Rusland is sy naam—maar watter on-Rus het hy nie al belewe nie! Hoeveel kruit het daar nie ontplof sedert die romantiese ou dae toe die węreld rondom Moskou nog die "Slapende Beer van Europa" genoem is nie. En vandag veg hierdie geografies grootste land ter węreld ’n heel nuwe oorlog om sy ekonomie in pas met moderne ontwikkelings te kry... |
||||
|
Vereenvoudigde
weergawe van ’n kaart van die CIA uit hul World
Hoofteks
uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Węreld; opdatering deur
Mieliestronk.com
DAAR
is die ou Russiese gesegde dat Rusland "nie ’n land is nie; dis
’n węreld".
En
vandag beteken die naam steeds baie verskillende dinge vir
verskillende mense. Party mense sal by die aanhoor van die naam eerste aan Rusland se lang en veelbewoë geskiedenis dink. Aan
die wreedhede van Iwan
die Verskriklike; aan die "Tyd van Troebele" toe
die land deur invallers en ’n burgeroorlog verskeur is; aan die
geboorte van Kommunisme en hoe dit sewentig jaar later dramaties
verwerp is—storms en drange wat kykers net ’n aantal jare gelede nog
daagliks op hul TV-skerms sien voortwoed het. Vir
ander mense roep Rusland weer beelde voor die gees van die ontsaglike
haaivlakte van Siberië, eindeloos onder ’n gryse hemel, waar talle
misdadigers of politieke gevangenes vroeër tot ’n lewe van
afsondering en ellende gedoem was. Miskien,
as jy ’n kunsliefhebber is, sal jy dink aan die beroemde
kerkmuurskilderye of ikone, of aan Rusland se gevierde teater en
ballet. Of aan die manjifieke bouwerke in stede soos Moskou en St.
Petersburg
(die ou Leningrad). Bouwerke soos die Kremlin. Dit lę binne-in ’n ongelyke vierhoek van mure wat versier word deur torings en waarbinne
daar ’n indrukwekkende aantal paleise en kerke is.
Foto: U.S. Liberary of Congress / openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom. Sy
argitektuur, wat meestal van die einde van die vyftiende eeu dateer,
roep die dae in herinnering toe die bolwerke teen invallers net so
belangrik in ’n stadsontwerp was as hul estetiese trefkrag. Die
hoogste toring van die Kremlin, die 73 m hoë Trojitskaja, herinner
ons aan die tyd toe Napoleon na Moskou
opgeruk het in sy roekelose poging om Rusland in 1812 te verower. Buite
die Kremlinmure is ’n ander skouspelagtige gebou—die vierhonderd
jaar oue Katedraal van St. Basilius, ’n merkwaardige kerk wat bestaan
uit afsonderlike kapelle wat om ’n sentrale kern gegroepeer is. Elke
kapel is versier met toringspitse en uivormige koepels in ’n oorlade
styl wat in die Weste as "troukoek" bekend staan.
Foto deur David Crawshaw, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die węreldwye web beskikbaar stel ingevolge die GNU Free Documentation License, weergawe 1.2 of enige latere weergawe soos gepubliseer deur die Free Software Foundation. Die artikel oor die Katedraal van St. Basilius verskyn op hierdie bladsy in die Engelse weergawe Wikipedia-ensiklopedie en ’n groot weergawe van die bygaande foto verskyn hier. Besonderhede oor David Crawshaw kan gevind word deur op hierdie skakel te klik.
