’n Laslappie van Mieliestronk

KOOLSTOF-KRINGLOOP:

Die siklus waarop die lewe op aarde berus 

 

Kyk ook: Aardverwarming en die kweekhuis-effek

 

 

MENSE en diere maak die gas koolstofdioksied as gevolg van die chemiese reaksies in hul liggame. Hulle asem die gas suurstof in en die suurstof word letterlik binne-in hulle verbrand, al is dit so ’n stadige verbranding dat daar geen vlamme ontstaan nie.

 

Die suurstof verbind met die koolstof in hul liggame en koolstofdioksied word in dié proses gevorm. Die koolstofdioksied word dan deur hulle uitgeasem. Hierdie koolstofdioksied word weer deur die plante benut, wat op hul beurt sorg vir genoeg suurstof in die lug.

 

In die blare van plante word die son se energie gebruik om glukose te maak deur water uit die grond en koolstofdioksied uit die lug te laat verbind. In hierdie proses, wat fotosintese genoem word, word suurstof as ’n neweproduk in die lug vrygelaat.

 

Jy kan self ’n bietjie van die suurstof opvang wat deur fotosintese vrygelaat word. Plaas die blare van ’n waterplant (soos Kanadese fonteinkruid) in ’n bak water en rangskik drie garingtolletjies daar rondom. Stut nou ’n glas met die bek na onder bo-op die tolletjies.

 

Laat die bak vervolgens ’n paar uur lank in die son staan. Mettertyd vorm suurstofborrels op die blare en dryf hulle boontoe om in die glas te versamel. As jy genoeg suurstof versamel het en jy sou die glas uithaal en ’n gloeiende houtspaander daarin druk, sal die spaander aan die brand slaan. Dinge verbrand baie vinniger in suiwer suurstof as in die lug, wat natuurlik ook ander gasse, veral stikstof, bevat.

Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad