|
ADAGASKAR, die groot eiland aan die suidoostekant van
Afrika, was in die afgelope tyd meermale in die nuus weens sy
politieke woelinge. Maar as daar vandag baie nie-Malgasse is wat
ietwat ongemaklik sal voel om daar te woon, wonder ’n mens hoe enige
vredeliewende skepsel ooit in die tyd van die dinosourusse op hierdie
eiland sou kon oorlewe het.
Madagaskar was
in die oerverlede ’n bitter
gevaarlike plek. Krokodille het in die riviere gewemel en ’n byna
agt meter lange vleisvretende dinosourus het oor die landskap
gesluip. Hy was ’n sogenaamde majungasourus (aanvanklik Majungatholus atopus
genoem). Soos die meeste dinosourus-karnivore het hierdie
monsteragtigheid tande gehad wat goed gevorm was om vleis te
verskeur. Maar tot betreklik onlangs was geleerdes nog onseker oor
presies wat die majungasourus eintlik op sy
spyskaart gehad het.
Sekere navorsers het egter met die antwoord gekom: volgens
hulle is daar genoeg getuienis dat hierdie gedrog ’n kannibaal was.
Die tandmerke op beendere wat by twee afsonderlike opgrawingsplekke
gevind is, toon dat hy nie geskroom het om reptiele van sy eie soort te vreet
nie. Daar is darem tekens dat hy ook die oorskot van plantvretende
dinosourusse verorber het.
Maar kannibalisme was natuurlik nie net beperk tot die
dinosourusse van ouds nie. Dit kom steeds in ’n groot deel van die
diereryk voor, by baie spesies. Selfs by skrander primate soos die
sjimpansee, soos die beroemde Engelse dierkundige Jane Goodall
(gebore 1934) dit op ’n keer met afgryse ervaar het.
Me. Goodall was op ’n sekere dag baie opgewonde oor die geboorte van
’n
baba-sjimpansee in die Gombe-wildtuin in Tanzanië. Toe hoor sy tot
haar ontsteltenis dat ’n volwasse sjimpansee die kleintjie
doodgemaak en verslind het.
Gilka, die ma, was besig om haar bondeltjie vreugde te soog toe
Passion, ’n ander ma, haar bestorm. Gilka het al gillende op die
vlug geslaan, maar Passion het haar ingehaal, aangevat, die
kleintjie gegryp en doodgemaak.
Mense het met groot weersin staan en kyk hoe Passion in die klein
lyfie ingebyt en die bloederige vleisies met haar eie twee kinders
gedeel het.
Jane Goodall se navorsing oor sjimpanseegedrag geniet węreldwye
erkenning, en haar beskrywing van die kannibalisme het reeds destyds
in 1975 opslae gemaak. Dog vir dierkundiges is kannibalisme by diere ook ’n
hoog interessante verskynsel wat al tot verskillende navorsingstukke
en ander geskrewe werke gelei het.
LINKS:
Nie ’n kannibaal-sjimpansee soos dié wat Jane Goodall so ontstel het
nie, maar ’n ander een wat onlangs onverwags gewelddadig geraak en
getoon het dat ’n mens nooit oorgerus kan wees sover dit diere
aangaan nie, nie eens primate nie. Sy naam is Travis en hy was ’n
gewilde karakter op sy tuisdorp wat in televisie-advertensies
opgetree en vir foto’s geposeer het—totdat hy ’n 55-jarige vrou in
die Amerikaanse staat Connecticut aangeval het. Sy is só beseer dat
sy ’n gesigsoorplanting oorweeg het. Ná die aanval het die
Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers in Februarie 2009 ’n
wetsontwerp goedgekeur wat onder meer enigiemand verbied om primate
in te voer, uit te voer, te koop of aan te skaf. Die Jane Goodall
Institute is onder die organisasies wat hierdie wetgewing gesteun
het.
Detail van ’n foto by U.S. House.gov
/ Webblad U.S. Congressman Mark Steven Kirk
MAAR presies waarom vreet sekere diere dan hul eie soort? In die boek
Animalwatching deur die Britse geleerde Desmond Morris, uitgegee
deur Crown Publishers, vind ’n mens sekere verklarings vir en tewens
van die
boeiendste voorbeelde van hierdie soort gedrag. Baie van die
waarnemings wat hieronder volg, kom dan ook uit dié boek. By sommige diere,
word vertel, is kannibalisme die gevolg van verhoogde stres, by ander vind dit
gereeld plaas, of daar nou spanning is of nie.
