|
|||
PARTY
mense sê hy lyk soos ’n perd wat deur ’n komitee ontwerp is. Wat dit
ook al beteken, dit klink lagwekkend, maar dan is die kameel mos ook rêrig
’n rare koddigheid op pote. Moet
asseblief net nie dink hy is sommer 'n hierjy se dier nie. As
die "skip van die woestyn" het hierdie half primitiewe pakdier
hom immers deur die eeue heen onderskei en paaie deur onherbergsame
landstreke gebaan om geïsoleerde wêrelddele met mekaar te verbind. Melk
en botter van die wyfies. Vleis van die jonges. Toue, tente en klere van
die hare. Die kameel was so ’n veelsydige bate dat ’n mens jou kwalik
die antieke wêreld sonder hom kan voorstel. Johannes die Doper het ’n
ouer tradisie voortgesit toe hy volgens die Matteus-evangelie klere van
kameelhaar gedra het. Dit
is nie bekend presies wanneer die mens die kameel mak gemaak het nie. ’n
Papirus wat meer as 33 eeue oud is, maak reeds melding van hierdie soort
dier. En
hy ploeter nog voort. Onder meer in Indië, Noord- en Midde-Afrika,
Mongolië, Rusland, China, die Midde-Ooste, Australië en ook in Namibië.
Trouens, die wêreld se kameelbevolking is steeds verskeie miljoene sterk
en hulle plof vandag steeds deur die stof soos hul voorsate van ouds in
die karavane van nomade en die kosbare optogte van koninklikes soos die
koningin van Skeba. Ploeter
en plof, het ons gesê? Nee, ’n mens doen die vlugvoetige kameel ’n
onreg aan deur só van hom te
praat! Die volgroeide dier kan oor lang afstande feitlik alle ander diere
kafdraf, soos die een in Australië wat sowat ’n eeu gelede
in ’n 180 km lange resies teen ’n perd ingespan is. Die
perd, word vertel, het net-net gewen -- en toe dood neergeslaan. Die
kameel het net die volgende dag, ná ’n goeie nagrus, die 180 km terug
afgelê -- in dieselfde tyd. Kamele
se vermoë om lang tye sonder water te lewe, is een van hul verstommendste
eienskappe. Hulle kan wel ’n hele badvol water wegsluk ná ’n
vermoeiende dag, maar dan kan hulle selfs met ’n vrag op die rug vier,
vyf dae sonder enige water klaarkom. As
hulle nie hard werk nie, en genoeg sappige kos kry, kan hulle al hul
nodige water daaruit put en tien maande uithou sonder ’n enkele teug van
die lewegewende vog. Want die kameel hyg nooit nie, sweet baie min en kan
selfs sy urine hersirkuleer om water te bespaar. Sy
dermkanaal kan elke druppeltjie vog weer in sy liggaam opneem. Sy mis is
baie droog en sy urine vier keer meer gekonsentreer as seewater. Geleerdes
aan die Universiteit van Tel Aviv in Israel het vasgestel dat die kameel
selfs water kan opneem uit die lug wat hy uitasem -- deur sy neus! ’n
Membraan wat soos ’n perkamentrol lyk en daarom ’n geweldige oppervlak
beslaan (sowat 1000 vk cm teenoor die mens s’n van sowat 12 vk cm) vang
68 persent van die vog op wat weens uitaseming verlore sou gegaan het. Die
spens vir sy kos is die boggel. Hier word vet gelyk aan ’n vyfde van die
liggaamsgewig opgeberg om benut te word in die maer dae wanneer daar niks
is om te vreet nie. Aan
sy getal boggels word die soort kameel uitgeken. Die Baktriese kameel, wat
van die Baikalmeer in Siberië tot in Midde-China voorkom, het twee bulte
op die rug. Hy is baie skaarser as die dromedaris met sy enkele boggel. Die
kameel is, ondanks al sy goeie eienskappe, egter ook ’n omgesukkelde
dier, en veral die mannetjies kan in die paartyd baie gevaarlik raak.
Miskien ook maar uit pure frustrasie, want hulle is drie, vier maande op
’n keer romanties, teenoor die wyfies se vier of vyf dae, en dan ook nie
eens elke jaar nie. Maar
vir die woestynmense is hul kamele nog hul troue metgeselle -- al kan die
diere hulle doodbyt. Saam deurstaan hulle die hete gloed van die son op
die middag, of die sandstorms wat die kamele beter as wie ook al kan
verduur met spesiale "sluiters" aan die oë, neus en ore. |
|||
|
|||
Om terug te keer na Die Mieliestronk klik hier |