Talle Suid-Afrikaners is tans weer besig om
hul stambome na te vors. Die skrywer, 'n joernalis wat
tot in Noordwes-Duitsland was om sy familie op te spoor
en agterna geslaagde familiefeeste plaaslik en in
die stamland georganiseer het, vertel hoe só 'n soektog
'n mens kan boei -- en selfs die lagspiere kan prikkel .
. .

DAAR was 'n man in my familie wat van 'n huis se dak af
op sy kop geval het.
Hy moet 'n hardekop gewees het. Maar ook 'n besonderse
grapjas. Want toe hy daar opstaan, kon hy droogweg
verklaar dat hy bly is dit was nie 'n dubbelverdieping
nie.
Daar was 'n ander man in my familie -- nee, eintlik maar
net 'n seun van so om en by agttien -- wat in die Tweede
Vryheidsoorlog geblinddoek op 'n stoel voor 'n Engelse
vuurpeloton gesterf het. Agter hom was sy graf, en hy het
daarin geval en is, só word vertel, met stoel en al
begrawe. Die aangrypende verhaal van sy laaste ure en
bekering in die dodesel is in 'n boek opgeteken.
Humor en hartseer, raarheid en rou, 'n hele saga van die
mees intense belewenissse . . . bultende leggers lê
naderhand 'n mens se boekrak vol wanneer jy op jou
voorvaders se spore begin terugloop.
'n Klompie jare in die afgelope tyd het ek dan ook 'n indringende
studie van my familie en sy vertakkinge gemaak en dit te
boek gestel. Baie ander mense wil dit graag ook doen. Sou
ons almal nou skielik ons wortels soek weens die
onsekerhede in vandag se wêreld? Of is dit bloot 'n nuwe
modegier? Interessante vrae vir die sosioloë.
Hoe ook al, net toe jy gedink het familie-uitlê is
lankal by die agterdeur uit saam met balsem-kopiva en die
borstrok, spog die vakgebied van die genealogie skielik
met moontlik duisende dissipels in die land.
*
* *
TOG SIEN talle entoesiaste nog daarteen op om enigsins
hul duistere stamboom te probeer ontblaar, om die
eenvoudige rede dat hulle nie weet waar om te begin nie.
Hoe stel ek my eie, beperkte stamlyn saam, wil hulle weet,
sê maar van my af tot by die eerste draer van my van wat
in die land aangekom het (my stamvader)? Waar kry ek die
inligting? Gaan ek die tyd kry vir die navorsing? Gaan
dit my geld kos? En, indien wel, hoeveel?
Maklik, moet 'n mens dadelik waarsku, is dit meermale
glad nie, maar vir diegene wat bereid is om 'n bietjie
vas te byt, wag daar 'n ryke oes van openbarings. En op
die ou end is jy dalk so verslaaf dat jy sommer jou hele
Suid-Afrikaanse familie wil opspoor. Dan sit jy -- om die politici so half na te praat -- met die "moeder
van alle legkaarte".
STAP EEN: Stel heel eerste vas of jy nie dalk die wiel
gaan herontwerp nie. Wat ek bedoel, is dat jou besondere
familie dalk reeds uitvoerig deur iemand anders
uitgepluis is. Dit maak dan mos geen sin om dit weer te
doen nie. Raadpleeg in jou biblioteek dr. R.T.J. Lombard
se Handleiding vir Genealogiese Navorsing en kyk agterin
na die lys werke wat reeds oor Suid-Afrikaanse families
geskryf is.
Probeer ook om deur jou biblioteek 'n indeks te bekom van
die artikels van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika
se kwartaalblad, Familia, wat oor die jare 'n skat van
genealogiese inligting opgebou het.
As jy vasgestel het dat jy op 'n braakland is waar
niemand vantevore nog geploeg het nie, kan jy begin
rondverneem by die heel oudste lede van jou naaste
familie. Dis gewoonlik die grootjies wat nog
Familiebybels kan hê, waarin die vroeë geslagte se
dinge opgeteken is, partykeer nogal selfs sulke fyn
besonderhede soos hoeveel kinders doodgebore is en
wanneer.
Destyds het mense soms ook nog die tyd kon vind om
swierige geslagsregisters te skilder, wat dan geraam is.
Maar as 'n register wel in jou familie bestaan, gaan dit
jou bes moontlik nog lank nie by jou stamvader uitbring
nie -- veral nie as jy uit een van die ou Kaapse families
van, sê maar, die sewentiende of agttiende eeu spruit
nie.
Gestel egter nou jy weet, met die hulp van 'n register of
daarsonder, darem min of meer wanneer en in watter van
die vier voormalige Suid-Afrikaanse provinsies jou oupa
of oupagrootjie aan vaderskant oorlede is. Nou moet jy
probeer om sy sterfkennis in die hande te kry.
*
* *
VIR ELKE mens wat in Suid-Afrika
sterf en 'n boedel nalaat, moet 'n sterfkennis
voltooi word. Dit is 'n baie belangrike dokument
vir die genealogiese navorser, omdat dit drie
geslagte se inligting bevat:
o die naam van die oorledene, waar
en met wie hy getrou het, hoe oud hy geword het
en wanneer hy oorlede is;
o die name van sy ouers;
o die name van sy
kinders.