Die
imposante Winterpaleis aan die oewer van die Newarivier wat deur
Italiaanse en Franse argitekte ontwerp is, is weer een van Europa se
voortreflikste paleise. Ondanks skade wat in die Oktober-revolusie van
1917 en artillerievuur tydens die Tweede Węreldoorlog berokken is,
word sy argitektuur en versameling kunswerke regoor die węreld
bewonder. Maar
die Russiese Federasie is veel meer as bloed en skouspel. Meer omtrent
die land, sy geskiedenis en sy mense, asook van die geografie en
ekonomie word hieronder vertel... •
AGTERGRONDINLIGTING OOR RUSLAND EN DIE SOWJET-UNIE: Baie mense
is vandag steeds taamlik verward oor hoe die vurk eintlik in die hef
steek. Presies hoe is Rusland saamgestel en waar lę sy grense? Hulle
weet moontlik dat dit nie werklik dieselfde land is as die Sowjet-Unie
wat so ’n groot rol in die twintigste-eeuse geskiedenis gespeel het
nie, maar hoe dan nou? Om
al die verwarring te ontrafel moet ’n mens teruggaan in die
geskiedenis. Die
Rusland van vóór die Eerste Węreldoorlog was die enorme keiserryk
van die tsare. Dit het gestrek van die Oossee tot by die Stille Oseaan
en van die Noordelike Yssee tot by die Swart See. Met
die Revolusie van 1917 is die heerskappy van die tsare vernietig en ’n
hersamestelling van die komponente van ou Rusland het gevolg. In
Desember 1922 is die Unie van Sosialistiese Sowjet-Republieke (USSR)—kortweg die Sowjet-Unie—in die lewe geroep, en dit het
oorspronklik uit vier Sowjet-republieke bestaan. Mettertyd
is nog republieke bygevoeg. Teen die einde van die jare twintig het
die Sowjet-Unie omtrent 93 persent van die ryk van die tsare beslaan.
Dit het egter nooit die grootte van die ou ryk geëwenaar nie. Die
grootste van die uiteindelike vyftien Sowjet-republieke, wat ’n magdom
van verskillende nasionaliteite verteenwoordig het, was die Russiese
Federasie, wat inderdaad die kern van die USSR was. Dit was die tuiste
van die etniese Russe en het meer as die helfte van die bevolking van
die hele Sowjet-Unie gehad. Maar
die Kommunistiese saambondeling van ongelyksoortige mense het die kiem
van sy eie ondergang gedra. Die Sowjet-Unie het uiteindelik, in
Desember 1991, ná sewe veelbewoë dekades in vyftien onafhanklike
state uiteengespat. Die
Russiese Federasie voer steeds die botoon in dié węrelddeel. Dit is
hierdie, die grootste, brokstuk van die ou Sowjet-Unie wat vandag
allerweë as Rusland bekend staan. Dit is ook dié Rusland wat in
hierdie artikel behandel word. Sedert
sy ontstaan het die nuwe Rusland geworstel om ’n demokratiese bestel
en vrye ekonomie te bou wat die streng beheer van die Kommunistiese
tydperk moes vervang. ’n Verbete guerrilla-konflik in Tsjetsjnië
het ’n bykomende probleem geskep. •
SAMESTELLING:
Die Russiese Federasie bestaan uit 89 territoriale eenhede: 21
republieke, 10 outonome okroegs (gebiede), 6 krais (territoriale
gebiede), 49 oblasts (streke), een outonome oblast en twee federale
stede (Moskou en St. Petersburg) met oblast-status. •
AMPTELIKE NAAM: Rossiskaja Federatsija (Russiese
Federasie). •
OPPERVLAKTE:
17 075 200 vk. km (16 995 800 vk. km land
en 79 400 vk. km water). Dit strek oor twee vastelande—Europa en
Asië. Die landoppervlakte van Rusland is 1,8 keer so groot soos dié
van die VSA. Dit is geografies die grootste land op aarde en gelyk aan
sowat ’n negende van die aarde se landoppervlakte. Die oppervlakte
van die ou Sowjet-Unie was 22
400 000 vk. km—toe was die land éérs groot! •
HOOFSTAD: Moskou. •
AMPSTAAL:
Russies. Baie ander tale word egter ook gepraat. •
VOLKSLIED: Die ou tsaristiese volkslied is in ere herstel. •
GELD: Die Russe koop met roebels.
