|
IE grasgroen loof strek ondertoe tot byna
teenaan die water,’’ het Christophorus
Columbus in sy dagboek geskryf nadat hy Kuba in Oktober 1492 vir
die eerste keer gesien het. “... bome al langs die rivier, pragtig
en groen ... met blomme en vrugte volgens hul soorte, en met tallose
voëltjies wat baie soet sing ... Daardie eiland is die skoonste wat
nog deur oë gesien is.’’
Die vyftiende-eeuse Kuba was inderdaad feitlik heeltemal ongerep en
idillies. Dit was slegs bevolk deur mense wat uit Suid- en
Sentraal-Amerika en die suide van Noord-Amerika soontoe verhuis en
in algehele harmonie met hul omgewing gelewe het. Omsoom met
koraalriwwe, hemelsblou baaie en sanderige strande, het die
binneland met hoë berge, welige subtropiese woude, watervalle en
vrugbare valleie gespog.
Dit het Columbus laat verklaar: “Dis nou maar gewis, waar daar so ’n
wonderlike natuurskoon is, moet daar baie dinge wees waaruit ’n
profyt gemaak kan word.’’
Profyt was al waarin die Spaanse veroweraars belang gestel het.
Sowat agttien jaar ná Columbus se ontdekking van die plek het Spanje
Kuba vir homself opgeëis. Daarna is die geskiedenis van die
eilandstaat gekenmerk deur die massamoord op en die verslawing van
die plaaslike bevolking, die totstandkoming van dorpe en goudmyne,
en die verwoesting van woude om vir die plant van suikerriet, tabak,
katoen en kakao plek te maak.
Binne net 130 jaar is feitlik die hele plaaslike bevolking
uitgemoor, so te sê al Kuba se goud ontgin en baie van die
natuurlike plantegroei tot niet gemaak. Maar dit was nog lank nie al
nie...
Van Columbus
tot by Fidel en
Raúl Castro
IN DIE tyd voor Columbus is Kuba bewoon deur
Indiaanse inboorlinge wat dieTaíno en die Cibone genoem is. Diego
Velázquez de Cuellar het in 1511 met die verowering van Kuba
begin, ten gevolge waarvan die land ’n Spaanse kolonie geword het.
REGS:
Moderne akteurs in die drag van die destydse
“conquistadors” (Spaanse veroweraars), wat die Nuwe
Wêreld in hul brute soeke na rykdom binnegeval het ten
koste van die plaaslike volkere.
Foto: U.S. National Park
Service
Mettertyd was die meeste Indiane uitgewis,
waarna die Spanjaarde slawe uit Afrika begin invoer het. Anders as
die res van Spaans-Amerika, sou Spanje Kuba tot in 1898 as kolonie
behou, totdat die Verenigde State die Spaanse kolonisasie beëindig
het..
Die VSA het naamlik die eilandkolonie in die
Spaans-Amerikaanse Oorlog van dieselfde jaar verower en in 1902
formele onafhanklikheid aan Kuba toegeken. Die Amerikaners het
desondanks dekades lank hul duim stewig op hul buurstaatjie gehou.
Kuba het
byvoorbeeld tot 1934 ’n Amerikaanse protektoraat gebly, en selfs
daarna het Amerika meermale militêr daar ingegryp. Dit was bes moontlik
om te verseker dat dié strategies geleë Karibiese staat—met sy
kennelike geneigdheid tot storms en woelinge—nie die Nuwe Wêreld se
stabiliteit bedreig nie.
|
 |
BO: Amerikaanse troepe by
Daiquirí, Kuba, ten tyde van die
inval van 1898.
Foto: U.S. Library of Congress |
|
 |
 |
 |
|
LINKS BO: Fidel Castro
met van sy volgelinge in 1960.
MIDDEL BO: Ernesto “Che” Guevara met ’n
sigaar.
REGS BO: Fidel Castro op sy oudag, op ’n
foto van die Amerikaanse regering.
Foto links bo: U.S. Library of Congress.
Middel bo: foto word in Kuba tot openbare
besit (“in the public domain”) gereken. Regs
bo: U.S. Government. |
In 1952 het Fulgencio Batista vir die
tweede keer diktator van Kuba geword, en in hierdie tyd het die
ambisieuse Fidel Castro op die toneel verskyn, ’n stoere
revolusionêr met sy eie agenda. Ernesto “Che” Guevara, ’n Argentynse
Marxis, het hom by Castro se guerrilla-groep aangesluit en sy eie
ideale verkondig van ’n gewapende stryd wat op die steun van
plattelandse landvolk gegrond was.
Castro het uiteindelik op 1 Januarie 1959
die mag in die land gegryp—net om daarna self as onverbiddelike
diktator byna ’n halfeeu lank te regeer.
Fidel
Castro se omhelsing van die Kommunistiese ideologie was ’n baie seer
doring in die Amerikaners se vlees. Toe hy boonop in die spannende
tyd van die Koue Oorlog erg boetie-boetie speel met die
Kommunistiese supermoondheid die Sowjet-Unie, was dit vir hulle al
erg genoeg.
Maar toe die Sowjet-Unie so ver gaan om
basisse vir die afvuur van kernvuurpyle op Kuba op te rig—reg by die
VSA se voordeur—het die onthutste Amerikaners in 1962 met ’n
ultimatum gereageer wat die wêreld gevaarlik op die rand van ’n
Derde Wêreldoorlog laat huiwer het. Dit word trouens beskou as die
naaste wat ons planeet nog aan ’n verwoestende kernoorlog gekom het.
LINKS:
Oktober 1962 — Amerikaanse skepe isoleer Kuba om te
verhinder dat die Sowjet-Unie voortgaan met sy gewraakte
wapenprogram op die eiland.
Krediet: Webwerf van die
Amerikaanse Vloot / US Navy website
Op die nippertjie het die VSA en die
Sowjet-Unie egter ooreengekom dat die Sowjet-Unie nie langer Kuba as
vuurpylbasis sou gebruik nie en dat die Amerikaners op hul beurt hul
kernvuurpyle uit Turkye sou onttrek, waar dit weer vir die
Sowjet-Unie ’n bedreiging was.
Ná die val van die Sowjet-Unie, in die jare
negentig van die twintigste eeu, was Kuba sy belangrikste
handelsvennoot kwyt, met die gevolg dat die Kubaanse ekonomie in
duie gestort het. Tog het Castro gesorg dat hy stewig in die saal
bly—en die land se probleme is dikwels gewyt aan die Amerikaanse
handelsverbod wat reeds sedert 1961 van krag is.
In die begin van die 21ste eeu het Kuba uit
sy betreklike isolasie gebreek en stewige bande met verskillende
linkse regerings in Latyns-Amerika aangeknoop.
En presies waarheen Kuba nou op pad is, sal
nog gesien moet word. Waar Fidel
Castro byna vyf dekades lank met ’n ysterhand geregeer het, het sy
verswakte gesondheid hom genoop om in Februarie 2008 af te tree en
plek te maak vir sy jonger broer
Raúl Castro.
Raúl is die jongste van die drie
Castro-broers.

LINKS: Raúl
Castro.
Foto: Agência Brasil,
’n openbare Brasiliaanse nuusagentskap.
Gelisensieer ingevolge ’n
Creative Commons
Atribuição 2.5 Brasil-isensie
In sy aanvaardingstoespraak het Raúl Castro
belowe dat sommige van die beperkings verwyder sou word wat die
Kubane in hul daaglikse handel en wandel strem. Volgens ’n amptelike
aankondiging sou ’n verbod op die aankoop van rekenaars, DVD-spelers
en mikrogolfoonde geskrap word.
DIe volgende opmerking van een
ontleder is interessant: “In die nuwe wêreldorde begin selfs die
mees benepe mense blykbaar besef dat dit niemand loon om hom teen
die onstuitbare vooruitgang in die tegnologie te verset nie.”
Intussen het die VSA steeds
deurentyd te kampe met ’n stroom Kubane wat die Amerikaanse droom
najaag en volhardend probeer om onwettig soontoe uit te wyk—op
tuisgemaakte vlotte, per vliegtuig, net om van hul minder
ontwikkelde eilandstaat weg te kom en ’n nuwe lewe in die Verenigde
State te begin. Só het die Amerikaanse Kuswag in die belastingjaar
2006 altesame 2864 mense voorgekeer wat die Straat van Florida wou
oorsteek.
Dit gaan werklik nie so
voorspoedig in hul eie land nie. Soos in die meeste ander plekke is
die sentrale deel van die hoofstad Havana verslete. Daar is ’n tekort
aan huisvesting en verskeie gesinne moet soms in oorvol woonstelle
saamdring. Die Kubane het weinig ekstra geld.
En motors is skaars, want
weinig mense kan dit bekostig. Die meeste Kubane ry fiets. Die min
motors wat nog daar is, is deftige ou Amerikaanse of Russiese
modelle, wat soos poedels vertroetel word. Maar om onderdele te kry,
is omtrent onmoontlik.

BO:
Die sentrale deel van Havana, of La Habana, soos
die Kubane self hul hoofstad en grootste stad
noem. Die vervallenheid is baie duidelik.
Foto: Henryk
Kotowski,
wat dit op
hierdie bladsy
by Wikimedia Commons
op die wêreldwye web geplaas het en
gelisensieer het ingevolge die
Creative Commons
Attribution 2.5-lisensie. Kortom, vrye
verspreiding en wysiging word vergun mits die
lisensiehouer te alle tye erken word.
Geografie
KUBA, in die Karibiese See, is ’n deel van die
Wes-Indiese Eilande. Dit lê omtrent 140 km suid van Florida in die
VSA en dieselfde afstand oos van Mexiko se Yucatan-skiereiland. Die
staat bestaan uit een groot eiland en meer as 1600 kleineres; die
grootste hiervan is die Eiland van die Jeug (Spaans: Isla de la
Juventud), 64 km van die suidweskus. Die totale oppervlakte van
die hoofland en naburige eilande is 110 861 vk. km.
Die hoofstad en grootste stad is Havana, in die noordweste. Santiago
de Cuba in die suidooste is die naasgrootste stad. Buiten die
Eiland van die Jeug word min van die mindere eilande deur mense bewoon.
Sowat 75 persent van die land is laagliggend, met golwende grasvlaktes,
moerasse en sagte hellings. Die res is heuwel- of bergagtig. Kuba
het drie hoofbergreekse, en die meeste van sy sowat 200 strome en
riviere is onbevaarbaar. Daar is talle baaie met sanderige strande
langs die kus, en baie van hulle vorm natuurlike hawens. Die
vernaamste hawens is dié van Havana, Santiago de Cuba, Cienfuegos,
Nuevitas en Guantanamo.
Klimaat en plantegroei
KUBA lê in die noordelike trope en het ’n
subtropiese klimaat met warm somers en matige winters. Tussen
Augustus en Oktober word die eilandstaat soms deur hewige orkane
getref, wat gewasse en geboue erg beskadig en hoë branders teen die
kus laat slaan.
Vanweë Kuba se subtropiese klimaat groei die plante welig. ’n Deel
van die ooste is dig bebos met inheemse bome soos palm-, mahonie-,
ebbehout- en Amerikaanse populier. Ander inheemse plante sluit in
meelpiesangs, mango’s, pynappels, koejawels, turskvye en
grenadellas.
Bevolking en taal
IN die bevolking van 11 423 952 (volgens ’n
raming vir Julie 2008) is daar drie hoofbevolkingsgroepe. Volgens
die sensus van 2002 is 65,1 persent van die mense blank (van Spaanse
afkoms); 22 persent is van gemengde bloed, die nakomelinge van Spanjaarde
en Afrikane, asook van Spanjaarde en Indiane; en 10,1 persent is swart, die
afstammelinge van Afrika-slawe wat na Kuba gebring is om op die
suikerplantasies te werk. Die amptelike taal is Spaans.
Onderwys
ONDERWYS is verpligtend vir alle kinders
tussen ses en veertien. Die onderrig is gratis en leerlinge kry
daagliks warm kos. Daar is drie universiteite in dié eilandstaat.
|
REGS: ’n
Kubaanse “skoolbus”—ná die skooldag gaan hierdie leerders
letterlik met perdekrag huis toe in Santa
Marta, naby Varadero in Kuba.
Foto: Henryk
Kotowski,
wat dit
op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op
die wêreldwye web geplaas het en gelisensieer het ingevolge die
Creative Commons
Attribution 2.5-lisensie. Kortom, vrye
verspreiding en wysiging word vergun mits
die lisensiehouer te alle tye erken word. |
 |
Politiek
INGEVOLGE die grondwet, wat in 1976 aanvaar
is, is Kuba sowel ’n sosialistiese staat as ’n republiek. In wese is
hy egter ’n diktatuur met ’n Kommunistiese Party, lank gelei
deur ’n oppermagtige Fidel Castro, maar nou deur sy broer
Raúl.
Algemene stemreg bestaan, maar binne die wesenlike beperkings
van die stelsel. Kinders van sestien jaar is reeds stemgeregtig.
Ekonomie
DIE ekonomie word deur die regering beheer.
Beperkte welslae is met hervormings behaal. Nadat Fidel Castro die
bewind in 1959 oorgeneem het, het die nuwe regering alle banke,
nywerhede en klein sake genasionaliseer, asook meer as driekwart van
die plaasgrond; die res word privaat besit.
Drie dekades lank het Kuba grootliks staatgemaak op krediete en
subsidies van die gewese Sowjet-Unie. Die beëindiging van massiewe
Sowjet-hulp ná 1991 het dadelik tot ’n verlaging in die
lewenstandaard gelei, en die regering is gedwing om beperkte vrye
inisiatief in sekere handelsektore en dienste toe te laat.
Boerdery: Die landbou is
steeds die ruggraat van die ekonomie. Baie van die krag op plase
word deur trekdiere verskaf.
Die regering bestuur verskeie koöperatiewe
plase, waar boere saamwerk en die winste deel, en staatsplase, waar
boere lone kry maar nie in die winste deel nie. Boere wat grond
besit, kry geldelike hulp, maar mag hul oeste net aan die staat
verkoop. Die grootte van elke plaas is beperk tot hoogtens sowat 67
hektaar. Kuba se vernaamste gewas is suikerriet wat, saam met
onbewerkte suiker, omtrent 80 persent van die land se uitvoer uitmaak.

BO: Suikerriet word êrens in Kuba
geoes—hier vermoedelik nagenoeg sewentig
jaar gelede. Vandag is suiker steeds dié
eilandstaat se vernaamste gewas.
Krediet:
Digitale verkleuring van ’n ou swart-wit
foto waarop daar, sover bekend, geen
kopiereg bestaan nie / U.S. Library of
Congress
Suikerbewerking is ’n belangrike bedryf, met heelparty verspreide
suikermeulens. Die naasbelangrikste uitvoerprodukte is tabak en
tabakprodukte. Anders as die suikerrietplase is die tabakplase
meestal in private besit. Kuba se Havana-sigare is baie bekend.

BO:
’n Tabakland in Pinar del Rio, Kuba.
Foto: Henryk Kotowski,
wat dit op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die
wêreldwye web geplaas het en gelisensieer het
ingevolge die
Creative Commons
Attribution 2.5-lisensie. Kortom, vrye
verspreiding en wysiging word vergun mits die
lisensiehouer te alle tye erken word.
Ander landbougewasse is sitrusvrugte, koffie, pynappels, piesangs,
broodwortel, rys, aartappels, patats, tamaties, mielies, katoen en
jamaikapeper.
In onlangse jare is boerderybedrywighede deur die regering
gediversifiseer. Daar word ook met beeste, skape, bokke, varke,
perde en hoenders geboer.
Bosbou
en vissery: Bome is vroeër in die twintigste eeu
voor die voet afgekap en dit het Kuba se woude verwoes, maar nadat
nuwe aanplantings in 1960 begin is, kan die land waardevolle
houtsoorte soos seder en mahonie uitvoer. Die regering besit ’n
groot vloot van diepsee-vissersbote, maar baie vissers behoort tot
koöperatiewe vissersake, waarin hulle saamwerk en die winste deel.
Mynbou
en fabriekswese: Kuba het verskeie minerale neerslae,
waaronder nikkel, chroom, koper, silwer, yster, mangaan, sout en
kobalt. Die regering besit al die myne. Maar ’n gebrek aan
beleggingskapitaal beteken dat die myne onderontgin is. Die eiland
het voorts groot kalksteenreserwes, wat gebruik word om sement en
kunsmis te maak. Daar is ook klein neerslae ru-olie en aardgas. Kuba
se fabrieksprodukte sluit in die beroemde Havana-sigare, sigarette,
sement, chemikalieë en kunsmis, plaasgereedskap, yster en staal,
papier, skoeisel, klere, rubber en houtprodukte. Raffinaderye omskep
ru-olie in petrol. ’n Belangrike bedryf is voedselverwerking, veral
die verwerking van ruwe rietsuiker, en die vervaardiging van rum.
Buitelandse handel: Voor 1959 het Kuba meestal met die
Verenigde State handel gedryf, maar nadat die regering beslag gelê
het op alle ondernemings en fabrieke wat deur Amerikaners besit is,
het Amerika ’n verbod op handel met Kuba geplaas. Kuba het hom tot
die gewese Sowjet-Unie gewend, wat die Kubane gehelp het deur suiker
teen kunsmatig hoë pryse te koop. Kuba se huidige belangrikste
handelsvennote (volgens beskikbare inligting van 2006) is: Kanada
28 persent, China 27,9 persent, Nederland 11,1 persent en Spanje 4,7
persent.
Godsdiens
VOOR 1959 was die meeste Kubane
Rooms-Katolieke. Maar die revolusionêre regering het hom ten doel
gestel om die mag van die kerk te verbreek. Dit het baie priesters
die land laat verlaat. Beswaarmakers is ook in hegtenis geneem. Die
gevolg was dat daar ’n drastiese afname in die aanhangers van die
Katolieke geloof was. Party Kubane beoefen ’n godsdiens wat Santeria
genoem word, ’n vermenging van Afrika-gelowe en Katolisisme.
Gesondheid
MEDIESE sorg is gratis, en die land het sowat
300 hospitale. Amerikaanse sanksies het egter tot ’n gebrek aan
hospitaaltoerusting en grondstowwe vir medisyne gelei. Daar was
eenmaal ’n ernstige tekort aan dokters in plattelandse gebiede. Om
die wanbalans te herstel, is dokters verplig om twee jaar lank op
die platteland te werk nadat hulle gekwalifiseer het. Klem op
mediese dienste het daartoe gelei dat Kuba mettertyd selfs dokters
kon “uitvoer”, soos na Suid-Afrika. Oor hoe hierdie dokters se
bekwaamhede opweeg
teen dié van ons eie hoogs opgeleide medici, is al baie bespiegel.
Nog feite oor Kuba en
sy mense
HAVANA, of La Habana, soos die hoofstad en
grootste stad van Kuba plaaslik genoem word, het sy bestaan te danke
aan die baie skepe wat deur die eeue heen in die uitmuntende hawe
skuiling gesoek het. Teenoor die afgetakelde en oorvol woonstelle in
die sentrale deel, het die ouer dele van Havana en ander stede en groot
dorpe pragtige ou koloniale geboue met smeedyster-balkonne en mooi
versierings in pleisterkalk. Die meeste is nietemin vreeslik vervalle.
• Sedert 1993 word ’n sekere mate van vrye handel toegelaat,
wat moderne kitskos-kettingwinkels op die groter plekke laat verrys
het. Die mense sou daarna lang toue vorm om ’n kans te kry om
hierdie nuwe en opwindende manier van eet te beproef.
• Kuba is bekend vir sy talle skouspelagtige kalksteengrotte.
• Die Kubane is lief vir karnavalle en ander feestelikhede.
Hul kultuur is ’n ryke vermenging van Afrika- en Spaanse tradisies.
|