|
•
Masels • Pampoentjies
Kindersiektes Kwale, kwessies en kwellings
Foto: U.S. Centers for Disease Control and Prevention |
|
IE driejarige klein Sanmarie is erg siek en haar ma en pa is doodbekommerd. Hulle begryp nie mooi waarom sy so knieserig en koorsig is nie, en donkeraand voel hulle baie onrustig omdat die naaste dokter bra ver is.
Dis maar soos verantwoordelike ouers is. Hulle sal altyd besorg wees oor hul brose spruite. Die groot probleem is dat babas, peuters en kleuters des te vatbaarder vir aansteeklike siektes is omdat hul immuunstelsels nog besig is om te ontwikkel. Boonop kom hulle dikwels in aanraking met ander kinders wat dalk aansteeklike siektes onder lede het. En op die koop toe het veral die heel kleintjies nog nie juis ’n besef van higiëne nie en dink hul niks daarvan om hul vuil vingertjies in hul monde te druk nie.
Dit is dus nie verbasend dat die gemiddelde voorskoolse kind heelparty—tot tien— aansteeklike siektes in ’n jaar kan opdoen nie. Gelukkig vir klein Sanmarie en baie van haar portuuurtjies sal hulle minder vatbaarder wees vir sulke siektes wanneer hulle die dag oud genoeg is om skool toe te gaan.
Benewens olikhede weens inflammasie, verkoues, onverdraagsaamheid teenoor sekere kosse, allergieë en wat nog alles, kan kinders ook aansteeklike siektes soos pampoentjies, masels, rubella (beter bekend as Duitse masels) en waterpokkies kry.
Die potensieel dodelike en verlammende polio—ook kinderverlamming genoem—wat een van die meeste gevreesde siektes van die twintigste eeu was, is genadiglik hokgeslaan. Die eerste geslaagde entstof daarteen is in 1952 deur die Amerikaanse navorser en viruskundige Jonas Salk ontwikkel. Daarna het die getal poliogevalle op aarde, na vertel word, van baie honderdduisende per jaar tot net omtrent eenduisend tans gekrimp.
Inentings teen van die ander kindersiektes is ook lankal geredelik beskikbaar en die bekende drie-in-een-immunisering teen masels, pampoentjies en rubella het al jare lank sy doeltreffendheid bewys. Dit staan bekend as die MMR-entstof, na die Engelse woorde Measles, Mumps en Rubella.
Dis van groot belang dat daar betreklik onlangs ’n yslike bohaai in Brittanje losgebars het op grond van bewerings dat die MMR-entstof dalk onder meer outisme by kinders kan veroorsaak. Die vrese blyk toe ongegrond te wees, ten minste volgens kundige navorsing, veral as ’n mens die gewaande gevaar sou opweeg teen die feit dat derduisende kinders reeds die traumas van sulke kindersiektes gespaar gebly het en dat baie lewens dus ook as gevolg daarvan gered is. Talle Britte het egter nie meer hul kinders laat inent nie en die gevolge kan rampspoedig wees. In Suid-Afrika was die meeste ouers onbewus van die drama of hulle het hulle eenvoudig nie aan die bangmaakstories gesteur nie, het die koerant Beeld op 23 Maart 2009 berig. Sedert 2002 het die Suid-Afrikaanse staatsektor jaarliks minstens 80% van ons kinders onder een jaar volledig ingeënt. Al hierdie babas is teen masels en ander gevaarlike siektes geïmmuniseer, maar die MMR word nie in ons staatsektor gebruik nie. In die Noord-Kaap en Wes-Kaap is meer as 98% kinders in 2006 gedek en in Gauteng minstens 91%. Vir masels is dít vlakke waarvan Brittanje nou net kan droom, aldus Beeld. As ’n mens elders lees van die duisende Boerekinders wat langer as ’n eeu gelede in die Anglo-Boereoorlog in die Britse konsentrasiekampe dood is—baie van hulle weens masels—moet dit ’n mens tot groot dankbaarheid stem dat ons in ’n tyd lewe waarin die mediese wetenskap baie meer gevorderd is.
Masels, pampoentjies, rubella, waterpokkies... in hierdie artikel word dié kindersiektes een vir een bekyk…. |
|
|
LINKS: ’n Kind met masels, ’n baie ernstige kindersiekte.
Masels HOEWEL entstof vry algemeen beskikbaar is in ontwikkelde gebiede, eis masels steeds jaarliks die lewe van sowat ’n miljoen van die aarde se kinders. Ook in Suid-Afrika is dit nog glad nie uitgeroei nie en bly dit verantwoordelik vir ’n aantal jaarlikse sterftes.