Miskien die grillerigste voorbeeld van hierdie handelwyse vind ’n
mens by sekere haaie, byvoorbeeld die sandtierhaai (Carcharias
taurus), wat węreldwyd in kuswaters voorkom.
Die wyfie van hierdie spesie raak dragtig
uit eiers wat binne-in haar twee baarmoeders uitbroei. Die embrio’s
ontwikkel tot fetussies wat ewe bloeddorstig op mekaar begin jag
maak. Hierdie ongebore haaitjies binne-in die ma is nou alreeds met
vlymskerp tandjies toegerus, en daar is al berig dat bioloë se
vingers dit moes ontgeld toe hulle in die pense rondgevoel het van
haaiwyfies wat gevang was.
Die kleiner en swakker fetusse word meedoënloos deur die groteres en
sterkeres in die twee baarmoeders verskeur en verslind, totdat daar
uiteindelik slegs een goed gevoerde fetus in elke baarmoeder oorbly—knuppeldik gevreet aan al sy
of haar ongebore boeties en
sussies.
Omdat daar geen ander lede van die ongebore
groepe meer oor is om te vreet nie, sorg die ma-haai verder vir haar
twee langslewende klein vrate deur steeds eiers te produseer wat
hulle kan vreet. Ná twee jaar is die ongebore haaie reeds bielies
van sowat ’n meter lank. Hulle is klein ewebeelde van hul ma wat ten
volle in staat is om vir hulself te sorg nadat sy hulle in ’n lang
geboorte met die groot seewęreld daarbuite laat kennis maak het.
En reeds wanneer hulle die eerste lewenslig
aanskou, kan ’n mens sę, het die gewetenlose jong seediere bloed aan
hul
hande... ekskuus, aan hul haaibekke. Praat van sibbemoorde en
kannibalisme in die heel ergste graad.

BO: Die
sandtierhaai, waarvan die ongebore kleintjies mekaar binne-in
die ma opvreet voordat hulle nog gebore word. Die sterkste een
in elk van haar twee baarmoeders oorleef—dik gevreet aan die
boeties en sussies.
Foto: Paula
Whitfield / NOAA
DIE kleintjies van sekere ander diersoorte draai op hul beurt teen hul hardwerkende
ouers. Sodra die volwassenes hul rol as lewegewers en beskermers
volvoer het, is hulle nog net goed genoeg om harteloos opgevreet te word.
Die wyfie van een soort spinnekop vrek voordat haar kleintjies hul
kokon verlaat. Wanneer hulle eindelik te voorskyn kom, vreet
hulle haar op. Só kry hulle hul eerste ontbyt as ’t ware op ’n
skinkbord voordat hulle moederloos koers kry om hul nuutgevonde węreld te gaan verken.
Dit herinner aan die waarneming van ’n
Suid-Afrikaner wat ’n skerpioenwyfie
lewend gevang en haar in ’n flessie toegemaak het. Veel later het hy
weer op die flessie afgekom en gesien dat daar nie meer een
groot skerpioen daarin is nie, maar ’n aantal kleintjies. Van die ma was
daar geen teken meer nie. Die kleintjies wat ná haar gevangeneming in
die węreld gekom het, moet mamma met dop en al opgevreet het om self
aan die lewe te bly.
DIE omgekeerde—waar ouers hul kleintjies vreet—kom baie meer
dikwels voor in die natuur. Dit gebeur veral wanneer die volwasse diere aan
oormatige spanning onderwerp word, soos in ongunstige toestande of
wanneer die een of ander dier naby die nes of lęplek kom.
Die verskynsel van volwasse diere wat die kleintjies van hul eie
soort doodmaak, is al waargeneem by ’n aantal roofvoëls, meeue,
kraaie en ooievaars. Dit is iets algemeens by soogdiere, veral
vleisvreters en knaagdiere.
Die skrywer van hierdie artikel onthou byvoorbeeld die keer uit
sy jeug toe sy gesin se getroue spanjoelhond, ’n wyfie, kleintjies
gekry en daarna haar eie kroos goedsmoeds in die grond gaan begawe het. Later het
sy waarskynlik na die kleintjies verlang en hulle weer gaan opgrawe, maar toe was hulle natuurlik
reeds dood. Dit was miskien egter meer ’n geval van “instinktiewe manslag”,
want ou Pexy kon nie daarvan gedroom het om haar spruitjies leed aan
te doen nie. Opvreet sou sy hulle in elk geval nooit nie.
