|
Talle
Suid-Afrikaners besluit die een of ander tyd in hul lewe om hul stambome na
te vors. Die skrywer, ’n joernalis wat tot in Noordwes-Duitsland was om
sy familie op te spoor en agterna geslaagde familiefeeste plaaslik en
in die stamland georganiseer het, vertel hoe só ’n soektog ’n mens kan
boei—en ook die lagspiere kan prikkel . . .
AAR
was ’n man in my familie wat van ’n huis se dak af op sy kop geval het.
Hy moet ’n hardekop gewees het. Maar ook ’n besonderse grapjas. Want toe
hy daar opstaan, kon hy droogweg verklaar dat hy bly is dit was nie ’n
dubbelverdieping nie.
Daar was ’n ander man in my familie—nee, eintlik maar net ’n seun van so
om en by agttien—wat in die Tweede Vryheidsoorlog geblinddoek op ’n
stoel voor ’n Engelse vuurpeloton gesterf het. Agter hom was sy graf, en
hy het daarin geval en is, só word vertel, met stoel en al begrawe. Die
aangrypende verhaal van sy laaste ure en bekering in die dodesel is in
’n boek opgeteken.
Humor en hartseer, raarheid en rou, ’n hele saga van die mees intense
belewenissse... bultende leggers lê naderhand ’n mens se boekrak vol
wanneer jy op jou voorvaders se spore begin terugloop.
’n Klompie jare gelede het ek dan ook ’n indringende studie van my
familie en sy vertakkinge gemaak en dit te boek gestel. Baie ander mense
wil dit graag ook doen. Sou ons almal nou skielik ons wortels soek weens
die onsekerhede in vandag se wêreld? Of is dit bloot ’n nuwe modegier?
Interessante vrae vir die sosioloë.
Hoe ook al, net toe jy gedink het familie-uitlê is lankal by die
agterdeur uit saam met balsem-kopiva en die borstrok, spog die vakgebied
van die genealogie skielik met moontlik duisende dissipels in die land.
TOG SIEN
talle entoesiaste nog daarteen op om enigsins hul duistere stamboom te
probeer ontblaar, om die eenvoudige rede dat hulle nie weet waar om te
begin nie.
Hoe stel ek my eie, beperkte stamlyn saam, wil hulle weet, sê maar van
my af tot by die eerste draer van my van wat in die land aangekom het
(my stamvader)? Waar kry ek die inligting? Gaan ek die tyd kry vir die
navorsing? Gaan dit my geld kos? En, indien wel, hoeveel?
Maklik, moet ’n mens dadelik waarsku, is dit meermale glad nie, maar vir
diegene wat bereid is om ’n bietjie vas te byt, wag daar ’n ryke oes van
openbarings. En op die ou end is jy dalk so verslaaf dat jy sommer jou
hele Suid-Afrikaanse familie wil opspoor. Dan sit jy—om die politici so
half na te praat—met die "moeder van alle legkaarte".
STAP EEN:
Stel heel eerste vas of jy nie dalk die wiel gaan herontwerp nie. Wat ek
bedoel, is dat jou besondere familie dalk reeds uitvoerig deur iemand
anders uitgepluis is. Dit maak dan mos geen sin om dit weer te doen nie.
Raadpleeg in jou biblioteek dr. R.T.J. Lombard se Handleiding vir
Genealogiese Navorsing en kyk agterin na die lys werke wat reeds oor
Suid-Afrikaanse families geskryf is.
Probeer ook om deur jou biblioteek ’n indeks te bekom van die artikels
van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika se kwartaalblad,
Familia, wat oor die jare ’n skat van genealogiese inligting opgebou
het.
As jy vasgestel het dat jy op ’n braakland is waar niemand vantevore nog
geploeg het nie, kan jy begin rondverneem by die heel oudste lede van
jou naaste familie. Dis gewoonlik die grootjies wat nog Familiebybels
kan hê, waarin die vroeë geslagte se dinge opgeteken is, partykeer nogal
selfs sulke fyn besonderhede soos hoeveel kinders doodgebore is en
wanneer.
Destyds het mense soms ook nog die tyd kon vind om swierige
geslagsregisters te skilder, wat dan geraam is.
Maar as ’n register wel in jou familie bestaan, gaan dit jou bes
moontlik nog lank nie by jou stamvader uitbring nie—veral nie as jy uit
een van die ou Kaapse families van, sê maar, die sewentiende of
agttiende eeu spruit nie.
Gestel egter nou jy weet, met die hulp van ’n register of daarsonder,
darem min of meer wanneer en in watter van die vier voormalige
Suid-Afrikaanse provinsies jou oupa of oupagrootjie aan vaderskant
oorlede is. Nou moet jy probeer om sy sterfkennis in die hande te kry.
VIR
ELKE mens wat in Suid-Afrika sterf en ’n boedel nalaat, moet ’n
sterfkennis voltooi word. Dit is ’n baie belangrike dokument vir
die genealogiese navorser, omdat dit drie geslagte se inligting
bevat:
o
die naam van die oorledene, waar en met
wie hy getrou het, hoe oud hy geword het en wanneer hy oorlede
is;
o
die name van sy ouers;
o
die name van sy kinders.
