’n Laslappie van Mieliestronk

KURK:

Die boom wat dit letterlik op sy bas kry!

 

Die bas van die kurk-eik


LINKS: Die bas van die kurk-eik.

  

REGS: Die loof van die kurk-eik.

Die loof van die kurk-eik

Foto’s: J.S. Peterson @ USDA-NRCS PLANTS Database

 

KURK word verkry van die bas van lewende kurk-eikebome (Quercus suber), wat elke nege of tien jaar van die bome afgestroop word. Die wêreld se vernaamste kurkproduserende land is Portugal, gevolg deur lande aan die Middellandse See soos Spanje, Algerië, Tunisië, Marokko en Italië.

 

Kurk word in die somer van kurk-eike geoes. ’n Spesiale byl word gebruik om die bas in groot repe van die boom af te stroop. Sowat ’n derde van die eik se kurkbas kan op ’n slag verwyder word. Hierna word die boom sowat nege jaar met rus gelaat om ’n nuwe baslaag te ontwikkel. ’n Mens kan ook sê dit word gedoen sodat hy letterlik ''sy eie bas kan red''... tot die volgende oes! Kurk-eike lewe omtrent 150 jaar.

 

Die geoeste stukke bas word versigtig opmekaargestapel om ’n paar maande lank in die eikewoud te verouder sodat die voginhoud kan stabiliseer.

 

By die kurkfabriek word die bas volgens gehalte gesorteer en onsuiwerhede verwyder. Uit die goeie kurk word bottelproppe gepons—wat ’n bottel deeglik sal verseël en sal sorg dat daar nie suurstof inkom om die inhoud te bederf nie.

 

’n KurkpropREGS: ’n Kurkprop.

 

Foto: Jefras, wat dit tot openbare besit (“public domain”) verklaar het

 

Van party van die afvalstukke kurk word isolasiemateriaal gemaak—selfs vir NASA se pendeltuie.

 

In die fabriek word die kurkproppe aan verskillende behandelings en toetse onderwerp. Hulle word ook meganies volgens grootte gesorteer en vir moontlike foute ondersoek. Oplaas—goeie verseëlaars vir bottels. Dis mos waarvoor kurkproppe daar is.

 

Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad