|
Weet jy wat ’n geluid is? Belaglike vraag, sê jy. Maar weet jy rêrig? Weet jy werklik wat gebeur vandat ’n geluid gemaak is totdat dit jou oor bereik—en hoe jou oor dan die klank ontvang en jou brein dit interpreteer? |
|||
LMAL
van ons wat kan hoor, weet wat klank is. Of só dink ons. Ons geniet
byvoorbeeld sang of die sagte stem van ’n geliefde, maar ons kan ook
moedeloos geïrriteerd raak met sekere plate op die radio! Ons
ken die geluide van die donderweer en van die welkome reën. Ons hoor
die winterwind wat om die hoeke loei, die someraand se paddakore, die
gedreun van die verkeer en die koergeluidjies van ’n babatjie. Maar
hoewel ons gedurig geluide rondom ons waarneem, is daar nogtans baie
dinge omtrent die fenomeen van klank wat dikwels heeltemal by ons
verbygaan. Om die waarheid te sê, dit lyk of die meeste mense nie juis
omgee om ooit die rede te hoor waarom dinge soos melodieë en gerase vir
hulle bestaan nie. Of miskien het baie van hulle net nog nooit dieper
oor dié wonder nagedink nie. Goed,
ons weet klank, of geluid, is ’n fisiese beweging wat die
gehoorsintuig stimuleer. En dat klank, as ons nie ore gehad het wat dit
kon hoor nie, doodeenvoudig nie vir ons sou bestaan het nie. Trouens,
net soos ’n stokblinde wat blind gebore is geen benul kan hê van sig
of lig of van donkerte en kleure nie, sou die verskynsel van geluid vir
ons ’n totaal ondeurgrondelike begrip gebly het.
Die
klankgolwe, soos die golfies in die water, beweeg buitentoe in steeds
groter wordende sirkels. Hoe verder die klankgolwe moet beweeg, hoe
swakker word hulle en hoe sagter word die klank.
’n
Klankgolf beweeg in ’n gegewe rigting totdat ’n krag van buite of
’n voorwerp in die pad van sy beweging kom en dit weerkaarts. Geluid
kan ook nie deur ’n lugleegte beweeg nie. Maar
klank beweeg wel deur gasse (soos in die lug) of deur vloeistowwe (soos
water) en selfs deur vaste stowwe (soos yster en hout). Jy kan dus ook
onder water hoor, en as jy jou oor op ’n lang stuk ysterpyp hou en
iemand kap ’n ent van jou af op die pyp, kan jy dit baie duidelik
waarneem. WAT
gebeur nou eintlik in die lug as klank daardeur beweeg? Stel vir jou die
lug voor as ’n ontsaglike hoeveelheid piepklein deeltjies
materie—deeltjies wat molekules genoem word. As ’n mens nou
byvoorbeeld op ’n paraffienblik kap, duik die sy van die blik effens
in en dan weer uit, sodat die lugdeeltjies teen die blik ’n vinnige
stampie kry. Hierdie lugdeeltjies stamp op hul beurt teen lugdeeltjies
wat verder lê en op dié manier—deur die stamp van deeltjie teen
deeltjie—kom dit naderhand by ons ore uit wat dan ook ’n stampie op
die oortrommel kry waardeur ons die geluid kan hoor. Die
baie verskillende klanke wat ons hoor, ook musiek, word só met
trillings voortgeplant. Selfs wanneer iemand met jou praat, is daar
vibrerende lugdeeltjies die hele pad van die spreker se mond af tot by
jou oor. Klanktrillings
kan nogal stadig of besonder vinnig geskied. Die toonhoogte van ’n
noot hang af van die aantal trillings per sekonde (frekwensie). As die
frekwensie hoog is, is die noot hoog en as die frekwensie laag is, is
die noot ook laag. Middel-C op die klavier tril 256 keer per sekonde. Die
gemiddelde mens kan slegs hoor wanneer trillings van tussen 15 en 20 000
hertz die binne-oor bereik. Die hertz is ’n eenheid van frekwensie wat
gelyk staan aan een siklus per sekonde. Klanke
met frekwensies hoër as sowat 20 000 hertz, wat vir die mens onhoorbaar
is, word ultrasoniese klanke genoem. Die wetenskap van ultrasoniese
klanke word op baie gebiede in die fisika, skeikunde, tegnologie en
geneeskunde toegepas. Ultrasoniese klanke word lank reeds in opsporings-
en kommunikasietoerusting genaamd sonar gebruik.
Voorts
het dit reeds geblyk dat golwe dinge is wat energie oordra, maar dat
hulle nie materie oordra nie. Wanneer ’n golf dus deur ’n stof
beweeg, sê nou maar deur lug, tril die molekules van die stof heen
en weer, maar hulle beweeg nie vorentoe saam met die golf nie. En
daaruit volg die belangrike feit dat wetenskaplikes onderskei tussen
golftipes wat op verskillende maniere beweeg—die sogenaamde longitudinale
golf (lyngolf) en die transversale
golf (dwarsgolf). In
’n longitudinale golf beweeg die molekules heen en weer, ewewydig met
die rigting waarin die golf voorstu. In ’n transversale golf beweeg
die molekules ook heen en weer, maar reghoekig tot die rigting van die
voortstuwende golf. (In
’n elektromagnetiese golf is dit elektriese en magnetiese
velde—pleks van molekules— wat heen en weer beweeg, want sulke golwe
kan deur ’n vakuum beweeg waarin daar geen molekules is wat kan
vibreer nie.) ’n
Transversale golf het ’n aanhoudende op-en-af-beweging. Watergolwe en
elektromagnetiese golwe is transversaal. ’n Longitudinale golf beweeg
deur ’n reeks samepersings en verdunnings . Klankgolwe
is longitudinaal. KLANK
beweeg teen ’n bepaalde snelheid deur lug: nagenoeg 330 meter per
sekonde, maar dit neem met sowat twee derdes van ’n meter toe vir elke
1 graad Celsius wat die temperatuur van die lug styg. Lig se snelheid is
egter baie, baie vinniger: 299 792,5 kilometer per sekonde. Wanneer
’n mens dus byvoorbeeld na ’n rugbywedstryd kyk, hoor jy die klank
van ’n skop so ’n rukkie nadat die speler se voet die bal getref
het. En tydens donderstorms sien ’n mens eers die weerligstraal en
daarna hoor jy die donderslag. NOG
’n interessante beginsel in die klankwêreld is die sogenaamde
Doppler-effek. Wanneer ’n trein na jou toe aankom, klink die
toonhoogte van sy gefluit vir jou hoër as wanneer die trein van jou af
wegbeweeg. Of dalk het jy onlangs ’n ambulans hoor verbykom. Onthou jy
hoe die hoë "ieeee-ieeee-ieee" van die aankomende voertuig in
’n laer "whaaa-whaa-whaaa" verander het toe die ambulans van
jou af wegry? Hierdie beginsel is die eerste keer in 1842 deur die Oostenrykse wiskundige en fisikus Christian Johann Doppler (1803-53) beskryf. Die verandering in toonhoogte is doodeenvoudig die gevolg van ’n verandering in die frekwensie van die klankgolwe, soos in die volgende illustrasie geïllusteer word:
Dis
nie toorkuns nie. Wanneer
die ambulans na jou toe beweeg, word die klankgolwe van die sirene in
die rigting van jou, die waarnemer, saamgedruk. Die afstande tussen die
golwe verklein, wat ’n verhoging in die frekwensie of toonhoogte tot
gevolg het. Sodra die ambulans wegry, word die klankgolwe relatief tot
die waarnemer gerek, met die gevolglike verlaging in toonhoogte. (Op
’n ietwat ander vlak vir diegene wat ook in die sterrekunde belang
stel: die lyne in die spektrum van ’n ligtende voorwerp soos ’n ster
word eweneens in die rigting van die violet verskuif indien die afstand
tussen die ster en die aarde verklein en in die rigting van die rooi
indien die afstand vergroot. Deur hierdie verskuiwing te meet, kan die
relatiewe beweging van die aarde en die ster bereken word.)
Die
buite-oor bestaan uit die oorskulp—die vlesige flap aan die kant van
die kop wat klankgolwe versamel en in die kop inlei—en die oorkanaal, ’n
deurgang na die middeloor. Aan
die einde van die kanaal is ’n oortrom, wat vibreer wanneer klankgolwe
dit tref. Die
middeloor is ’n kamertjie agter die oortrom. Drie beentjies—hamer ,
aambeeld en stiebeuel—strek daaroor. Die buis van Eustachius verbind
die middeloor met die agterkant van die neus. Dit hou die lugdruk aan
weerskante van die oortrom dieselfde. Vibrasies
van die oortrom loop met die drie klein beentjies langs na die ovale
venster, ’n membraantjie wat na die binne-oor lei. Die
binne-oor bestaan uit die halfsirkelkanale en ’n winding van buise wat
die koglea genoem word. Drie met vloeistof gevulde buise kronkel deur
die koglea. Die onderste deel van die middelste buis is uitgevoer met
sensoriese haarselle wat die orgaan van Corti uitmaak—die eintlike
hoororgaan. Klankvibrasies veroorsaak golwe in die vloeistof en dit stimuleer die haarselle om boodskappe na die brein te stuur. Die brein vertolk hierdie boodskappe as klank. Maar
daar hou dit nog lank nie op nie. Een van die wonderbaarlik-hede van die
brein is dat ’n mens byvoorbeeld klanke as’t ware kan uitfiltreer
wat jy nie wil hoor nie. Jy hoor inderdaad nog al die klanke om jou,
maar stel jou brein op ’n spesifieke klankereeks in wat jou die meeste
interesseer (of irriteer). Gestel
jy bevind jou in ’n kamer waar twee mense gelyk probeer om ’n
gesprek met jou te voer, terwyl ’n derde voor ’n klavier sit en
duidelik kliphard probeer om ’n klassieke komponis se mooiste werk te
verfomfaai. Jy kan nou probeer sin maak uit die kakofonie deur jou ore
"in te stel" op: Hoor!
Hoor! vir klank en die menslike brein wat dit kan interpreteer… |
|||