|
Laslappie |
|
KWIK:
Voordele
van kwik: 1)
Kwik word in termometers gebruik vanweë sy egalige uitsetting by
verhitting en ewe egalige inkrimping by verkoeling—die verandering in
die kwik se volume vir elke graad wat die temperatuur styg of daal, is
dieselfde. 2)
Kwik word ook in ander soorte wetenskaplike apparate gebruik, byvoorbeeld
vakuümpompe, barometers en elektriese skakelaars. 3)
Kwikdamp-lampe is ’n bron van ultravioletstrale en word onder meer vir die
sterilisasie van water gebruik. 4)
Kwikdamp word pleks van stoom in die ketels van sekere turbine-enjins
ingespan. 5)
Kwik vermeng met al die gewone metale, buiten met yster en platinum, om
allooie te vorm wat as amalgame bekend staan. In een proses waarin goud en
silwer uit hul ertse onttrek word, word hierdie metale met kwik vermeng,
waarna die kwik weer deur middel van distillasie verwyder word. 6)
Kwik vorm ook belangrike verbindings wat in die handel beskikbaar is, soos
die bekende Mercurochrome, wat ’n besonderse rol in die geneeskunde speel. Nadele
van kwik: KWIK
is giftig en uiters gevaarlik as ’n damp en in die vorm van sy soute wat
in water oplos. Kwikdampe en water-oplosbare kwiksoute vreet naamlik die
membrane van die menslike liggaam. Chroniese
kwikvergiftiging, wat plaasvind wanneer klein hoeveelhede kwik
herhaaldelik oor ’n lang tydperk ingeneem word, veroorsaak onomkeerbare
skade aan die brein, lewer en niere. Weens
toenemende waterbesoedeling is beduidende hoeveelhede kwik al in sekere
soorte visse gevind, wat tot groot besorgdheid gelei het omdat die metaal
so duidelik onbeheerd in die omgewing gestort word. |