U Kaldi
die bokwagter was self ’n bok vir sports. Nadat hy op ’n dag
gesien het hoe sy bokke alte plesierig bokspring—blykbaar omdat
hulle die rooi bessies van ’n sekere blinkblaar-struik gevreet
het—het ook hy van nuuskierigheid aan die rare rooi
opkikkers begin proe-proe.
Kort
voor lank was dit ’n regte bokjol soos Kaldi saam met sy bokke
gedans het. Praat van wilde peuselgoed met woema!
REGS:
Rooi bessies aan die koffieplant.
Foto: Francisco
Osuna / Elan Organic Coffees / U.S. Fish & Wildlife Service
Hierdie
koddige tafereeltjie sou
hom omstreeks 850 n.C. in Ethiopië in Afrika afgespeel het. Kaldi het
’n monnik van sy ervaring met die bessies vertel, wat op sy
beurt ander monnike daaromtrent ingelig het. Spoedig het hulle
vasgestel dat die vruggies gehelp het om hulle wakker te hou
gedurende die lang ure wanneer hulle hul gebede moes doen.
Die
bessies het gekom van wat ons vandag die koffieplant noem.
Mettertyd is die pitte van die bessies gebrand, gemaal en
treksels daarvan gedrink, en só het die gebruik van koffie van
klooster tot klooster versprei, regdeur Ethiopië en van daar af
na die res van die wêreld.
Hierdie
verhaaltjie (wat vandag nog in verskeie variasies vertel word) is bes
moontlik niks meer as ’n romantiese verdigsel nie. Kenners reken
nietemin dat die koffieplant inderdaad eerste deur mense gekweek
is in die Ethiopiese hooglande, waar dit ook wild groei. Afrika
kan dus, benewens as die oorsprong van baie ander dinge, ook as
die wieg van koffie beskou word!
Een
verklaring vir die woord koffie is dan ook dat dit ’n vervorming
is van die naam van die Kaffa-streek in Wes-Ethiopië, waar dit
verbou is.
VAN
die vasteland van Afrika af het die gebruik van koffie na Jemen
versprei, en teen die sestiende eeu is dit in Egipte, Persië,
Tukye en Sirië verbou. Geskiedskywers vertel dat gewildheid van
die brousel gedeeltelik te danke was aan die Islam se
godsdienstige verbod op die drink van wyn. Die eerste
koffiehuise het in Mekka ontstaan en die duisende pelgrims wat
jaarliks hierdie heilige stad van die Moslems besoek het (soos
vandag nog) het die drankie tot ver buitekant Arabië uitgedra.
Handelaars van Venesië het vroeg in die 1600’s die eerste koffie
na Europa gebring—waar dit nie oral geesdriftig ontvang is nie
en deur teenstanders selfs die “bitter uitvindsel van Satan”
genoem is. Ook van die geestelikes het dit afgekeur, en die
omstredenheid was so heftig dat die pous gevra is om in te gryp.
Maar
pous Clemens VIII wou hom nie sommerso teen koffie uitspreek
voordat hy dit darem self geproe het nie. Wat meer sê, hy het
die brousel so geniet dat hy sy pouslike goedkeuring daaraan
verleen het.
Sowat
drie dekades later is ’n koffiehuis of “café” in Venesië geopen.
Koffiehuise het nie net gunsteling-bymekaarkomplekke vir
gesellige verkeer geword nie, maar sakelui het hulle ook graag
besoek, en spoedig het die koffiehuis na ander Europese lande
soos Duitsland, Frankryk, Oostenryk, Engeland en Nederland
versprei.
Die
eerste koffiehuis in Engeland is in 1651 in Oxford geopen—in die
jaar voordat Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het—en
nagenoeg ’n halfeeu later was daar drieduisend koffiehuise in
Londen.
Ook die
Nederlanders se smaak vir koffie het hulle aangespoor om dit in
hul kolonies te verbou. En dit is nogal veelseggend dat die
beroemde boeretroos van die Boere nie van ’n inheemse plant
gekom het nie, maar ’n brousel sou wees wat van ver oor die
water na Suid-Afrika gebring is. Of dalk moet ons dit eerder
beskou as ’n Afrika-drank wat na Afrika teruggekeer het!
|
 |
|
BO:
Engelse koffie-reklame, omstreeks 1654. In die tyd
toe Jan van Riebeeck se manne nog geswoeg het om die
Kaap te tem, kon gesofistikeerde dames en here in
Engeland in die gerief van hul huise lees van die
wonderlike eienskappe van die nuwe drankie uit die
“woestyne van Arabië”—en dit self beproef.
|

