvalle kan jou byvoorbeeld help om vas te stel hoe
erg die plaag in jou huis of sakeonderneming is.
Maak alle barste in mure, vloere of plafonne toe waar hulle sou kon
inkruip en trek die meubels ’n ent van die mure af weg sodat alle
onbereikbare wegkruipplekke uitgeskakel word. Jou perseel moet
onberispelik skoon gehou word. Alle kosse moet so dig toegehou word
dat geen kakkerlak daarby kan uitkom nie en afvalkos mag nęrens
rondlę nie.
Geen hoeveelheid insektegif sal immers kakkerlakke blywend verdryf
as daar genoeg kos is waarby hulle maklik kan uitkom nie. Dié wat jy
vandag van die gras af maak, kan eenvoudig môre deur nuwe intrekkers
van buite vervang word.

BO: Kakkerlak se
tier! Jy sou dit miskien nie dink dat enige ander lewende
wese die vieslike kakkerlak sou wil vreet nie, maar hierdie
vinnige gelede gogga wat as die honderdpoot of oorkruiper
bekend staan, verorber graag die nimfe (kleintjies) van
kakkerlakke. En hieronder is tot ’n resep van mense wat
reken kakkerlakvleis smaak glad nie so sleg nie. Sien jy
kans?
Foto: Openbare besit
(“public domain image”)
|