Die siekte word deur ’n virus veroorsaak wat die asemhalingstelsel besmet. Verspreiding vind plaas waar uitgehoeste of uitgenieste vogdruppels ingeasem word, asook deur regstreekse aanraking of soene.
’n Tipiese vroeë simptoom is klein wit vlekkies wat soos soutkorreltjies lyk, wat aan die binnekant van die wange voorkom. Hulle staan bekend as Koplik se kolle. Ander vroeë simptome is hoofpyn, koorserigheid, ’n loopneus, ’n skor hoes en bes moontlik konjunktivitis (ontsteking van die bindvlies van die ooglid), wat die oë rooi en ligsku maak. Die pasiëntjie voel vier dae lank erg verkoue.
Op die vierde of vyfde dag verskyn die uitslag. Daar is klein, rooi en opgehewe vlekkies agter die ore, op die voorkop en in die nek wat na die res van die liggaam versprei. Die kleur verdiep en die vlekke vloei plek-plek saam om ’n opgehewe rooi kors te vorm. Die oë is nou bloedbelope en kan nie lig verdra nie. Behalwe dat hulle ’n slymerige hoes en ’n hoë koors het, kan jong kinders soms veral van maagpyn kla.
Dit is nie soseer die masels self nie, maar die neiging van pasiënte om komplikasies soos onder meer longontsteking en selfs ontsteking van die harsings (ensefalitis) te ontwikkel, wat dit so ’n gevaarlike siekte maak. Daar moet nooit vergeet word dat dit inderdaad dodelik kan wees nie.
’n Mens kan op enige ouderdom masels kry, maar dit kom veral voor by klein kindertjies tussen een en vier jaar. Pasiënte kan ander met die virus besmet van sowat twee tot vier dae voordat die uitslag verskyn tot min of meer vier dae daarna. Dit is dus gebruiklik om kinders omtrent tien dae vandat hulle begin siek word het af te sonder van maatjies wat nie geïmmuniseer is nie. Ongelukkig is masels egter op sy aansteeklikste voordat daar ’n uitslag is. Die gevolg is dat pasiënte die siekte versprei voor iemand nog weet dat hulle dit onder lede het.
’n Maselspasiënt kan tuis gehou word, maar ’n dokter moet geraadpleeg word om die diagnose te bevestig en om te sê hoe die pasiënt behandel moet word. Pyn- en koorswerende strope soos parasetamol en baie vloeistof kan tuis aan die pasiënt gegee word, maar waar dié in die hospitaal opgeneem word, kan die toediening van teenvirale middels nodig wees. |
|
|
BO: Dik van die pampoentjies en letterlik keelvol vir die siekte.
Foto: PHIL / U.S. Centers for Disease Control and Prevention
Pampoentjies PAMPOENTJIES sou ’n bra koddige siekte genoem kon gewees het, as dit nie was dat ’n mens nooit met enige siekte behoort te spot nie. Die pasiënt se gesig swel so op dat dit soos ’n pampoen lyk, en ongevoelige mense is dan geneig om ’n te lag omdat die persoon nou so “snaaks” voorkom.
Volgens ’n ander beskrywing lyk die persoon weer onmiskenbaar soos ’n hamster (wat die diagnose baie maklik maak).
Intussen voel die pasiënt egter behoorlik oes, indien nie ellendig nie. Die opgeswelde kliere maak dit moeilik om te praat, eet en drink, selfs net om die mond oop te maak. Dis ’n pynlike beproewing, en suur en speseryagtige kosse maak dit selfs pynliker.
Danksy die drieledige MMR-immunisering, waarna vroeër in hierdie artikel verwys is, is pampoentjies darem tans heelwat skaarser as in ouma en oupa se tyd toe dit baie algemeen was.
Die pampoentjiesvirus word oorgedra in die vogdeeltjies wat deur die gehoes en genies van ’n geïnfekteerde in die lug uitgestrooi word. Dit word ook deur regstreekse kontak oorgedra.
