|
Laslappie |
KRATER:Die Ngorongoro-krater in Tanzanië
Foto: EarthObservatory / NASA
DIS
’n wonder, het die hoogleraar gesê. ’n Wonder van die natuurwêreld.
Met soveel ontroering het wyle prof. Bernhard Grzimek, ’n
bewaringspionier in die gebied, gereageer toe hy Ngorongoro die eerste
keer gesien het. En ’n unieke plek is dit beslis. Die
Ngorongoro-krater, in Noord-Tanzanië aan die wesgrens van die Groot
Skeurvallei, is ’n ontsaglike natuurlike amfiteater met nog iets van die
eertydse glorie van Afrika. In geleerde taal is hy ’n kaldera, wat
gevorm is toe ’n reuse-vulkaan met soveel geweld ontplof het dat hy sy
eie spits weggeblaas het. Met
’n deursnee van tussen 15 en 30 km en ’n totale oppervlak van 264 vk.
km, is hy een van die grootste kalderas op aarde. Steil hange daal 600 m
van die rand van die krater na die plat vlakte daaronder. Die
krater is ’n deel van ’n groter gebied wat die
Ngorongoro-bewaringsgebied genoem word (6 475 vk. km groot). Dié word
sedert die jare vyftig beskerm en is deur die Verenigde Nasies se
opvoedkundige, wetenskaplike en kulturele organisasie Unesco as ’n Wêreld-erfenisterrein
gelys. Dit
is die krater se groot verskeidenheid van habitats wat hom so ’n
besondere toevlugsoord vir wilde diere maak: grasvlaktes met verspreide
akasiabome, skaduryke boslande, varswaterstrome, moerasse en mere. Sowat
30 000 diere woon in die kom. Hiervan is 12 000 wildebeeste, 4 000 Grant-
en Thomson-gaselle, 3 500 sebras en 3 000 buffels. Waar
daar prooi is, is daar natuurlik ook roofdiere soos leeus, jagluiperde en
arende, en aasdiere soos jakkalse, hiënas en aasvoëls. Seekoeie rol in
die modderige moerasse; olifante en renosters dool in die boslande—hoewel
die vloek van wilddiewery ook steeds hier voorkom. Al
die diere van Ngorongoro is nie permanente inwoners van die gebied nie.
Verskeie soorte voëls gebruik die krater as broeiplek of as ’n
''verversingspos'' wanneer hulle trek. Witsprinkaanvoëls,
geelkwikstertjies en swaeltjies vlieg hierheen om aan die koue Europese
winter te ontsnap. En flaminke word aangelok deur die kos wat die mere
bied. Die
Ngorongoro-krater is as’t ware ’n Noag se ark vol Afrika-diere.
|