Ontdek: die Aarde
se “tweeling”

 

BO: ’n Kunstenaarsvoorstelling van die eksoplaneet Kepler-22b. Die wolke in die atmosfeer is weliswaar maar net ’n verbeeldingsvlug, want navorsers kan nog nie vir seker sê of die planeet rotsagtig of gasagtig is of deur ’n vloeistof bedek word nie. Wat hulle wel weet, is dat die klimaat daar heel aangenaam kan wees indien Kepler-22 ’n atmosfeer en kweekhuis-effek soortgelyk aan ons s’n het—miskien soos in die gematigde streek op die Aarde!

Krediet: NASA/Ames/JPL-Caltech

Op die web geplaas op 7 Desember 2011

D

IE bestaan van ’n verafgeleë buiteplaneet wat so baie met ons eie planeet ooreenstem dat hy straks byna ’n tweede Aarde genoem kan word, is in Desember 2011 aangekondig.

Uit die besonderhede van die aankondiging—deur navorsers van die Kepler-sending van die Amerikaanse ruimteagentskap NASA—kan afgelei word dat die planeet Kepler-22b ’n baie leefbare plek kan wees.

Die planeet is reeds in die middel van 2009 die eerste keer waargeneem. Teen die einde van 2010, terwyl hy sy derde omwenteling om sy ster (of son) gemaak het, was die navorsers seker dat hy ’n planeet is en boonop een met ’n besonderse ligging.

Die data is stellig met groot ywer verwerk. Dis immers ’n opwindende gebeurtenis om ’n amperse “tweeling” van een van ons bekende binneplanete te vind, wat nog te sê een wat onmiskenbare ooreenkomste met ons eie Moeder Aarde blyk te hê.

Kepler-22b wentel om sy eie son in ’n baie gerieflike baan in wat die  bewoonbare sone genoem word–dit beteken hy beweeg op só ’n afstand van sy son af in sy eie sonnestelsel dat water daar vloeibaar behoort te wees. Geleerdes beskou vloeibare water as ’n voorvereiste vir ’n plek om lewe te kan onderhou.

Maar dan is hy boonop “net” omtrent twee en ’n halwe keer so groot as die Aarde, wat in astronomiese terme nie so ’n wafferse verskil is nie. Voorts voltooi hy een omwenteling om sy son in ’n jaar van 289 dae (nie besonders baie anders as ons jaar nie),  terwyl sy son net ietwat kleiner en kouer as ons eie is.

Indien hy ’n atmosfeer het wat vir ’n kweekhuis-effek sorg wat soos dié van die Aarde is, kan Kepler-22b ’n baie gerieflike gemiddelde temperatuur van sowat 22 grade Celsius hê. Wat meer sê, daar is selfs gereken dat daar vastelande en seë kan wees soos ons dit ken.

Natuurlik is die laasgenoemde egter maar net ’n bespiegeling oor die eksoplaneet (die naam vir planete buite ons sonnestelsel). Die feit dat dit lig 600 jaar neem om van daar af Aarde toe te trek, met ’n duiselingwekkende snelheid van byna 300 000 kilometer per sekonde, beklemtoon hoe ver Kepler-22b eintlik van ons af is.

Die span van die Kepler-sending, gerugsteun deur ’n ruimte-teleskoop, moet maar hul berekeninge doen deur na die ster te “loer” wat Kepler-22b se son is.  Dan moet hulle waarneem hoe die ster verdof telkens wanneer die planeet voor hom verbybeweeg en hom baie effentjies verduister. Uit hierdie wisselinge in die ligsterkte kan allerhande afleidings gemaak word.

Die doel van die Kepler-sending is om in ons deel van die Melkweg na Aardagtige planete in of naby bewoonbare sones te soek.
 


 

BO: Hierdie diagram vergelyk ons eie sonnestelsel met die sonnestel Kepler-22 waarin die eksoplaneet Kepler-22b voorkom. Die Aarde lê knus in die middel van ons familie van planete se sogenaamde bewoonbare sone, tussen Venus en Mars. Kepler-22b lê gerieflik binne sy eie sonnestelsel se bewoonbare sone.

Krediet: NASA/Ames/JPL-Caltech