|
|
|||
|
SOOS
’n knewel van ’n stewel— só sit hy mos daar onderaan Europa. Dan mik
hy boonop om ’n voetbal (Sicilië) tot diep in die Middellandse See te
skop! En
praat van ’n ryke verskeidenheid. Italië het dit. Van sonnige strande
tot granietberge met sneeu op die kruine, van velde tot vulkane... om
van sy klassieke kunsskatte nie eens te praat nie. Wit huise wat hurk teen rotsagtige steiltes; die ruïnes van ou vestings; opelug-restaurante; die kleurrykste stede soos Rome, die middelpunt van die antieke wêreld, of Florence, setel van die Renaissance-kunstenaars, of Venesië, die stad op water.
BO:
Florence, die setel van die ou
Foto: GSFC / NASA
BO:
’n Ruimtefoto van Venesië,
Foto: ESA, PROBA / GSFC / NASA
Dan
is daar ook nog Assisi, die tuiste van die heilige Franciscus, of
Pompeji, waar ons vandag steeds kan sien hoe die Romeine byna
tweeduisend jaar gelede gelewe het. Noem maar op. Geen
wonder die beroemde Engelse skrywer Charles Dickens is tydens sy reise
geïnspireer om van Italië se "full and awful grandeur" te
skryf nie... •
AMPTELIKE NAAM: Repubblica Italiana (Italiaanse
Republiek). •
OPPERVLAKTE: Altesaam 301 230 vk. km (sluit Sardinië and
Sicilië in). Die landoppervlakte is 294 020 vk. km, terwyl 7210
vk. km water is. • HOOFSTAD: Rome. Dit is ook die land se grootste stad en, vir toeriste, een van die gewildste stede in Europa. Twintig eeue gelede was dit die sentrum van die magtige Romeinse Ryk.
BO: Bouvalle in Rome van die Romeinse Forum, waar die groot Romeinse volksvergaderings destyds plaasgevind en sprekers die skare van rostra af toegespreek het. Dit was ’n gebouekompleks van tempels, seremoniële boë en openbare geboue—die politieke, godsdienstige en kommersiële sentrum van ou Rome.
•
VLAG: Die Italiaanse vlag is deur Napoleon ontwerp. Hy het die
blou van die Franse vlag deur groen, sy gunsteling-kleur, vervang. Dit
is die eerste keer in 1796 gebruik deur Italiane wat hom gesteun het. •
AMPTELIKE TAAL: Italiaans. Ander tale:
Minderhede praat
onder meer Duits, Frans, Sloweens, Grieks en Albanees. •
VOLKSLIED: Fratelli d'ltalia (Broers van Italië). •
MUNT:
Die euro. Die einde van die lire (sedert 1860) is in
Januarie 2002 met ’n groot vuurwerkvertoning in Rome gevier— en baie
Italiane het ’n sug van versugting geslaak oor die laaste sien van die
blikkantien. Hul verwarrende geldnote was maar altyd gelaai met hopeloos
te veel nulle, soseer dat omtrent elkeen in die land ’n "miljoenêr"
kon wees! • BEVOLKING: Volgens ’n raming vir Julie 2006 was die bevolking 58.133.509, terwyl daar sowat sestien jaar vroeër, in 1990, ’n geraamde 57. 380. 000 mense was—die toename was dus baie opmerklik kleinerig oor ’n betreklike lang tyd. Wat meer sê, sedert die middel van die tagtigerjare het Italië se bevolking kwalik ’n beduidende jaargroei getoon. Ál minder gesinne het meer as twee kinders. Sowat
98 persent van Italië se mense is etniese Italiane. ’n Aantal Duitsers
woon in die Trentino-Alto Adige-streek en Slowene in die Trieste-gebied.
Daar is ’n aantal Franse in die D’Aosta-valleistreek. • GODSDIENS: Sowat 90% is Rooms-Katoliek (sowat ’n derde is getroue kerkgangers); daar is ook Protestantse en Joodse gemeenskappe en ’n groeiende immigrante-gemeenskap van Moslems. •
REGERING: Italië het ’n parlementêre demokrasie. Die staatshoof
is die president, wat vir sewe jaar verkies word. Hy (of sy) mag die
parlement ontbind en nuwe verkiesings uitskryf. Hy is ook die
bevelhebber van die weermag en kan oorlog verklaar. Die president stel ’n premier aan, wat
’n regering saamstel. Die parlement het twee huise
wat vir vyf jaar gekies word: die Senaat en die Kamer van
Afgevaardigdes. Elk van die twintig streke van Italië het sy eie
streekregering. •
GEOGRAFIE: Italië het agt streke: (1)
Die Alpynse Hang, wat oor die noordelikste deel van Italië loop. Dit
bestaan uit groot berge en diep
valleie,
bedek met woude van beuke-, eike en kastaiingbome op die laer vlakke, en
grasvelde en naaldboomwoude hoër op. Net lae bosse groei verder boontoe
en op die hoogste bergkruine is slegs rotse en gletsers.
