|
ANNEER
jy jou rekenaar gebruik of jou televisiestel of
woonkamerlig
aanskakel—só vra Eskom êrens op sy webwerf—dink
jy ooit ’n oomblik daaraan dat party van daardie elektrisiteit
deur ’n kernkragsentrale opgewek word?
Wel,
sê Eskom, hier is iets om aan te herkou: kernkrag lewer vandag
sestien persent van die wêreld se elektrisiteit, terwyl die
Koeberg-kernkragsentrale naby Kaapstad die grootste deel van die
Wes-Kaap van krag voorsien en vir nagenoeg 6,5 persent van
Suid-Afrika se elektrisiteit sorg. Trouens, Koeberg speel ’n
kardinale rol om die wiele van die Wes-Kaapse metropool aan die
draai te hou, ’n gebied in ons land wat besonder vinnig groei.
|

’n
Jellievis-speek in
die kernkrag-
wiel...
WAT
het jellievisse te doen met
kernkrag? Niks nie. Maar hulle kan vir kernkrag-
sentrale ’n yslike speek in die wiel steek, soos
Eskom ook ’n tyd gelede by Koeberg ondervind het.
Die
twee groot reaktors kon ’n tydjie teen slegs sestig
persent funksioneer nadat ongewoon baie jellievisse die
seegebied by Koeberg binnegeswem het. Omdat die verkoeling
van die kondensators tagtig ton seewater per sekonde verg,
is baie van die jellievisse ingesuig en teen die filters
vasgekeer.
Dit
het nie die kragsentrale in gevaar gestel nie, maar baie
jellievisse het gevrek. Dit was glo
slegs die tweede keer sedert Koeberg in 1984 in werking
gestel is dat só ’n situasie ontstaan het. |
Eskom
is natuurlik Suid-Afrika se groot landwye elektrisiteitsverskaffer
en die Koeberg-kernkragsentrale is een van sy trotse besittings.
Die sowat twee dekades oue Koeberg-installasie, die enigste
kernaangedrewe kraginstallasie op die vasteland van Afrika,
bestaan uit twee 965-megawatt-reaktors (die totale netto
kapasiteit is 1 840 megawatt).
Wat
basies hier gebeur, is dat radioaktiewe verhitting gebruik word om
water in stoom om te skakel. Die stoom word gebruik om turbines te
laat draai en die turbines draai generators wat elektrisiteit
opwek.
Dan
wag Eskom ook om ’n nuwe, kleiner reaktor van 125 megawatt, wat
teenaan Koeberg lê, in gebruik te stel—’n
hipermoderne uitbreiding hier in die 21ste eeu, waarin helium,
grafiet en keramiek meewerk om die reaktor teen hoër temperature
te laat funksioneer en die energie te verhoog wat in elektrisiteit
omgeskakel kan word.
Die
Suid-Afrikaanse regering is sterk ten gunste van die toekomstige
gebruik van kernkrag in die land. Eskom het bereken dat die vraag
na elektrisiteit in die volgende aantal jare groter gaan wees as
wat ons konvensionele kragsentrales kan lewer. Kernkrag, wat relatief min afval
skep en geen koolstof- of “kweekhuisgasse” vrystel wat die
omgewing kan benadeel nie, het egter die potensiaal om selfs meer
elektrisiteit te lewer as wat benodig sal word.
’n
Kernkragsentrale soos Koeberg is klinies skoon, veral as dit met
die lugbesoedelende steenkool-sentrales vergelyk word. En sy
brandstofverbruik is na verhouding minimaal. Só is al op ’n
keer bereken dat Koeberg binne iets meer as anderhalwe dekade meer
as 81.000 miljoen kWh elektrisiteit
geproduseer het, maar in daardie tyd slegs sewe en 'n halwe ton
uraan verbruik het.
Die kondensators word deur
middel van seewater verkoel, water wat daarna na die see
teruggelei word. Die seewater word nie verbruik nie. In ’n
soortgelyke tydsbestek sal ’n
steenkool-kragsentrale meer as 50 miljoen ton steenkool en 160.000
miljoen liter kosbare varswater verbruik. En dit in ’n
dorsland soos Suid-Afrika waar varswater so uiters skaars is.
KOEBERG
wek reeds langer as twintig jaar elektrisiteit op. Die bou van die
kragsentrale het begin kort nadat ’n kontrak met ’n Franse
konsortium in 1976 onderteken is.
In 1984 het Koeberg kommersieel in bedryf gekom. Die
kernkragsentrale is geleë by Duynefontein, 27 km noord van
Kaapstad aan die Atlantiese kus.
