|
Die
wollerige wondervesel wat die wêreld se mense klee Katoen
Moenie die nederige dons van die katoenplant sommerso op sy baadjie takseer nie. Dit is immers die grondstof van baie van die einste baadjies… én hemde, rokke, lakens, tapyte, gordyne, denim-klere en vele meer. Talle produkte word ook van katoensaad gemaak. Die belangrikste is kook- en slaaiolie, margarien, seep, seeppoeiers en linoleum. En dan lyk dit boonop of ’n sekere soort wilde katoen al in Suid-Afrika benut is lank, lank voordat Jan van Riebeeck in 1652 aan die Kaap geland het… Van
die foto’s
en sekere teksinligting met dank uit die volgende baie informatiewe
webwerwe oor kantoenprodusie, plaaslik en wêreldwyd—besoek hulle gerus: |
||
IE woord
katoen is ontleen aan die antieke Arabiese woord qutun of kuton,
waarmee enige fyn tekstielstof beskryf is. Die plantkundige naam vir
katoen is Gossypium Hirsutum. Die plant behoort tot die familie
Hibiscus en is dus verwant aan daardie bekende hibiskusse wat soveel
tuine met hul groot, kortgesteelde blomme versier.
Daar is 42
verskillende variëteite van die katoenplant. Vanweë die plant se
donserige wit saadbolle is katoen al dikwels "boomwol" genoem.
Gekweekte
katoenplante groei sowat een tot twee meter hoog. Roomwit blomme maak
hul verskyning uit botsels, verkleur tot geel, dan pienk en uiteindelik
donkerrooi. Ná
drie dae val die blomblare af, en ’n klein
groen saadbol word agtergelaat waarin sowat dertig sade ontwikkel. ’n
Menigte saadhaartjies vorm om elke saad in die saadbol en hierdie wit
vesels pak saam. Namate die saadbol ryp word, word dit bruin. Oplaas
bars dit oop en die sagte katoenvesels (waardeur die katoensade deur
middel van die wind in die natuur versprei word) raak sigbaar. Die
vesels in opgebarste saadbolle lyk soos
wattepluise...
of dalk soos wit spookasem!
Katoenvesels is
nagenoeg twee tot vier sentimeter lank. Sowat nege tiendes van die
vesels is sellulose, ’n duursame koolhidraat wat in alle plante
voorkom. Die res is water en ander stowwe.
Die lengte van die
katoenvesel bepaal die kwaliteit, en dus die prys, van die geproduseerde
katoen. Die langste vesels word tot katoenstof van die hoogste gehalte
geweef.
Terwyl wol in
Suid-Afrika ’n besonder waardevolle uitvoerproduk is, bly katoen
steeds hoog in aanvraag. Katoen word beskou as ’n natuurlike vesel wat
veelsydig, gemaklik, dienlik en uiters bruikbaar is. Katoenstof kan so
sag soos ’n sakdoek of so dik soos denim wees, tot enige denkbare
kleur verkleur word, maklik gewas en gedroog word, en dit kan by ander
vesels gevoeg word vir funksionele klere en ander gebruike.
Geen
wonder mnr. Thinus Verreyne, woordvoerder vir Katoen SA, sê hy glo die
toekoms van katoen is meer rooskleurig as vir ander gewasse soos mielies
nie. Op lang termyn, reken
hy, hang baie af van waardetoevoeging soos eie pluismeulens en weeframe
vir die verwerking van katoen. Maar hoe het die
mens dan besef dat katoen so ’n waardevolle gewas is? Hoe het hy die
vesels van hierdie wonderplant tot sy voordeel begin aanwend? In die
volgende afdeling word die geskiedenis van dié merkwaardige
"boomwol" bekyk.
Geskiedenis
van katoen
NIEMAND
weet rêrig hoe lank die mens reeds katoen benut nie. In spelonke in
Mexiko is al stukkies katoensaadbolle en flentertjies katoenlap gevind
wat minstens 7 000 jaar oud is. Wetenskaplikes het ook vasgestel dat
daardie katoen baie soos dié was wat vandag steeds gekweek word. In
die Indusriviervallei in Pakistan is katoen sowat 3 000 jaar voor
Christus gekweek, gespin en tot materiaal geweef. Teen omstreeks
dieselfde tyd het boorlinge van die Nylvallei in Egipte ook reeds
katoenklere gemaak en gedra. Omstreeks
800 nC is katoenmateriaal deur Arabiese handelaars na Europa gebring.
Toe die ontdekkingsreisiger Columbus in 1492 by die Amerikas aangekom
het, het hy gevind dat katoen in die Bahama-eilande groei. Teen 1500 was
katoen regdeur die wêreld algemeen bekend. Katoen
is in 1730 in Engeland die eerste keer met masjiene gespin. Die
Nywerheidsrevolusie in Engeland en die uitvinding van die "cotton
gin" (katoenpluismeul) in Amerika het die weg gebaan vir die
belangrike plek wat katoen vandag in die wêreld beklee. Die
eerste katoenpluismeul is in 1793 deur die Amerikaner Eli Whitney
gepatenteer. Whitney het gesien hoe plantasiewerkers in Georgia die
katoenvesels met die hand van die sade verwyder het. Darem alte
omslagtig, het hy gereken. Toe bou hy ’n masjien wat dieselfde werk
vyftig keer vinniger kon doen. Hy het die masjien ’n "gin"
genoem, wat bloot ’n afkorting van die Engelse woord
"engine" is. Vandag word die pluising van katoen steeds in
Engels "ginning" genoem.
Smitsonian Institution Katoen
is moontlik al in Suid-Afrika benut voordat die setlaars uit Europa hulle
in groot getalle hier kom vestig het. Volgens geskiedkundige verslae het
’n sekere Barbosa in 1516, byna anderhalf eeu voor Jan van Riebeeck se
koms in 1652, in Suid-Afrika met inboorlinge kennis gemaak wat nie net
’n soort wilde katoen gekweek het nie, maar ook katoenklere gedra het. In
die Kaapse omgewing, waar die eerste Europeërs hulle in Suid-Afrika kom vestig
het, is
die eerste katoensade in 1690 geplant. Die klimaat moet egter warm en baie
vogtig wees vir katoensaad om te ontkiem, en die Wes-Kaap is kennelik nie
die beste plek daarvoor nie. Maar ander dele van die land kon eers veel
later vir moontlike katoenverbouing ondersoek word. In
1846 het ene dr. Adams saad uit Amerika gebring en katoen in die distrik
Amanzimtoti in Natal begin kweek. Iewat later in die negentiende eeu is
betreklik baie katoen ’n jaar of tien lank in Natal en die Kaapkolonie
gekweek vanweë ’n vraag na die vesel wat as gevolg van die Amerikaanse
Burgeroorlog ontstaan het. Daarna het die plaaslike produksie weer feitlik
tot stilstand gekom en is dit eers in die begin van twintigste eeu hervat. In
1904 is ’n klompie hektaar katoen in die omgewing van Tzaneen geplant,
waar ’n katoenpluismeul in 1905 opgerig is vir die meganiese pluising en
baling van katoen. Ná Uniewording, in 1010, is katoen tussen 1913 en 1922
hoofsaaklik in die Transvaalse Laeveld en Oos-Transvaal (vandag
Mpumalanga) verbou. Die plaaslike katoenbedryf het in 1922 die stigting
van die eerste koöperasie beleef, gepaard met ’n pluismeul wat by
Barberton opgerig is. Katoen
wat op ’n sekere chemiese manier behandel word, is natuurlik ’n sterk
ontplofbare stof. Dit is dus nie verbasend dat katoen reeds in die vroeë
stadiums van sy verbouing hier te lande ’n belangrike rol in die
vervaardiging van plofstowwe gespeel het nie. In 1924 het die firma
African Explosives ’n pluismeul by Umbogintwini in Natal staangemaak.