Maar die boomskeerbek—en hier word waarskynlik verwys na
die gewone boomskeerbek of Tupaia glis, een van grootste
van die boomskeerbek-soogdiertjies van die tropiese woude van
Suidoos-Asië—hierdie boomskeerbek kan glo wel haar kleintjies
opvreet as sy die dag te veel “op haar senuwees” raak.
In
Animalwatching word vertel dat mamma boomskeerbek ’n spesiale klier aan
die bors het wat iets soos ’n beskermende geur afskei. Die geur wat sy aan haar
babas oordra, verkondig die boodskap: “Ek is ’n baba en ek smaak nie
lekker nie.” Maar indien die ma nalaat om haar kinders met hierdie geur
te merk, stuur hulle die volgende inligting uit: “Ek is net ’n stuk
vleis.” Sonder om te huiwer verorber sy hulle.
Indien toestande spanningsvol raak, skei haar borsklier niks meer af
nie en sy kan nie langer haar kleintjies met haar geur merk nie.
Hulle ruik dus nie na kleintjies nie en word kort voor lank
opgevreet.
Die boomskeerbek-wyfie is in elk geval
blykbaar geen wafferse ma nie, as ’n mens lees wat op die webwerf
van die
Dierkunde-museum van die Universiteit van Michigan
oor haar vertel word. Sy besoek haar kleintjies slegs een maal elke
48 uur om hulle tien minute tot ’n kwartier lank met ’n bietjie melk
te voed.
Geen wonder sy verander so maklik
in ’n kindervreter nie.
REGS:
’n Boomskeerbek.
Foto deur
Stavenn,
wat ’n ietwat groter weergawe
daarvan op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die węreldye web
gelisensieer het en gebruik vergun ingevolge die
GNU Free Documentation License, Weergawe 1.2 of enige latere
weergawe wat deur die Free Software Foundation gepubliseer word.
In een spesiale geval kan kleintjies deur hul ouers gevreet word
selfs wanneer die laasgenoemdes nie oormatige spanning ervaar nie. Dit gebeur
wanneer die kleintjies se pa sy heerserstatus verloor en deur ’n
nuwe mannetjie vervang word.
Die nuwe heersers verslind die kleintjies van die ander mannetjies.
Die doel is om die wyfies weer bronstig te maak. Hulle kan dan deur
die nuwe mannetjies bevrug word sodat die volgende werpsels die nuwe
mannetjies se gene sal dra. Dit gebeur dikwels by leeus, waar ’n
jonger en sterker mannetjie die trop van ’n ouer mannetjie oorneem.
BENEWENS kleintjies wat kleintjies, kleintjies wat volwassenes en
volwassenes wat kleintjies vreet, is daar ook ’n paar skouspelagtige
gevalle van volwassenes wat volwassenes verslind. Die berugste
voorbeeld is die dodelike paringsdaad van die hottentotsgot, ’n
verskynsel wat seksuele kannibalisme genoem word.
Hottentotsgotte vreet nie net feitlik alle
ander goggas nie, maar gereeld ook ander hottentotsgotte. En, glo
dit, dit gebeur die meeste gedurende paring. Die wyfie, met die
mannetjie op haar rug, kan haar kop effens draai en haar voorpoot om
die mannetjie se nek plaas. Dan byt sy koeltjies sy kop af.
By sekere soorte is hierdie merkwaardige kannibalisme glo
noodsaaklik vir paring, omdat die mannetjie slegs kan paar nadat sy
kop en nek af is. ’n Koplose hottentotsgot kan die paringsdaad
voortsit omdat die senusentrums wat met die oordra van sperma te
doen het, in die agterlyf geleë is en onafhanklik van die brein
funksioneer. Doller as kopaf kan dit wel, in die geval van die
mannetjieshottentotsgot.
Die stomme mannetjie sal egter nooit weet dat sy liggaam sy spruite
help voed wat binne-in die wyfie aan die vorm is nie. Een bioloog
het gesę dat dit ’n bra wrede manier is om die bruidegom vir die
bruilofsfees te laat betaal.
BO: ’n
Hottentotsgotwyfie verslind die pa van haar kinders wat nog
in die węreld moet kom.