Ou sterfkennisse word in die staatsargiewe van
Pretoria, Kaapstad, Bloemfontein en
Pietermaritzburg bewaar; meer onlangse kennisse lê
ter insae by die Meesterskantore in die genoemde
stede, asook in Grahamstad en Kimberley.
Dit sal 'n te lang verduidelik verg van presies wátter
jaartalle en provinsies se sterfkennisse wáár
bewaar word, maar jy behoort ten minste in jou
naaste argief indekse te kry van ander streke se
kennisse, indien nodig.
As jou voorsate nie in jou omgewing oorlede is
nie, kan jy ook by jou argief navraag doen. Die
immer behulpsame en vriendelike werkers daar sal
moontlik vir jou die adresse kan gee van private
navorsers elders, wat maar te bereid sal wees om
vir 'n klompie rande die inligting op
sterfkennisse te kopieer.
Sterfkennisse behoort dit teoreties vir jou
moontlik te maak om jou hele lyn van afstamming
op te spoor -- deurdat jy telkens net weer 'n
vorige geslag se inligting bekom wat jy by die
jonger een aanhaak.
Ongelukkig is sterfkennisse se besonderhede nie
altyd volledig nie, en partykeer selfs verwarrend
foutief, soos wanneer die voorname van die ouers
van die oorledene verkeerd aangegee word. Dan
moet teruggeval word op ander bronne (byvoorbeeld
hoe die ouers se name in die kerkboeke opgeteken
is toe hulle hul kinders laat doop het).
Gelukkig is dit darem heel moontlik dat jy met
behulp van sterfkennisse jou eie linie tot ten
minste in die helfte of die begin van die 1800's
sal kan deurtrek -- waar jy aansluiting sal kan
vind by die belangrike werke van vorige genealoë
wat die Suid-Afrikaanse families van ouds
nagespoor het: Christoffel Coetzee de Villiers en
Cor Pama, en die monumentale Suid-Afrikaanse
Geslagsregisters van J.A. Heese en R.T.J. Lombard
(waarvan die nuwe gepubliseerde dele weens veranderde staatsprioriteite
nou voltooi word deur die Genealogiese Instituut van
Suid-Afrika [GISA] op Stellenbosch. Die volumes strek
darem reeds tot by Q).
Nou, uiteindelik, het jy jou lyn volledig tot by
die stamvader.
* * *
AANVULLEND tot die sterfkennisse is die magdom
besonderhede in kerkregisters: doopinskrywings,
huweliksregisters, lidmaatregisters. Afhangende
van waar in die land jy woon, kan besonderhede in
kerkregisters jou help om meer vlees aan die
beendere van sterfkennis-inligting te sit:
presies wanneer 'n persoon gebore is, waar hy
gedoop en aangeneem is en getrou het, selfs soms
die plaasname van sy ouers.
Hier hou dit lank nie op nie. Op iemand wat kans
sien om te grawe en te grawe, wag daar vondste (en
skokke!) omtrent sy of haar voorfamilie waaroor
hy of sy dalk nooit eens kon gedroom het nie. Wat
'n mens bereid moet wees om te aanvaar, is dat
daar weinig adellike bloed in die Afrikaner vloei,
maar dat dié self sy adel met moeitevolle arbeid
in 'n ruwe land moes vind.
Moenie verbaas wees as jy lees dat die veldkornet
skryf dat jou een voorsaat nie eens 'n wa, 'n
perd en 'n paar bokke besit het nie of dat hy
naderhand so arm was dat hy nie eens
belastingpligtig was nie. In die sogenaamde J-rolle
wat 'n mens in die Kaapse Argiefbewaarplek te
sien kry, kry jy 'n ware prentjie van 'n
pionierstryd wat heeltemal te lank deur romantiek
verdoesel is.
Waar
voer so 'n studie van 'n mens se herkoms jou
dan uiteindelik heen? Die
een ding kan tot die
ander lei, as 'n mens nie keer nie, totdat jy jou
op die ou end dalk selfs iewers op 'n
familieplaas in Europa bevind waar daar nog mense
is wat jou van dra. Dit is wat met ons gebeur het.
En dié belewenis ruil 'n mens vir min dinge op
aarde.
Navrae kan gerig word aan: dugeot@mieliestronk.com
Laat gerus van jou hoor as jy enige raad, hulp
of wat ook al op genealogiese gebied verlang! Of
sommer net as jy enige kommentaar op die artikel wil lewer.
Naskrif:
Die
boek oor my eie familie sal sekerlik nie almal interesseer
nie, maar 'n verkorte en verwerkte weergawe daarvan (met die
omvattende geslagsregister) is ook op die Web geplaas. Miskien
wil jy daar gaan loer as jy self so 'n projek in gedagte het.
Om soontoe te beweeg klik hier.

Hierdie webblad het by 'n ander gasheer
reeds meer as 19000 besoeke ontvang
Om terug te
keer na Die Mieliestronk klik hier
|
|