|
Nederland Blommesee agter die dyke
Toonaangewende lande van die wêreld (3): Koninkryk van die Nederlande
Nederland... seë van blomme onderkant seevlak. As blommetooi ’n Olimpiese sport was, het iemand al gesê, sou dié land loshande al die medaljes gewen het. En vir die Nederlanders is blommekwekery inderdaad ’n wetenskap. Die kosbare bloemen word nougeset versorg, en gedurig word getrag om spesies te veredel en nuwe soorte te skep. Maar soveel vlyt verwag jy mos van ’n volk wat hul eie land geskep het—deur dit stuk-stuk oor eeue heen van die see af te rokkel...
Foto bo: U.S. Government Export Portal
Hoofteks
uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld; opdatering deur
Mieliestronk.com Kaart
hieronder uit World Factbook vsn die CIA, wat dit tot openbare besit
verklaar het Hier
woon die Nederlanders. Arbeidsaam en welvarend. Kwekers van tulpe en
bouers van dyke en volhardende vegters teen die see. Sedert
die Middeleeue moes die mense van Nederland teen die see se waters
stry om grond en weilande te herwin ten einde hul alte klein landjie
te vergroot. Vandag is meer as twee vyfdes van Nederland grond wat eers onder water was.
Die
blote naam Nederland vertel ’n mens reeds dat dit ’n land is wat
laag lê. (Die Holland waarvan baie mense praat, is nie regtig
Nederland nie, maar slegs ’n gebied aan die Nederlandse weskus.) Die
land is werklik een groot vlakte. Die gemiddelde hoogte is slegs
sowat 12 m bokant seevlak, en ’n groot deel van die land sou met
elke springgety oorstroom gewees het as dit nie vir die
indrukwekkende stelsel van dyke was wat oor honderde jare gebou is
nie. Hier keep strome en kanale deur landerye vol helder tulpe, met windmeulwieke wat stadig in die seebries wentel. Netjiese dorpies lê gesprinkel oor die land. Dis ook ’n wêreld van prettige volksfeeste en Middeleeuse kastele.
Suksesvol
in die landbou, fabriekswese, handel en verskeping, geniet die
Nederlanders ’n hoë lewenstandaard. En
hulle is beroemd vir hul netheid. Hoewel hul klein landjie een van
die digs bevolkte lande ter wêreld is, het die vlyt en trots van
die Nederlandse volk dit vry gehou van die smerige toestande wat in
ander oorbevolkte lande voorkom. •
AMPTELIKE NAAM: Koninkrijk
der Nederlanden. •
OPPERVLAKTE: 41 785
km (binnelandse water ingesluit). •
HOOFSTAD:
Amsterdam, hoewel die regering en administrasie in Den Haag gesetel
is. •
VLAG: Die huidige vlag is
omstreeks 1630 in gebruik geneem. •
AMPTELIKE TAAL:
Nederlands. (Fries word in die noordelike provinsie Friesland
gepraat.) •
VOLKSLIED: Wilhelmus
van Nassouwe. •
MUNT: Die
euro is ’n aantal jare gelede in die stad Maastricht in
Suid-Holland gebore toe ’n verdrag te dien effekte onderteken is.
In Januarie 2002 het die Nederlanders finaal vaarwel gesê aan hul
ou gulde, waarvan die wortels tot doer in die Middeleeue strek. Die
"pyn" is darem versag deurdat die Nederlandse regering agt
euro-muntstukke pasella aan almal bokant ses jaar gegee het om hulle
met die nuwe geld vertroud te maak. •
BEVOLKING: 16 491 461,
volgens ’n raming vir Julie 2006. Kort voor die jongste
eeuwisseling is bereken dat daar 83% Nederlanders en 17% mense van
ander nasionaliteite in die land is (van wie 9% van nie-Westerse
oorsprong is, meestal Turke, Marokkane, Antilliane, Surinamers en
Indonesiërs). • GODSDIENSTE: Rooms-Katoliek 31%, Nederlands Gereformeerd 13%, Calvinisties 7%, Moslems 5,5%, ander 2,5%, geen 41% (2002). Dat daar so ’n groot persentasie nie-gelowiges in die land is, is uiteraard vir baie Christene kommerwekkend. •
REGERING: Nederland is ’n
konstitusionele monargie met ’n demokratiese regering. Die 75 lede
van die Eerste Kamer van die State-Generaal word vir ’n termyn van
6 jaar deur die 12 provinsiale rade gekies—met die helfte van die
lede wat elke 3 jaar uittree. Die 150 lede van die Tweede Kamer word
vir 4 jaar gekies by wyse van algemene volwasse stemreg volgens ’n
stelsel van proporsionele verteenwoordiging. Die staatshoof, wat ’n
koning of koningin kan wees (tans koningin Beatrix), stel ’n
eerste minister aan, wat die meeste steun in die State-Generaal
geniet. Die eerste minister stel op sy beurt ’n kabinet saam. •
AFHANKLIKE GEBIEDE: Aruba,
’n Karibiese eiland, en die Nederlandse Antille, twee eilandgroepe
wat ook in die Karibiese See lê, vorm ook deel van die Koninkryk
van die Nederlande. •
GEOGRAFIE: Daar is vier
hooflandstreke en ’n delta. []
Die Duine. Hierdie
sanderige gebied, tussen 4,6 en 7,6 m bokant seevlak, kan nie veel
plante of boerdery onderhou nie. []
Die
Polders
lê meestal onderkant seevlak en word deur sandduine of deur dyke
teen die see beskerm. Hierdie gebied beslaan meer as twee vyfdes van
die land. []
Die
Sandvlaktes.
Vir die grootste gedeelte minder as 30 m bokant seevlak, bestaan dit
uit vlaktes met sandbulte wat ’n golwende landskap skep. Die grond
is onvrugbaar, rnaar bemesting maak landbou moontlik. []
Die
Suidelike Hooglande
is die hoogste van die landstreke. Die hoogste punt, Vaalserberg
(321 m), is naby Maastricht. Die grond is vrugbaar en geskik vir die
kweek van vrugte. []
Delta.
’n Groot deel van die suidwestelike deel van Nederland bestaan uit
eilande en skiereilande in die Noordsee. Hierdie moerasagtige
gebiede lê in ’n delta wat deur die riviere Maas en Schelde en
takke van die Ryn gevorm word. Die
Nederlandse kus is egter reguit gemaak deur seewerings wat Zeeland
in die suidweste beskerm, asook die afsluiting van die IJsselmeer in
die Noorde. •
RIVIERE: Die 950 km lange
Maas en die Ryn van 1320 km is belangrike waterweë. Kanale verbind
hulle met ander riviere en kanale om ’n vervoernetwerk te vorm. •
KLIMAAT: Die land het ’n
gematigde seeklimaat, met koel somers en milde winters. Daar is
geen
berge wat die winde keer nie, met die gevolg dat daar nie groot
klimaatsverskille tussen die verskillende streke is nie. •
EKONOMIE: Hoewel hulle min
natuurlike hulpbronne het—met die uitsondering van aardgas—is
die Nederlanders welvarend. Die landbou en tuinbou is hoogs
gemeganiseer met die klem op suiwelboedery en kweekhuis-gewasse,
veral blomme. Kosverwerking
is ’n belangrike bedryf, en die land is ’n toonaangewende
uitvoerder van kaas. Die vervaardigingswese sluit chemiese aanlegte,
petroleumraffinaderye en metallurgiese en elektriese ingenieurswerke
in. Onverwerkte stowwe word ingevoer deur Rotterdam, die grootste
hawe ter wêreld, wat ook ’n groot deel van Wes-Europa bedien. Die
bank- en geldwese is goed ontwikkel.
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |