Die
bouvalle van Groot Zimbabwe
Foto: Zimbabwe
Government
REGS:
Oor die
ruïnes van Groot Zimbabwe in ons eie wêrelddeel is vandag
heelwat bekend, maar dit word ook steeds deur talle raaisels
omgewe.
Toe
Portugese handelaars van ’n aantal eeue gelede die eerste keer
op die uitgestrekte klipbouvalle afgekom het, het hulle gedink
dit moet die hoofstad gewees het van die koningin van Skeba, van
wie in 1 Konings 10:1-13 in die Bybel vertel word.
Die
koningin van Skeba was die besoekende monarg wat met haar baie
groot trek gekom het om speserye, goud en edelgesteentes aan
koning Salomo te skenk. Presies waar Skeba geleë was, word nie
vertel nie, maar hedendaagse geleerdes reken dit moet êrens in
Arabië gewees het. Vir die Portugese van weleer was dit egter
feitlik ’n uitgemaakte saak dat Skeba by die klipkompleks moet
gewees het wat hulle gevind in die suidelik sentrale deel van
die Afrika-staat wat vandag juis die naam Zimbabwe dra.
Toe
ander Europeërs in die negentiende eeu goud en ander artefakte
by Groot Zimbabwe gevind het, het baie weer tot die
gevolgtrekking gekom dat dit die goudland Ofir moet wees waarvan
ook in die Bybel vertel word. Nog ander het gereken die plek se
indrukwekkende klipstrukture was die werk van die ou Egiptenare,
die Fenisiërs of selfs Priester Johannes, 'n legendariese
Christelike heerser wat buite die Islamitiese sfeer in Afrika
sou regeer het.
Sulke
wanopvattings en romantiese gissings het byna vierhonderd jaar
lank die rondte gedoen, totdat hulle vroeg in die twintigste eeu
verkeerd bewys is met opgrawings wat deur die Britse argeoloë
David Randall-MacIver en Gertrude Caton-Thompson gedoen is. Daar
was genoeg getuienis dat Groot Zimbabwe deur niemand anders as
swartmense van Afrika self tot stand gebring is nie.
As
die grootste antieke klipkonstruksie suid van die Sahara, is
Groot Zimbabwe tussen die twaalfde en die vyftiende eeu n.C.
gebou deur voorouers van die Shona, een van die baie
Bantu-sprekende stamme wat vandag in die land Zimbabwe woon.
(Let wel: Bantu is ’n taalkundige term wat ’n groot groep
verwante Afrika-tale aandui. Dit moet nie verwar word met die
gewraakte woord Bantoe, wat vandag deur die swartmense van
Afrika as neerhalend aangevoel word nie.)
Volgens
’n gesaghebbende bron beteken die naam Zimbabwe in die
inheemse tongval “heilige
huis” of “rituele setel van ’n koning”.
Die
ruïnes van Groot Zimbabwe beslaan byna 730 hektaar. As ’n
nedersetting wat op sy hoogtepunt na berekening tot 18 000
inwoners gehad het, bestaan dit uit twee hoofdele. Die meeste
mense het in huise van klei en strooi gewoon wat dig bymekaar
gebou is. Min opgrawings is egter nog hier gedoen sodat
betreklik min bekend is oor hoe die gewone mense eintlik gelewe
het. Daarteenoor was daar ’n groepie hooggeplaastes wat in die
middel van die nedersetting agter hoë klipmure gewoon het, en
baie van die mure staan vandag nog as getuienis van hul eertydse
gesag en status.
Groot
Zimbabwe, waarvan die bouvalle deur UNESCO tot Wêrelderfenisgebied
verklaar is, was die sentrum van ’n ingewikkelde
handelsnetwerk wat baie gemeenskappe in Suidelike Afrika met
mekaar verbind en betrekkinge met Arabiese handelaars aan die
Oos-Afrikaanse kus gehandhaaf het. Trouens, navorsers reken
Groot Zimbabwe was die hoofstad van die groot Monomotapa-ryk,
wat in die Middeleeue die huidige state van Zimbabwe en
Mosambiek tussen die riviere Limpopo en Zambezi oorspan
het. Baie kleiner ruïnes van bouwerke volgens die Groot
Zimbabwe-patroon word dan ook in hierdie wêrelddeel aangetref.
Tog
is daar nog baie omtrent die ruïnes wat in geheimsinnigheid
gehul is. Baie navorsing is dus nog nodig voordat ten minste
’n vae ware prentjie van daardie fassinerende staat van weleer
geteken sal kan word.
|