KAMEELPERDE:
Hemelbesems
van die vlaktes
Foto:
freeimage4u.com (gewysig)
GIRAFS
of kameelperde (wat nóg
kamele nóg perde is) hou op die grasvlaktes van Midde- en Suider-Afrika. Hulle
het lang nekke en hul voorpote is langer as hul agterpote, met die gevolg
dat hul rûe afdraand loop.
Kameelperde
het ook ’n lomp manier van galop omdat die voorpote hoër is en die nek
die gewig moet balanseer. Wanneer hulle gras vreet of water suip, staan
hulle wydsbeen en buig die lang nek af om onder by te kom.
Op
die bruinrooi pels is kolle wat groter op die lyf is en kleiner aan die
pote. Die kameelperd het kort, donker maanhare en ’n lang stert met ’n
dik, donker kwas.
LINKS:
’n Kameelperdkoei en haar kalfie, afgeneem deur deur die gewilde
toergids André van Kruger Tours.
Stel jy self belang in ’n uitstappie na een of meer van die wonderwêrelde
waarheen toergids André jou kan lei? As jy aan die internet gekoppel is,
kan jy hier
klik vir sy portefeulje met talle aanskoulike foto’s. Besoek dan
Kruger Tours se webwerf deur hier
te klik. Jy kan ook vir André ’n e-pos stuur by hierdie adres: graskop@global.co.za
Kameelperde
is die langste van al die diere. ’n Volwasse dier kan tot 5 m lank word.
Hulle verdedig hulself met hul voorhoewe en leeus sal slegs ’n
kameelperd aanval wat van die res van die trop afgesonder is.
’n
Kameelperd se kop is klein in verhouding tot die res van sy liggaam. Die
twee horingagtige uitsteeksels tussen die gepunte ore is met vel en hare
bedek. Die groot oë is vol uitdrukking en hy kan goed sien—is in staat
om byna elke kleur uit te ken.
Die
kameelperd is ’n herkouende soogdier (Giraffa camelopardalis) en
beweeg eienaardig deur die voor- en agterpote van dieselfde kant
gelyktydig vorentoe te beweeg. Hierdie diere vreet blare wat hulle met hul
besonder lang tonge (tot 45 cm lank) van bome afskeur. Hulle vreet ook
gras.
Die
bulle baklei om te bepaal wie die sterkste is. Hulle swaai hul lang nekke
en slaan mekaar met hul koppe. Die koeie en hul kalwers hou die geveg van ’n
afstand af dop.
Die
koeie baar so staan-staan en die kalfie val byna 2 m ver grond toe. Hy kan
reeds ’n paar uur later staan en loop. Die ma lek haar pasgebore
kleinding skoon onderwyl hy aan haar suip.
|