Nog enkele pluismeulens is daarna opgerig, maar Suid-Afrika het toe steeds
geen geriewe vir die spin en weef van katoen gehad nie en die vesels is na
Liverpool in Engeland uitgevoer. Uiteindelik,
in 1939, is katoen egter amptelik in ons land tot landbougewas verklaar --
en vandag sal ’n kaart die verspreide kweking van die waardevolle plant
in Suid-Afrika aantoon, van die Laer Oranjeriviergebied in die weste,
kloksgewys regdeur die verre noorde van ons land tot in KwaZulu-Natal in
die ooste. Nader omskryf is die katoenproduserende gebiede in
Suider-Afrika vandag: die Noord-Kaap (suid en noord van Kimberley;
die omgewings van Postmansburg en Prieska; en die Laer-Oranjerivier), Noordwes,
die Limpopo-provinsie (Limpopo-vallei; Loskop en
Springbokvlakte), Mpumalanga, KwaZulu-Natal en Swaziland.
En ná die ontstaan van die suiwer katoenmerk in 1985 spog Katoen SA tans met etlike honderde merkgebruikers. Daar is ’n aantal geregistreerde etiketvervaardigers wat die katoenmerk aan die geregistreerde merkgebruikers voorsien.
Hoe
katoen gepluis, gespin en uiteindelik tot materiaal geweef of vir ander
produkte gebruik word DIE
basiese pad wat katoen loop—van plantasie tot klerasie—is eenvoudig:
Die sellulose-vesels word van die saad geskei, tot katoengaring omskep en
die garing word tot tekstielstowwe geweef. ’n Pluismasjien skei die
geoeste katoenvesels en die sade van mekaar. Daarna word die vesels in
bale saamgepers. Dié word dan in beskermende sakke geplaas, reg om na die
katoenfabriek gebring te word. Tog
is dit nie net kleremateriaal wat van katoen gemaak word nie. Oral rondom
ons is talle produkte—komberse, lakens, handdoeke, lyn, kleeflint,
maskeerband, kerse, film, verf en vele meer—wat óf heeltemal van katoen
vervaardig is óf katoen as bestanddeel het óf van ander dele van die
katoenplant kom. Baie produkte word byvoorbeeld ook van katoensaad gemaak,
soos kook- en slaaiolie, margarien, seep, seeppoeiers en linoleum. Soos
gesê, gaan die katoen van die boer na die
pluismeule
wat sy opbrengs koop. Die katoen word op vragmotors gelaai en na die
meulens gebring, waar dit met groot pype in die geboue ingesuig en in
groot masjiene gewas word om onsuiwerhede soos stof en stukkies plant te
verwyder. Die vesels en sade
word
hierna meganies geskei. Die
algemeense soort pluismeule is die
saagtipe.
Dit bestaan uit ’n reeks sirkelvormige sae wat
baie
vinnig roteer. Die
saagtande steek
deur
gleuwe tot binne-in
die saadkas waarin
die katoenpluksel gevoer
word.
Die sae trek die vesels deur
die
gleuwe, terwyl die sade in die
saadkas
agterbly. Die
katoen gaan vervolgens deur verskeie skoonmaakprosesse en word dan in bale
van 200 kg elk gepers en in ’n pakhuis gebêre, reg om na ’n
tekstielmeule gestuur te word indien kleremateriaal daarvan gemaak moet
word. ’n Klein bietjie katoen word uit elke baal getrek en volgens die
lengte van die vesel, die kleur, die sterkte en die fynheid daarvan
geklassifiseer. By die tekstielmeule sal dit eers tot sagte lyn verwerk
en daarna teen
tot 2 500 omwentelings per
sekonde tot garing gespin word. Weefmasjiene
weef uiteindelik die katoengaring tot materiaal, baie op dieselfde manier
as waarop dit in die ou, ou dae met die eerste handweeframe gedoen is. Die
moderne masjiene werk egter blitsvinnig terwyl dit die skering (drade wat
in die lengte van die weefsel loop) en inslag (dwarsdrade) saamvleg. Ja-nee,
werklik, moenie die nederige dons van die katoenplant sommerso op sy
baadjie takseer nie. |
||