Duitsland

Land van durf en drome

 

Duitse vlagToonaangewende lande van die wêreld (5): Federale Republiek van Duitsland

 

    

REGS: Dit lyk soos ’n onwerklike droom... die sprokiesagtige Neuschwanstein-kasteel in Beiere, Duitsland. Hierdie  beroemde toeriste-attraksie, met sy torings en toringspitse in ’n romantiese Middeleeuse styl, is deur koning Ludwig II van Beiere (1845-1886) gebou. Ludwig het in sy tyd verskillende verbeeldingryke geboue laat oprig (en ook die onvleiende reputasie van die “mal koning” verwerf). Die hooggeleë kasteel van liggrys graniet is onvoltooid gelaat toe hy oorlede is.

 

Foto verklein van ’n groot foto deur BigFoto.com, wat die vrye gebruik daarvan vergun mits 'n skakel na hul webwerf verskaf word.

Neuschwanstein

  

Soos ’n feniks het Duitsland uit die as van die Tweede Wêreldoorlog verrys—om een van die wêreld se toonaangewende nywerheidslande te word. Die Duitse strewe na perfeksie, idealisme en sindelikheid moet vandag steeds duidelik wees vir elke buitelander wat dié land besoek...

Hoofteks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld; opdatering deur Mieliestronk.com
Grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com
      

Kaart van DuitslandKaart van die CIA uit hul World Factbook wat tot openbare besit verklaar is (“in the public domain”). Plekname verafrikaans.

 

 

DUITSLAND ... waar begin ’n mens om hierdie energieke en welvarende land te beskryf?

 

By die veelbewoë hoofstad Berlyn, wat vroeër so tragies deur die Skandmuur in twee gekloof is?

 

By Bonn, ’n internasionale senusentrum van die republiek? Of by München, die trotse Beierse hoofstad, met sy musikante, sy skilders en studente?

 

Of wat van Oberammergau met sy Passiespele en pragtige houtsneewerke? Bremen, beroemd om sy "Stadsmusikante"? Of die groen Swart Woud, die Ryn, die besneeude Beierse Alpe, die mere van Mecklenburg en Holstein?

 

So ryk in verskeidenheid is Duitsland dat die beroemde Amerikaanse reisiger-skrywer Mark Twain dit bestempel het as “a beautiful country of infinite variety”.

 

Dan het die land ook nog die wêreld verryk met sy geniale beroemdes: komponiste soos Wagner, Beethoven en Bach, digters soos Goethe en Schiller, wiskundiges soos Carl Friedrich Gauss, wetenskaplikes soos Albert Einstein (’n Duitse Jood) en ’n ruimte-eeuse baanbreker soos Wernher von Braun.

 

Dis ’n land wat soos ’n feniks uit die as van die Tweede Wêreldoorlog verrys het. Die bomme van die Geallieerdes het groot dele van baie van die ou stede verwoes. Talle bouwerke van weleer moes haastig vervang word deur doelmatige geboue (wat weliswaar nie die fleur van die verwoestes gehad het nie).

 

Miskien was Duitsland se mees tragiese rampspoed die 45 jaar lange verdeling van die land in ’n oostelike en westelike staat ná die oorlog. Eers in Oktober 1990 was die verskeurde land weer heel, danksy die einde van die Koue Oorlog en weens die verval van die Sowjet-unie.  

 

Wes- en Oos-Duitsland... só was die land verdeelREGS: Wes- en Oos-Duitsland... só was die land verdeel.

 

Maar die Duitse volk het ná die Tweede Wêreldoorlog, altans in die westelike deel, freneties aan die werk gespring, soos bye wat ’n beskadigde korf tot elke prys gou wil herstel. Weldra het die welvaart gevolg.

 

Só is die gees van die Duitse volk—energiek, gedissiplineerd, met die onblusbare wil om te oorlewe en ’n dryfkrag om op die voorpunt van ontwikkeling te wees.

 

Sedert unifikasie het Duitsland ook uit sy pad gegaan om die minder ontwikkelde Oos-Duitsland op te bou en die produktiwiteit en lone daar tot westerse standaarde te verhoog. Maar die modernisering en integrasie van die Oos-Duitse ekonomie is ook ’n duur langtermyn-program.  

 

Duitsland: die wroegings en die ekstase

Die granietbak in die Berlynse Lustgarten (lushof), 1831, olieverf op doek
  
Romantiek van ’n lank verlore era...


LINKS: Die granietbak in die Berlynse Lustgarten (lushof), olieverf op doek, in 1831 geskilder deur Johann Erdmann Hummel. Die vredige, romantiese toneel verbeeld niks van die onstuimighede, die verwoesting, die verdeeldheid en ellende wat Berlyn—en die hele Duitsland—in die 1900’s sou beleef nie.
  

