|
Toonaangewende
lande van die wêreld (1): Brittanje Die
Britse verhaal is dié van ’n klein eilandjie wat die wêreld se
magtigste staat geword het—en toe weer van sy mag moes prysgee. Op
sy toppunt het die Britse Ryk oor ’n kwart van die aarde se oppervlak
gestrek. Vandag
is dit steeds ’n gesogte land vir mense uit baie wêrelddele—ook vir
duisende Suid-Afrikaners wat in die jongste tyd hul heil daar gaan soek
het... |
|
|
Teks
gedeeltelik uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld; opdatering deur
Mieliestronk.com
RITTANJE
... die naam beteken soveel verskillende dinge vir verskillende mense. Vir
’n vorige geslag van Afrikaners was dit dié van ’n onwelkome
veroweraar—die land van die tommies en die imperialiste met hul politiek
van magsuitbreiding en wêreldheerskappy. Só word egter lank nie meer hier aan Brittanje gedink nie. Die invloed van die Britse kultuur op die Suid-Afrikaanse lewenswyse was immers so verrykend dat ’n mens jou kwalik ons land sonder al die enorme Engelse bydraes kan voorstel. Wat meer sê: dat ’n eilandstaat so klein soos omtrent twee derdes van ons Noord-Kaap—of ietwat groter as die Vrystaat en KwaZulu-Natal tesame— soveel invloed kon uitoefen dat hy die Engelse taal as dié groot wêreldtaal kon vestig, is al genoeg rede om die Britse ondernemingsgees met die grootste agting te bejeën.
Foto: NASA Maar hoe dink, sê nou maar, die toeris vandag aan Brittanje as ’n land? Daar is ewe veel sienswyses vanweë die groot verskeidenheid wat dit bied.
Vir
liefhebbers van die stadslewe is dit byvoorbeeld ’n plek van groot rooi busse,
patrollerende konstabels genaamd "bobbies", helderrooi posbusse,
moltreine, die Buckingham-paleis met die omruiling van die wagte, inkopies
by Harrods... Vir
dié wat van ’n stiller lewenswyse hou, is dit bekoorlike dorpies met
strooidakhuise wat teen groen heuwels aanvly of tussen die varings skuil,
’n kerk uit klip gebeitel en "Bed and Breakfast" om elke draai. Vir
die voetslaner roep Brittanje weer tonele voor die gees van golwende vlaktes
met brûe oor bruisende strome, silwer mere, wit skape op groen velde,
heinings gedrapeer met blomme, herte en Europese ratels
("badgers") wat rondskarrel. En vir die navorser is daar die
kastele uit die dae van die ou Noormanne, die bouvalle van forte wat die
Romeine gebou het, pragwonings met die kosbaarste skatte... Brittanje
het so baie fasette—sy skoonheid, sy geskiedenis, sy baie prestasies in
die kunste en op wetenskaplike en staatkundige gebied—dat ’n beskrywing
van alles nie net boekdele nie, maar hele biblioteke sal vul. DIE
Britse verhaal is dié van ’n klein eilandjie wat die wêreld se magtigste
staat geword het—en toe weer van sy mag moes prysgee. In
die agttiende eeu het die Britte die Industriële Omwenteling begin en
Brittanje die wêreld se rykste fabrieksland gemaak. Hulle het die seë
beheers en was die grootste handelaars op aarde. Teen 1900, ten tyde van die
Anglo-Boereoorlog, het die Britse Ryk oor sowat ’n kwart van die wêreld
gestrek. Toe kom die twintigste eeu—en die skokke van twee verlammende wêreldoorloë. Met die een ekonomiese krisis ná die ander het die ryk begin verbrokkel. Vandag is die Verenigde Koninkryk steeds ’n toonaangewende nywerheids- en handelsland, maar nie langer die supermagtige wêreldmoondheid wat hy eenmaal was nie. Nogtans maak Brittanje steeds sy stem dik op die internasionale toneel. As een van die vyf permanente lede van die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies (saam met Amerika, Rusland, Frankryk en China), is hy geen tandelose bulhond op die wêreldverhoog nie. Hieronder word die land verder onder verskillende hofies beskryf. •
AMPTELIKE NAAM: Die Verenigde
Koninkryk van Groot-Brittanje en Noord-lerland. Baie
mense weet dit stellig nie, maar die "Great" in " Bretagne, oorkant die Engelse Kanaal, is ’n westelike skiereiland van Frankryk, vroeër ’n onafhanklike hertogdom, wat sowat 240 km ver in die Atlantiese Oseaan in die see insteek. Die Romeine het die skiereiland in 56 v.C. binnegeval en daarna het dit ’n Romeinse provinsie geword. In die vyfde en sesde eeu n.C., nadat die Romeine hulle onttrek het, het baie Britte (Keltiese inboorlinge van Brittanje), wat gevlug het vir die Germaanse Angele en Saksers wat hul vaderland binnegeval het, hulle in Noordwes-Frankryk gaan vestig. Hulle het die gebied Brittanje genoem, om dit te onderskei van Groot-Brittanje ("Grande Bretagne"). •
GEBIED: Altesaam 244
820 vk. km (sluit 3 230 vk. km water en die eilande Shetland en Rockall in). Die
kuslyn strek oor 12 429 km. • SAMESTELLING: Die Verenigde Koninkryk, ook bekend as Groot-Brittanje of Brittanje, bestaan in werklikheid uit vier lande wat onder een regering verenig is, naamlik Engeland, Skotland, Wallis en Noord-lerland. Engeland het al sedert die tiende eeu n.C. as ’n verenigde entiteit bestaan; die eenwording van Engeland en Wallis, waarmee in 1284 ’n begin gemaak is met die Statuut van Rhuddlan, is eers in 1536 met ’n unifikasiewet geformaliseer. In nog ’n unifikasiewet het Engeland en Skotland in 1707 ooreengekom om permanent as Groot-Brittanje te verenig.
Die wetlike vereniging van Groot-Brittanje en Ierland is in 1801 geïmplementeer, toe die naam die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Ierland aanvaar is. Met die Anglo-Ierse verdrag van 1921 is ’n verdeling van Ierland geformaliseer. Ses Noord-Ierse graafskappe het as Noord-Ierland ’n deel van die Verenigde Koninkryk gebly, en die huidige naam van die land, te wete die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Noord-Ierland, is in 1927 aanvaar. Die tyd toe daar gesê is dat die "son nooit ondergaan oor die Britse Ryk nie" (omdat Brittanje soveel kolonies en besittings regom die aardbol gehad het) is lankal verby.
Ver
en naby is daar darem nog flentertjies van ’n verlore glorie oor. Die
eilande Guernsey, Jersey en Man is kroonafhanklikes, wat beteken dat hulle
met Brittanje verbind, maar nie deel daarvan is nie. Daar is ook etlike
ander afhanklike gebiede, soos die Falkland-eilande en die eiland St.
Helena. Maar
Brittanje het vermoënd en vooruitstrewend gebly, selfs sonder sy wêreldryk. Die land het
nie verniet alles nie, van ryke kultuurgoed tot natuurprag. Só is Skotland die wêreld
van die legendariese held en koning Robert the Bruce — van die vleisgereg
haggis, van doedelsakke en Skotse whisky en die geruite wolstof tartan. Dan
is daar Wallis met sy steil berge en beknopte steenkoolmyndorpies, en
Noord-lerland met sy onstuimige politiek, skouspelagtige
kustonele
en bisarre rotsformasies. En
Engeland. Met die wit kranse van Dover. Met reëndeurdrenkte dorpies en
antieke klipkerke en die universiteite van Oxford en Cambridge. Met swaar
Devonshire-aksente. Met roomryke tee. Hoewel baie van die stede oorbevolk raak en fabrieke die omgewing besoedel, het Brittanje hier in die begin van die 21ste eeu nog baie van die geroemde prag wat digters van weleer geïnspireer het tot van die mooiste poësie wat ooit geskryf is.