Tersaaklike
detail van ’n foto deur
Dave Parker,
wat dit op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die węreldwye web
gelisensieer het en gebruik vergun ingevolge ingevolge die
GNU Free Documentation License, Weergawe 1.2 of enige
latere weergawe wat deur die Free Software gepubliseer word
Ook die wyfie van die knopiespinnekop
is ’n berugte manvreter. Sy is boonop opmerklik groter as haar
petierige mannetjie, wat taks met sy lewe moet boet omdat hy
haar so bekoorlik gevind het. Nie verniet dat knopiespinnekoppe
in die VSA en elders
“swart weduwees” genoem word nie.
LINKS:
Asof hy wil wraak neem oor die droewige uiteinde van sekere landgebonde
spinnekop-bruidegomme op hul troudag, is hierdie meneer spinnekopkrap
besig om ’n vroutjie van sy eie krapspesie pens en pootjies op te vreet.
Foto: Ocean Explorer / NOAA
Soos die hottentotsgotwyfie is daar ook ander
insekbruide wat tydens die huwelik as moordenaresse van hul bruidegomme
ontpop, maar die wyfie wag
gewoonlik dat die paring verby is voordat sy die mannetjie verorber. Hierdie patroon van kannibalisme is al waargeneem by sekere
krieke, sprinkane, mierleeus en grondkewers.
By sekere soorte vlieë is daar ’n ekstra verfyning. Die mannetjies
draai ’n klein kospakkie toe en gee dit as trougeskenk vir die
wyfie. Die verpakking is belangrik, want dit duur ’n hele tydjie
voordat sy dit kan oopkry en intussen kan die mannetjie met haar
paar sonder om opgevreet te word.
By sekere spesies is die mannetjie se geskenk nie so gul nie, omdat
hy die prooi droog suig voordat hy dit vir sy bruid gee. Wanneer die
omhulsels af is, moet hierdie meneer dus ręrig spore maak.
By nog ’n spesie is die mannetjie se present selfs nog kariger. Hy
draai niks toe nie en gee sy wyfie ’n leë kokon om oop te maak.
Nodeloos om te sę moet dié karnallie van ’n kansvatter baie vinnig te werk gaan.
OFSKOON kannibalisme al by ver oor die honderd verskillende soorte diere
aangeteken is— en dit sluit nie diere in wat in spanning verkeer
of hulle in toestande bevind waar hulle mekaar verdring nie—sal dit volgens die
boek
Animalwatching verkeerd
wees om hierdie verskynsel se belangrikheid in die dierewęreld te
oordryf.
Veel belangriker, word gesę, is die merkwaardige feit dat diere juis nie graag
’n kwesbare lid van hul eie spesie sal vreet nie. Honger ouers moet in
die versoeking wees om hul eie eiers of kleintjies te verorber, maar
hul ouerdrange keer dat dit gebeur.
’n Pragtige voorbeeld van hierdie sorgsaamheid is waargeneem by ’n
juweelvis-mannetjie wat sy kleintjies haastig bymekaargemaak en
hulle in sy bek na die veiligheid van sy nes gedra het. Hy het pas
nog een van sy rondloper-kleingoed opgeskep of hy sien ’n sappige
wurm in die water neerdaal.
Die versoeking was darem net te sterk, en toe skep hy die wurm ook maar op.
Maar nou was pappa in die allerverskriklikste dilemma. In sy vleisvreter-bek was
een van sy kosbare kleintjies sowel as ’n gesogte vangs. Indien hy
dit sou waag om te sluk, sou dit die heel laaste sien van sy eie
klein visvlees en bloed wees.
’n Oomblik lank aarsel hy.
Toe spoeg hy sagkens altwee uit.
Kind en wurm drywe ’n kort rukkie voor hom in die water.
Hy
raap die wurm haastig op en sluk dié so vinnig as moontlik in.
Daarna skep hy weer sy kleintjie op, swem terug na sy nes toe en
spoeg die klein vissie tot in veiligheid.
Wie’t ooit gesę ’n stomme vis is te onnosel om te redeneer!

BO: ’n Juweelvis.
Foto deur
Zhyla,
wat dit op
hierdie bladsy by
Wikimedia Commons op die węreldwye web gelisensieer het en
gebruik vergun ingevolge ingevolge die
GNU Free Documentation License, Weergawe 1.2 of enige latere
weergawe wat deur die Free Software gepubliseer word
|