’n Erg beskadigde Berlyn, Mei 1945    
Die ellende van oorlog

    

REGS: ’n Erg beskadigde Berlyn, die Duitse hoofstad, in Mei 1945 in die doodsnikke van die Tweede Wêreldoorlog. Ná die Duitse nederlaag is die stad in twee dele verdeel met ’n vrye weste en ’n Kommunistiese ooste en het dit ’n brandpunt geword in die spanninge van die Koue Oorlog tussen die Kommunistiese lande in die kamp van die Sowjet-unie aan die een kant en die groep Westerse lande gelei deur Amerika aan die ander. Eers toe Oos- en Wes-Duitsland in 1990 herenig is, kon die verdeelde stad ook weer een word.

Foto: U.S. Army
  

Stadsprofiel van Frankfurt aan die Mainrivier   
Die wonderbaarlike herstel

  
LINKS: Dié stadsprofiel van Frankfurt aan die Mainrivier in Duitsland. Dit is vandag ’n woelige, moderne stad en
een van die wêreld se toonaangewende finansiële en sakesentrums. Frankfurt is in ’n groot mate herbou op bouvalle van die Tweede Wêreldoorlog toe die helfte van die stad deur bomme in puin gelê is. Die stad is ook ’n toonbeeld van Duitse perfeksie. Ry jy byvoorbeeld uit Suid-Europa met ’n trein nadat jy in die aand by ’n minder sindelike stasie opgeklim het, snel jy Duitsland binne en kom jy vroegmôre in Frankfurt aan... waar die stasie so skoon is dat dit lyk of jy van die perron af kan eet!

Foto: BuyUSA.gov
  

München se groot “Engelse” tuin
’n Duur gekoopte vrede

  
REGS: Englischer Garten, die Duitse stad München se groot “Engelse” tuin, spreek van ’n harmonieuse vredigheid—iets wat die Duitse volk so  lank nie geken het nie, maar uiteindelik met hul hereniging herwin het
, al is die integrasie vir die weste ook pynlik duur.

Foto verklein van ’n groot foto deur BigFoto.com, wat die vrye gebruik daarvan vergun mits 'n skakel na hul webwerf verskaf word.
  

  

   AMPTELIKE NAAM: Federale Republiek van Duitsland.

 

   OPPERVLAKTE: Altesaam 357 021 vk. km (349 223 vk. km land en 7798 vk. km water).

 

   HOOFSTAD: Berlyn.

 

   VLAG: Drie horisontale stroke, van bo na onder swart, rooi en goud.

 

   TAAL: Twee soorte Duits: Hoogduits in die suide en middel en Platduits in die noorde, maar die sprekers van laasgenoemde is vinnig aan die kwyn. Die skole en media gebruik ’n gestandaardiseerde vorm van Hoogduits wat Standaardduits genoem word.

 

   VOLKSLIED: Derde vers van Deutschland-Lied.

 

   MUNT: In Januarie 2002 het Duitsland en nog elf lande van die Europese Unie ’n gemeenskaplike geldeenheid, die euro, ingestel. In Duitsland het dit die einde van die Deutsche Mark (Duitse mark of DM) beteken.

 

   BEVOLKING: 82 422 299, volgens ’n raming vir Julie 2006. Duitsers 91,5%, Turke 2,4%, ander 6,1% (meestal Grieke, Italiane, Pole, Russe, Serwo-Kroate en Spanjaarde).

 

   GODSDIENSTE: Protestant 34% (hoofsaaklik Luthers), Rooms-Katoliek 34%, Moslem 3,7% (meestal Turkse immigrante), onverbonde en ander 28,3%.  

 

   REGERING: Duitsland het ’n parlementêre demokrasie met ’n federale president as staatshoof. Die land is ’n groepering van sestien state of Länder, elk met sy eie grondwet en eie wette oor sake soos onderwys, gemeenskapsorganisasie en die polisie. Elk van die sestien Länder word in die hoërhuis van die parlement—die Federale Raad of Bundesrat—verteenwoordig deur drie of meer lede van die staatsregering (afhangende van die inwonertal). Die lede van die laerhuis—die Federale Vergadering of Bundestag—word deur volwasse stemgeregtigdes gekies. Die uitvoerende gesag berus by die federale regering, wat deur ’n federale kanselier gelei word.

 

   SAMESTELLING: Ná die Tweede Wêreldoorlog was Duitsland verdeel in Wes-Duitsland (die Federale Republiek van Duitsland) en Oos-Duitsland (die Duitse Demokratiese Republiek). Op 3 Oktober 1990 is die land herenig.

