Op die web
geplaas op 7 Desember 2011
IE bestaan van ’n verafgeleë
buiteplaneet wat so baie met ons eie planeet
ooreenstem dat hy straks byna ’n tweede Aarde genoem
kan word, is in Desember 2011 aangekondig.
Uit die besonderhede van die aankondiging—deur navorsers van die
Kepler-sending van die Amerikaanse ruimteagentskap
NASA—kan afgelei word dat die
planeet Kepler-22b ’n baie leefbare plek kan wees.
Die planeet is reeds in die middel van 2009 die
eerste keer waargeneem. Teen die einde van 2010,
terwyl hy sy derde omwenteling om sy ster (of son)
gemaak het, was die navorsers seker dat hy ’n
planeet is en boonop een met ’n besonderse ligging.
Die data is stellig met groot
ywer verwerk. Dis immers ’n opwindende gebeurtenis
om ’n amperse “tweeling” van een van ons bekende
binneplanete te vind,
wat nog te sê een wat onmiskenbare ooreenkomste met
ons eie Moeder Aarde blyk te hê.
Kepler-22b wentel om sy eie son in ’n baie
gerieflike baan in wat die bewoonbare sone
genoem word–dit beteken hy beweeg op só ’n afstand van sy son
af in sy eie sonnestelsel dat water daar vloeibaar
behoort te wees. Geleerdes beskou vloeibare water as
’n voorvereiste vir ’n plek om lewe te kan onderhou.
Maar dan is hy boonop “net” omtrent twee en ’n halwe
keer so groot as die Aarde, wat in astronomiese
terme nie so ’n wafferse verskil is nie. Voorts
voltooi hy een omwenteling om sy son in ’n jaar van
289 dae (nie besonders baie anders as ons jaar nie),
terwyl sy son net ietwat kleiner en kouer as ons eie
is.
Indien hy ’n atmosfeer het wat vir ’n
kweekhuis-effek sorg wat soos dié van die Aarde is,
kan Kepler-22b ’n baie gerieflike gemiddelde temperatuur van sowat 22 grade Celsius
hê. Wat meer sê, daar is selfs gereken dat daar vastelande
en seë kan wees soos ons dit ken.
Natuurlik is die laasgenoemde egter maar net
’n bespiegeling oor die eksoplaneet (die naam vir
planete buite ons sonnestelsel). Die feit dat dit
lig 600 jaar neem om van daar af Aarde toe te trek,
met ’n duiselingwekkende snelheid van byna 300 000
kilometer per sekonde, beklemtoon hoe ver Kepler-22b
eintlik van ons af is.
Die span van die Kepler-sending, gerugsteun deur ’n
ruimte-teleskoop, moet maar hul berekeninge doen
deur na die ster te “loer” wat Kepler-22b se son
is. Dan moet hulle waarneem hoe die ster verdof telkens
wanneer die planeet voor hom verbybeweeg en hom baie
effentjies verduister. Uit hierdie wisselinge in die
ligsterkte kan allerhande afleidings gemaak word.
Die doel van die Kepler-sending
is om in ons deel van die Melkweg na Aardagtige
planete in of naby bewoonbare sones te soek.
|