’n Sewentigjarige oom se bydrae tot hierdie artikel is ’n vertelling van hoe hy as jong knaap in die 1940’s pampoentjies gekry het: “My ouer broer het die siekte gehad, en ek moes sorg dat ek nie naby hom kom nie en altyd net in die deur van die siekekamer bly staan wanneer ek met hom praat. Toe, eendag, vra hy dat ek vir hom ’n ballon by ’n winkel moet gaan koop. Ek het so gemaak, in die deur stelling ingeneem en die ballon na sy bed gegooi, as ek reg onthou. Hy het die ballon opgeblaas, maar toe ontsnap die wind daaruit en dit trek, woerts!, soos ’n projektiel deur die lug—en land weer binne my bereik. En toe blaas ek ook die ballon op...”
Die inkubasieperiode van pampoentjies (tydperk van die blootstelling af tot die verskyning van die simptome) is twaalf tot op die meeste sowat dertig dae, en pasiënte kan ander mense aansteek van tot sewe dae voordat en tot sewe dae nadat hul kliere begin opswel. Daar is ’n deegagtige geswel van een of altwee die wange voor en onder die ore. Die pasiënt voel knieserig en het koors.
As kindersiekte is pampoentjies in die reël nie gevaarlik nie, maar waar komplikasies intree, kan dit ernstig wees, veral by ouer kinders en grootmense. Só kan die geslagskliere—testikels by mans en ovaria by vroue—aangetas word. By mans word gewoonlik darem net een testikel geraak, maar daar is ’n pynlike swelling wat baiemaal deur ’n wegkwying van die klier gevolg word. Die aantasting van die testikel(s) kom voor by een uit vier mans wat ná puberteit pampoentjies kry. Inflammasie van die ovaria by vroue kan weer tot steriliteit lei.
Nog baie ernstige moontlike komplikasies by pampoentjies is harsingontsteking (ensefalitis) en harsing-en-rugmurgvlies-ontsteking (meningitis).
Pasiënte met pampoentjies moet in die bed bly en vloeibare kos (lig, ongegeur en nie suur nie) ontvang. Raadpleeg jul dokter. Gee pynstillers soos nodig en sorg dat die kind baie water drink, maar vermy vrugtesap. Die goeie nuus is dat die meeste kinders van pampoentjies herstel sonder enige langdurende nagevolge. Moet egter nie skroom om die dokter te ontbied as die kind siek bly en daar enige tekens van of vermoedens omtrent komplikasies is nie. |
|
|
Rubella (Duitse masels) JONG kinders wat die virussiekte Duitse masels kry, is in verreweg die meeste gevalle nie erg siek nie en herstel gewoonlik sonder enige komplikasies. Daar is so twee tot vyf dae lank ’n uitslag van opgehewe pienk vlekkies aan die gesig en lyf, wat saamgaan met hoofpyn, seerkeel, lusteloosheid en vergrote limfkliere agter die ore en in die nek. Daarna is die kind dikwels weer op en wakker.
Die groot gevaar lê egter daarin dat die siek kind swanger vroue kan aansteek. As ’n vrou in die eerste drie maande van haar swangerskap deur die rubellavirus geïnfekteer word, kan die gevolge hartverskeurend wees vir haar ongebore baba.
Die kind kan blind of gesigsgestremd gebore word, doof wees, aan hartgebreke ly en/of ’n klein koppie hê.
Indien ’n verwagtende vrou Duitse masels kry, word baiekeer selfs oorweeg om die swangerskap te beëindig. Dit word as baie goeie raad beskou om meisies voor hul vrugbare jare teen die siekte te laat inent of, waar dit nie moontlik is nie, hulle doelbewus die siekte te laat aansteek.
Die stryd om Duitse masels op die aarde uitgewis te kry, word dus nie soseer gevoer om jong kinders daarteen te beskerm nie, maar eerder om keer dat weerlose fetusse daardeur gedoem kan wees tot ’n latere lewe van gestremheid.
Foto: PHIL / U.S. Centers for Disease Control and Prevention
Onder die uiters skaars komplikasies van Duitse masels by kinders is ontsteking van die harsings (ensefalitis) en miokarditis (hartspierontsteking). Ouers moet die huisdokter ontbied indien hulle Duitse masels by kinders vermoed en hulle nie na die dokter se spreekkamer neem nie, want daar bestaan ’n wesenlike gevaar dat hulle swanger vroue daar met die virus kan besmet.
