|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
KARKATJIES:
AAN
die rande van ons ooglede is ’n ry ooghare wat help om stofdeeltjies uit
ons oë te hou. As die lig baie skerp is, kan hulle boonop as ’n soort
skerm dien wanneer die ooglede half toegemaak word. Hierdie
hare is nie heeltemal droog nie. Hulle kry ’n vog, ’n olierige
vloeistof, van sekere kliertjies. Partykeer versweer hierdie kliertjies
wanneer kieme dit binnegedring het en dan noem ons die ontsteking
"karkatjies". In
die geneeskunde word ’n karkatjie beskryf
as ’n
verswering van ’n ooghaar-follikel (of ooghaar-sakkie). Só ’n
verswering, vertel die geleerdes, word
deur ’n infeksie met ’n sogenaamde stafilokok-kiem veroorsaak. Dis
’n kiem wat hom, interessant genoeg, baiemaal in ’n mens se neus tuis
maak. Higiëne is dus belangrik in die voorkoming van karkatjies—soos
om nie met die hande in die neus te krap en dan weer die oë te vryf nie. Die
karkatjie vorm meestal naby die binnehoek van ’n oog, maar kan ook by
die basis van enige oogwimper ontstaan. Dit begin as ’n branderige, rooi
knoppie aan die rand van ’n ooglid, maar verander ná 'n paar dae in
’n pynlike klein abses wat met etter gevul is. Die hele ooglid is later
dik geswel. ’n Karkatjie gaan ná vyf tot sewe dae vanself oop en dan
loop die etter ook uit. Hoewel
’n karkatjie nie ’n ernstige infeksie is nie, is dit pynlik en moet
dit versigtig behandel word. Die pyn kan verlig word deur watte wat in lou
soutwater geweek is aan die karkatjie aan te wend. ’n Mens kan in die
versoeking kom om ’n karkatjie te wil uitdruk voordat dit ryp is, maar
moet dit nie doen nie. As ’n mens nie uiters skoon te werk gaan met die
uitdrukkery nie, kan die beproewing versprei en dan sit die ongelukkige
pasiënt met ’n hele spul karkatjies. As die etter egter reg is om
uit te kom, kan ’n mens dit aanhelp deur met die punte van baie skoon
wysvingers daarop te druk. Daarna moet die hande nogeens baie goed gewas
word. Vee die bloederige etter met
sneespapier af en plaas ’n antiobiotiese oogsalf in die oog. Indien jy geneig is om
gereeld karkatjies te kry, moet jy jou dokter daaromtrent raadpleeg. Die
dokter kan dit dalk nodig vind om ’n kursus antibiotikum vir jou voor te
skryf. |