(Let wel: Die roebel
van ná 1 Januarie 1998 is gelyk aan 1000 roebels van voor daardie
datum.) •
BEVOLKING EN HERKOMS:
142 893 540
(raming vir
Julie 2006). Voor
die tyd van die Christendom is die groot gebied wat later die Russiese
Ryk sou word, yl bewoon deur groepe nomadiese stamme. Die grootliks
onbekende noorde, ’n streek van uitgebreide woude, is bewoon deur
stamme wat later gesamentlik as die Slawe bekend sou staan, die
voorouers van die moderne Russiese volk. In die suide is die streek
bekend as Skithië agtereenvolgens deur verskillende Asiatiese volkere
beset. Rusland
het uit die oorspronklike klein vorstedom van Moskou gegroei. Die
grootste etniese groep in vandag se Rusland is die Russe—ook bekend as die sogenaamde Groot-Russe om hulle te onderskei van die
Klein-Russe (die Oekrainers) en die Wit-Russe. Laasgenoemde twee
groepe het nou hul eie onafhanklike state buite Rusland.
Volgens die sensus van 2002 was Rusland se bevolking in daardie jaar só saamgestel: Russe 79,8%, Tatare 3,8%, Oekrainers 2%, Basjkirs 1,2%, Tsjoewasje 1,1% en ander of ongespesifiseer 12,1%. Volgens ’n raming van 2006 was daar ’n negatiewe groeikoers in die populasie van -0,37%. Die land se mense raak dus minder. •
GODSDIENSTE:
Talle godsdienstige organisasies word amptelik
erken. Dit sluit die Russies-Ortodokse Kerk, Soennitiese en Sjiďtiese
Moslems en Grieks-Katolieke Kerk in. (Laasgenoemde kerk is
Grieks-Ortodoks van aard, maar erken die gesag van die Pous.)
Volgens ’n berekening was 15-20% van die bevolking in 2006 Russies-Ortodoks, 2% het tot ander Christelike kerkgroepe behoort en 10-15% was Moslems. Die persentasies het betrekking op praktiserende belyers. Rusland het groot groepe nie-praktiserende gelowiges en ongelowiges, ’n nalatenskap van meer as sewe dekades onder die Sowjet-bewind. •
REGERINGSTELSEL: In 1990 het die Kommunistiese Party, wat tot
in daardie stadium die enigste wettige party was, sy grondwetlike
leiersrol prysgegee en ander partye is toegelaat. Ná die mislukte
Kommunistiese staatsgreep van Augustus 1991, wat aanleiding gegee het
tot die verbrokkeling van die Sowjet-Unie, is die Kommunistiese Party
in Rusland verbied. Rusland
is nou formeel ’n veelparty-demokrasie met ’n parlement wat wette
maak, ’n president, ’n premier en ’n regbank. Aan die spits van die
uitvoerende mag is die president wat, ingevolge die grondwet van 1993,
uitgebreide magte het. Die
enkele Kommunistiese Party van die Sowjet-Unie is deur honderde
politieke groeperings, faksies, bewegings en partye vervang. Ingevolge
die grondwet van 1993 is Rusland se nasionale wetgewende liggaam, die
Federale Vergadering, ’n tweekamer-liggaam wat uit die Staat-Doema
(laerhuis) en die Federale Raad (hoërhuis) bestaan. As
’n lid van die Verenigde Nasies (VN) het Rusland die setel van die
ou Sowjet-Unie geërf, en hy is een van die vyf permanente lede van
die VN se Veiligheidsraad. • EKONOMIE: Nadat die Sowjet-Unie verbrokkel het, moes Rusland spook om ’n vrye ekonomie te vestig en sterk ekonomiese groei te bewerkstellig. Anders
as sy handelsvennote in Sentraal-Europa—wat daarin geslaag het om
hul groeipyne in die vryemerkstelsel binne drie tot vyf jaar grootliks
te versag—sou Rusland ’n vyf jaar lange verskrompeling van sy
ekonomie beleef. Die rede is dat die wetgewers en uitvoerende mag
geweifel het oor hoe om baie van die basiese grondslae van ’n vrye
ekonomie te implementeer. Rusland
het in 1997 ietwat herstel, maar was kwetsbaar toe die internasionale
finansiële krisis hom in 1998 tref. Die roebel het gedrepresieer en
die lewenstandaard van die meeste mense het skerp gedaal. Die ekonomie het wel daarna sy kop opgetel, met ’n gemiddelde jaarlikse groei van meer as 6%. Hernieude pogings van die regering om strukturele hervormings teweeg te bring, het groter vertroue by sakelui en beleggers gewek.
