|
Duitsland Land
van durf en drome
Soos ’n feniks het Duitsland uit die as van die Tweede Węreldoorlog verrys—om een van die węreld se toonaangewende nywerheidslande te word. Die Duitse strewe na perfeksie, idealisme en sindelikheid moet vandag steeds duidelik wees vir elke buitelander wat dié land besoek... |
|||||
|
Hoofteks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Węreld; opdatering deur
Mieliestronk.com
DUITSLAND
... waar begin ’n mens om hierdie energieke en welvarende land te
beskryf? By
die veelbewoë hoofstad Berlyn, wat vroeër so tragies deur die
Skandmuur in twee gekloof is? By
Bonn, ’n internasionale senusentrum van die republiek? Of by München,
die trotse Beierse hoofstad, met sy musikante, sy skilders en
studente? Of
wat van Oberammergau met sy Passiespele en pragtige houtsneewerke?
Bremen, beroemd om sy "Stadsmusikante"? Of die groen Swart
Woud, die Ryn, die besneeude Beierse Alpe, die mere van Mecklenburg en
Holstein? So
ryk in verskeidenheid is Duitsland dat die beroemde Amerikaanse
reisiger-skrywer Mark Twain dit bestempel het as “a beautiful
country of infinite variety”. Dan
het die land ook nog die węreld verryk met sy geniale beroemdes:
komponiste soos Wagner, Beethoven en Bach, digters soos Goethe en
Schiller, wiskundiges soos Carl Friedrich Gauss, wetenskaplikes soos
Albert Einstein (’n Duitse Jood) en ’n ruimte-eeuse baanbreker
soos Wernher von Braun. Dis ’n land wat soos ’n feniks uit die as van die Tweede Węreldoorlog verrys het. Die bomme van die Geallieerdes het groot dele van baie van die ou stede verwoes. Talle bouwerke van weleer moes haastig vervang word deur doelmatige geboue (wat weliswaar nie die fleur van die verwoestes gehad het nie).
Miskien
was Duitsland se mees tragiese rampspoed die 45 jaar lange verdeling
van die land in ’n oostelike en westelike staat ná die oorlog. Eers
in Oktober 1990 was die verskeurde land weer heel, danksy die einde
van die Koue Oorlog en weens die verval van die Sowjet-unie.
Maar
die Duitse volk het ná die Tweede Węreldoorlog, altans in die
westelike deel, freneties aan die werk gespring, soos bye wat ’n
beskadigde korf tot elke prys gou wil herstel. Weldra het die welvaart
gevolg. Só
is die gees van die Duitse volk—energiek, gedissiplineerd, met die
onblusbare wil om te oorlewe en ’n dryfkrag om op die voorpunt van
ontwikkeling te wees. Sedert
unifikasie het Duitsland ook uit sy pad gegaan om die minder
ontwikkelde Oos-Duitsland op te bou en die produktiwiteit en lone daar
tot westerse standaarde te verhoog. Maar die modernisering en
integrasie van die Oos-Duitse ekonomie is ook ’n duur
langtermyn-program.
•
AMPTELIKE NAAM: Federale Republiek van Duitsland. •
OPPERVLAKTE: Altesaam 357 021 vk. km (349 223 vk. km land en
7798 vk. km water). •
HOOFSTAD: Berlyn. •
VLAG:
Drie horisontale stroke, van bo na onder swart, rooi en goud. •
TAAL: Twee soorte Duits: Hoogduits in die suide en middel en
Platduits in die noorde, maar die sprekers van laasgenoemde is vinnig
aan die kwyn. Die skole en media gebruik ’n gestandaardiseerde vorm
van Hoogduits wat Standaardduits genoem word. •
VOLKSLIED: Derde vers van Deutschland-Lied. •
MUNT:
In Januarie 2002 het Duitsland
en nog elf lande van die Europese Unie ’n gemeenskaplike
geldeenheid, die euro, ingestel. In Duitsland het dit die einde van
die Deutsche
Mark (Duitse mark of DM) beteken. •
BEVOLKING:
82 422
299, volgens ’n
raming vir Julie 2006. Duitsers 91,5%, Turke 2,4%, ander 6,1% (meestal
Grieke, Italiane, Pole, Russe, Serwo-Kroate en Spanjaarde). •
GODSDIENSTE: Protestant
34%
(hoofsaaklik Luthers), Rooms-Katoliek 34%,
Moslem 3,7%
(meestal Turkse immigrante), onverbonde en ander 28,3%. •
REGERING: Duitsland het ’n parlementęre demokrasie met ’n
federale president as staatshoof. Die land is ’n groepering van
sestien state of Länder, elk met sy eie grondwet en eie wette oor
sake soos onderwys, gemeenskapsorganisasie en die polisie. Elk van die
sestien Länder word in die hoërhuis van die parlement—die Federale
Raad of Bundesrat—verteenwoordig deur drie of meer lede van die
staatsregering (afhangende van die inwonertal). Die lede van die
laerhuis—die Federale Vergadering of Bundestag—word deur volwasse
stemgeregtigdes gekies. Die uitvoerende gesag berus by die federale
regering, wat
deur
’n federale kanselier gelei word. •
SAMESTELLING: Ná die Tweede Węreldoorlog was Duitsland
verdeel in Wes-Duitsland (die Federale Republiek van Duitsland) en
Oos-Duitsland (die Duitse Demokratiese Republiek). Op 3 Oktober 1990
is die land herenig. •
GEOGRAFIE: Daar is vyf hooflandstreke: (1)
Die Noord-Duitse Vlakte lę laag en is byna plat. Dit word
gedreineer deur breë riviere wat noordwaarts tot in die Noordsee of
die Oossee vloei. Dit sluit die Elbe, Ems, Oder, Ryn en Weser in,
almal belangrike kommersiële waterweë. Groot hawens en
nywerheidsentrums lę aan dié riviere. Die
breë riviervalleie en die land langs die kus het sagte, vrugbare
grond. Tussen die valleie is groot gebiede van sand en gruis wat
duisende jare gelede deur gletsers agtergelaat is. Die
suidelike rand van die Noord-Duitse Vlakte het ’n vrugbare soort
grond wat loess genoem word. Hierdie gebied, waarin ou stede soos Bonn
en Keulen geleë is, word intensief verbou en is dig bevolk. (2)
Die Sentrale Hooglande is ’n reeks feitlik plat tot
bergagtige plato's. Die riviere in hierdie streek het steil, smal,
ruwe klowe deur die landskap gekeep, soos die Rynvallei, een van
Europa se mooiste besienswaardighede.
Foto: JPL / NASA (3)
Die Suid-Duitse Heuwels sluit in ’n reeks lang, ewewydige
bulte (eskarpe), wat van die suidweste na die noordooste loop. Skape
word hier geteel. Die laaglande tussen die bulte het vrugbare
kleigrond wat van die beste landbougebiede in Duitsland is. ’n Groot
deel van die streek word deur die Ryn en sy twee sytakke, die riviere
Main en Neckar, dreineer. Die Donau—die enigste groot rivier wat
ooswaarts vloei—dreineer die suidelike deel. (4)
Die Swart Woud is ’n bergagtige gebied. Dit kry sy naam van
die digte woude van donker denne en spar wat die berghange oordek. Die
gebied bestaan uit hooglande
van
graniet en sandsteen met diep, smal valleie. Dit is die toneel van
baie Duitse legendes en sprokies. Dis ook bekend om sy minerale bronne
en beroemde gesondheidsoorde. (5)
Die Beierse Alpe bestaan uit majestueuse, met sneeu bedekte
pieke van meer as 1800 m. Die hoogste spits in Duitsland, die 2963 m
hoë Zugspitze, is hier geleë. Die skone Beierse Alpe is heeljaar
deur ’n vakansiewęreld. •
KLIMAAT: Duitsland is in die reël matig en nat aan die kus,
maar droër en kouer in die binneland. Tog is daar betreklik min
temperatuurwisselings tussen die uiterstes. • EKONOMIE: Duitsland se ryk en kragtige ekonomie—die vyfde grootste ter węreld—het een van die stadig groeiendste ekonomieë in die euro-sone geword. Die modernisering en integrasie van die Oos-Duitse ekonomie bly ’n massiewe probleem weens die miljarde euro’s wat jaarliks vanuit die weste in die ooste ingeploeg moet word.
Die belangrikste
Duitse nywerhede is onder meer
gemoeid met meganiese en elektriese ingenieurswese, chemikalieë,
tekstielware, kosverwerking en voertuie, met die swaar nywerhede en
ingenieurswerke in die Ruhrgebied gekonsentreer, chemikalieë in stede
langs die Ryn en motorvoertuie in groot provinsiale sentrums soos
Stuttgart. Buiten
steenkool, bruinkool, potas en sout, het Duitsland egter min
natuurlike hulpbronne, en die land steun swaar op invoer. Talle "gasarbeiders"—veral van
Turkye en die voormalige Joego-Slawië—is ook gewerf. Die
bank- en geldwese is belangrike verdieners van valuta, en Frankfurt is
een van die węreld se toonaangewende finansiële en sakesentrums. Die
vernaamste landbouprodukte is onder meer hop (vir bier), druiwe (vir
wyn), suiker, beet, koring, gars en suiwelprodukte. Woude bedek byna ’n
derde van die land en verseker dit van ’n florerende bosboubedryf.
Natuurlike hulpbronne in die voormalige Oos-Duitsland is onder meer yster-, aluminium- en kopererts, asook nikkel, tin en silwer. Die vernaamste nywerhede sluit in dié vir masjinerie, vervoertoerusting, staal, sement, chemikalieë, bemesting en plastiekstowwe.
|
|||||
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad
|