|
KANKER Dis glo die ou Griekse geneesheer Hippokrates wat dit ’n “krap” genoem het... maar eintlik is dit ’n magdom van meer as honderd of straks tweehonderd verskillende siektes. Die goeie nuus is egter dat kanker lankal nie meer noodwendig ’n doodvonnis is nie...
Foto: LBL / U.S. Department of Energy |
||
|
REGS: Net ’n voorstelling... die krap met ’n menigte kloue. Volgens sekere kenners is daar meer as honderd kankersoorte. Ander stel die getal selfs op meer as tweehonderd, wat in ses of sewe groepe ingedeel kan word op grond van die weefsel en die aard van die oorspronklike gewas. |
||
IE kans is baie goed dat jy iemand ken wat ’n geskiedenis van kanker het. Dit kan ’n vroulike familielid wees wat al weens borskanker geopereer is, of dalk jou oupa wat gelate met sy prostaatkanker saamleef. Miskien is een van die kinders in jou buurt eenmaal vir bloedkanker (leukemie) in die hospitaal opgeneem. Ná intensiewe, hoogs gespesialiseerde behandeling is hy of sy nou heel waarskynlik heeltemal gesond. Kanker is ongetwyfeld ’n integrerende deel van ons aardse bestaan. Om die waarheid te sê daar is bereken dat een uit elke drie mense die een of ander tyd in hul lewe deur kanker geaffekteer sal word. Maar al verkies baie mense om nie daaraan te dink of daaroor te praat nie—omdat hulle so ’n verskriklike vrees daarvoor koester—is dit noodsaaklik dat ons almal aan een ding herinner moet word. Dit is dat kanker lank nie meer noodwendig ’n doodvonnis is nie. En hoe openliker ons oor hierdie krankheid is, hoe meer lewens kan gered word. Trouens, dit is van kanker probeer doodswyg dat miljoene mense al van kanker dood is, word gesê. Elkeen moet besef dat die kanse om kanker te oorleef vandag beter as ooit tevore is—en dat kankers bes moontlik met groter sukses behandel kan word as hulle vroeg opgespoor word. Jy en die mense naby aan jou kan jul gesondheid help beveilig deur te leer wat die vroeë waarskuwingstekens is en deur onmiddellik te reageer wanneer enige probleem vermoed word.Wat is kanker?KANKER is nie één nie, maar ’n groot groep siektes wat almal gekenmerk word deur die onbeheerde groei en verspreiding van abnomale selle in die liggaam. As die verspreiding nie beheer word nie, kan dit tot die dood lei. Regdeur ons liggame, of dit nou in die hart, lewer, maag of wat ook al is, is daar selle. Ons kan sê hulle is die funksionele, piepklein eenheidjies waaruit alle liggaamsorgane, -weefsels en –sisteme saamgestel is.
Maar met kanker is daar ’n aantal nare en ongewenste stokke in die wiel. Die meganisme vir die regulering van selverdeling raak onklaar en ’n sel ontaard. Dit ondergaan sieklike veranderings of verwordings (mutasies) en dit gebeur weer en weer en weer. Nuttelose selle word vinnig en onbeheers gevorm wat normale weefsels verdring en hul bloedtoevoer en voedsel opeis. Hulle woeker voort, stapel op en vorm naderhand ’n nuttelose gewas in die liggaam, waarvan stukke uiteindelik afbreek en deur middel van die limfvate of bloedvate na ander dele van die liggaam versprei. Hoewel daar dikwels na kanker as ’n enkele siekte verwys word, is daar volgens sekere kenners eintlik meer as honderd soorte. Ander stel dit selfs op meer as tweehonderd, wat in ses of sewe groepe ingedeel kan word op grond van die weefsel en die aard van die oorspronklike gewas.