Hidroëlektriese installasies langs Alpynse riviere lewer die meeste van
Italië se elektrisiteit. Die mense van die Alpynse streek woon in
klein, verspreide gemeenskappies en is landbouers en herders. Die Alpe
lok ook baie skiërs. (2)
Die Po-vallei is ’n breë vlakte tussen die Alpe in die noorde en die
Apennyne in die suide. Waterweë wat gevoed word deur smeltende sneeu
uit hierdie berge, deurkruis die valleie en loop in die Po-rivier. Die
Po-vallei is die rykste en modernste landboustreek in Italië en byna al
sy grond word bewerk. Dit is ook Italië se digs bevolkte gebied, met
baie stede en steeds meer nywerheidsvoorstede. Stede sluit in Milaan en
Turyn. (3)
Die Adriatiese Vlakte is ’n klein strekie noord van die Adriatiese See.
Die oostelike helfte, die Carso-plato, is ’n kalksteengebied waarop daar
nie geboer kan word nie. (4)
Die Apennyne loop byna dwarsdeur die lengte van Italië. Die noordelike
dele bevat baie weiveld en van die grootste woude in die land. Die
sentrale dele het vrugbare plaasgrond en weilande. In die suidelike
Apennyne is die armste deel van Italië, van Molise tot Calabria. Sy
plato's en hoë berge bied min natuurlike hulpbronne. (5)
Apulië en die Suidoostelike Vlakte vorm die "hak" van die
stewelvormige Italiaanse skiereiland. Hierdie streek bestaan uit plato's
wat as kranse in die Middellandse See eindig.
Dit het baie groot landgoedere en lewer meer olyfolie as enige ander
Italiaanse streek. Vissery is belangrik langs die kus. Bari en Taranto,
twee hawestede, is die vernaamste nywerheidsentrums. (6)
Die Westelike Hooglande en Vlaktes strek langs die Tirrheense See van La
Spezia, ’n hawestad net suid van Genua, suidwaarts verby Napels en
Salerno. Dit is ’n ryk landboustreek, wat met produksie net deur die
Po-vallei oortref word. Die
noordelike deel sluit die ryk heuwelwêreld van Toskane en Umbrië in.
Hierdie gebied is veral bekend om sy graan en vee. Die suidelike deel
sluit Rome en Napels in. Die vlakte langs die kus is dig bevolk. In
die warm klimaat van die kusvlaktes kweek die boere appelkose, kersies,
suurlemoene, perskes en groente. Wingerde is oral. (7)
Sicilië word deur die Straat van Messina van die hoofland geskei. Hier
is berge en vlaktes. Die berg Etna, een van die grootste aktiewe vulkane
ter wêreld, oorheers die landskap van Noordoos-Sicilië.
Ernstige
erosie, deels veroorsaak deur die skoonmaak van woude, het al die
landbou erg geknou en die verkeer in binnelandse gebiede in die nat
seisoen belemmer. Koringboerdery en skaap- en bokteelt is belangrik in
die binneland. Sicilië het die grootste visbedryf in Italië.
(8)
Sardinië is ’n eiland wes van die Italiaanse skiereiland in die
Tirrheense See. Sy landskap word oorheers deur berge en hoë plato's. Veeboerdery
is belangrik in die berggebiede. Die enigste goeie landbougrond is op
die laagliggende kusvlaktes, waar graangewasse, artisjokke en druiwe
gekweek word. •
KLIMAAT: ’n Mediterreense klimaat met warm, droë somers en sagte
winters. Sicilië en Sardinië neig om warmer en droër as die hoofland
te wees. Die Alpe en die Po-vallei het kouer, natter winters. • EKONOMIE: Die kapitalistiese ekonomie bly verdeel in ’n ontwikkelde industriële noorde, oorheers deur private maatskappye, en ’n minder ontwikkelde boerewêreld in die suide, met 20% werkloosheid. Die
goed ontwikkelde nywerhede in Noord-ltalië, wat maklik met die res van
Europa kan skakel, sluit aanlegte vir elektriese en elektroniese
goedere, motorvoertuie en fietse, tekstielware, klerasie, leergoedere,
sement, glas, porselein en keramiek in. Die noorde is ook ’n belangrike
geld- en bankstreek, en Milaan is die kommersiële hoofstad van Italië.
Die
landbou in die noorde is meer gemeganiseer. Die vernaamste gewasse is
onder meer koring, mielies, rys, druiwe, vrugte en voergewasse vir
melkbeeste. Buiten klip, veral marmer, en Alpynse riviere wat vir hidroëlektriese krag ingespan word, het Italië min natuurlike hulpbronne. Die meeste van die onverwerkte stowwe wat die fabrieke nodig het en meer as 75% van die energie-benodigdhede word ingevoer.
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |