KORAAL:
Pragpaleise van die nederige poliepe
LINKS:
’n Duiker by rooi koraal in die kelders van die see...
Foto:
NOAA
IETS
wat werklik in die see geniet kan word—dikwels ’n lus om te aanskou—is
koraal. In die warmer waters van die wêreld floreer die koraalpoliepe.
Hulle is piepklein seediertjies wat kalsium uit die water kan onttrek en
dit in harde skuilplekkies kan omskep waarin hulle lewe.
’n
Stuk koraal bestaan gewoonlik uit die gewese huisies van baie
koraalpoliepe. Sodra een poliep vrek, bou ’n ander een sy tuiste bo-op
dié van die dooie een. Uiteindelik kan selfs groot riwwe in die see op
hierdie manier opgebou word—al groei sulke riwwe miskien net met ’n
paar sentimeters per jaar.
 |
 |
BO:
Die meeste
korale is opgebou deur honderde
tot honderdduisende individuele koraalpoliepe soos dié.
REGS: Die bou
van ’n koraalpoliep. Klik op
die illustrasie vir ’n groot diagram en uitvoerige beskrywing.
Foto: NOAA;
iIlustrasie: OCEANSERVICE / NOAA
|
Koraal
plant sowel nie-geslagtelik as geslagtelik voort. By nie-geslagtelike
voortplanting breek nuwe kloonpoliepe van die ouerpoliepe weg om die
kolonie te vergroot of om nuwe kolonies te begin. Dit begin wanneer die
ouerpoliep ’n sekere grootte bereik en die diertjie verdeel. Hierdie
proses duur regdeur die poliep se lewe voort.
Sowat driekwart van alle steenkorale produseer manlike en/of vroulike
gamete. (’n Gameet is ’n geslagsel wat met ’n ander tot bevrugting
verbind.) Die meeste van hierdie soorte saai enorme hoeveelhede eiers en
sperma in die water om hul nasate oor ’n wye gebied te versprei.
REGS:
Baie soorte steenkorale skiet in hul menigtes saam-saam kuit,
soos dit genoem kan word as ’n mens dié uitdrukking by die
terminologie vir die visse kan gaan leen. Miljoene eiers en
sperma word tegelykertyd in die water vrygelaat.
Foto:
Emma Hickerson / NOAA
|
Die
eiers en sperma verbind om vrydrywende larwes te vorm wat deel van die
diereplankton uitmaak. Die produksie van so baie larwes is om te
kompenseer vir die talle wat deur roofvyande gevreet sal word terwyl hulle
willoos deur die waterstrome meegevoer word.
Maar
die voortbestaan van ons koraalriwwe is in die weegskaal. En die mens dra
die skuld vir een van die grootste bedreigings—die skrikwekkende
besoedeling van die see.
LINKS:
Daar is baie maniere waarop besoedeling koraalriwwe kan beskadig. Afval
soos hierdie plastieksak kan vinnig in die koraal verstrik raak en die
poliepe “versmoor”. Op baie plekke word koraalriwwe ook vernietig
wanneer hebsugtige mense pragstukke koraal afbreek of die riwwe se
helderkleurige visse versamel vir die juweelhandel en akwariums
onderskeidelik. Onbedagsame of onopgeleide duikers kan eweneens die riwwe
vertrap.
Foto:
NOAA
Boonop het seewetenskaplikes al op ’n konferensie in Londen onthul dat daar nie
minder nie as dertien verskillende siektes is wat koraal aantas.
Een
siekte, wat die koraalpoliepe se buitenste lewende weefsel laat afsterf en
die skelet laat verkrummel, versprei byvoorbeeld baie sentimeters ver op
een dag—terwyl die riwwe self, soos gesê, met slegs enkele sentimeters
per jaar toeneem.

BO:
Koraal kan die wonderlikste vorms aanneem...
Foto:
NOAA
|