Foto: GSFC / NASA
•
HOOFSTAD: Londen (dis ook die
grootste stad). •
VLAG: Die Union Jack, wat in 1801
amptelik aanvaar is. •
AMPSTAAL: Engels. Ander tale wat
gepraat word: Wallies
(sowat 26% van die bevolking van Wallis), Skotse vorm van Gaelies
(ongeveer 60 000 in Skotland). •
VOLKSLIED: God Save the Queen (of
King). •
BEVOLKING EN AFKOMS:
60 609 153 (raming vir Julie 2006 ). Die verskillende
bevolkingsgroepe is blankes 92,1% (onder wie Engelse 83,6%, Skotte 8,6%,
Wallissers 4,9%, Noord-Iere 2,9%), swartes 2%, Indiërs 1,8%, Pakistani’s
1.3%, gemengd 1,2% en andere 1.6% (volgens die sensus van 2001). Die
meeste Britte is afstammelinge van talle vroeë volkere wat Brittanje
binnegeval het. Dit sluit die Kelte, Romeine, Angele, Sakse, Skandinawiërs
en Noormanne in. Sedert die laat vyftigerjare van die twintigste eeu het
swerms immigrante uit Statebondslande hulle daar gaan vestig. In die jare
sestig het Brittanje die jaarlikse immigrante-groei streng begin beperk.
Baie Suid-Afrikaners wat tans in Brittanje is, is jong mense met tydelike
permitte om daar te mag werk. •
GODSDIENSTE: Christelik
(Anglikaans, Rooms-Katoliek, Presbiteriaans, Metodisties)
71,6%, Moslem 2,7%, Hindoe 1%, ander 1,6%, ongespesifiseer of geen 23,1%
(2001-sensus). •
REGERING: ’n Konstitusionele
monargie. Die parlement bestaan uit ’n Hoërhuis en Laerhuis. Die monarg
(tans koningin Elizabeth II)
is
die staatshoof, maar die uitvoerende gesag setel in ’n kabinet van
ministers. Die monarg stel ’n premier aan, wat die leier van die
meerderheidsparty in die Laerhuis is.
Foto: NASA (ietwat gewysig) Die Britse
Hoërhuis
(House of Lords) bestaan
uit nagenoeg 500 lords met nie-oorerflike titels, 92 lords met erftitels en
26 geestelikes. In die Britse Laerhuis (House of Commons) is daar sedert die
verkiesing van 2005 altesame 646 setels. Lede van die Laerhuis word deur
algemene stemreg vir ’n termyn van vyf jaar gekies, tensy die Laerhuis
voor die tyd ontbind. Koningin Elizabeth
II is al sedert 6 Februarie 1952 die staatshoof. Die troonopvolger is haar
seun prins Charles, wat op 14 November 1948 gebore is. •
BUITELANDSE SAKE: Brittanje
is een van die vyf permanente lede van die Veiligheidsraad van die Verenigde
Nasies en ’n stigterlid van sowel die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie
(NAVO) as die Statebond. Die land kyk nog die kat uit die boom oor hoe en of
hy moet integreer met ’n kontinentale Europa wat ál meer na vereniging
neig. Tot dusver het die Britte vasgeskop en byvoorbeeld nog nie die euro as
die amptelike geldeenheid in die plek van hul pond aanvaar nie. •
GEOGRAFIE: Hoofstreke van die Verenigde Koninkryk:
(1)
Die Skotse Hooglande ("Highlands"), ’n streek van berge,
plato's en valleie in Noord-Skotland. Die hooglande is meestal ’n heiveld,
met ru-gras, ’n paar klein boompies en laaggroeiende, immergroen Skotse
heidestruike. Die hoogste punt op die Britse eilande is hier geleë—Ben
Nevis (1343 m). (2)
Die Sentrale Laaglande, suid van die Skotse Hooglande. Dit bestaan
uit sagte, golwende vlaktes
en
bevat Skotland se beste plaasgrond en rykste steenkoolneerslae. (3)
Die Suidelike Hooglande ("Uplands"), suid van die Sentrale
Laaglande—’n streek van golwende heuwels waar skape wei. In die suide is
die Cheviot Hills, wat die grens tussen Skotland en Engeland vorm. (4)
Die Penniniese gebergte (Pennines), ’n hooglandstreek met ryk
steenkoolneerslae teen die hange. Na die weste lê die beroemde Merestreek
("Lake District"). (5)
Wallis, wat meestal deur die Kambriese Gebergte oordek word. Die
meeste mense woon op die smal kusvlaktes of in die diep, groen valleie van
Suid-Wallis, aangesien die res van die land te steil vir gesaaides is.
Wallis het groot steenkoolneerslae in die suide.