Die inkubasieperiode van Duitse masels, dit wil sê die tyd van die aanvanklike blootstelling totdat die uitslag verskyn, is normaalweg 14 tot 21 dae. Kinders moet in die klompie dae waarin die siekte hom uitwoed gewoonlik net rustig gehou word, baie vloeistof inkry en, indien nodig, vir koorsigheid behandel word. Dit kan gedoen word met iets soos parasetamol, maar nie met aspirien nie, omdat dié weer ander probleme kan laat ontstaan. |
|
|
Waterpokkies
DIT
is ’n interessante, maar onaangename feit dat daar twee siektes is
wat deur die virus Varicella zoster veroorsaak word. Die een
siekte is waterpokkies, ’n bekende kinderkwaal. Die ander is
gordelroos, wat meestal mense bo vyftig jaar aantas en waarvan die
frekwensie toeneem namate mense ouer word.
Foto: U.S. Centers for Disease Control and Prevention
Waterpokkies is genadiglik nie naastenby vergelykbaar met die gevreesde pokke nie. Pokke is deur die twee virus-variante Variola major en Variola minor veroorsaak. Dit was ’n uiters gevaarlike en dodelike siekte, wat die mensdom millenniums lank geterroriseer het en byvoorbeeld die Khoikhoi in Suid-Afrika so uitgedun het dat hul kultuur vernietig is.
Danksy intensiewe wêreldwye inentings kon egter in Desember 1979 aangekondig word dat pokke heeltemal uitgewis is—die enigste aansteeklike menslike siekte wat nog ooit van die aangesig van die aarde weggevee is. Daar is nog slegs van die virusse in laboratoriums. Die skrywer van hierdie artikel, en baie ander mense, dra vandag nog destyds se entmerke teen pokke aan die bo-arm.
Foto: U.S. Centers for Disease Control and Prevention
Waterpokkies is, veral by kinders jonger as tien, gewoonlik nie ’n siekte waaroor ouers verskriklik bekommerd hoef te wees nie. Dit is ook die melktand-brigade wat die meeste daardeur geteister word, maar die knieserigheid en koors duur maar so 24 uur. In een uit tien gevalle is die siekte so lig dat dit nie eens opgemerk word nie.
Maar vir ouer kinders en volwassenes kan waterpokkies ernstiger wees. Hoogswanger vroue sonder die nodige immuniteit moet kinders met die siekte vermy omdat hulle gordelroos kan opdoen. Veel erger nog: in die eerste 28 weke van swangerskap kan ’n verwagtende vrou wat nie immuun teen waterpokkies is nie en die siekte kry, ook die fetus daarmee besmet. Die gevolge vir die ongebore kindjie kan wissel van onderontwikkelde tone en vingers tot ’n reeks ander ernstige en tragiese afwykings.
Net soos by pokke is daar ’n kenmerkende veluitslag by waterpokkies, maar die letsels is oppervlakkig en glad so nie so diep in die vel ingegraveer as by pokke nie. Dit bestaan uit pienk knoppies wat later in waterblasies en nog later in irriterende rofies verander wat kwaai jeuk. Die uitslag is meestal aan die romp, maar kan oral op die liggaam voorkom, selfs op die kopvel en mond. Die uitslag kan aansteeklik wees totdat al die sweertjies heeltemal tot rofies omgevorm is, maar ’n kind hoef gewoonlik nie langer as vyf dae uit die skool gehou te word nie.
Die inkubasieperiode by waterpokkies is 14 tot 24 dae. Dit word aangesteek deur vogdruppeltjies of kontak met ’n siek mens of met dinge wat byvoorbeeld aan sy persoon was. Dis interessant dat waterpokkies ook by groot ape soos sjimpansees en gorillas voorkom.
Kinders met waterpokkies het gewoonlik weinig meer as rus en baie vloeistowwe nodig. Parasetamol kan die koors afbring en ’n antihistamienroom kan die gejeuk verlig.
By gordelroos stem die veluitslag ooreen met dié by waterpokkies, maar dit is gelukkig nie so aansteeklik nie. Dit is ook beperk tot dele van die liggaam. Gordelroos kom voor waar sekere oorblywende Varicella zoste-virusse as gevolg van waterpokkies in die kindertyd as ’t ware rustend in die liggaam voortlewe en miskien eers dekades later weer aktief raak wanneer die liggaamsweerstand laag is.
Praat van ’n skadelike ding in die jeug wat ’n mens in die oudag weer inhaal... |
|
| Belangrik: Die inligting in hierdie artikel is slegs toeligtend en bedoel vir gebruik in onder meer skoolprojekte. Dit moet nie gebruik word om enige van die genoemde siektes self te diagnoseer en van kundige mediese hulp te vergeet nie. Elke mens is uniek en in baie gevalle sal slegs jou huisdokter of ’n ander opgeleide medikus die korrekte diagnoses kan doen. | |