Maar
daar is steeds ernstige probleme. Ander
probleme sluit in ’n swak bankstelsel, ’n powere sakeklimaat wat
sowel plaaslike as buitelandse beleggers afskrik, korrupsie, die
inmenging van plaaslike en streekregerings in die howe en ’n
wydverspreide wantroue in instellings.
Basies, word gesę, het Rusland weinig vordering gemaak met die uitbouing van die oppergesag van die reg, die kern van ’n moderne vrye ekonomie. Wat
dit so ironies maak, is dat die land van die vrugbaarste grond
ter węreld het, met ’n massiewe rykdom van minerale en volop woude
vir al sy houtbehoeftes. Geen ander land het ook meer potensiële
bronne van hidroëlektriese krag nie. Dat
al hierdie welvaart in die hande moes beland van ’n Kommunistiese
dwingelandy, is stellig een van die grootste tragedies in die
twintigste-eeuse geskiedenis. Vandag kan ’n mens net gis wat in ’n
vrye land met ’n vrye ekonomie vermag sou kon gewees het. Weliswaar
het die Sowjet-Unie ook ’n nywerheidsreus geword. Sedert 1928 het dit
so geďndustraliseer geraak dat slegs Amerika dit naderhand oortref
het wat die waarde van fabrieksgoedere betref. Maar die beleid van
kollektivisasie het die bevolking verarm. Eindelik kon die verset nie
langer gekeer word nie. Voor
die verbrokkeling van die Sowjet-Unie is die grappie glo alom daar
vertel van ’n Westerse besoeker en ’n Sowjet-burger. Hulle het gehoor
van ’n nuwe Kommunistiese regulasie dat die mense nie meer toegelaat
sou word om in toue te staan om wors te koop nie. "Wat
is ’n tou?" het die Westerling gevra. "Wat
is ’n wors?" het sy Sowjet-vriend gereageer. Des te meer rede waarom die Russiese Federasie nie moet ophou om vir privatisasie te werk om die lewensgehalte van sy burgers te verbeter nie. •
GEOGRAFIE: Daar is vyf groot landstreke in die Russiese
Federasie: (1)
Die Europese Vlakte strek van die weste tot by die
Oeralgebergte. Dit is die grootste nywerheidsgebied in Rusland en baie
van die grond is vrugbaar. Die Kaukasiese gebergte lę in die suide. (2)
Die Oeralgebergte tussen die Europese Vlakte en Siberië is met
verloop van tyd baie geërodeer en is op die hoogste maar net sowat
1860 m. Die berge is ryk aan minerale en daar is baie nywerhede. (3)
Die Wes-Siberiese Vlakte (2 600 000 vk. km) wes van die
Oeralgebergte
is die mees uitgestrekte
plat
landstreek in die hele węreld. Dis nęrens hoër as 150 m bokant
seevlak nie en die gebied is baie moerasagtig. Die Obrivier en sy
takriviere vloei noordwaarts deur hierdie streek onderweg na die
Arktiese See. (4)
Die Sentraal-Siberiese Plato oos van die Jeniseirivier styg tot
op ’n hoogte van 610 m. Die streek is ryk aan minerale. Riviere keep
deur die plato en vloei ook soms deur steil canyons. Die manjifieke
Baikalgebergte lę in hierdie streek, asook die Baikalmeer (1737 m
diep), die węreld se diepste varswatermeer. (5) Die Oos-Siberiese Hooglande is meestal ’n wildernis van plato's en berge, wat tot 3048 m hoog is. Op die Kamtsjatka-skiereiland is nagenoeg 25 aktiewe vulkane.
|
||||
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad
|
||||