(7)
Die Engelse Laaglande beslaan die hele Engeland suid van die Pennines en oos
van Wallis en die Suidwestelike Skiereiland. In hierdie streek is die meeste
van Brittanje se bewerkbare plaasgrond, fabrieke en mense. Die laaglande
bestaan meestal uit breë, sag golwende vlaktes, hier en daar onderbreek
deur lae heuwels en bulte. Die land is meestal ’n lappieswerk van velde en
weilande, begrens deur hoë hegge, klipheinings of rye bome. In
die middel van die Engelse Laaglande is ’n grasvlakte wat die Middelland
(die "Midlands") genoem word. Hier is die industriële hart van
Brittanje en lê stede soos Birmingham en Wolverhampton. Suid van die
Middelland strek ’n reeks heuwels en valleie na die vallei van die
Teemsrivier. Londen, die Britse hoofstad en groot handel- en kultuursentrum,
lê aan dié rivier. Suid van die Teems is lae krytheuwels en valleie, wat
groot wit kranse vorm waar hulle en die
see
mekaar ontmoet. Die beroemdste rotswande is naby Dover.
Foto met vergunning van Dover District Council (8)
Noord-lerland vorm die agtste streek. Dit is ’n wêreld van lae berge,
diep valleie en vrugbare laaglande. Die vernaamste natuurlike hulpbronne is
ryk landerye en weilande, en die land word meestal vir gesaaides of vee
gebruik. Sowat ’n vyfde van die Noord-Iere woon in die hoofstad, Belfast. •
KLIMAAT: Brittanje het ’n
gematigde klimaat. Dit word deur die Golfstroom beïnvloed, ’n warm
seestroom wat uit die Golf van Mexiko kom en al langs Noord-Europa vloei.
Gereelde suidwestewinde waai oor hierdie stroom en bring warmte in die
winter. In die somer is die seewater koeler as die land. Die winde waai oor
die water na Brittanje as verkwikkende briese. In Brittanje reën dit die
hele jaar, en dit gebeur selde dat enige deel van die land langer as drie
weke geen reën kry nie. •
RIVIERE EN MERE: Die langste
riviere is onder meer die Severn (354 km) en Teems (346 km). Baie Britse
riviere het breë mondings waarin die seegetye opstoot. Dit vorm uitstekende
hawens. Bristol, Hull, Liverpool, Londen en Southampton is van die
belangrike hawens wat aan of naby sulke mondings lê. Lough
Neagh in Noord-lerland is die grootste meer van die Britse eilande. Dis
sowat 29 km lank en ongeveer 18 km breed. Loch Lomond in Skotland is die
grootste meer op die eiland van Groot-Brittanje en is nagenoeg 35 km lank en
7,2 km op sy breedste. • EKONOMIE: Die Verenigde Koninkryk, ’n toonaangewende handelsmoondheid en finansiële sentrum, is een van die vyftal makro-ekonomieë van Wes-Europa. Die belangrikste bedrywe is dié van yster en staal, motorvoertuie, elektronika en elektriese ingenieurswese, tekstielware en klerasie, vliegtuie en verbruikersgoedere. Die Britse nywerhede steun swaar op ingevoerde onverwerkte materiaal. Daarbenewens is die landbou intensief, hoogs meganiseerd en word sowat 60% van die voedselbehoeftes met minder as 2% van die arbeidsmag geproduseer. Die ekonomie is een van die sterkstes in Europa, en inflasie, rentekoerse en werkloosheid bly laag. Die
land is selfonderhoudend wat petroleum (uit die Noordsee) betref en het
belangrike reserwes van aardgas en steenkool, ofskoon die steenkoolbedryf
kwyn namate die lae in tradisionele ontginningsgebiede onekonomies raak. Aangesien
Brittanje so ’n vername handelsland is, is Londen dan ook een van die wêreld
se toonaangewende bank-, finansiering- en versekeringsentrums, en die
"onsigbare verdienstes" uit hierdie dienste lewer ’n belangrike
bydrae tot die uitvoere. Toerisme is nog ’n groot verdiener van valuta. Wat
boedery aanbetref, word
meestal met skape en beeste geboer. Saaiboerdery word veral in die ooste
beoefen, waar die vernaamste gewasse gars, koring, aartappels en suikerbeet
is. Baie Britse boere pas gemengde boedery toe, dit wil sê hulle verbou
verskillende gewasse, maar boer ook met vee. |
|