BO
en REGS BO: In verskillende wêrelddele—vroue by koffieplante
en (REGS) ’n kind wat besig is om die bessies te sorteer.
Koffie aard goed in sekere Afrika-lande, asook op die
eilande van Java en Sumatra, in die Arabiese wêreld, Indië,
die Wes-Indiese eilande en Suid- en Sentraal-Amerika. Die
Amerikas, waar Arabiese koffie gekweek word, produseer
nagenoeg twee derdes van die wêreldvoorraad.
Foto’s bo en regs bo: USAID; foto regs: U.S. Department
of Labor / ILAB
AS
ons van koffie praat, word nie noodwendig net na die drankie
verwys nie, maar ook na die koffieplant of sy gemaalde
geroosterde sade (koffiebone). Daar is tientalle spesies in
die genus waartoe die koffieplante behoort, te wete die genus Coffea van die familie
Rubiaceae. Die twee wat die
meeste verbou word, is egter Coffea arabica (Arabiese
koffie) en Coffea canephora var. Robusta
(robusta).
’n Mens sou dit nie
dink nie, maar honderde plante word steeds ontdek wat nie vroeër
aan die wetenskap bekend was nie. Só is sewe voorheen
onopgetekende wilde koffiespesies net in 2009 opgespoor, die
meeste van hulle in die berge van Noord-Madagaskar. Na berig
word, het twee van dié spesies, te wete Coffea ambongensis
en Coffea boinensis, die grootste bone van alle
koffiesoorte—meer as twee keer die grootte van die bone van
Coffea arabica.
Bielie
van ’n boon
>
REGS:
’n Knewel van ’n boon van die nuut ontdekte Coffea
ambongensis naas een van die veel kleiner
Coffea arabica. Hierdie en ander vondste is aan
die einde van 2009 deur navorsers van die
Kew- botaniese tuin
in Suidwes-Londen, Engeland, bekend gemaak.
|
 |
Maar
hoe lyk die Coffea-struike nou eintlik? Waar ’n
koffieplant in die trope gekweek word, kan dit ’n welige bos of
’n kleinerige boom van drie, vier meter hoog of selfs hoër vorm.
Robusta-struike groei hoër as die Arabiese tipe, maar die bone
bevat meer kafeïen en die drank word as minder smaaklik beskou.
LINKS:
Nes ander plante word koffieplante ook deur plae geteister, soos
hierdie Mediterreense vrugtevlieg, wat haar eiers lê in die
rypwordende bessies wat die koffiebone huisves.
Foto: Scott Bauer /
ARS / U.S. Department of Agriculture (detail).
Aangeplante
koffieplante lewer hul eerste drag ná drie tot vyf jaar en kan
vyftien of twintig jaar, selfs vyftig jaar of langer, bly vrugte
dra. Die plante het
blink, ovaal blare, en die wit, geurige blommetooi duur slegs ’n
paar dae. Ses of sewe maande later is die bessies ryp, wanneer
hulle van liggroen tot rooi verkleur en soos kersies lyk. Die
ryp vrug bevat gewoonlik twee koffiebone, wat deur ’n soet
vrugvlees omhul word.
DIE
pad van die koffiebessie na jou stommende koppie koffie is
eintlik heel eenvoudig, hoewel ingewikkelder prosesse natuurlik
van plek tot plek in die spel kom.
Basies
word die vrugvlees van die bessies verwyder en net die
koffiebone word behou. Die bone word gelaat om te gis om van die
slymerige omhulsel ontslae te raak. Daarna word die bone gewas,
droog gemaak en gesorteer. Vervolgens word die bone gebrand (“gerooster”).

BO en REGS BO:
Roostering of branding is nodig om die geur van die koffie uit te bring. Dit
affekteer die olie in die bone en verander hul kleur van
groen tot bruin of swart. REGS: ’n Koffiebrander.
Foto links bo:
U.S. Food & Drug Administration (gewysig); foto regs bo: U.S. National
Institutes of Health; foto regs: San Francisco Bay Access
Die
finale stap is om die gebrande bone te maal. Veral vroeër dae
is dit sommer met handmeultjies gemaal, maar in vandag se
koffiewinkels en selfs in meer gesofistikeerde huishoudings word
dit dikwels met elektriese meultjies gedoen. Bone word
vanselfsprekend ook op groot skaal deur groot meulens in
fabrieke gemaal, waarna dit vir die mark verpak word.
Die
uitvinding van kitskoffie vroeg in die twintigste eeu in
Amerika, was ’n ingrypende ontwikkeling in die koffieverhaal.
Kooksels koffie word by die verwerkingsaanleg berei en die water
word daarna uitgedamp sodat net ’n fyn poeier oorbly, wat dan as
kitskoffie bemark word.
Só
beland die koffie dan uiteindelik in jou koppie. Die gemaalde
bone of die verwerkte kitskoffie word met kookwater gemeng, en
melk of romerighede word bygevoeg vir allerhandse soorte
van—volgens die koffieslawe—die heerlikste drankie denkbaar. Nie
verniet dat dit soms “koffie-kapitaal” genoem word nie!

’n Koffiemeul van
omstreeks 1887 (REGS BO) lyk of dit nie veel gemeen kan hê met
die elektriese meul (LINKS BO) nie. Tog is hul eindproduk
dieselfde: lekker gemaalde koffie!
Foto van ou
koffiemeul: U.S. National Parks Service