 

   GEOGRAFIE: Daar is vyf hooflandstreke:

 

(1) Die Noord-Duitse Vlakte lê laag en is byna plat. Dit word gedreineer deur breë riviere wat noordwaarts tot in die Noordsee of die Oossee vloei. Dit sluit die Elbe, Ems, Oder, Ryn en Weser in, almal belangrike kommersiële waterweë. Groot hawens en nywerheidsentrums lê aan dié riviere.

 

Die breë riviervalleie en die land langs die kus het sagte, vrugbare grond. Tussen die valleie is groot gebiede van sand en gruis wat duisende jare gelede deur gletsers agtergelaat is.

 

Die suidelike rand van die Noord-Duitse Vlakte het ’n vrugbare soort grond wat loess genoem word. Hierdie gebied, waarin ou stede soos Bonn en Keulen geleë is, word intensief verbou en is dig bevolk.

 

(2) Die Sentrale Hooglande is ’n reeks feitlik plat tot bergagtige plato's. Die riviere in hierdie streek het steil, smal, ruwe klowe deur die landskap gekeep, soos die Rynvallei, een van Europa se mooiste besienswaardighede.

 

REGS: ’n Ruimtefoto van ’n deel van die Ryn, wat oor ’n sekere afstand ook die grens tussen Duitsland en Frankryk vorm.

 

Foto: JPL / NASA

 

(3) Die Suid-Duitse Heuwels sluit in ’n reeks lang, ewewydige bulte (eskarpe), wat van die suidweste na die noordooste loop. Skape word hier geteel. Die laaglande tussen die bulte het vrugbare kleigrond wat van die beste landbougebiede in Duitsland is. ’n Groot deel van die streek word deur die Ryn en sy twee sytakke, die riviere Main en Neckar, dreineer. Die Donau—die enigste groot rivier wat ooswaarts vloei—dreineer die suidelike deel.

 

(4) Die Swart Woud is ’n bergagtige gebied. Dit kry sy naam van die digte woude van donker denne en spar wat die berghange oordek. Die gebied bestaan uit hooglande van graniet en sandsteen met diep, smal valleie. Dit is die toneel van baie Duitse legendes en sprokies. Dis ook bekend om sy minerale bronne en beroemde gesondheidsoorde.

 

(5) Die Beierse Alpe bestaan uit majestueuse, met sneeu bedekte pieke van meer as 1800 m. Die hoogste spits in Duitsland, die 2963 m hoë Zugspitze, is hier geleë. Die skone Beierse Alpe is heeljaar deur ’n vakansiewêreld.

 

   KLIMAAT: Duitsland is in die reël matig en nat aan die kus, maar droër en kouer in die binneland. Tog is daar betreklik min temperatuurwisselings tussen die uiterstes.

 

   EKONOMIE: Duitsland se ryk en kragtige ekonomie—die vyfde grootste ter wêreld—het een van die stadig groeiendste ekonomieë in die euro-sone geword. Die modernisering en integrasie van die Oos-Duitse ekonomie bly ’n massiewe probleem  weens die miljarde euro’s wat jaarliks vanuit die weste in die ooste ingeploeg moet word.

 

Die belangrikste Duitse nywerhede is onder meer gemoeid met meganiese en elektriese ingenieurswese, chemikalieë, tekstielware, kosverwerking en voertuie, met die swaar nywerhede en ingenieurswerke in die Ruhrgebied gekonsentreer, chemikalieë in stede langs die Ryn en motorvoertuie in groot provinsiale sentrums soos Stuttgart.

 

Buiten steenkool, bruinkool, potas en sout, het Duitsland egter min natuurlike hulpbronne, en die land steun swaar op invoer. Talle "gasarbeiders"—veral van Turkye en die voormalige Joego-Slawië—is ook gewerf.

 

  Die bank- en geldwese is belangrike verdieners van valuta, en Frankfurt is een van die wêreld se toonaangewende finansiële en sakesentrums.

 

Die vernaamste landbouprodukte is onder meer hop (vir bier), druiwe (vir wyn), suiker, beet, koring, gars en suiwelprodukte. Woude bedek byna ’n derde van die land en verseker dit van ’n florerende bosboubedryf.

 

Natuurlike hulpbronne in die voormalige Oos-Duitsland is onder meer yster-, aluminium- en kopererts, asook nikkel, tin en silwer. Die vernaamste nywerhede sluit in dié vir masjinerie, vervoertoerusting, staal, sement, chemikalieë, bemesting en plastiekstowwe.

 

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van hierdie reeks oor toonaangewende lande van die wêreld


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad