Japan
|
|
|
Toonaangewende
lande van die wêreld (7): Nippon (Japan) |
Dis ’n land van vuurspuwende berge, van omtrent vier aardtrillings per dag—maar ook ’n massiewe miernes van malende werkers en ’n hoogs doeltreffende nywerheidsreus. Japan se ekonomie het wel in die jare negentig verlangsaam ná drie dekades van ongekende groei, maar in ons nuwe millennium het dit blykbaar opnuut begin fut kry. Hoe ook al, vir ’n platgeslane volk om uit die as van die Tweede Wêreldoorlog te kon opstaan en aan hul land een van die heel grootste ekonomieë op aarde te besorg, spreek boekdele vir die onvermoeide ywer van die vlytige Japanners...
Illustrasie bo: U.S. Library of Congress Country Studies
Nota:
Japanse name word in hierdie artikel getranslitereer ingevolge die
taalreël dat ’n naam wat sy herkoms in ’n nie-Westerse skrif het,
volgens ons eie Afrikaanse skryfpatroon geskryf moet word. Lees
egter heel onderaan op hierdie bladsy die betoog van Mieliestronk.com
vir ’n besinning oor die verwarrende fonetisering van
"vreemde" name. *
)
Hoofteks
uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld; opdatering deur
Mieliestronk.com
Grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com
’n Vereenvoudigde weergawe van ’n kaart van die CIA uit hul
World Factbook wat tot openbare besit verklaar is (“in the public
domain”). Plekname is verafrikaans,
maar wat die name van drie van die vier groot eilande aanbetref,
verskyn die huidige Afrikaanse skryfwyse tussen hakkies. Lees
Mieliestronk.com se betoog vir ’n besinning oor verwarrende
Afrikaanse fonetiserings heel onderaan hierdie bladsy.
DIE
Songodin, só staan daar in die Sjinto-boeke, het die eilande van
Japan voor al die ander wêrelddele geskape. En toe het sy haar
kleinseun na Japan gestuur met die opdrag: "Gaan, my deurlugtige
kleinseun, gaan na my eersteling en regeer dit. Mag voorspoed u deel
wees en dié van u nageslag. En mag u huis, net soos die hemel en die
aarde, tot in ewigheid bestaan."
Hierdie
"nakomeling" van Amaterasoe Omikami, die Songodin, was die
voorvader
van al die Japanse heersers tot dusver, volgens die volksgodsdiens van
Japan wat as Sjinto bekend staan.
LINKS:
Ene Jimmoe Tenno, volgens ’n negentiende-eeuse illustrasie. Daar
word geglo dat hy die Japanse ryk in 660 v.C. gestig het.
Die
opvatting dat hul eie wêreld voor alle ander lande tot stand sou
gekom het, is ’n interessante aspek van die Japanners se geloof, en
Japan beklee ook werklik in meer as een opsig ’n gunstige posisie op
die wêreldkaart.
As
die eilande byvoorbeeld meer noord geleë was of minder riviere, berge
of vrugbare vlaktes gehad het, sou die uitgestrekte ryslande
doodeenvoudig nie daar gewees het nie.
Wat
meer sê, as die Japanners nie so geïsoleerd was nie, sou hul
nasionale bewussyn stellig nie so ontwikkel net nie. En as die Japanse
eilande eweneens verder van die Asiatiese vasteland gelê het, sou die
mense hier nie so deur die Chinese en Koreaanse kulture beïnvloed
gewees het as wat wel gebeur het nie.
Daarteenoor
het dié argipel of eilandgroep sekere groot nadele. Dit is vulkaanwêreld
en talle vuurspuwende berge is oor die hele eilandketting versprei.
Tot oormaat van ramp is aardbewings ’n inherente deel van die lewe
in Japan.
Daar
is sowat 1 500 seismiese voorvalle (meestal skuddings) per jaar (gemiddeld
omtrent vier op ’n dag), hoewel die meeste van hulle gelukkig skaars gevoel word.
In die hoofstad, Tokio, is daar egter al om die drie of vier dae ’n
taamlike sterk trilling, maar die geboue in dié stad is ontwerp om
hierdie skokke te weerstaan.
Aardbewings
onder die see veroorsaak weer van tyd tot tyd verwoestende golwe
(tsoenami’s) aan die kus.
Dan
word Japan boonop weens sy ligging aan die einde van die somer
geteister deur tifone wat onder meer die rysvelde beskadig.
Desondanks
is die land vandag ’n nywerheidsreus. Soos Duitsland het hy ook uit
die as van die Tweede Wêreldoorlog herrys. Tussen sy berge en rokende
vulkane lê sy mierneste van stede met krioelende hoofweë, blitsige
koeëltreine en dreunende fabrieke wat alles van TV-stelle tot motors
uitspuug.
Japan,
kan ’n mens tereg sê, dien as ’n model vir die wêreld oor wat
met ’n bietjie dissipline en baie harde werk vermag kan word.
Vir ’n platgeslane volk om te kon opstaan en aan hul land die
derde grootste ekonomie op aarde te besorg (op grond van koopkrag), spreek boekdele vir die
onvermoeide ywer van die vlytige Japanners.

BO en REGS BO: Japan... die tradisionele en die moderne.
Foto’s: United States Government Export Portal
•
AMPTELIKE NAAM: Nippon of Nihon (dit beteken "oorsprong
van die son", en gevolglik word Japan ook Die Land van die
Opkomende Son genoem).
•
OPPERVLAKTE: 377 835 vk. km
(sluit in die Bonin-eiland
(Ogasawara-goento), Daito-sjoto, Minami-djima, Okino-tori-sjima,
Rioekioe-eilande. (Nansei-sjoto) en Vulkaaneilande (Kazan-retto). Die
landoppervlakte is 374 744 vk. km en die wateroppervlakte 3091 vk. km.
•
HOOFSTAD: Tokio.
•
VLAG: Rooi son, wit agtergrond.
•
AMPTELIKE TAAL: Japannees.
•
VOLKSLIED: Kimigajo (Die Heerskappy van Ons Keiser).
•
GELD: Die Japanners koop met jen.
• BEVOLKING EN HERKOMS: 127.463.611, volgens ’n raming vir Julie 2006. Volgens ’n berekening in 1990 was daar 123.749.000 mense, wat beteken dat die enorme bevolking in omtrent sestien jaar nie eens met ’n volle drie en ’n driekwart miljoen aangewas het nie. Die persentasie ou mense in die bevolking raak boonop al hoe meer.
Die
Japanners is ’n mengsel van rasse-elemente uit Noordoos- en
Suidoos-Asië, hoewel baie eeue van isolasie en vermenging ’n
eenvormige ras opgelewer het.
Daar
kan nie met sekerheid gesê word wanneer die eerste inwoners in Japan
aangekom het nie, hoewel dit bekend is dat hul kultuur tot 4500 vC
terugdateer. In die jare 200 vC is dit ná ’n golf van
volksverhuisings vervang deur ’n nuwe kultuur wat die Jajoi genoem
is. Daar word gereken dat vandag se Japanners afstammelinge van die
Jajoi is.
Volgens
’n betreklik onlangse berekening was die bevolking só verdeel: Japanners
99% en ander 1% (onder meer Koreane, Chinese, Brasiliërs en Filippyne).
•
MEER OOR DIE JAPANSE GESKIEDENIS:
Japan het in die sesde eeu n.C. sy betrekkinge met China versterk en sy imperiale beleid en die Boeddhistiese godsdiens aanvaar.
Die Japanse Middeleeue (1185-1615) is gekenmerk deur baie gevegte en feodale skermutselinge tussen die
sjogoen (shogun) en boesji, wat verskillende kastes van krygsmanne was. Alle hawens buiten Nagasaki is in 1633 vir handel gesluit; hierdie tydperk van isolasie het tot 1854 geduur. Die
sjogoen, of groot generaal, het uitgebreide militêre en burgerlike magte gehad.
Die lang tydperk van isolasie het eintlik reeds in 1603 begin nadat die
Tokoegawa-dinastie van sjogoens in beheer van die land gekom en die militêre diktatuur ’n rigiede demper op buitelandse invloede geplaas het om sy heerskappy te verseker. Twee en ’n halwe eeue lank het hierdie beleid Japan in staat gestel om stabiliteit te geniet en het sy inheemse kultuur ’n bloeityd beleef.
BO: Geisjas (geishas) in die 1930’s. Geisjas is vroulike metgeselle van Japanse mans, opgelei in musiek, dans en die kuns van gesprekvoering.
REGS BO: Die Samoerai (Samurai) was van die elfde tot die negentiende eeu ’n aristokratiese klas Japanse vegsmanne (detail van ’n historiese foto uit die 1860’s).
Ná die Verdrag van Kanagawa met Amerika in 1854 het Japan sy hawens heropen en intensief begin moderniseer en industrialiseer.
In die laat negentiende en vroeë twintigste eeu het Japan ’n streekmoondheid geword wat in staat was om die magte van sowel China as Rusland te verslaan. Japan het Korea, Formosa (Taiwan) en die suidelike Sakhalin-eiland beset. In 1931-32 is Mantsjoerye deur Japan beset en in 1937 het hy ’n volskaalse inval in China geloods.
Japan se verrassingsaanval in 1941 op die Amerikaanse vloot by Pearl Harbor, Hawaii, het Amerika tot die Tweede Wêreldoorlog laat toetree. Japan het spoedig ’n groot deel van Oos- en Suidoos-Asië beset. Nadat hy in die Tweede Wêreldoorlog verslaan
was (die VSA het hard toegeslaan met twee atoombomme) het Japan uit die as opgestaan om ’n moondheid met ’n kragtige ekonomie en ’n bondgenoot van die VSA te word.
In 2005 het Japan met ’n termyn van twee jaar begin as ’n nie-permanente lid van Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies.
|
REGS: Die ontploffing van die atoombom wat op 9 Augustus 1945 sowat ’n derde van die Japanse stad Nagasaki (in die weste van Kioesjoe) verwoes het. Dit is deur ’n vliegtuig van die Amerikaanse lugmag op die stad gegooi en sowat 66 000 mense is gedood of beseer. Drie dae vantevore het die Amerikaners se eerste atoombom nagenoeg sestig persent van die Japanse stad Hirosjima (in die suidweste van Honsjoe) verpletter. Die hoofkwartier van die Geallieerde opperbevel het berig dat 129 558 mense daar gedood, beseer of vermis is en dat nog 176 987 deur die atoombom dakloos gelaat is. Foto: U.S. Archives |
|
•
GODSDIENSTE: bely sowel
Sjintoïsme as Boeddhisme
84%,
ander 16% (sluit Christene in 0,7%).
•
REGERING: Die staatshoof is die keiser,
wat
steeds sy troon as ’n simbool van nasionale eenheid behou, maar sy pligte is
suiwer seremonieel. Die wette word gemaak deur die Diet, wat uit twee
huise bestaan waarvan die lede elk deur volwasse stemgeregtigdes
verkies word: die Huis van Raadslede (252 lede vir ses jaar) en Huis
van Verteenwoordigers (512 lede vir vier jaar). Die Diet kies een van
sy lede tot eerste minister en dié stel ’n kabinet aan. Kiesers is
stemgeregtig wanneer hulle twintig jaar oud word.
•
GEOGRAFIE: Japan bestaan uit
vier
hoofeilande—Hokkaido, Honsjoe, Sjikokoe en Kioesjioe—en meer as
3900 kleineres. Honsjoe, die grootste eiland, is die tuiste van sowat
80 persent van die Japanse bevolking.
Wes
van Japan is die See van Japan, noord die See van Okotsk, en oos en suid
die Stille Oseaan.
Die
Japanners sê in hul land is ’n mens altyd naby berge, en tereg,
want min lande op aarde is so bergagtig. Dié eilandryk, wat met ’n
wye boog min of meer van noord na suid strek, bestaan grotendeels uit ’n
klomp bergreekse wat ook noord-suid loop. Die berge van die
hoofeilande is almal ru en word deur diep valleie van mekaar geskei.
Van
die 192 vulkane is 40 nog aktief. Japan se hoogste en beroemdste
spits, die onaktiewe berg Foedji, of Foedjijama, troon 3776 m bokant
seevlak.
Sowat
60 persent van Japan
word
deur woude bedek, aangesien die meeste van die berghange te steil is
om bewerk te word.
Die
riviere is kort, vloei vinnig en is feitlik onbevaarbaar vir skepe.
Baie riviere se lope is egter kunsmatig verander en hulle word vir
besproeiing en kragopwekking gebruik.
• EKONOMIE: Japan se ekonomiese sukses is op die vervaardigingsbedryf gegrond en daarin is hy ’n wêreldleier. Trouens, hy is een van ons planeet se grootste produsente van onder meer motorvoertuie, elektroniese toerusting, masjiengereedskap, sintetiese vesels, skepe, chemikalieë, tekstielware en verwerkte kosse.
Samewerking tussen die regering en die nywerhede, ’n sterk werksetiek en ’n voortreflike bemeestering van die bielie-tegnologiese sektor het alles meegehelp om die land buitengewoon vinnig as die derde grootste ekonomie ter wêreld te vestig (ná die VSA en China), op grond van koopkrag.
Hoewel
Japan oorbevolk is, geniet die mense dus ’n hoë
lewenspeil. Daar is egter min natuurlike hulpbronne, sowat 90
persent van sy energiebehoeftes kom van buite en petroleum is die
grootste invoerproduk.