Omdat
kernkrag vir talle bewaringsbewustes so ’n netelige kwessie is,
was heelparty mense reeds van die begin af nie te gelukkig met
Koeberg nie. Daar is selfs beswaarmakers wat aanvoer dat die
kernkragsentrale heeltemal op die verkeerde plek opgerig is. Hulle
beweer dat die gebied op ’n breuk in die aardkors lê waar daar
in die afgelope eeue al tientalle aardbewings was. Kyk nou maar
net na die ernstige Bolandse aardbewing van 29 September 1969 by
veral Ceres, Tulbagh en Wolseley, wat 6,3 op die Richter-skaal
geregistreer het, sê hulle.
Daarteenoor
slaan kenners vure dood. Hulle wys onder meer daarop dat die
Bolandse aardbewing darem ’n taamlike ent weg op die sogenaamde
Worcester-breuk was. En dat die Duynefontein-gebied juis gekies is
omdat dit geologies stabiel is. Dit rus op baie stabiele
Malmesbury-skalie.
Boonop
word die reaktors ingeperk deur betonverskansings wat ’n yslike
een meter dik is en op die koop toe met staal versterk is. Selfs
aardbewings, bomaanvalle en stralers wat dalk daarop sou kon val,
sal werklik nie sommer sulke super-verskansings sodanig kan
versteur dat die Kaapse omgewing aan gevaarlike bestraling
blootgestel sal word nie.
Die
bou van Koeberg is ná ’n deeglike studie hoogs wenslik geag.
Die ekonomiese en industriële ontwikkeling van die omliggende
gebied het ’n groter vraag na krag geskep. Suid-Afrika se
vernaamste steenkoolreserwes en die kragsentrales in Mpumalanga is
1 500 km ver in die noordooste van die land, ’n yslike ent van
die Kaap wat geen steenkoolneerslae het nie. Om sowel steenkool as
elektrisiteit so ver Kaap toe te bring, is ondoeltreffend. Dit is
waarom daar in die middel van die jare sewentig besluit is om
Koeberg te bou.
Boonop
is die koue water van die Atlantiese Oseaan ideaal geskik vir verkoeling—die
kragsentrale gebruik ’n verbasende tagtig ton seewater per
sekonde om sy kondensators af te koel.
STRENG
maatreëls, wat aan rigiede internasionale standaarde voldoen,
word toegepas om met Koeberg se kernafval weg te doen. Die
radioaktiewe afval word volgens drie vlakke geklassifiseer,
naamlik laevlak-afval, tussenvlak-afval en verbruikte
kernbrandstof (hoëvlak-afval).
Laevlak-afval
soos handskoene, oorskoene en ander voorwerpe wat uit die
beheersone van die kragsentrale kom, is net ietwat radioaktief. Dié
soort afval word in 40 kg-staaltromme saamgepers en verseël. Meer
radioaktiewe tussenvlak-afval soos slik en filters uit die primêre
en sekondêre stelsel van die kerninstallasie word met beton
gemeng en in tromme van gegote beton geberg. Nadat die beton
gestol het, word die trom met ’n dik betondeksel verseël.
REGS:
Vertoon-lokaal, Koeberg
Foto: ESKOM
Al
die tromme met die laevlak- en tussen-vlak-afval word per spesiale
trok na die kernafval-bewaarplek
Vaalputs in Namakwaland vervoer en daar begrawe. Die
radio-aktiwiteit van die laevlak-afval verval binne dekades tot
normaliteit, maar die tussenvlak-afval het drie tot vier eeue
nodig om só te herstel.
Die
verbruikte kernbrandstof (hoëvlak-afval) word heeltemal anders
gehanteer. Dié afval bly duisende jare lank uiters radioaktief en
word in spesiale rakke in die brandstofpoel op Koeberg se
terrein geberg. Eskom wil graag hê dat hierdie afval se laaste
rusplek êrens diep onder die aarde moet wees, maar wag op die
regering se finalisering van planne in dié verband.
KOEBERG
se blus is nog lank nie uit nie. Toe die twee reaktors destyds
in gebruik gestel is, is gereken dat die kernkragsentrale net 'n
leeftyd van dertig jaar sou hê. Nou reken kenners dat dit
met gemak na veertig jaar en selfs langer gerek sal kan word.
Sowat
duisend mense werk by die kernkragsentrale, terwyl nog 600
plaaslike werkgeleenthede elders daardeur geskep word.
Onregstreeks sorg Koeberg vir sowat 2.000
werkgeleenthede in die breë Suid-Afrikaanse kernbedryf. In die
nie-nukleêre sektor verskaf sowat honderd plaaslike firmas
toerusting aan Koeberg.
In
’n private wildtuin van 2 200 hektaar wat aan die kragsentrale
grens, kerjakker onder meer bontebokke en duikers saam met meer as
150 soorte voëls—ongerep en ongesteur deur die hipermoderne
kookpot van radio-aktiwiteit, wat agter ondeurdringbare gewapende
beton help om Kaapstad en omgewing, en by uitbreiding die hele
Suid-Afrika, dag en nag aan die gang te hou.
|