Hoofteks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Węreld; opdatering deur
Mieliestronk.com
Grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com
Kaart
van die CIA uit hul World Factbook wat tot openbare besit verklaar
is (“in the public domain”). Plekname verafrikaans.
DUITSLAND ... waar begin
’n mens om hierdie energieke en welvarende land te beskryf?
By die veelbewoë hoofstad Berlyn, wat vroeër so tragies deur die
Skandmuur in twee gekloof is?
By Bonn, ’n internasionale senusentrum van die republiek? Of by
München, die trotse Beierse hoofstad, met sy musikante, sy skilders
en studente?
Of wat van Oberammergau met sy Passiespele en pragtige
houtsneewerke? Bremen, beroemd om sy "Stadsmusikante"? Of die groen
Swart Woud, die Ryn, die besneeude Beierse Alpe, die mere van
Mecklenburg en Holstein?
So ryk in verskeidenheid is Duitsland dat die beroemde Amerikaanse
reisiger-skrywer Mark Twain dit bestempel het as “a beautiful
country of infinite variety”.
Dan het die land ook nog die węreld verryk met sy geniale beroemdes:
komponiste soos Wagner, Beethoven en Bach, digters soos Goethe en
Schiller, wiskundiges soos Carl Friedrich Gauss, wetenskaplikes soos
Albert Einstein (’n Duitse Jood) en ’n ruimte-eeuse baanbreker soos
Wernher von Braun.
Dis ’n land wat soos ’n feniks uit die as van die Tweede
Węreldoorlog verrys het. Die bomme van die
Geallieerdes het groot dele van baie van die ou stede verwoes. Talle
bouwerke van weleer moes haastig vervang word deur doelmatige geboue
(wat weliswaar nie die fleur van die verwoestes gehad het nie).
Miskien was Duitsland se mees tragiese rampspoed die 45 jaar lange
verdeling van die land in ’n oostelike en westelike staat ná die
oorlog. Eers in Oktober 1990 was die verskeurde land weer heel,
danksy die einde van die Koue Oorlog en weens die verval van die
Sowjet-unie.
REGS:
Wes- en Oos-Duitsland... só was die land verdeel.
Maar die Duitse volk het ná die Tweede Węreldoorlog, altans in die
westelike deel, freneties aan die werk gespring, soos bye wat ’n
beskadigde korf tot elke prys gou wil herstel. Weldra het die
welvaart gevolg.
Só is die gees van die Duitse volk—energiek, gedissiplineerd, met
die onblusbare wil om te oorlewe en ’n dryfkrag om op die voorpunt
van ontwikkeling te wees.
Sedert unifikasie het Duitsland ook uit sy pad gegaan om die minder
ontwikkelde Oos-Duitsland op te bou en die produktiwiteit en lone
daar tot westerse standaarde te verhoog. Maar die modernisering en
integrasie van die Oos-Duitse ekonomie is ook ’n duur
langtermyn-program.
|
Duitsland: die wroegings en die ekstase |
|

Romantiek van ’n
lank verlore era...
LINKS:
Die granietbak in die Berlynse Lustgarten (lushof), olieverf op
doek, in 1831 geskilder deur Johann Erdmann Hummel. Die vredige,
romantiese toneel verbeeld niks van die onstuimighede, die
verwoesting, die verdeeldheid en ellende wat Berlyn—en die hele
Duitsland—in die 1900’s sou beleef nie.
|
|
Die ellende van oorlog
REGS: ’n Erg beskadigde Berlyn, die Duitse hoofstad, in Mei 1945
in die doodsnikke van die Tweede Węreldoorlog. Ná die Duitse
nederlaag is die stad in twee dele verdeel met ’n vrye weste en
’n Kommunistiese ooste en het dit ’n brandpunt geword in die
spanninge van die Koue Oorlog tussen die Kommunistiese lande in
die kamp van die Sowjet-unie aan die een kant en die groep
Westerse lande gelei deur Amerika aan die ander. Eers toe Oos-
en Wes-Duitsland in 1990 herenig is, kon die verdeelde stad ook
weer een word.
Foto:
U.S. Army
|
Die wonderbaarlike herstel
LINKS: Dié stadsprofiel van Frankfurt aan die Mainrivier in Duitsland.
Dit is vandag ’n woelige, moderne stad en
een van die węreld se toonaangewende finansiële en sakesentrums.
Frankfurt is in ’n groot mate herbou op bouvalle van die Tweede
Węreldoorlog toe die helfte van die stad deur bomme in puin gelę is. Die
stad is ook ’n toonbeeld van Duitse perfeksie. Ry jy byvoorbeeld uit
Suid-Europa met ’n trein nadat jy in die aand by ’n minder sindelike
stasie opgeklim het, snel jy Duitsland binne en kom jy vroegmôre in
Frankfurt aan... waar die stasie so skoon is dat dit lyk of jy van die
perron af kan eet!
Foto:
BuyUSA.gov
|
|

’n Duur gekoopte vrede
REGS: Englischer Garten, die Duitse stad München se groot
“Engelse” tuin, spreek van ’n harmonieuse vredigheid—iets wat
die Duitse volk so lank nie geken het nie, maar
uiteindelik met hul hereniging herwin het, al is die integrasie
vir die weste ook pynlik duur.
Foto verklein van
’n groot foto deur
BigFoto.com,
wat die vrye gebruik daarvan vergun mits 'n skakel na hul
webwerf verskaf word.
|
•
AMPTELIKE NAAM:
Federale Republiek van Duitsland.
•
OPPERVLAKTE:
Altesaam 357 021 vk. km (349 223 vk. km land en 7798 vk. km water).
•
HOOFSTAD:
Berlyn.
•
VLAG:
Drie horisontale stroke, van bo na onder swart, rooi en goud.
•
TAAL:
Twee soorte Duits: Hoogduits in die suide en middel en Platduits in
die noorde, maar die sprekers van laasgenoemde is vinnig aan die
kwyn. Die skole en media gebruik ’n gestandaardiseerde vorm van
Hoogduits wat Standaardduits genoem word.
•
VOLKSLIED:
Derde vers van Deutschland-Lied.
•
MUNT:
In
Januarie 2002 het Duitsland en nog elf lande van die Europese Unie
’n gemeenskaplike geldeenheid, die euro, ingestel. In Duitsland het
dit die einde van die
Deutsche Mark (Duitse mark of DM) beteken.
•
BEVOLKING:
82 422
299, volgens ’n raming vir Julie 2006. Duitsers 91,5%, Turke 2,4%,
ander 6,1% (meestal Grieke, Italiane, Pole, Russe, Serwo-Kroate en
Spanjaarde).
•
GODSDIENSTE:
Protestant
34%
(hoofsaaklik Luthers), Rooms-Katoliek 34%,
Moslem 3,7%
(meestal Turkse immigrante), onverbonde en ander
28,3%.
•
REGERING:
Duitsland het ’n parlementęre demokrasie met ’n federale president
as staatshoof. Die land is ’n groepering van sestien state of
Länder, elk met sy eie grondwet en eie wette oor sake soos onderwys,
gemeenskapsorganisasie en die polisie. Elk van die sestien Länder
word in die hoërhuis van die parlement—die Federale Raad of
Bundesrat—verteenwoordig deur drie of meer lede van die
staatsregering (afhangende van die inwonertal). Die lede van die
laerhuis—die Federale Vergadering of Bundestag—word deur volwasse
stemgeregtigdes gekies. Die uitvoerende gesag berus by die federale
regering, wat
deur ’n federale kanselier gelei word.
•
SAMESTELLING:
Ná die Tweede Węreldoorlog was Duitsland verdeel in Wes-Duitsland
(die Federale Republiek van Duitsland) en Oos-Duitsland (die Duitse
Demokratiese Republiek). Op 3 Oktober 1990 is die land herenig.
•
GEOGRAFIE:
Daar is vyf hooflandstreke:
(1)
Die Noord-Duitse Vlakte lę laag en is byna plat. Dit word
gedreineer deur breë riviere wat noordwaarts tot in die Noordsee of
die Oossee vloei. Dit sluit die Elbe, Ems, Oder, Ryn en Weser in,
almal belangrike kommersiële waterweë. Groot hawens en
nywerheidsentrums lę aan dié riviere.
Die breë riviervalleie en die land langs die kus het sagte, vrugbare
grond. Tussen die valleie is groot gebiede van sand en gruis wat
duisende jare gelede deur gletsers agtergelaat is.
Die suidelike rand van die Noord-Duitse Vlakte het ’n vrugbare soort
grond wat loess genoem word. Hierdie gebied, waarin ou stede soos
Bonn en Keulen geleë is, word intensief verbou en is dig bevolk.
(2)
Die Sentrale Hooglande is ’n reeks feitlik plat tot bergagtige
plato's. Die riviere in hierdie streek het steil, smal, ruwe klowe
deur die landskap gekeep, soos die Rynvallei, een van Europa se
mooiste besienswaardighede.
REGS:
’n Ruimtefoto van ’n deel van die Ryn, wat oor ’n sekere afstand ook
die grens tussen Duitsland en Frankryk vorm.
Foto: JPL / NASA
(3)
Die Suid-Duitse Heuwels sluit in ’n reeks lang, ewewydige bulte
(eskarpe), wat van die suidweste na die noordooste loop. Skape word
hier geteel. Die laaglande tussen die bulte het vrugbare kleigrond
wat van die beste landbougebiede in Duitsland is. ’n Groot deel van
die streek word deur die Ryn en sy twee sytakke, die riviere Main en
Neckar, dreineer. Die Donau—die enigste groot rivier wat ooswaarts
vloei—dreineer die suidelike deel.
(4)
Die Swart Woud is ’n bergagtige gebied. Dit kry sy naam van die
digte woude van donker denne en spar wat die berghange oordek. Die
gebied bestaan uit hooglande
van graniet en sandsteen met diep, smal valleie. Dit is die toneel
van baie Duitse legendes en sprokies. Dis ook bekend om sy minerale
bronne en beroemde gesondheidsoorde.
(5)
Die Beierse Alpe bestaan uit majestueuse, met sneeu bedekte
pieke van meer as 1800 m. Die hoogste spits in Duitsland, die 2963 m
hoë Zugspitze, is hier geleë. Die skone Beierse Alpe is heeljaar
deur ’n vakansiewęreld.
•
KLIMAAT:
Duitsland is in die reël matig en nat aan die kus, maar droër en
kouer in die binneland. Tog is daar betreklik min
temperatuurwisselings tussen die uiterstes.
•
EKONOMIE:
Duitsland se ryk en kragtige ekonomie—die vyfde grootste ter węreld—het een
van die stadig groeiendste ekonomieë in die euro-sone geword. Die
modernisering en integrasie van die Oos-Duitse ekonomie bly ’n massiewe
probleem weens die miljarde euro’s wat jaarliks vanuit die weste in
die ooste ingeploeg moet word.
Die belangrikste Duitse nywerhede is onder meer gemoeid met
meganiese en elektriese ingenieurswese, chemikalieë, tekstielware,
kosverwerking en voertuie, met die swaar nywerhede en
ingenieurswerke in die Ruhrgebied gekonsentreer, chemikalieë in
stede langs die Ryn en motorvoertuie in groot provinsiale sentrums
soos Stuttgart.
Buiten steenkool, bruinkool, potas en sout, het Duitsland egter min
natuurlike hulpbronne, en die land steun swaar op invoer. Talle
"gasarbeiders"—veral van Turkye en die voormalige Joego-Slawië—is
ook gewerf.
Die bank- en geldwese is belangrike verdieners van valuta, en
Frankfurt is een van die węreld se toonaangewende finansiële en
sakesentrums.
Die vernaamste landbouprodukte is onder meer hop (vir bier), druiwe
(vir wyn), suiker, beet, koring, gars en suiwelprodukte. Woude bedek
byna ’n derde van die land en verseker dit van ’n florerende
bosboubedryf.
Natuurlike hulpbronne in die voormalige Oos-Duitsland is onder meer
yster-, aluminium- en kopererts, asook nikkel, tin en silwer. Die
vernaamste nywerhede sluit in dié vir masjinerie, vervoertoerusting,
staal, sement, chemikalieë, bemesting en plastiekstowwe.
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van hierdie reeks oor
toonaangewende lande van die węreld