Kankers gedra hulle verskillend afhangende van in watter orgaan hulle ontstaan het. Dit is insiggewend dat kanker wat in een liggaamsorgaan kop uitsteek, die kenmerke van daardie orgaan vertoon self al versprei dit na ’n ander deel van die liggaam. Só hou verspreide borskanker in die longe aan om hom soos borskanker te gedra en lyk dit steeds soos borskanker wanneer dit onder die mikroskoop bekyk word. Maar wat veroorsaak sulke sieklike veranderings of mutasies van normale selle in die liggaam? Baie dinge is reeds as besliste kankerverwekkers geïdentifiseer. Dit sluit tabakrook, asbesstof, bestraling en voortdurende irritasie in, terwyl selfs virusse al as kankerverwekkers by diere uitgewys is. Ander faktore wat ’n rol kan speel, is en erflikheid, geslag (mans en vroue kry baiemaal verskillende soorte kankers) en natuurlik ouderdom. Terwyl kanker mense van alle ouderdomme kan tref, is ’n mens meer geneig daartoe om dit te kry namate jy ouer word, selfs al is daar niemand anders in jou familie wat daaraan ly of gely het nie.Kanker in die mens se geskiedenis KANKER is reeds in die oudste behoue geblewe mediese geskrifte van die mens beskryf. Die oudste, sover bekend, is sewe papirus-geskrifte wat laat in die negentiende eeu ontsyfer is en waaruit ons leer dat die antieke Egiptenare reeds tussen goedaardige en kwaadaardige gewasse kon onderskei. Die behandeling het chirurgie en verskeie ander geneeskundige metodes ingesluit. Daarna, in die Griekeland en Rome van die Oudheid, het die groot geneeshere Hippokrates en Galenus met bevindings vorendag gekom wat die mediese denke 1500 jaar lank sou oorheers. Hulle het die geneeskunde uit die terreine van die towerkuns en bygeloof gelig en siekte as ’n natuurlike proses omskryf. Behandeling is op waarneming en ondervinding gegrond. Kankers is geïdentifiseer, terwyl daar teen die behandeling van die kwaaiste vorms gewaarsku is. Hippokrates kry die krediet dat hy kanker die naam "karkinoma" (karsinoom) gegee het, omdat ’n gewas soos ’n krap sou lyk ("karkinoma" is die Griekse woord vir krap). ’n Gewas het naamlik ’n kern met uitloopsels wat aan ’n krap se pote sou herinner.
Maar toe kom die Donker Eeue. In hierdie tyd, toe die geloof in toordery en mites hoogty gevier het in die Weste—en selfs tot in die sestiende eeu—is gemeen dat kanker die gevolg van ’n oormaat van swart gal in die liggaam is. In die moderne wêreld het die geneeskundiges na ’n direkte waarneming van die menslike liggaam teruggekeer. Kanker is egter aanvanklik as ongeneeslik beskou, hoewel ’n groot verskeidenheid van pastas met giftige arseen geformuleer is om die manifestasies van die siekte te behandel. Laat in die negentiende eeu het beter mikroskope onthul dat kankerselle merkwaardig anders lyk as normale selle, en navorsers het hulle begin met bemoei met vrae soos waar selle vandaan kom en wat die verwantskap tussen siekte en die gedrag van ’n sel is. In die twintigste eeu was daar geweldige ontwikkelings in die navorsing rondom kanker en selle, wat tot diagnotiese tegnieke en chemoterapie gelei het waardeur die onkologie (leer van gewasse) hom stewig as ’n wetenskap gevestig het. Vandag, met die gereedskap van die molekulêre biologie en molekulêre genetika tot hul beskikking, vorder wetenskaplikes met rasse skrede met die ontdekking en beskrywing van skakels tussen chromosome, gene en kanker, en ons kan ons kwalik voorstel wat in die toekoms nog op hierdie terrein gaan gebeur. Kanker: wat is die algemene simptome waarop ’n mens moet let?’N MENS moet gereeld jou dokter besoek sodat hy jou algemene gesondheidstoestand kan nagaan. Moenie eers wag totdat probleme opduik nie. Daarby moet jy ook weet dat die volgende simptome tekens van kanker KAN wees (nie noodwendig kanker is nie, maar nietemin belangrik genoeg is om die gevaarligte te laat flikker):
· Veranderings in die gewoontes sover dit opelyf en die leegmaak van die blaas aanbetref;· ’n seerplek wat nie gesond word nie;· ongewone bloeding of uitskeiding;· ’n verdikking of klont in die bors of enige ander liggaamsdeel;· slegte spysvertering of wanneer ’n mens swaar sluk;· ’n duidelike verandering in ’n vratjie of moesie;· ’n knaende gehoes of heesheid;· onverklaarbare veranderings in die gewig.
By kinders kan die waarskuwingstekens taamlik van dié by grootmense verskil omdat hulle in die reël die slagoffers van ander soorte kankers is. Die meeste kankers by kinders word op een of meer van die volgende maniere merkbaar en dit is belangrik om ’n dokter of hospitaal te nader as sulke simptome ondervind word:
· Gereelde, aanhoudende pyn;· koors wat nie bedaar nie;· die voorkoms van ’n abnormale massa of knop;· bloedvlekkies onder die vel;· verandering in die ewewig, manier van loop of die persoonlikheid;· verandering in die oë, byvoorbeeld waar die kind skielik skeel kyk;· ernstige bleekheid of waar die bleekheid lank aanhou;· skeeftrekking van die gesig.
► Lees ook oor nog waarskuwingstekens rakende kinderkankers in die kort byvoegsel reg onderaan hierdie webblad. Wat moet ’n mens doen as een of meer van hierdie simptome voorkom?SOOS gesê, is al sulke simptome nie altyd tekens van kanker nie; hulle kan ook deur minder ernstige toestande veroorsaak word. Tog is dit baie belangrik om ’n dokter te spreek as enigsins onraad vermoed word, omdat slegs dokters die regte diagnoses kan doen. Moenie wag totdat pyn gevoel word nie! Vroeë kanker is gewoonlik nie pynlik nie.Die volgende raad is belangrik vir mense wat reeds ’n taamlike klompie somers agter die rug het: Namate mense ouer word, dink sommige dat hul simptome maar net te wyte is aan “die ouderdom”. Dit is ’n mite en die gevolg is dat baie soorte siektes nie gediagnoseer en behandel word nie. Moenie jou simptome ignoreer omdat jy reken hulle is onbelangrik of normaal vir jou ouderdom nie. Praat met jou dokter.Watter soorte toetse word gedoen om vas te stel of mense kanker het?OMDAT daar soveel verskillende soorte kanker is, is daar vanselfsprekend ook baie soorte toetse. Onder die bekendstes is:Mammogram: ’n Vrou se risiko om borskanker te kry, word groter namate sy ouer word en omtrent tagtig persent van borskankers kom by vroue voor wat ouer as vyftig is. ’n Mammogram is ’n spesiale X-straalondersoek van die bors waardeur kankers dikwels opgespoor word wat so klein is dat ’n vrou of haar dokter dit nie kan voel nie.
Foto: SEER / National Cancer Institute / U.S. National Institutes of Health Kliniese borsondersoek: Die dokter of ander mediese kundige ondersoek die borste en onderarms vir knoppe of ander tekens wat ’n teken van borskanker kan wees.Fekale okkulte bloedtoets: Kolorektale kanker eis baie lewens onder gryswordende mans en vroue ná vyftig. Vir hierdie toets word stoelgangmonsters op spesiale kaarte aangebring, wat in ’n laboratorium vir okkulte (verborge) bloed ondersoek word.Sigmoïedoskopie: ’n Dokter gebruik ’n dun, buigbare buis met ’n lig (sigmoïedoskoop) om aan die binnekant van die kolon en rektum vir groeisels en abnormale areas te soek.Paptoets: Die meeste kankers van die serviks (baarmoederhals) kan vermy word as vroue gereeld Paptoetse en bekkenondersoeke ondergaan. Die dokter gebruik ’n houtskraper of borseltjie om ’n monster van selle van die serviks en bo-vagina te versamel. Die selle word na ’n laboratorium gestuur wat moet vasstel of daar enige abnormaliteite is.Bekkenondersoek: In ’n bekkenondersoek gaan die dokter die baarmoeder, vagina, eierstokke, Fallopiusbuise, blaas en rektum na om vas te stel of daar enige veranderings in hul vorm of grootte is. Tydens ’n bekkenondersoek word die boonste deel van die vagina en die serviks met behulp van ’n spekulum bekyk.Digitale rektale ondersoek: Prostaatkanker is baie algemeen by ou mans. Vir ’n digitale rektale ondersoek dra die dokter ’n handskoen en steek ’n vinger in die rektum om te voel of daar enige knoppe of abnormale areas aan die prostaatklier is.Prostaatspesifieke antigeen (PSA): Met hierdie toets word die hoeveeldheid PSA in die bloedstroom gemeet.. As daar meer as die gemiddelde hoeveelhede PSA is, kan dit daarop dui dat prostaatkankerselle teenwoordig is. PSA-vlakke kan egter ook hoog wees by mans met prostaat-toestande wat nie kankeragtig is nie. Wetenskaplikes bestudeer maniere om die geldigheid van die PSA-toets te verbeter.Velondersoek: In Suid-Afrika met sy baie sonskyn is velkanker aan die orde van die dag. Selfs ’n gerekende medikus soos wyle die hartoorplanter prof. Chris Barnard het dit nie vrygespring nie en hy het die Karoo-son van sy jeugjare vir sy latere velkanker geblameer. Gereelde ondersoeke van die vel kan help om velkanker vroeg op te spoor.Hoe word kanker behandel?DAAR is ’n aantal verskillende behandelingsmetodes, insluitende chirurgie, bestraling, chemoterapie (die toediening van chemiese middels) en biologiese terapie (behandeling deur gebruikmaking van die liggaam se natuurlike vermoë om infeksie en siekte te beveg).Kankerpasiënte word baiemaal deur ’n span verskillende kundiges behandel, wat tot een soort behandeling of ’n kombinasie van behandelingsmetodes kan besluit. Die keuse van behandeling hang af van die soort en ligging van die kanker, die stadium van die siekte, die pasiënt se algemene gesondheidstoestand en ander faktore.Kan kanker voorkom word?HOEWEL ons baiemaal omtrent willoos uitgelewer is aan sekere omgewings en omstandighede in ons lewens, is ons almal gebore met die vryheid van keuse om party dinge te doen of nie te doen nie. Sover dit kanker aangaan, kan baie risikofaktore vermy word, soos die volgende:· Bly weg van tabak en tabakprodukte. Daar is geen twyfel meer dat dit kanker kan veroorsaak nie. Rook, snuif, selfs pruim (vir dié wat ooit vir so iets kans sien) stel nie net jou eie lewe in gevaar nie, maar rook kan selfs noodlottig wees vir geliefdes wat onwillig die vuil dampe moet inasem wat rokers gedurig uitblaas.· Vermy die skadelike strale van die son. ’n Mens kan dit skaars genoeg beklemtoon: die ultraviolet strale van die groot lig aan die hemeltrans beskadig jou vel en veroorsaak velkanker. Moet dus nooit maar nooit op die strand gaan sit en braai voordat jy jou behoorlik met ’n goeie sonbrandolie toegepleister het nie.· Kies kosse met minder vet en meer vesel. Jou voedselkeuses kan jou kans beïnvloed om kanker te ontwikkel. Getuienis dui op ’n skakel tussen ’n hoëvetdieet en kankers van die bors, kolon, baarmoeder en prostaat. Dit lyk of ernstige oorgewig verband hou met kankers van die prostaat, pankreas, baarmoeder, kolon en eierstok en met borskanker by ouer vroue. Daarteenoor kan jy dalk jou risiko verlaag om kanker te ontwikkel deur sekere eenvoudige voedselkeuses te doen. Probeer ’n afwisselende, goed gebalanseerde dieet met onder meer ruim hoeveelhede kos wat ryk aan vesels, vitamiene en minerale is. Maak dit jou doel om elke dag minstens vyf porsies vrugte en groente in te kry. Terselfdertyd moet jy hard probeer om minder vetkosse te eet.· Volwassenes wat alkohol gebruik (kinders moet nooit nie) moet dit matig doen—niks meer as twee drankies per dag nie. Die gebruik van groot hoeveelhede alkohol verhoog die riskiko van kankers van die mond, keel, slukderm en strottehoof—en dit sluit nog lank nie die gevaarlike beskadiging van die lewer en hoeveel ander organe in nie.Waar kan ek meer inligting oor kanker kry en hoe kan ek help met die bestryding daarvan?OOR die Nasionale Kankerverenging van Suid-Afrika word die volgende inligting verstrek in die boek Dokter in die Huis deur dr. Jan van Elfen (volledig hersien deur dr. Don du Toit), uitgegee deur Tafelberg-Uitgewers:“Die Nasionale Kankerverenging van Suid-Afrika is ’n vrywilligerorganisasie wat kanker bestry d.m.v. navorsing, voorligting en diens aan kankerlyers. Dit word deur donansies gefinansier. Raak betrokke by bestryding van dié aartskwaal deur jou aan te sluit by en te werk vir die naaste tak van die Kankervereniging. Nader gerus jou naaste tak om gratis inligtingstukke.”
Bronne:· National Institute on Aging / U.S. National Institutes of Health· National Cancer Institute / U.S. National Institutes of Health· U.S. National Library of Medicine
·
Dokter in die Huis deur dr. Jan van Elfen (volledig hersien deur dr.
Don du Toit),
|
||