Ou sterfkennisse word in die staatsargiewe van Pretoria,
Kaapstad, Bloemfontein en Pietermaritzburg bewaar; meer onlangse
kennisse lê ter insae by die Meesterskantore in die genoemde
stede, asook in Grahamstad en Kimberley.
Dit sal ’n te lang verduidelik verg van presies wátter jaartalle
en provinsies se sterfkennisse wáár bewaar word, maar jy behoort
ten minste in jou naaste argief indekse te kry van ander streke
se kennisse, indien nodig.
As jou voorsate nie in jou omgewing oorlede is nie, kan jy ook
by jou argief navraag doen. Die immer behulpsame en vriendelike
werkers daar sal moontlik vir jou die adresse kan gee van
private navorsers elders, wat maar te bereid sal wees om vir ’n
klompie rande die inligting op sterfkennisse te kopieer.
Sterfkennisse behoort dit teoreties vir jou moontlik te maak om
jou hele lyn van afstamming op te spoor—deurdat jy telkens net
weer ’n vorige geslag se inligting bekom wat jy by die jonger
een aanhaak.
Ongelukkig is sterfkennisse se besonderhede nie altyd volledig
nie, en partykeer selfs verwarrend foutief, soos wanneer die
voorname van die ouers van die oorledene verkeerd aangegee word.
Dan moet teruggeval word op ander bronne (byvoorbeeld hoe die
ouers se name in die kerkboeke opgeteken is toe hulle hul
kinders laat doop het).
Gelukkig is dit darem heel moontlik dat jy met behulp van
sterfkennisse jou eie linie tot ten minste in die helfte of die
begin van die 1800's sal kan deurtrek—waar jy aansluiting sal
kan vind by die belangrike werke van vorige genealoë wat die
Suid-Afrikaanse families van ouds nagespoor het: Christoffel
Coetzee de Villiers en Cor Pama, en die monumentale
Suid-Afrikaanse Geslagsregisters van J.A. Heese en R.T.J.
Lombard (waarvan die nuwe gepubliseerde dele weens veranderde
staatsprioriteite nou voltooi word deur die Genealogiese
Instituut van Suid-Afrika [GISA] op Stellenbosch. Die
volumes het vroeg in 2005 darem reeds tot by die ESSE rond
gestrek).
Nou, uiteindelik, het jy jou lyn volledig tot by die stamvader.
AANVULLEND tot die
sterfkennisse is die magdom besonderhede in kerkregisters:
doopinskrywings, huweliksregisters, lidmaatregisters. Afhangende
van waar in die land jy woon, kan besonderhede in kerkregisters
jou help om meer vlees aan die beendere van
sterfkennis-inligting te sit: presies wanneer ’n persoon gebore
is, waar hy gedoop en aangeneem is en getrou het, selfs soms die
plaasname van sy ouers.
Hier hou dit lank nie op nie. Op iemand wat kans sien om te
grawe en te grawe, wag daar vondste (en skokke!) omtrent sy of
haar voorfamilie waaroor hy of sy dalk nooit eens kon gedroom
het nie. Wat ’n mens bereid moet wees om te aanvaar, is dat daar
weinig adellike bloed in die Afrikaner vloei, maar dat dié self
sy adel met moeitevolle arbeid in ’n ruwe land moes vind.
Moenie verbaas wees as jy lees dat die veldkornet skryf dat jou
een voorsaat nie eens ’n wa, ’n perd en ’n paar bokke besit het
nie of dat hy naderhand so arm was dat hy nie eens
belastingpligtig was nie. In die sogenaamde J-rolle wat ’n mens
in die Kaapse Argiefbewaarplek te sien kry, kry jy ’n ware
prentjie van ’n pionierstryd wat heeltemal te lank deur
romantiek verdoesel is.
Waar voer so ’n studie van ’n mens se herkoms jou dan
uiteindelik heen? Die een ding kan tot die ander lei, as ’n
mens nie keer nie, totdat jy jou op die ou end dalk selfs
iewers op ’n familieplaas in Europa bevind waar daar nog
mense is wat jou van dra. Dit is wat met ons gebeur het. En
dié belewenis ruil ’n mens vir min dinge op aarde.
Naskrif: Die boek oor my eie familie sal
sekerlik nie almal interesseer nie, maar ’n verkorte en
verwerkte weergawe daarvan (met die omvattende geslagsregister)
is ook op die web geplaas. Miskien wil jy daar gaan loer as jy
self só ’n projek in gedagte het. Die webadres is:
http://mysite.mweb.co.za/residents/dugeot/homepage.html
|
Diepte-inligting oor genealogiese navorsing
•
Vir diepte-inligting
oor genealogiese navorsing word die webwerf
Gendata
sterk
aanbeveel, wat onderhou word deur een van ons land se voorste
genealoë, Daniel Jacobs
•
Belangstellendes kan
sy Genealogiese Handleiding gratis aflaai by
hierdie skakel
•
Sy
navorsingskakels
op
hierdie webbladsy
is baie nuttig
•
Daniel
Jacobs bied ook aangrypende verhale uit die verlede aan wat
gelees kan word deur
hier te klik
|
|
Klik
hier om terug te
keer na die inhoudsblad
|
|