Die ekonomie het wel in die 1990’s begin verlangsaam ná drie dekades van ongekende groei, maar in 2004 and 2005 was daar beter groei en die talmende vrese vir ’n daling in pryse en ’n afname in ekonomiese bedrywighede het verminder.
Die bank- en geldsektore het in
ooreenstemming met die vervaardigingsektor gefloreer. Tokio is een
van die wêreld se grootste effektebeurs- en handelsentrums.
Die
landbou is arbeidsintensief en die
landbousektor word ryklik gesubsidieer en beskerm. Hoewel
die land selfonderhoudend is wat rys betref, moet ’n hoë
persentasie van sy voedselbehoeftes—sowat 50% van ander soorte graan
en veevoer—ingevoer word.
REGS:
Japan vandag. Landbougrond is skaars in dié bergagtige land en op die
platteland moet die beskikbare grond intensief bewerk word.
Foto: Economic Research Service / United States Department of Agriculture
Die
Land van die Opkomende Son se son is volgens alle aanduidings nog lank nie aan die
ondergaan nie. Maar die oorbewoning van
bewoonbare grond en ’n bevolking wat ’n steeds groter persentasie
ou mense moet onderhou, is nog twee
probleme waarmee die Japanners bes moontlik nog lank gaan worstel.
Outomatisering
kan wel op lang termyn groot ekonomiese voordele vir Japan inhou. Teen
2002 het die land al 410.000 van die wêreld se
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad
* ) Mieliestronk.com se betoog vir ’n besinning oor die chaotiese fonetisering van "vreemde" name
DAAR is ’n taalreël dat name wat hul herkoms in ’n nie-Westerse skrif het (sê maar ’n hipotetiese naam soos >Ha#Tó~^ ) in Afrikaans volgens ons eie skryfpatroon getranskribeer moet word. Jy sal dus so ’n vreemde naam in Afrikaans skryf na gelang van sy uitspraak, soos jy ook met ander woorde in ons taal doen.
Dit is egter geen geheim dat die fonetisering van byvoorbeeld Russiese, Chinese, Japanse en ander Asiatiese name lankal 'n eindelose verwarring skep in ’n wêreld wat al hoe kleiner word nie. Hier by ons geld dit veral waar 'n naam in Afrikaans heeltemal anders geskryf moet word as in Engels. Dink maar hoe Afrikaanse en Engelse koerante destyds die naam van ’n ou leier van die gewese Sowjet-unie verskillend gefonetiseer het: Chroesjtsjof teenoor Krushev. Jy sou nie sê dis dieselfde mens nie!
Om sake te kompliseer is daar die deurmekaarspul oor watter lande ’n nie-Westerse skrif gebruik en watter nie. Name van Kazachstan word nie gefonetiseer nie omdat hulle daar van die Cirilliese na die Westerse stelsel oorgeskakel het, maar name van byvoorbeeld Tadjikistan en Toerkmenistan wel. Name in Japannees word in verskillende tale verskillend gefonetiseer, maar daar is 'n internasionale standaard ten opsigte van name in Chinees. Maar vir Chinese name van Taiwan geld dit weer nie! En dit is lank nie al nie. Jy moet omtrent ’n taalgeleerde wees om kop te hou met alles.
Wat is die oplossing? Dit is onses insiens ’n standaard gegrond op die Engelse fonetiserings. Toegegee dat ’n mens geëikte Afrikaanse naamspellings (soos Tokio teenoor die Engelse Tokyo) nie maklik sal kan verander nie. Maar dit maak tog weinig sin om die Japanse premier se naam in Afrikaanse geskrifte pynlik as Djoenitsjiro Koizoemi weer te gee, terwyl almal in die groot Engelstalige wêreld Junichiro Koizumi skryf.
Die argument dat transliterasie niks vreemds is nie en dat daar ook in baie ander tale soos byvoorbeeld Duits, Frans en Italiaans getranslitereer (gefonetiseer) word by name uit ’n nie-Westerse skrifstelsel, kan nie vir veeltalige lande soos Suid-Afrika gebruik word nie. Dan sal ’n Afrikaanssprekende, Engelsman, Xhosa, Zoeloe, Sotho en Ndebele, wat moet saamwerk om, sê, ’n inligtingstuk oor ’n besoekende Japanse politikus te skryf, dalk elkeen sy eie interpretasie hê oor hoe die persoon behoort te “heet”.
Is
dit nodig dat ons moet voortworstel in die heersende chaos? Nietemin, in
die artikel hierbo moes ons
noodgedwonge by die ou patroon inval en die Japanse name
"verafrikaans".
— Webmeester.